Ek stamel ek sterwe. Eben Venter

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ek stamel ek sterwe - Eben Venter страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Ek stamel ek sterwe - Eben Venter

Скачать книгу

ek hierdie asbak in Pa se bakkie. Hy kan ook na die … sorrie, oom Dirk, ek het niks teen jou nie, maar jy moet ook maar leer alle mense is nie elke dag dieselfde nie. Hier moet ek weg, nee, o wragtag. Ek hoort buitendien nie tussen hierdie mense nie. Dis nie my mense nie. Weg? Vyf sakke ureum, vier sakke voermol, waddehel! Wat soek ek nog hier? Jou pappie het hard vir julle … Pappie nogal. Wie se pappie, vra ek jou. Sy kan gaan dinges, man. Dis al wat ek nog kortgekom het. Vanaand, vanaand. Ek gaan. Ek wou my lewe lank nog hier weg. Vanaand nog sê ek vir hulle ek waai. My plan is klaar. Ek’s môre sak en pak met die trein weg om nooit weer om te draai nie. Hulle sal hulle ore nie glo nie.

      Dit gaan moeilik wees om my besluit bekend te maak. Wanneer, by aandete? Man, dan’s almal se ete opgekoffie, myne inkluis. Die kos kan mos so dik word in ’n mens se mond. Miskien ná ete. Ook Albert sal geskok wees. Ek weet hy’t vir ons saam die een of ander plan uitgewerk.Wasserman Broers en Kie. En Ma? Ek hoop nie sy huil nie. Sy sal seker maar. Blaas agter haar oge, nè, oupa Konstant. Jy’t geweet. Ma sal dit maar net moet vat. Vanaand of nooit. Dis mý lewe after all. En hier kan ek nie meer bly nie, o wragtag, daar sal niks van my oorbly nie.

      Daar is vaalvleis vir aandete. Tjops wat stadig potbraai en dan met ’n skeutjie water op die stoof verder kook totdat hulle so sag soos murg is. Vaalvleis met wit rys, maar vir Pa is daar gebluste aartappels. Daar is ook gekapte komkommerslaai met swart peper en druiweasyn.

      Ek is honger. Ek sal wag tot almal ’n tandestokkie uit daai silwerkelkie geneem het. Hy’s nie op tafel nie. Wie’t hom nou weer vir Ma-hulle gegee? Verdomp, wie gee om wie die kelkie hier aangedra het? Ek sal wag tot ná die ete, anders is almal se kos bederf. Tot daarna, voordat ek sê: Ek loop nou van die plaas af soos ’n slegte ding.

      Ek bly dors van al die sweet vanmiddag. Dis al my derde bier, maar niemand rep vanaand iets nie, hoewel almal weet ek en Albert drink gewoonlik net twee biere saans of hoogstens drie op ’n Saterdagaand as ons braaivleis hou en daar’s mense. Bygetel die een of twee wat jy stilletjies gaps as jy nog gaan uithaal in die spens. Dit word beskou as ’n beloning op jou arbeid, reken Albert. Slimgat.

      Wanneer ek opstaan om vir my ’n vierde bier te gaan haal, sê my pa: Maar jy sal my mos vanaand leeg drink. Nee, wat, Konnie, is dit nou nodig? Julle manne sal moet begin dink om self ook julle kant te bring as julle so in oordaad wil drink.

      Ek kyk nie na hom nie, maar na my ma omdat sy voortydig klaarmaak met eet. Sy skraap die oorskiet op haar Queen’s Green-bord in ’n poedingbakkie vir Ketjoerts en vra die souspotjie by Tilla en druip stadig, stadig van die galsterige vleisafsaksel oor die kat se aandporsie. Die lamp gooi ’n glans oor haar glad gekamde hare, die Franse rol wat Pa so baie van hou. En onder die tafel voel ek hoe Ketjoerts se lowerige pels die haartjies op my kuit elektries laai. Hy’s nou ongeduldig vir sy deel van die vaalvleis met sous. Buitekant is daar nog mense. Buitekant is daar mense besig met die melkemmers, maar die gordyne, dik materiaal ten einde ’n swaar hang te verkry, demp die meeste van die klanke.

      Ek ken vir Ma. Daar’s nog kos op haar bord, maar sy maak al klaar. Sy wis daar’s iets in die weer. Ou Trynie het hoogs waarskynlik nie vanmiddag laat toe sy vir Ma gebel het, erken hoe sy aan my gekarring het nie: Nee, Mirjam, ek weet nie wat het verkeerd geloop met daai seun van jou nie. Die ou ding wou glo nie eers my naam noem nie. My naam het onsegbaar geword.

      Ek moes my gaan lawe met ’n brêndietjie toe ek by die huis kom, het Trynie by Ma gekla. En jy weet self dit was ongenadig warm, Mirjam. Nee, wat, ek het jou seun nog nooit so gesien nie. Hy was nog altyd so ’n mooi seun vir my en altyd vreeslik hoflik, en so ken ek al jou kinders, Mirjam. Maar toe issit skierlik of daar iets in hom kom en hy haak af en vloek my iets o allerverskrikliks, so sonder enige respek. Reken, Mirjam, hy noem my sommer op my naam. Ek weet mos Raster en jy het hom nie so geleer nie, al kan jou ou man ook lekker kwaat raak, ek het hom mos ook al kwaat gesien as jy nou nie omgee dat ek dit sê nie.

      Wat het dan verkeerd geloop? wou Ma heeltyd weet.

      Ek het haar nie geantwoord nie. Ek weet mos dis hoe die mense hierso maak: hulle draai ’n storie so dat hy hulle pas. Maar Ma het klaar die tekens van onrus gemerk. Ja, ek is jammer vir haar, maar ek gaan nie nou daaroor tob nie. Anders maak ek nooit my besluit bekend nie, wat nog van hier wegkom. En Pa dan? As hy my maar sou kon troos in hierdie uur, maar wat ek hoor, is: Hoekom is my asbak in die bakkie so bemors en vir wat drink jy so kwaai vanaand en wanneer vat jy vir jou vrou, daar’s sulke oulike meisies hier, dat ons Wassermans kan aangaan, magtag, die lewe staan nie stil nie. Onthou, ons familie kom van ver en ons is nog altyd ryklik geseënd. Nee, wat, van hom wil ek ver weg.

      Toe sê ek wat ek moet sê. ’n Sin wat oud geword het in my mond van oor en oor se geoefen. Poepbang maar vasberade sê ek: Nou ja, Pa en Ma, ek wil net sê ek beplan om môre met die trein te vertrek. Ek het mooi daaroor nagedink. Ek wil bietjie gaan kyk hoe lyk dit daar oorkant die waters. Ek gaan probeer om ’n verblyfpermit vir Australië te kry.

      Nou ja, nogal, nou ja. Oorkant die waters. Ek probeer nes ek wil, maar van die bewing in my stem kan ek nie ontslae raak nie. Die ding is, ’n mens kry so min oefening om dié soort goed te sê, miskien word ek vaardiger daarmee as ek eers daar oorkant bly.

      Nou ja, Konstant, jy moet maar maak soos jy wil, en my pa skuif sy stoel agtertoe en staan op. Maar onthou, as jy so hier weggaat, gaat jy weg sonder die seën van jou vader, en toe kyk hy na Ma en spreek sommer namens haar ook, en sonder die seën van jou moeder.

      My ma se trane loop.

      Op die stasieperron is almal teenwoordig, elkeen voorbereid met ’n laaste sêding vir my, maar hulle hou dit terug totdat ek inklim en by die treinvenster uithang. Net Tilla en Mirjampie kwetter en hol hulself onkapabel teen reiskoffers en bokse goeters en komberse opgebondel met belde, meestal van die swart passasiers. Die twee speel wegkruipertjie agter die peperboom langs die ou melkkandepot wat in onbruik geraak het.

      Konstant! Die peperboom! sê Albert en wys na die broospienk en armmansgroen peperboom langs die stasiegebou. Hy het onthou dat dit my gunstelingboomsoort is. En voeg dan by: Maar wat, jy sien hulle dalk weer in Australië staan.

      My pa sit my boksie padkos neer, kyk die ding so daar op die teerblad van die perron, stoot hom met die punt van sy velskoen, van sy grênder koedoeleerpaar, raap dan weer die boksie op, balanseer hom vir ’n oomblik op sy hand en hou dit uit na my, maar ek is nog nie gereed om dit aan te vat nie en hy tree terug sonder om sy oë van my af te neem. Ek kyk nie reguit na hom nie. Hy begin met sy wit sakdoek vroetel. Dis altyd ’n vreeslike gedoente, dié neusblasery van hom, maar vanmiddag is dit so ’n windsnuit en ook niks meer nie.

      Is dit nou eerste klas dié? wil my ma weet. In tweede klas is sloop en laken glo swart gestreep met hare net waar jy kyk en lê. Selfs Pa het daarop aangedring dat ek eerste klas koop:

      Nee, wat, ordentlike mense ry nie meer tweede klas nie. Maar geen sent sou hy tot die treinkaartjie of die oorsese vliegkaartjie bydra nie.

      Nie omdat ek nie vir jou omgee nie, het hy gerusgestel, maar as ’n man nou sulke groot dinge vir homself in die vooruitsig stel, dan moet hy maar self sy potjie krap. Nee, wat, oom Dirk het mooi vir my vertel hoe ongeskik jy daar by die Rooistoor weggetrek het. Dè, vat dié saam, het hy die vorige aand gesê toe hy by my en Albert se kamer verbyloop waar ek besig was om te pak, en toe stop hy vir my ’n pakkie skeermeslemmetjies in die hand.

      Ma hou my hand deur die treinvenster, plat my vingers uit op hare, wil iets sê wat sy nie sê nie, trek my dan nader terwyl sy op haar tone kom om my hartlik en lyflik te omhels, maar laat my dan weer gaan en kyk langs die perron af: Hester, gaan roep bietjie daai twee sussies van jou dat hulle hulle broer kan kom groet, die trein trek sommer nou-nou, nog voor jy mooi weet. Het jy nou alles, Konnie? En hou nou maar lekker verjaardag môre. Ag, Ma se hart is baie seer dat jy nie eers by ons gaan wees op jou verjaardag

Скачать книгу