Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot. John Miles
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot - John Miles страница 3
Wat die lewe sogenaamd met ons aanvang, is nie die ergste nie, het hy laat daardie aand gedink. Daardie “lewe” is net nog ’n woord, ’n doekie wat taal ons om die oë draai, want wat kan ons meer verbyster as dit wat die een mens in staat is om die ander aan te doen?
As ek ’n boek hiervan moet maak, dan is ek en hy saam daarin: die polisieman en die skrywer, die swarte en die witte, elk afgekamp in sy eie hougebied, maar saam tussen die kake van ’n opvreetmasjien waar net die blindes uitsig het en vryheid van beweging. Sy geskiedenis is my storie, sy verhaal: my beheptheid.
Die lêeromslae was nie van dieselfde tipe nie. Jy kon hulle nie sommer in enige volgorde op ’n hopie pak sonder om gevaar te loop dat die hele spul begin gly en van die tafel aftuimel nie. Die stywe, skuinslopende swart omslag was onvanpas tussen die pap groenes. Dit was dan ook van die kliënt self, die brokkies getuienis wat jy as leek oor jou eie saak sal versamel: persoonsbewys, salaris en troudatum, die kind se geboorte, amptelike briewe in ’n uitblafstyl om van doof te word, dowwe fotokopieë …
Hoe sou hierdie versameling aan sy geel Checkerssakkie gekom het? het die skrywer gewonder. Al die moeite om ’n saak, ja meer as een, op te bou lyk skielik so tevergeefs. Om die een of ander rede kon die stapel voorbereidings nooit daarin slaag om ’n advokaat op pad na die hof se leertas te haal nie. En die kans lyk skraal dat daar aan hierdie feite plek afgestaan sal word in leergebonde regsuitsprake.
Die geel plastieksak was daarom nie onvanpas nie, ’n nuttige houer om van ’n nuttelose sameraapsel saam met jou tuinafval by ’n munisipale stortingsterrein ontslae te raak.
En, het dit by die skrywer gespook, vir jou is daar sekerlik meer as dit? Jy sien tog hoe dit skakel met die geel van die Vrystaat self. Jy moet gaan plek maak vir Tumelo John in die trotse grond van sy Senekalse oupa.
3 Johannesburg, 1973 …
Die Vrydag in 1973 toe Tumelo John by die Clevelandse polisiestasie opdaag, was daar onder sy bagasie ’n bruin-en-swart kleipot wat sy ma hom saamgegee het.
“Vat dit saam,” het sy gesê. “Ons het niks anders om jou te gee nie, vat dit saam. Ek het ’n broer gehad – jou oom, jy sal hom nie ken nie – hy was so jonk soos jy toe hy weg is Johannesburg toe en ons het nooit, ooit weer iets van hom gehoor nie.”
Dit was ’n ongemaklike afskeid, hy was nooit baie na aan haar nie, maar hy het begryp wat sy wil sê: moenie jou mense vergeet nie, vat dit saam en dink aan ons, jou oupa is lief vir jou en jou ouma het dit gemaak, dis van hierdie grond, die kleigat op Buurmansfontein.
Maar sy kan nie en hy – eintlik bly daaroor – sê sommer: “Dit lyk my julle dink julle gaan my nooit weer sien nie.”
Hy moes maar erg bedremmeld gelyk het, daar in die bedrywige binnehof van die polisiestasie, ’n groentjie van die plaas.
Op die bank teen die muur het ’n man in netjiese uniform en met ’n selfversekerde glimlag sy koerant laat sak.
“Jy moet Moleko wees,” het hy in Zulu gesê. “Jy’s die een wat by my intrek.”
So, stel ek my voor, het Tumelo John vir Nkosi ontmoet, die groot man wat toe al as konstabel vier jaar diens agter die rug het, met ’n yl snorretjie wat oor die hele lengte van sy bolip span tot verder af om die mondhoeke, iemand met opvallend klein ore, en oë ewe opsigtelik diep onder sy voorkop: die bedaardheid self.
“Kom laat ek jou die barakke gaan wys.” Hy prop die opgevoude koerant onder sy arm.
Die barakke huisves meer as honderd ongetroude polisiemanne. Hier het Tumelo John eers ongeveer vyf weke tuisgegaan tot tyd en wyl sy opleiding van ses maande by die polisiekollege ’n aanvang sou neem. Daarna volg ’n verdere verblyf van drie jaar tot hy vroeg in 1977 saam met Busi in Soweto gaan bly het.
Hier het hy ook Sithole ontmoet. En vir Kriek.
’n Kamer soos dié wat hy met Nkosi moes deel, het hy tóé nog nie geken nie, so luuks was dit vir hom. Sy skamel klere in die ingeboude kas sou die volgende dag aangevul word met stelle kakie-uniforms.
Die kleipot het hy met water volgetap en plek daarvoor ingeruim op die ingeboude houtblad reg onder die spieël.
Hy het ’n ruk stil op sy bed gaan sit om weer na alles te kyk. ’n Bed vir hom alleen, ’n kas net vir sy klere. Nkosi se radio het ’n prominente plek op die tafel by die venster ingeneem en op die oorkantste bed het die koerant gelê waar Nkosi dit so effe neergegooi het.
Voor Tumelo John uit is, het hy vlugtig na die voorblad gekyk, na ’n berig van ’n man wat die vorige dag in die Johannesburgse landdroshof verskyn het op ’n klag van crimen injuria omdat hy ’n swart advokaat ’n kaffer genoem het; die man is telkens deur die landdros gewaarsku oor sy beledigende houding in die hof; die saak is uitgestel.
Hy moes wag vir die volgende inname van kadette by die nuwe opleidingskollege vir swart polisiemanne in Noord-Transvaal. Intussen het hy allerlei peuselwerkies verrig om solank een en ander van die roetine by ’n polisiestasie te leer. Nie sonder opwinding nie, want op ’n dag vroeg in Junie is ook hy – so ’n tekort was daar aan polisie – aangesê om gereed te staan by ’n staaltoufabriek in hulle buurt waar 1 279 swart werkers begin staak het.
“Maak jou reg vir moeilikheid,” sê Nkosi toe die konvooi deur die fabriek se hek ry. “Dis trekarbeiders, jy kan maar sê almal uit Mosambiek.”
Voor ’n gebou met varkdraaddiefwering teen die rye, rye vensters staan drie polisiemanne – een met ’n kort stokkie onder sy arm, ’n kaptein, sou Tumelo John later weet – tussen ander witmanne met blikhoede op. Een wys na die ou mynhoop langs die hostel.
Hulle kry opdrag om te ontplooi en Tumelo John sorg dat hy op Nkosi se hakke bly.
“Staan soontoe, jy staan te naby,” sê Nkosi. “Ek ken hierdie plek. Hierdie ouens vat g’n kak en van niemand nie, maar vandag gaan hulle hul gatte sien!”
Oral op die mynhoop sit stakers, ook onder die bloekombome aan die voet.
Tumelo John vryf oor die punt van sy knuppel, skuif sy pet die honderdste keer reg en kyk uit die kante van sy oë na die dun stokkie van hul bevelvoerder.
Daar word heen en weer geroep.
Die groepie stakers reg voor hom sit op die oog af rustig onder die enorme bloekom. Hulle stuur ’n bierkarton onder mekaar aan. Een kyk half oor sy skouer en roep na Tumelo John in ’n taal waarvan hy geen woord kan onderskei nie. Die staker se houding was egter duidelik en verstaanbaar. Daar was woede in sy oë en uit die ruk van sy lyf kon jy ’n hele rits woorde lees met intense frustrasie voorop.
Hy kyk na Nkosi maar dié staan en raps met sy knuppel – asof hy vlieë verwilder – en praat met ’n ander konstabel. Een van die stakers staan op, drentel ’n ent weg en gaan slaan water af teen ’n ander boomstam.
’n Wind begin pluk aan die bloekoms. Tumelo John kan by tye nie meer hoor of daar gepraat word nie; hy sien net houdings van ergernis en gegriefdheid.
“Dit alles net oor R3,00,” kom Nkosi later vir hom sê. “Die ander ouens in die fabriek wat nie in die kampong bly nie, kry nou ’n R3,00-toelaag per maand en dié bliksems wil dit ook hê. Hulle weet natuurlik nie watter gat vreet busgeld in ’n mens se sak