Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort. Anna M. Louw
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort - Anna M. Louw страница 16
![Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort - Anna M. Louw Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort - Anna M. Louw](/cover_pre707530.jpg)
Soos hy gaan – want daar bly niks anders oor om te doen nie – hoor Kobus hoe Attie die deur toetrek en soek na ’n sleutel wat opsent is.
Hy gaan soek water in die kombuis. Waar daar vroeër altyd op die vuurherd ’n lekkerny was om op te raap: ’n paar ryp vye, of ’n piesang, ’n trossie dadels, ’n roosterkoek. Hy drink water; die kombuismeid staan vyandig met ’n doek oor die skouer, teen die tafel aangeleun. Nog dorstiger, glip hy by die bottelspens in, om tot iets bekends in homself terug te kom.
“O, dis jy?” sê Letta Jan. Sy is aan die kyk na die ry melkterte onder ’n doek. Hy kyk nie of sy nou na hom kyk nie, want hy vrees sy eie beeld in haar oë. Hoe graag sou hy haar wou versoen het met ’n beeld van die Kobus wat sy nooit geken het nie! Maar sy stem wat slepend uitkom, verraai hom.
“Sus Letta …” sê Kobus.
“Die begrafnismense het al begin kom,” sê sy, “hulle sit in die eetkamer waar die diens gehou word.” Dit klink soos ’n bevel. Sy begin rangskik rumoerig: teelepels op pierings; en koekvurkies wat sy soos ’n slagorde soldate langs ’n stawel kleinbordjies opstel. Sy laat klink soos wapens om hom te laat verstaan hy is nie meer teenwoordig nie.
“Ek gaan eers buite kyk,” sê Kobus Karba.
Op die werf skud windvlae af en toe die modderskerms van die motors wat reeds versamel het. Afgeslagte skaapvelle wat oor ’n draad hang, swaai krakerig soos hout. Nog motors kom wieg oor die brug – ’n groot swarte is waarskynlik dié van die predikant. Kobus voel hy moet hom versterk teen wat nog vyandiger skyn as wat hy verwag het.
In die stal kry hy die res van die halfbotteltjie met een skoot af. Soos vaneffe by die meisiekind stroom vertroue deur sy hele lyf. Hy gee die perde elkeen ’n proewende klappie op die boud.
“En wat soek jý hier, outa Danster?” vra Kobus hartlik.
“Ek moet beginne inspan, Bis Kowissie,” sê die ou onderdanig, “ek moet die leisels ok vat.” Die ou het ’n veertjie in die olierige hoedband, die pepers wat weerskante voor die ore uitsteek, is byna heeltemal wit. Ónder – die komieklike ou tronie met sy ry op ry plooie.
“Mooi maak, my ou jong,” sê Kobus liefdevol.
Toe Kobus inkom, staan en wieg die dominee en Mevrou by die eetkamerdeur, wagtende op die amptelike ontvangs. Struikelend loop hy op hulle af, druk eers Dominee se hand en toe Mevrou s’n hartlik skuddend met ’n gretige glimlag wat sy beskadigde tande ontbloot en sy skerp neus soos ’n onnodige byvoegsel laat oppunt.
Maar ander mense het nou om hulle begin fladder. En Kobus vind dat hy ’n plek langs Letta Jan moet inneem. Wat vir die oomblik in ’n standbeeld verander.
Dominee en Mevrou begin doen die ronde om die aanwesiges te groet.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.