Periandros van Korinthe. D.J. Opperman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Periandros van Korinthe - D.J. Opperman страница 3

Periandros van Korinthe - D.J. Opperman

Скачать книгу

en as ek hol,

      die dinges los, draai hy my óm en óm: ’n groot vet tol!

      PERIANDROS

      Man, trap!

      HERMIONEE

      Kom, Kuupselos!

      Hermionee vergesel hom uit.

      KUUPSELOS

      Pik, pik, kwarteltjie in jou ysterkou;

      al die kinders van Korinthe hou soveel van jou.

      MELISSA

      Waarom die ongeduld en altyd daardie kind beledig?

      PERIANDROS

      En waarom alles wat hy sê en doen altyd verdedig?

      Melissa af. ’n Rukkie stil.

      Sal ons, my seun, nou saam na Ganguloon toe gaan?

      LUKOPHROON

      Nie nou nie! Ek kan Vader ook nie mooi verstaan.

      Hy bly my broer, hy bly u seun, u oudste kind.

      PERIANDROS

      Ja! ek word soms soos die wildevark van woede blind.

      Maar dink net: hy moes ná my oor hierdie ryk regeer

      en nou deur hom tas God en mens my in my eer.

      Met ’n oumagrootjie kreupel en jou kind ’n sot,

      heers daar oor so ’n skewe wêreld ooit ’n God?

      LUKOPHROON

      Gaan Vader nie te ver, word ydel met die hoë naam?

      PERIANDROS

      Volgens die ervaring en die insig in jou doem

      wissel die manier en name wat jy God sal noem. –

      My seun, fyn op ’n spinnerak hang alle dinge saam,

      en deur die eeue sal daar altyd na die sterre klink

      as eerste vraag waaraan die mens weer telkens dink:

      as daar oor hierdie aarde ’n oppermag gebied,

      waarom laat hy die skending toe en die verdriet?

      Dan kan die mens mos ook na eie wil en mag

      sy webbe span en heeltemal sy medemens verag?

      LUKOPHROON

      Die siel word tog deur skade en verdriet gesuiwer,

      en dit laat jou eindelik voor eie hartstog huiwer.

      PERIANDROS

      Ag! dis ’n skuimerige golf ná golf, en sonder rus

      slaat die gedagtes eiesinnig teen ’n klipperige kus.

      LUKOPHROON

      Vader, voor my vertrek wil ek iets vra … of iets vertel …

      wat by die skoonheid van Korinthe telkens my ontstel;

      soos die glasuur op ’n gebakte kruik met fyn

      geluid verspring, voel ek dit altyd in my skryn …

      PERIANDROS

      Ja?

      LUKOPHROON

      Dis moeilik; dis oor die gevoel van maat tot maat …

      … e … e … e … oor die manier wat Vader soms met Moeder praat.

      PERIANDROS

      My seun, loop jou gevoelens nie met jou op hol?

      ’n Kind moet nooit met die verhouding van sy ouers lol.

      LUKOPHROON

      Ek voel God het aan man en vrou die kind gegee

      dat hy opnuut gewete word tussen die twee.

      PERIANDROS

      Miskien! In elk geval, ek neem die erns van jou rede aan

      al word die dinge, my seun, so maklik nie verstaan.

      Terloops, jou moeder is die mooiste en die mees beminde

      vrou, nie net vir my maar ook vir ander in Korinthe.

      Tog, om by die vraag te kom wat my nou weer ontstel,

      my broeis maak en waansinnig soos ek my loop en kwel:

      daardie kliek van handelaars, die Bakchiadai, wat so verveel

      in die kalktuin die heeldag sit en kamma dambord speel.

      LUKOPHROON

      Maar hulle is ’n wins en vir Korinthe geen gevaar.

      PERIANDROS

      O so! Nou luister wat die leier van die leër verklaar.

      Met ’n slag op ’n simbaal ontbied hy die leier.

      LEIER

      My heer.

      PERIANDROS

      As jy die heerser was oor hierdie land,

      wat sou jy aanvang met die nuwe handelstand?

      LEIER

      Ek het bewyse hulle is die voos plek in die volk

      en voos plekke word netjies uitgekerwe met ’n dolk.

      PERIANDROS

      Goed, jy kan maar gaan.

      Leier af.

      LUKOPHROON

      Ag! dis malligheid om te vermoor.

      PERIANDROS

      Nie altyd nie. Ek wil die uitspraak ook van iemand anders hoor.

      Dis juis deur al die webbe dat ek jou aan my onvergete

      jeugvriend stilletjies wil stuur, Thrasuboelos van Milete.

      Ek en hy verkeer nog al die jare met mekaar in guns

      en hy verstaan, soos g’n ander, die heerskappy se kuns.

      LUKOPHROON

Скачать книгу