Schalkie van Wyk Keur 14. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 14 - Schalkie van Wyk страница 6

Schalkie van Wyk Keur 14 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

      Wiandri trek haastig ’n skoon T-hemp oor haar kop toe daar aan haar kamerdeur geklop word. Sy kyk op en sien haar tant Lerina die slaapkamer binnekom.

      “Ekskuus, my kindlief, maar ek kon doodeenvoudig nie langer wag om jou te groet nie,” sê Lerina verskonend en kom vinnig nader om Wiandri te soengroet en ’n drukkie te gee. “Welkom tuis, kindjie. Ek is so trots op jou en so innig dankbaar om te weet jy hoef nie weer weg te gaan nie.”

      “Hallo, tant Lerina. Tannie lyk pragtig in die sagte pienk pakkie. Mag ek dit leen?” vra Wiandri skertsend, lag onnutsig en druk ’n ekstra soentjie op Lerina se wang. “Ek is so trots op my slanke tannie, nie een van my studentemaats kon glo ek en tannie dra dieselfde nommer klere nie. Oor vier-en-sestig jaar wil ek beslis net so mooi soos tannie wees.”

      “Mooi?” vra Lerina oorbluf, draai na die spieëltafel en bars uit van die lag. “Dis nie ydelheid nie, Wiandri, want ek is so oud dat dit ’n historiese feit is: Op twee-en-twintig was ek ongetwyfeld mooi. Maar deesdae kyk ek net in die spieël om te sien of al my knope vas is en ek niks agterstevoor aangetrek het nie.”

      “Tannie het blou-blou oë soos Kaapse vergeet-my-nie-tjies, ’n fyn neusie en die digte, silwerwit hare en …”

      “En meer plooie as plekke, my liewe kind. En dit help nie eens as ek glimlag nie, want dan kruip al my plooie teen my wange op na my oë en ore toe,” lag Lerina en skud haar kop. “Maar ek is dankbaar en so diepgelukkig, kindjie, want jy is terug by ons in Huis Groeneweide. En jy is nou ’n gekwalifiseerde hospitaalsuster. Dis waarom ek dít gebring het,” vervolg sy en haal ’n juweelboksie uit haar broeksak.

      “Vir my?” vra Wiandri met blye verrassing, neem die juweelboksie en maak dit gretig oop. “Maar …” Sy staar oorstelp na die goue diamanthalssnoer en bypassende oorbelle in die boksie en kyk ontsteld op na Lerina. “Dis … dis te veel … te waardevol. Dis ’n fortuin werd, tannie! Ek kan dit nie aanvaar nie, as ek dit verloor, sal …”

      “Sal die versekering jou uitbetaal, kindjie, maar ek hoop jy verloor dit nooit nie, want dit het soveel sentimentele waarde,” val Lerina haar gerusstellend in die rede.

      “As dit een van tannie se erfstukke is, moet ons dit liewer in die kluis toesluit. Ek dra nie dikwels juwele nie,” sê Wiandri en voel onthuts deur Lerina se vrygewigheid.

      “Jy verstaan nie, Wiandri. Jou pa het die halssnoer en die oorbelle aan jou ma geskenk gegee toe sy haar BCom-graad verwerf het en sy het dit op haar troudag gedra. Jy sal al haar juwele erf as jy die dag vyf-en-twintig is, maar jy het vier jaar lank hard gestudeer om hierdie pragtige halssnoer en oorbelle te verdien,” verduidelik Lerina.

      “My ma se juwele … Sy het dit gedra, daaraan geraak,” mymer Wiandri sag en streel met ligte vingerpunte oor die glinsterende halssnoer. Sy kyk op na Lerina en vervolg gretig: “Ek wed sy was net so bly en verras soos wat ek nou voel toe my pa dit vir haar gegee het. Ek sal dit nooit verloor nie, tannie. Baie, baie dankie. Dit bring hulle nader aan my – asof ek my pa en ma werklik geken het.”

      “Ek hoop heimlik dat ek daar sal wees as jy die juwele op jóú troudag dra, Wiandri,” sê Lerina huiwerig, sien Wiandri frons en gaan haastig voort: “Maar moenie jou aan my praatjies steur nie, kind. Ons oumense is dol op troues en begrafnisse en enige ander funksie waar koek en tee bedien word. Ek verwag werklik nie van jou om met ons liewe Floorsie te trou nie – nie nadat hy jou twee maal ’n onverwagte bad gegee het nie.”

      Wiandri frons onthuts. “Hoe weet tannie daarvan? Het die simpel Floors stories aangedra?” vra sy vies.

      “O nee! Floors is veels te besig om al jou tasse aan te dra huis toe en langs jou deur op te stapel om sy asem op stories te mors. Jy ken die langasem Wessie: stuur vir my ’n boodskap op die selfoon en vra ek moet haar bel, en ek het nie die hart om haar te ignoreer nie.” ’n Onkeerbare laggie glip oor Lerina se lippe. Sy byt spytig op haar onderlip en lag weer. “Vergewe my, kindjie, maar Wessie het so tekere gegaan oor Floorsie wat jou in jou nat kleertjies beloer het en die bose, onkundige Grietjie wat niks van mans weet nie, dat ek nie anders kan as om te lag nie.”

      “Ek was te kwaad en te nat om my oor my voorkoms te bekommer, totdat tant Wessie daarvan melding gemaak het. Floors is in elk geval te dom om na enige meisie te loer.” Wiandri swyg en vervolg onseker: “Ek bedoel, Floors is nie werklik dom nie, maar hy het beslis nie na my gekyk nie.”

      “O nee, liefie. Floors het gekyk, want net ’n baie dom man sal nie na jou kyk nie, en Floors is beslis intelligent,” verklaar Lerina met sekerheid.

      “Is hy, tant Lerina? Wat doen hy as hy nie Floors is nie?” vra Wiandri skepties.

      “Die werk waarvoor hy opgelei is,” antwoord Lerina sonder om ’n oog te knip en draai weg na die deur. “Versteek jou juwele in die geheime laaitjie van jou lessenaar, my kindlief, en trek ’n borsel deur jou hare. Dis etenstyd.”

      “Liewe land, hoekom is Floors se werk ’n staatsgeheim, tant Lerina? Hoekom is sy náám ’n staatsgeheim?” roep Wiandri vieserig terwyl sy stap na haar lessenaar en die laai uittrek. “Al die onnodige geheimsinnigheid! ’n Mens sou sweer Floors is die hertog Florentius van Venterikius wat deur sluipmoordenaars agtervolg word en vir sy lewe vrees!” roep sy hard toe Lerina nie reageer nie.

      Wiandri stamp die lessenaarlaai toe, draai ergerlik na haar kamerdeur en sien Floors met ’n tas in elke hand in die oop deur staan.

      “Jammer, Floors,” kom dit spytig van Lerina, wat die deur vir hom oopgemaak het. “Jou geheim is nog veilig, kind, want ons personeel is almal in die kombuis besig of na hul eie huise toe vir middagete.”

      “Tannie het my laat verstaan sy is ’n bedagsame, liewe meisie,” verwyt Floors haar bitter, “maar sy is ’n sarkastiese, snipperige, astrante klein pes met ’n blikstemmetjie wat tant Wessie soos ’n siek kuikentjie laat klink. Sal tannie omgee as ek haar in die visdam verdrink?”

      Lerina byt ’n glimlag op haar onderlip weg en antwoord redelik: “Dis ’n bietjie drasties, Floors. Ek het tog begrip vir Wiandri se frustrasie. Dit moet irriterend wees om omring te wees deur soveel geheimsinnigheid. Sal jy haar nie in jou vertroue neem nie, kind?”

      “Nooit nie, tannie!” antwoord hy met grimmige finaliteit en kyk met smeulende, donker oë na Wiandri. “Verwys nog net een maal na my as Florentius, meisiekind, en ek … ek …”

      “Ja, Floorsie?” vra Wiandri met ’n sonnige glimlaggie.

      Floors lig sy hande op asof hy haar met haar eie tasse wil gooi, plak die tasse haastig naas die spieëltafel neer, en sê bruusk: “Jy kan self die res van jou tasse indra, meisiemens. Juffrou Lerina, ek sal voortaan in my eie woonstel eet.”

      “Ek verstaan, Floorsie,” antwoord Lerina met ’n suggie en druk die deur agter hom toe voordat sy na Wiandri draai. “Dis so ’n netelige situasie, my liefie.”

      “Ek wil net weet wie Floors werklik is en wat sy werk is. Op die oomblik wonder ek of hy ’n voortvlugtende terroris is, want niemand wil eerlik wees met my nie,” antwoord Wiandri, borsel haar hare voor haar spieëltafel en draai vraend na Lerina. “Ek is al mondig, tannie. Ek glo nie meer aan Kersvader en die Paashasie nie. Hoekom moet ek nou aan Floors glo?”

      “Floors het reg op sy privaatheid, kindjie. Ek het beloof om sy identiteit tot tyd en wyl geheim te hou, en dis presies wat ek gaan doen. Ek het so gehoop jy en Floors kan vriende wees, goeie vriende, maar nou ja …”

      “Hoekom?”

Скачать книгу