Schalkie van Wyk Keur 14. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 14 - Schalkie van Wyk страница 7

Schalkie van Wyk Keur 14 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

sondes, kind, maar ek is nie so voortvarend nie. Dalk hoop ek jy sal met Morné Greeff trou, bloot omdat julle saam grootgeword het, maar ek het nie vir Floors genooi vir ’n kuiertjie omdat ek glo hy is die regte man vir jou nie. Hy hoop om ’n goeie werk te kry en ek help hom, bloot omdat ek jare gelede sy mense geken het. Kom ons gaan eet.”

      En nou is tant Lerina vies vir haar en dis alles die geheimsinnige Floors se skuld. Nee, dis haar eie skuld. Sy was kinderagtig om soos ’n nuuskierige agie op te tree, speel sy oop kaarte met haarself en vat tant Lerina aan die arm terwyl hulle in die gang af stap na die trap. “Ek is jammer, tannie. Ek sal ophou karring oor Floors. Ek sal vanmiddag by matrone Le Roux gaan inloer en hoor of sy nie my hulp in die hospitaal nodig het nie.”

      “Dan is jou peetma nou matrone Le Roux, in plaas van net Christelle?” vra Lerina met ’n tergende glimlaggie.

      “As ek in ons hospitaal werk, sal ek haar as matrone moet aanspreek. Ek oefen net solank.” Wiandri glimlag ingenome. “Dit sal pret wees om ná die groot stadshospitaal in ’n privaat hospitaal te werk – ás ek werk kan kry. Het sy niks vir tannie gesê nie?”

      “Christelle weet jy kom vandag huis toe. Sy sal wel kom inloer. Maar hoekom is jy so haastig om te begin werk, kindjie? Jy het ’n behoorlike vakansie nodig ná al jou studie – al is dit net om my geselskap te hou.”

      “Ja, seker, tannie,” antwoord Wiandri afgetrokke, onrustig oor die ware rede vir haar gretigheid om te begin werk. Floors. Floors is hoekom sy nie in haar eie huis kan ontspan nie, want hy het ’n vreemde uitwerking op haar sintuie. Sy glo nie aan ’n chemiese reaksie tussen mans en meisies nie; sy glo nog minder dat sy aangetrokke voel tot Floors, selfs al geniet sy dit so om met hom rusie te maak en in sy enigmatiese diepbruin oë te kyk. As hy haar net met sy donker geheime wil vertrou … Dis tóg jammer Floors kan nie eens ’n klein bietjie van haar hou nie, dink sy, en sug sielsongelukkig.

      Wiandri steek later die middag in die deur van Lerina se privaat sitkamer vas en sien Grietjie en Lerina by ’n tafeltjie sit, besig om ’n legkaart te bou, terwyl Floors op die breë, gestoffeerde vensterbank sit en voorlees.

      “Tannie het altyd tot vieruur smiddae gerus,” sê sy afgehaal en verkwalik Lerina met haar oë.

      “Rus?” vra Grietjie skepties. “Die oumens – ek bedoel, juffrou Lerina – het smiddae meer as twee uur lank op haar bed gelê en haar bekommer oor haar bloeddruk, haar hart en haar liddorings. Floors het besluit sy kan tot drieuur rus en daarna lees hy vir ons al ons geliefkoosde liefdesverhale voor terwyl ons legkaarte bou of brei of hekel.”

      “Jy het nog nooit ’n steek in jou lewe gebrei nie, Grietjie, en jy weet nie hoe om ’n hekelnaald vas te hou nie. Ék bou die legkaart en jy verslind jou malvalekkers en steel my pepermente,” sê Lerina beskuldigend.

      “Konsentreer op jou legkaart en hou op om kort-kort jou pepermente te tel, juffrou Lerina. Dis sonde om suinig te wees,” sê Grietjie betigtigend en draai met ’n ingenome glimlaggie na Wiandri. “Floors is wonderlik goed vir ons, my engeltjie. Ná middagkoffie gaan stap ons deur die tuin of af rivier toe. Hy sê hoe ouer ’n mens is, hoe meer oefening moet jy doen.”

      “Is Floors ’n deskundige op die gebied van oefening, tant Grietjie?” vra Wiandri gelykmatig, sien uit die hoek van haar oog dat Floors opgestaan het, maar weier om na hom te kyk.

      “My pa is byna sestig en hy glo oefening is goed vir hom. Stem jy nie saam nie, Wiandri?” vra Floors uitdagend, asof hy verwag dat sy hom gaan weerspreek.

      “Ek is ’n verpleegster, nie ’n oefeningfoendi nie, Floors,” antwoord sy kortaf.

      “Kom sit hier langs my, kindjie,” nooi Lerina hartlik, “en help my met hierdie legkaart. Daar is soveel blou lug en see dat ek tot volgende Kersfees aan die ding sal bou. Floors gee nie om om te lees nie, selfs al hou hy kamstig nie van liefdesromans nie.”

      Sy het nie meer beheer oor haar verraderlike emosies nie, dink Wiandri met groeiende kommer, want om in dieselfde vertrek as Floors te wees, is voldoende om haar op net een onderwerp te laat fokus: op hom. Haar gedagtes, haar sintuie, selfs haar hartklop maak haar intens bewus van sy teenwoordigheid, en gebruik sy nie al haar wilskrag nie, staar sy asof betowerd na sy gespierde arms en bene. Sy weet sy sal haar verheerlik in die volmaaktheid van elkeen van sy gelaatstrekke, daarom durf sy nie na hom kyk nie. Floors sien haar skaars raak, maar hy beskik oor ’n magiese krag wat haar aantrek en hom die middelpunt van haar bestaan maak.

      Gevaarlik.

      Die woord fluister deur haar gedagtes, maar sy ignoreer die waarskuwing van haar verstand. Tant Lerina vertrou hom, so sy het niks te vrees nie. Maar sy mag nie vergeet nie: Floors is ’n onbekende indringer met ’n onbekende verlede.

      “Ek is bly jy het gekom, Wiandri. As jy die boek verder sal voorlees, sal ek oom Ben in die tuin gaan help,” onderbreek Floors haar tobbende gedagtegang en hou die boek uit na haar.

      “Nee, Floorsie, jy word met ’n bord kos betaal om te lees. Ek het hope ander dinge om te doen,” sê sy vermakerig, draai om en draf vinnig in die gang af na haar slaapkamer.

      Tant Lerina sal haar verkwalik oor haar geniepsige woorde, dink Wiandri skuldig, maar tant Lerina was nog nooit in haar situasie nie; nie dat sy sekerheid het oor wát haar situasie is nie. Sy weet net dat Floors haar terselfdertyd aantrek en grensloos irriteer. Sy is kwaad vir hom omdat … omdat sy hom byna in ’n oogknip liefgekry het en so weerloos voel, huiwerend tussen blydskap en hartseer, dat sy wil huil.

      “Nee!” bars die luide ontkenning oor haar lippe.

      Wiandri skrik vir die klank van haar eie stem, raap ’n boek op en storm by haar kamer uit na die trap. Dis die spanning van haar finale eksamen, die lang ure agter die stuurwiel en die gebrek aan slaap wat haar denkvermoë aangetas het, redeneer sy met haarself. Sy sal in die somerhuisie gaan wegkruip, haarself opkrul op haar geliefkoosde bamboesstoel en lees – en nie een maal aan Floors Venter dink nie, want sy is twee-en-twintig, ’n hospitaalsuster en veels te intelligent om op ’n geheimsinnige vreemdeling verlief te raak, besluit sy, en draf by die agterdeur uit.

      Sy hou al byna twee uur lank haar liefdesroman in haar hande vas, maar sy het nog nie ’n enkele woord gelees nie, besef Wiandri wanhopig. Hoe kan sy konsentreer as sy oor en oor elke woord, elke kyk, elke gebaar van Floors voor haar geestesoog herroep? wonder sy en sit haar boek met ’n oorwonne suggie neer. Sy sal nie lees nie. Sy sal aan Floors dink en met haar verstand ’n logiese verklaring vind waarom sy haar verbeel dat sy holderstebolder op hom verlief geraak het. Nee, sy het nie …

      “Oom Ben!” hoor sy Floors naby die somerhuisie roep en voel haar hart bly ruk in haar bors. “Het oom nie vir Wiandri gewaar nie?”

      “Nee, Floors,” herken Wiandri hul tuinier, Ben Moolman, se stem. “Wiandri het my net ná middagete kom groet, maar ek neem aan sy is weer terug huis toe. Of dalk het sy by die perdestalle gaan inloer. Tag, dis ook al amper vyfuur. Die dag hardloop weg as ’n man besig is met dinge wat die moeite werd is.”

      Wiandri sluip na die noordelike venster van die somerhuisie en loer tussen die digte jasmynranke deur na waar Floors en Ben in die roostuin staan.

      “Oom het darem ’n pragtige tuin. Hoe lank werk oom eintlik al hier?” vra Floors en kyk bewonderend om hom rond.

      Ben skuif sy strooihoed uit sy oë, krap agter sy oor en stoot ’n kuglaggie oor sy lippe. “Seker maar vandat ek kon loop, ou seun.” Hy kuglag weer en verduidelik: “Ek is in die tuinhuis gebore, ons is al vir geslagte lank tuiniers op Groeneweide. Ek het

Скачать книгу