Christine le Roux Keur 3. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux страница 4

Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux

Скачать книгу

net omdat ek te siek en sat is om weer ’n keer te baklei, weer hof toe te gaan om alles uit te sorteer, weer …” Sy bly moedeloos stil.

      “Jy moet dit nie so sien nie,” sê Sandra simpatiek. “Jy is jou eie baas. As jy dit doen, is dit omdat jy iets daaruit gaan kry. ’n Plaas, geld. Wanneer die jaar verby is, kan jy mos jou helfte aan Malan verhuur. Dit behoort jou ’n goeie inkomste te gee vir die res van jou lewe. En ’n jaar lank kan jy daar tussen die berge gaan sit sonder om dag na dag bang te wees jy loop Wilhelm –”

      “Ek wil nie sy naam hoor nie!” Julia se oë is nou swart van woede.

      “Jammer,” sê Sandra, onbeïndruk deur Julia se hewige reaksie. “Maar jy weet wat ek bedoel. Dink daaroor.”

      Julia bly in die sitkamer sit totdat dit later donker word en Plato sy groot kop onder haar hand inskuif en tjankgeluide maak om haar te wys hy is nogal honger en dat dit laat word.

      “Ja,” sê sy moeg. “Kom ons gaan kombuis toe.” Sy buk af en druk haar wang teen sy kop. “Jy is die enigste mansmens wat ek naby my kan verduur.”

      “Woef!” blaf Plato tevrede en hardloop gly-gly oor die klipvloer agter haar aan kombuis toe.

      Hoofstuk 2

      Tot die naweek werk Julia teen haar gewone spoed en met die intensiteit wat deel geword het van haar lewe. Dit skakel onnodige getob uit. Terwyl sy doringagtige rankplante terugsnoei of huiseienaars adviseer oor die uitleg van hulle tuine, het sy nie tyd om te dink aan haar probleme nie. Sy betrap haar egter dat sy tog saans, voordat sy aan die slaap raak, ou herinneringe probeer opdiep oor Ouderus. Sy onthou dat sy die huis misterieus en onnatuurlik groot gevind het, maar sy besef dit kan bloot wees omdat sy toe klein was.

      Daar was hoë, donker gange, onthou sy, slaapkamers so groot soos hulle sitkamer by die huis, hoë beddens waarop sy moes klouter, ’n kombuis wat rokerig en vreemd geruik het, nie soos haar ma se kombuis nie. Maar meer as dit kan sy nie onthou nie. Die herinnering aan die plaas self bly vaag. Sy weet daar was diere, vir haar as stadskind ’n rariteit. Eende wat koggelend op die werf geloop het en waarvoor sy bang was, beeste, volstruise. Oom Septimus het gesê sy moenie naby hulle kom nie; volstruise is nie groot hoenders nie; hulle is gevaarlik en hulle skop.

      Saterdagoggend takel sy haar woonkamer. Waarom sy dit doen, kan sy nie regtig sê nie. Dis nie asof sy Sandra se voorstel ernstig opgeneem het nie, asof sy regtig dink Sandra en Dolf gaan in die huis kom woon in die jaar wat sy, Julia, weg is nie. Nee, sy oortuig haarself dis bloot omdat die huis so deurmekaar geword het dat sy niks meer kan kry wanneer sy daarna soek nie. Sy gaan haal groot vullissakke en sorteer al die geskrifte en papiere, gooi hope daarvan weg. Sy dra houers met plante uit op die stoep of na die kweekhuis langs die stoep en teen die aand se kant is sy tevrede. Selfs haar lessenaar lyk netjies, te netjies eintlik. Plato lyk ook verward – die hoop ou koerante waarop hy altyd gelê het, is weg.

      Nadat sy aandete gemaak het, toe sy in haar nagklere op die bank in die skoon woonkamer sit, kyk sy peinsend na die telefoon. Sy probeer dit miskyk, dwing haar aandag terug na die tydskrif wat sy lees, maar na ’n ruk staan sy op en gaan soek in haar klerekas na die romp wat sy gedra het die dag toe sy meneer Brink gaan spreek het.

      Selfs toe sy met die kaartjie wat hy haar gegee het, in haar hand sit, twyfel sy nog. Solank sy dit alles ignoreer, bestaan dit nie, was alles ’n verspotte onderbreking van haar daaglikse roetine. Maar sy kán dit nie ignoreer nie. Die nommers op die wit karton spring rond, eis om erken te word. Uiteindelik staan sy sugtend op, gaan sit agter haar lessenaar en tel die gehoorstuk van die telefoon op. Sy skakel met dom vingers, stadig en deeglik, met een oog op die kaartjie asof sy nie reeds die nommer uit haar kop ken nie.

      “Malan,” sê ’n stem aan die ander kant.

      Haar eerste reaksie is om die gehoorstuk neer te wil sit. Dis ’n ontegemoetkomende stem, ’n stem wat niks verraai nie.

      “Julia Naudé,” sê sy dan en maak keelskoon.

      “Goeienaand,” sê hy.

      Sy weet glad nie wat om verder te sê nie en verwens haar impulsiwiteit. Sy moes eers mooi gedink het, alle moontlike wendinge in die gesprek gerepeteer het.

      “Meneer Brink het gesê ek moet u bel,” sê sy lomp, “die prokureur aan hierdie kant.”

      “Ja,” sê hy.

      Sy vererg haar vir sy onbehulpsaamheid. “U is natuurlik bekend met die verregaande voorwaardes in oom Septimus se testament.”

      “Ja, ek is.”

      “Ek het gesê ek weier om eens daaroor te dink,” sê sy bitsig. “Niemand kan dit van my verwag nie. Ons leef nie meer in die Middeleeue nie. Wat my betref, kan die plaas dadelik verkoop word en die geld na liefdadigheid gaan.”

      “Ek begryp.”

      Vir die eerste keer is sy bewus van emosie in sy stem. Wat dit is, kan sy nie sê nie, maar daar is iets. Die stem is nie meer so onbetrokke nie.

      “Vanselfsprekend,” gaan sy voort. “Niemand kan van my verwag om so ’n belaglike voorwaarde na te kom nie.”

      “Nee,” sê hy.

      Sy is lus en beëindig die gesprek daar en dan. “Meneer Brink dink dit sal ’n goeie plan wees as ek eers kom kyk hoe die plaas lyk,” sê sy. “Dis die enigste toegewing wat ek bereid is om te maak. Watse verskil dit gaan maak, gaan my verstand te bowe.”

      “Dis ’n mooi plaas,” sê hy.

      “Wat het dit met die prys van eiers te maak?” vra sy bitsig. “Ek het ’n huis hier, en ’n florerende onderneming. Ek soek nie ’n stuk grond nie. Hoe mooi dit is, is dus nie ter sake nie.”

      “Wanneer wou u kom?” vra hy beleef en hy ignoreer haar onvriendelikheid.

      Sy woorde haal die wind uit haar seile. “Ek weet nie – nie voor volgende naweek nie. Ek kan Vrydagmiddag afvlieg en Sondag terugkom.”

      “Dis in orde. Sal u my die presiese tye laat weet? Dan sal ek op die lughawe wees.”

      “Dis net ’n mors van geld,” sê sy stuurs. “En tyd. Ek het beter dinge om te doen.”

      Hy antwoord nie hierop nie. Op die agtergrond hoor sy ’n radio speel.

      “Ek sal laat weet,” sê sy. “Goeienag.” Sy sit die gehoorstuk neer en staar na die instrument asof dit gevaar inhou. Sy moes nie gebel het nie. Iets het in beweging gekom wat liewer in die kiem gesmoor moes geword het. Dan haal sy haar skouers op en gaan maak koffie. Dis nie vir die Malan-man wat sy dit gedoen het nie, ook nie vir die prokureur of selfs vir haar eie gemoedsrus nie – dis vir oom Septimus.

      Die plaas was sy lewe, dit weet sy. Dit was sy gesin, sy geliefde. Wanneer sy so daaraan dink, word die situasie draagliker. Miskien was dit die enigste manier waaraan hy in sy siek toestand kon dink om sy peetkind aan sy geliefde plaas voor te stel. Miskien, juis omdat hy nooit self getrou het nie, het hy nie besef watter groot stap so iets is nie. ’n Transaksie, het hy seker gedink, ’n manier om twee mense elkeen ’n erfporsie te gee.

      Sy skud haar kop. Dis verspot. Oom Septimus was miskien eksentriek, maar hy was ’n nugter mens, modern in sy denke. En … hy het haar die indruk gegee, al die jare wat sy hom geken het, dat hy

Скачать книгу