Die goudbaronne. Lerina Erasmus
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die goudbaronne - Lerina Erasmus страница 9
Heinrich merk dat Karl so staan dat die los gedeelte van die baadjie wat sy verminkte arm se stompie kamoefleer, buite hul sig is.
Karl glimlag. “Toe ek ná my rus opstaan, is die huis skielik so stil soos ’n grafkelder! Net Lenie was daar. Sy’t my gesê julle is hier.”
“Ons was op die punt om ons by jou aan te sluit,” lieg Deborah stug.
“Werklik?” Karl lig een wenkbrou spottend, dan kyk hy na Heinrich. “As ek dit nie mis het nie, het jy jou suster van jou besluit vertel?”
“Ja.” Heinrich staan op en glimlag verlig vir Deborah, wie se gesig nou half in skadu versteek is. “Ek was teëkanting te wagte, maar ek dink sy verstaan.” Hy kyk dankbaar na sy suster. “Dankie vir jou begrip, sus, ek waardeer dit.”
Deborah antwoord nie, maar lig net ’n hand wat beduie dat sy Heinrich ontslaan uit die vertrek. Die kilheid in haar oë en die harde trek om haar mond ontgaan nie vir Karl nie. Hy ken haar te goed om nie haar opgekropte drif te eien nie. Hy kyk bejammerend na Heinrich. Jong idioot! Sy het hom duidelik valslik gerusgestel. Hoe swak ken hy nie sy suster nie!
“Dis goed!” verklaar hy vrolik. “Dan kan ons mos gaan eet, ek is skielik rasend honger.”
“Goeiste, en ek moet nog gaan verklee! Verskoon my.” Heinrich haas hom by die kamer uit.
’n Swaar stilte daal neer oor die vertrek, en nie Karl of Deborah blyk by magte te wees om dit te verbreek nie. Dis eers toe hulle van onder uit die huis die laggende stemme van die twee jong mans hoor dat Karl praat.
“Sorgenfrei … jou erfgrond, waarvoor jy alles opgeoffer het … ek weet dit kom nie maklik nie, Deborah. Jy het drome gehad vir Heinrich.”
Deborah soek allermins simpatie, veral nie van Karl nie. Sy kom orent uit die leunstoel en glimlag, oënskynlik onaangeraak. “Daar is iets wat ek jou wil wys, Karl,” sê sy byna opgewek. “Sal jy saam met my afstap na die ou koetshuis?”
“Nou?” vra Karl verbaas. “Dis al donker.”
Deborah lag. “Skaars.” Sy haak by hom in en trek hom na die venster. Buite word die tuin saggies deur die gloed van tientalle fakkels en kerse verlig, soos ’n flikkerende sprokiesland. “Komaan, ons mag Sam nie teleurstel nie. Ons moet sy harde werk bewonder!”
Buite ruik die naglug na kruie, brandende kerse en die fakkels se rook. Sy aan sy loop hulle by die terras se trap af. Wat is dit waaroor Deborah so begeesterd praat? wonder Karl. Dit is waarskynlik ’n truuk om sy aandag af te lei van Heinrich. Sou sy weet dat hy hier is om vir hom voorspraak te doen? wonder Karl ongemaklik, terwyl hy met verdeelde aandag na sy vrou luister.
“Dis so aangepas dat mens dit van binne kan beheer en met een hand kan stuur. Sam is oortuig dat jy geen probleme daarmee sal hê nie.”
“Probleme?” vra Karl, nou nog meer uit die veld geslaan. Hy besef hy het nie die vaagste benul waaroor haar opgewondenheid gaan nie. Hulle kom voor die koetshuis tot stilstand. Deborah druk die swaar deur halfpad oop. Sy stap binne en wink hom om haar te volg. Dan skakel sy die ligte aan. Die Benz se glimmende silwer koplampe skitter blitsend onder die ligte.
Karl kyk sonder begrip na die vaartbelynde voertuig.
Hy besef nie dis vir hom nie, dink Deborah geamuseer. “Dis joune, Karl, dis jou verjaardaggeskenk! Kyk, mens kan die enjin van binne af aan die gang skop, en die stuurwiel hanteer jy volgens Sam met jou een hand en knie.”
Karl loop nader en inspekteer die blink, gladde bakwerk. Hy loer deur die venster na binne: Die motor se paneelbord is van donker rooshout, en die sagte sitplekke is oorgetrek in sy geliefde kleur, donkerblou. Seker seemsleer, vermoed hy. Meesterlike vakmanskap. Die volmaakte rytuig vir ’n jong dandy, miskien … Maar vir ’n eenarm-frats soos hy? Sou sy dit met opset gedoen het, om hom meer bewus te maak van sy gestremdheid?
Hy draai om en sien die onsekerheid en die afwagting op haar gesig. Dan skiet die gedagte hom te binne: Hierdie geskenk, hierdie vaartbelynde Benz wat Deborah vir hom gekoop het, dit is die oplossing waarna hy gesoek het gedurende die lang ure van hulle terugreis – ’n rytuig wat hom finaal na die ander kant sal vervoer!
Hy glimlag vreugdeloos. “Dankie, dis ’n bedagsame geskenk.” Hy uiter ’n vreemde laggie. “’n Vuurwa,” deklameer hy, “die vuurwa van Hermes wat my na die son sal dra!”
Deborah glimlag opgetoë oor sy reaksie. “Wel, as dit jou digterlike siel weer aanwakker, was dit die moeite werd. Sal ons teruggaan? Die ander wag seker al op ons vir ete.”
Hulle loop op na die huis, elk verdiep in hul eie gedagtes. Hoër op, teen die heuwelkroon, skitter die verligte Mannheims Ruhe in al sy glorie. Die huis se mense is almal teenwoordig vanaand, dink Deborah met ’n gevoel van tevredenheid. Sy sal haar nie oor Heinrich bekommer nie, sy sal wel ’n manier vind om die priester-idee die nek in te slaan.
Hulle beweeg tussen Sam se brandende fakkels deur, tussen donkerte en lig, tot hulle uiteindelik die kortpad kies deur die onverligte berkebos. Die reuk van verrottende blare oorweldig skielik die swoel naglug. Dit herinner Karl aan die dood, maar – ja, ook aan liefde. Eenkeer, hoe lank gelede was dit nie, het hy en Deborah saam gelê op ’n bed van blare, só na aan mekaar … Nee! Nie daaraan dink nie! Hy moet hom afsny van sy gevoelens. Dit amputeer, soos hulle sy arm geamputeer het. Kan hy? Hy vrees daardie verskriklike alleenheid van die finale stap.
“Van wanneer af weet jy van Heinrich se besluit?” Haar stem sny deur sy gedagtes. Hy gaan staan en kyk stilswyend na haar.
“Karl?”
“Hy’t my in Parys gesê. Daarom het ek teruggekom.”
Die eenvoud van sy antwoord krap haar om. “O nè? Moet ek daaruit aflei dat jy hierdie malligheid steun?”
Karl sug. “Jy moet hom laat gaan, Deborah, hy is ernstig daaroor. Moenie hom probeer dwarsboom nie. Jy gaan hom dan vir goed verloor.”
Karl voel weer hoe ’n skielike benoudheid, byna soos ’n asma-aanval, hom wil verwurg. Selfs al kan hy haar gesig nie sien nie, is hy bewus van haar aggressie, dit omhul hom soos statiese elektrisiteit. ’n Paar oomblikke lank is hy onseker of hy by magte is om haar teë te staan.
“Het jy al daaraan gedink,” vra hy stil, “dat hy waaragtig ’n geroepene mag wees, Deborah?”
Sy lag spottend. “Luister na jou! Karl Mannheim, die agnostikus, bepleit geroepenheid? Moenie my laat lag nie!”
“Waarin ek glo, is my eie saak. Maar Heinrich is ’n sielsmens, hy is en was nog altyd so. Jy wil almal oor een kam skeer, hulle buig soos jy glo hulle moet wees. Elke mens het die reg om sy eie besluite te neem. Heinrich is ses-en-twintig, en hy –”
“Stop dit!” Sy is skielik siedend van woede, en dit is net met die uiterste inspanning dat sy haar stemtoon weer onder beheer bring. “Jou inmenging, wat Heinrich aanbetref, is ongevraag,” voeg sy hom yskoud toe. “In die verlede het jy jou skaars gesteur aan enige van die twee seuns se opvoeding. Ek het hulle grootgemaak, nie jy nie, so enige inspraak wat jy nou wil hê, is wat my betref onwelkom!”
Sy swaai om en begin driftig weg te loop, dan steek sy vas en snou hom vir oulaas toe: “Ek sal nie vanaand aan tafel wees nie. My eetlus is bederf.”