Helene de Kock Keur 2. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Keur 2 - Helene de Kock страница 12
“Jess?” Sy sien die hartsbekende gesig afbuig na haar toe. “Jessica, dis ek. En ek weet ek is ontydig, maar ek moes net vanaand al kom …”
Dis die onsekerheid in die blou oë, die spanning in die vooroorgeboë skouers wat haar tot besinning bring. Dis of die skrik in haar koud word. Dis mos nie asof sy hom net gister laas gesien het nie. Nee, daar lê ’n lang, leë tyd tussen hulle.
“Kom binne, Daniël,” sê sy kalm.
5
Die Januarienag druk Jessica vas. Dis selfs na middernag nog moordend warm. “Dis nou van dié wêreld,” het mevrou Geyer vroeër gesug. “Somers koel dit nie eens af nie. Jy’s welkom om saans laat ook te swem, kind. Ek doen dit soms en dan slaap ek lekkerder.”
Nog ’n halfuur lê Jessica en wag dat haar liggaam haar hart moet afkoel, maar verniet. Haar binneste kook. Sy staan op en trek ’n swart bikini aan wat sy eenmaal op die ingewing gekoop het en nog nooit gedra het nie. Toe glip sy buitetoe en sak suutjies weg in die koel swembadwater. Sy duik diep in onder die oppervlak, geniet die lafenis totdat asemnood haar weer boontoe dryf. Toe gaan sit sy luilekker op die trappies aan die vlak kant, die water liggies klotsend oor haar lyf. En dis tog of haar gedagtes ophou maal sodat sy helderder kan dink.
Dis nie so erg nie, troos sy haarself. Dink aan die feite. Bloot die koue waarheid: Die man aan wie jy jou byna gegee het, is terug in jou lewe. Jy sal hom elke dag sien, elke dag met hom praat. En elke dag opnuut weet dat hy toe hy ver van jou af was, die naaste vrou gegryp het.
Dis immers wat hy self erken het toe hy gisteraand hier was. Jessica lê terug in die water, haar kop gestut teen die boonste trappie sodat haar lang hare soos wier om haar dryf in die silwerblink water. En sy maak haar oë toe en dink en dink totdat elke woord wat tussen hulle gesê is, stadig boontoe kom soos dooie blare in ’n dam.
“Ek moes net kom, Jessica,” het hy weer gesê toe mevrou Geyer koffie gebring en hulle alleen gelaat het in die groot sitkamer. “Ek … kon nie toelaat dat ons mekaar eers sien wanneer ons oor ’n week by die fakulteit instap nie. Dit sou net nie reg wees nie.”
Sy was skerp bewus van haar kaal voete en die wit T-hempie wat sy by haar denim aangehad het. O, sy sou graag op daardie oomblik die toonbeeld van gladde elegansie wou gewees het. Tog het sy met ’n wrang sekerheid geweet dat sy die hef in die hand het. Daniël was die een wat broos voorgekom het, bleek om sy mond met die kuiltjie wat spring in sy wang toe hy op sy kake byt. En toe sy haar asem liggies intrek omdat dit nog steeds na al die jare haar bene lam maak, het sy die bekende geur van sy naskeerwater gekry. ’n Begeerlike mengsel van sitrus en sandelhout. En juis dit het haar tot haar sinne geruk.
Hier staan Daniël Krause, het ’n streng binnestem gefluister. Die man wat jou hart gevat het en dit toe uit die bloute teruggesmyt het. Sy het haar lang, los hare oor haar skouers teruggegooi en met ’n koel gebaartjie gewys dat hy moet sit. Hy het ’n oomblik gehuiwer en toe tog op die punt van die bank plaasgeneem, sy hande voor hom saamgeklamp.
Sy het glimlaggend ’n koppie bitter swart koffie vir hom aangegee, haar wenkbroue effens geboog. “Drink jy dit nog so suikerloos of vind jy die lewe nou soeter?” Sy was spyt toe die woorde uit is, maar tog het dit haar ’n diep, onheilige genot verskaf om die kleur oor sy gesig te sien sprei. Maar sy het byna dadelik apologie aangeteken: “Ek is jammer, ek wou nie naar wees nie. Ek het my altyd voorgeneem dat ek beskaafd sal wees as ek jou ooit weer sien.”
Die ys was gebreek. Die waarheid het oop en bloot tussen hulle gelê. En sy het nie gekeer toe haar oë wou branderig word nie. Hy het sy mond saamgepers en woordeloos teruggestaar.
Hy het die koffie neergesit, sy driftige handgebare sy woorde vooruit.
“My hemel, Jessica. Dink jy ek sal jou kwalik neem as jy my haat?”
“Ek haat jou nie, Daniël,” kon sy doodeerlik sê. “Ek het geen idee hoe ek voel nie. Al wat ek weet, is dat dit ’n baie gekompliseerde situasie kan word as ons dit toelaat. Maar ek sal dit nie toelaat nie, en jy ook nie. Daarom is jy hier. Om gevoelens uit die weg te ruim sodat ons in vrede in dieselfde werkkring kan staan.”
Sy het haar lippe ferm gesluit na al dié woorde en sy was bly dat sy alles kon sê sonder om ooglopend in duie te stort. En toe moes sy ook die vraag vra wat al by haar gespook het sedert die oomblik dat Karel haar omtrent Daniël se terugkoms ingelig het: “Waarom het jy Potch toe gekom?”
Hy het sy hand oor sy oë gevee en voor haar kom staan sodat sy moes opkyk na hom. “Jy moet my glo as ek jou sê dat ek werklik nie geweet het dat jy ook hier sou wees nie. Ek wou maar net terugkom Suid-Afrika toe en ek was baie gelukkig om die pos te kry:” En toe sy net stil na hom bly kyk, het hy half onwillig beken: “Na die egskeiding wou ek weg uit Holland.”
En sy het gedink: Noudat ons aan die praat is, kan ons net sowel klaar praat. “Wat het gebeur?” het sy kalm gevra en gaan sit om aan haar koffie te teug. “Waarom het dit nie uitgewerk nie, Daniël?”
Hy het haar stom aangekyk, weer stadig gaan sit en ook sy koffie afgesluk. Toe het hy sy vingers voor hom inmekaargevleg en sy het met ’n skielike, vlymskerp hartseer gesien hoedat sy linkermondhoek ’n diep keep maak voordat hy praat.
“Dit kon nooit uitwerk nie, Jessica. Dit kon net nie.” Hy het skielik met een hand se vuis in die palm van die ander gedruk en sy stem was stram asof hy aan die woorde wurg. “Dit was nie liefde nie, Jess. Nie tussen my en Danina nie.”
“Wat dan?” wou sy meedoënloos weet en hy het teruggesak voor haar reguit blik.
“’n Siekte van die bloed … ’n aantasting van die sinne. Of ’n drang na seks as substituut vir waarna jy eintlik smag. Noem dit wat jy wil.”
Jessica voel ’n rilling deur haar lyf trek en sy kom druipend orent uit die water, loop net so nat kamer toe. Sy droog vinnig af en bewe nog so effens toe sy in die bed klim. Maar dis nie omdat sy skielik koud kry nie. Toe haar kop die kussing raak, begin haar skouers ruk, en sy huil die huil wat sy jare lank voel kom en gevrees het. Dis net so anders as wat sy haar dit voorgestel het. Sy druk haar gesig in die kussing om die snikke te smoor, sit die palm van haar hand op die krop van haar maag waar ’n diepgesetelde bewerasie dreig om haar naar te maak.
Daniël was hier, sê sy vir haarself oor en oor. En dis die skok wat so maak. Om hom weer te sien was erger as wat sy gevrees het. Veel erger. Want dit was ’n totale antiklimaks. Futloos vergeleke met wat sy so lank verwag het: die herrysenis van ’n ou bekende, brandwarm emosie. ’n Soort soet bitterheid oor wat kon gewees het; iets wat sou gloei en weer opvlam. Maar dit het nie.
Sy het na die man gekyk en geweet dat sy hom ken. Maar dit was al. Dit was nie Daniël, haar Daniël op wie sy tog maar gewag het nie: die sjarmante man wat haar hartstogtelik bly vashou het op die lughawe net voor sy vertrek Leiden toe, wat skromeloos betraand bely het dat hy nie geweet het dit gaan so pynlik wees om haar agter te laat nie. Nee, dis ’n ander Daniël dié. Een wat met ’n harde trek om die mond die situasie bruut kon analiseer: ’n siekte van die bloed, Jessica. Seks omdat daar nie ander troos byderhand was nie.
Feitelik is dit seker korrek, dink sy, en vee haar gesig af, draai op haar rug en staar die donker