Helene de Kock Keur 2. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Keur 2 - Helene de Kock страница 8
“Môre,” groet hy stug, en frons toe hy vir haar ’n stoel uittrek. “Môre, Kiewiet,” sê sy koelweg en beantwoord Anna se breë glimlag. Sy gooi vir haarself koffie in en gaan sit ewe tuis by hulle. Anna begin gesels asof hulle drie al jare lank saam oggendkoffie drink. Sy beduie met ’n blos van entoesiasme op haar wangbene hoe sy van rooi kannas en dennebolle ’n tafelrangskikking vir vanaand se Kersmaal gaan maak. En sal Jessica vanoggend asseblief handjie bysit met die koekbakkery vir Populier se werksmense?
“Wie sê die professor kan bak?” wil Kiewiet moedswillig weet en kyk haar die eerste maal reguit aan met sy kwaai, swartblink oë.
Kompleet, dink sy, asof hy die een of ander reaksie wil uittorring. Sy glimlag lief met hom. “Die professor het nog nooit, maar Jessica is ’n ou hand met bak en brou, Kiewiet.” Sy lê liggies klem op sy naam en sy sien dat sy die kol getref het. ’n Gloed stoot in sy nek op en hy tuur in sy koffiebeker.
Sy begin met Anna gesels, maar dink met wrang satisfaksie: So ja, Loek de Jager, weet nou dat jy vir hierdie proffie bloot Kiewiet is. En naby jou nes sal sy sweerlik nie weer kom nie. En nog ’n ding: jou Kiewiet-gesig vol kaf en stof staan my veel meer aan as Loek se winkelpop-mooigeit. Ten minste kan ’n mens sien hoe bekonkeld jy eintlik kan wees.
Sy luister na Anna se geselsies, knik nou en dan instemmend sonder om werklik te hoor en sien hoe die vrou se oë telkens liefkosend raak aan haar seun se breë hande wat styf om die koffiebeker gevou is, aan sy ongelooflike mond met die vol onderlip wat nou liggies saamgepers is soos wat hy drink en sluk. Maar hy hou sy broeiende swart blik op die tafel tussen hulle, kyk Jessica nie een keer weer aan nie. Net dan en wan kyk hy na Anna en dan versag die mooi, stowwerige gesig. Maar sy blik flits verby Jessica na die venster agter haar of af na die tafelblad waar ’n strepie sonlig tussen hulle ingekruip het. Hy drink klaar en plak sy beker hard neer toe hy opstaan.
“Ek loop nou,” sê hy effe bot, sodat Anna half verbaas haar eie relaas oor die doenigheid van die oggend onderbreek.
“Jy’t dan nog nie geëet nie, kind!” maak sy beswaar.
Maar hy skud sy kop so heftig dat Jessica die kafreuk in haar neus voel prik. “Nie honger nie, Mams. Ek sal vanaand mos baie eet.” Daarmee stap hy met lang treë uit en die sifdeur klap toe agter hom.
Anna sug en bly ’n rukkie nadenkend stil. Toe sê sy: “Steur jou tog nie aan hom nie, Jess. Hy sal jou nog gewoond raak. Hy maak van kleins af so as vreemde mense hier kuier.”
Jessica knik swyend, maar die woorde krap onverwags aan haar, maak haar nugter wakker. Ek kan nie bly nie, dink sy. Waarom moet Kiewiet my kwansuis gewoond raak? Tog nie om Karel se ontwil nie, dit weet almal seker nou.
“Anna,” sê sy, “ek is ’n vreemdeling hier en ek …”
“Ag nee!” roep die vrou ontstemd uit en steek albei haar hande oor die tafel om Jessica s’n vas te vat. “So het ek dit nie bedoel nie!”
Maar Jessica maak haar met ’n laggie stil. “Ek weet goed, Anna. Maar jy weet tog daar’s geen werklike rede waarom Kiewiet aan my hoef gewoond te raak nie. Ek het saam met Karel gekom, maar ek moet om sy ontwil liefs nie bly nie. Buitendien, ek moet na Kersfees regtig terug Potch toe.”
“Om Daniël se ontwil,” sê Anna en klink so beswaard dat daar ’n benoudheid in Jessica se bors opstoot. Dis of die woorde haar eie gedagtes deur ’n sif druk sodat net die pitte agterbly. Daniël, en sy terugkoms sonder sy vrou. ’n Ligte bewing laat haar haar hande uit Anna se moederlike greep losmaak.
“Nie regtig nie,” jok sy openlik en sien die fyn begrip vir die leuentjie in Anna se mooi oë.
“Nou toe dan maar. Maar ek het tog gehoop dat jy sal bly tot na Nuwejaar. Ons het elke Oujaarsnag ’n holkransparty wat jy net móét bywoon.”
“Sy kan dit vir seker nie misloop nie,” sê Karel, wat ingekom het en die laaste woorde opvang. Hy tik Jessica liggies op die skouer as oggendgroet en soen sy ma.
Jessica wag net tot hy ook met ’n beker koffie sit voordat sy sê: “Ek moet terug, Karel.”
En met ’n flou poging tot lughartigheid: “’n Gas moet net lank genoeg bly dat die gashere spyt is om hom te sien vertrek.”
“Jy het reg,” antwoord hy doodernstig, “maar jy is nie ’n gas nie, Jessica.”
“Dis mos wat ek ook sê,” kom dit van Anna, en sy staan op om die krummelpap in die swart pot op die Aga ’n slag te roer. Jessica besluit om die saak vir eers daar te laat. Dis te veel van ’n feestyd om nou op eie sin en wil aan te dring. Toe hulle klaar geëet het, stap Karel droogoond toe sodat hy weer vir Stephen kan aflos. Sy beloof om later vir hom koffie te bring en begin om vir Anna te help.
Heel oggend bak hulle laagkoeke in drie kleure en stapel die groen, pienk en geel lae opmekaar met dik, wit versiersuiker tussenin. Sy help rooi koeldrank aanmaak en die middag kom al die werfkinders, uitgevat in hul kisklere, om hul Kerspartytjie op Populier se groot grasperk te geniet.
Anna lees die Kersverhaal vir hulle en daar word met lus weggeval aan die feestelike eetgoed. Jessica vat vir Karel en Kiewiet ook van die sagte, dikgesmeerde koek oond toe en kyk geamuseerd toe hoedat hulle met dieselfde geesdriftige gulsigheid as die kinders daaraan wegval.
Kiewiet ignoreer haar, staan met sy sykant na haar toe en neem kolossale happe wat sy stoppelwange laat bol, vee sy mond met die agterkant van sy hand af en stap na die vogmeter toe sonder om weer om te kyk.
Karel kyk hom kopskuddend agterna en loop saam met Jessica buitetoe om bo die geraas van die oond te sê: “Hy is skoon bedons van moegheid. Hy’t heelnag gehelp en wou ook nie nou gaan slaap nie. Gelukkig kom Adam om vannag na die Kersete by die oond oor te neem.” En toe sy met ’n fyn laggie bly luister: “Ek … het jou gesê Kiewiet is Kiewiet, Jessica.”
Sy sit ’n paaiende hand op sy stofvaal arm. “Kiewiet pla my nie, Karel. Glo my, die probleem lê nie by hom nie.”
Sy sien te laat hoedat die woorde sy sensitiewe oë laat vernou en sy kyk weg oor die werf tot waar die populiere van die laan al begin skadu’s gooi. Maar hy buk vooroor sodat hul gesigte byna teen mekaar is. “Ek wens ek kon jou help,” vorm sy lippe die woorde en sy verstaan, al doof die gedreun van die oond die klank van sy stem. Maar sy raak net speels met haar vinger aan sy ken waar daar ’n krummeltjie koek sit en stap terug huis toe om te gaan stort en aantrek.
Sy trek eers ’n kort swart nommertjie aan. Drapeer ’n string pêrels om haar nek en stapel haar hare losweg met ’n kammetjie op haar kop. Toe bekyk sy haarself in die spieël en weet met die eerste oogopslag dat sy haar vanaand vir Daniël aangetrek het. Só het hy van haar gehou as hulle saam een of ander geselligheid bygewoon het. So asof sy ’n eregas op ’n ambassadepartytjie kan wees.
Sy draai om en pluk die rok met een haal oor haar kop. Sy maak haar hare los en borsel dit tot dit blink agter haar rug afhang. Toe steek sy ’n enkele sierkam van ivoor bo haar linkeroor vas en trek ’n sagvloeiende, roomkleurige rok aan. Dis die perfekte keuse, besef sy toe sy die sitkamer instap waar die mans al elk met ’n glasie sjerrie staan en gesels. Die drie broers se kuiwe is nog klam van die stort na die dag by die droogoond, maar hulle is uitgevat in oopnekhemde en langbroeke. Adam lig dadelik sy glasie toe hy haar gewaar en Karel verstil merkbaar.
Dis Kiewiet wat haar koel op en af bekyk