Helene de Kock Keur 2. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Keur 2 - Helene de Kock страница 11
“Ek beskik oor genoeg feite om gegronde afleidings te maak, meneer De Jager. Ek het genoeg van Kiewiet en Loek gesien om te weet dat albei sku is vir te veel aandag … Of dalk is ek verkeerd. Dalk smag hulle juis daarna?”
Dit was sy beurt om witkwaad te word. Hy het die taai suigstokkie op die paneelbord neergeplak en oomblikke lank was sy vol mond saamgepers.
“Jy is geregtig op jou opinie. Jessica, en ek op myne.”
Sy het in die swart oë gekyk en gesien dat die sweempie gemoedelikheid wat nog die middag tussen hulle wou ontkiem, weg was. En sy was skielik ook moeg vir enige speletjie. Sy kon nie voorgee dat dit nie saak gemaak het wat hy dink nie.
“Kiewiet,” het sy reguit geantwoord, “ek weet jy dink dat ek dit bloot gerieflik vind om saam met jou broer te kuier. En dis waar dat dit vir my baie lekker is hier op Populier. Maar dis net so waar dat ek Karel as ’n baie spesiale vriend beskou.”
“Hoe spesiaal?” wou hy meedoënloos weet.
“Iemand na wie ek my kan wend as ek hulp nodig het. Karel is ’n ware steunpilaar.”
“Hulp? Van watter aard?”
Sy het weer kwaad geword. Die woorde het kwetsend geklink al was sy stem sag.
“Dis persoonlik,” het sy gekners en nog kwater geword omdat sy toegelaat het dat die man haar omkrap. Tot haar ergernis het hy nader geleun en haar gesig stip betrag. Die donker wenkbroue het opeens saamgetrek en toe het hy skielik die motor aangeskakel. Hulle het in stilte terug Populier toe gery. Maar toe hy haar by die opstal aflaai, was dit kompleet asof daar nooit skerp woorde tussen hulle was nie.
“Onthou om jou warm aan te trek voordat jy na die holkransparty gaan. Ek sal jou en Ma kom oplaai. Adam bly liefs by Jansie en Karel gaan sommer direk van die kantoor af, want Septimus se plaas lê heel aan die ander kant van die dorp.”
“Die holkransparty! Mevrou, so iets het ek nog nie beleef nie;” beduie Jessica toe sy en mevrou Geyer die middag na haar terugkeer sit en tee drink voor die televisie. Sy kry heimlik lag toe sy sien hoedat die ou dame elke woord opslurp. So asof die kuiertyd by haar suster maar drogies was en sy smag na die sappigheid van die lewe.
“En jy sê julle jongklomp het dwarsdeur die nag daar bo in die bek van die grot gesit? En dit sonder om moeg te word?”
“Watwou!” lag Jessica. “Daar was nie tyd vir slaap nie, mevrou. Daar is heelnag skaap op spitte gebraai en ek het nog nooit so baie geëet en gelag in my bestaan nie!”
“Vertel, vertél,” eis sy met ’n soort verlange en Jessica slaan haar arms om haar knieë waar sy op die mat langs die koffietafeltjie sit. Dis opeens ongelooflik opwindend om daardie nag woord vir woord te herroep.
Die soel, soet berglug toe hulle onder in die kloof stilgehou het om met hul pakkasies slaapsakke en kosmandjies teen die steil struikbegroeide helling op te beur tot bo by die grot. Die los wolkies wat speels by die goudgeel maan verbygedrywe het. Die knetterende vure in die bek van die grot en die geur van braaiboud en uie. Sy wat aan tientalle gesigte, glimlaggend in die vuurlig, bekend gestel word. Anna wat die aand inlui met blikbekers vol yskoue vrugtepons. Karel wat later doodmoeg opdaag en hom langs haar op die slaapsak opkrul om ’n uiltjie te knip.
Sy vertel van Kiewiet se kampvuurgrappies wat hoe later hoe kwater geword het, van die manne se bulderende gelag in die stil, donker nag en die vroue se kamma geskokte gegiggel. Van die sorgelose pret om ’n hele nag lank in ’n hol krans fees te vier en van die ongelooflik plegtige stilte waarmee dieselfde pretmakers die eerste sonlig van die nuwe jaar ingewag het.
Bo die swart getande toppe van die anderkantste berge het dit roosgrys begin glim en daar was vakerige roeringe in die grot, koffieketels het begin fluit op die dieprooi kole. Een vir een het die kontreimense uit die bek gekom en stil bly staan en kyk na die koms van die splinternuwe jaar. Jessica het tussen Karel en Anna gestaan en sy het gemerk dat die mense begin hande vashou. Ook hare is vasgevat deur die vrou en die man langs haar en dit was asof haar asem in haar stil geword het. Alles wat so geheel nuut is, is aandoenlik, het sy gedink en haar oë effens geskreef teen die blinkrooi sekel van die son. En sy het bewus geword van iemand wat reg agter haar kom staan het, sy arms weerskante toe uitgestrek om sy broer en sy ma se skouers vas te vat. Sy het omgekyk en hy was so naby aan haar dat sy kenbaard teen haar slaap gerasper het. Hy het sy kop vinnig laat sak en sy mond het oor haar wang gevee. Toe het hy Karel ’n klappie op die skouer gegee en gebuk om sy ma te klapsoen.
“’n Gelukkige nuwe jaar vir julle!” het hy gesê en omgedraai om ’n paar meisies se gretige nuwejaarskusse te ontvang.
Maar dit vertel Jessica nie vir mevrou Geyer nie. Sy bly ook stil oor die paar ander dingetjies wat daardie nag gebeur het wat haar laat sien het waarom Kiewiet sy eie, eie mens is.
En miskien, dink sy, wil ek nie eens aan myself erken dat ek nou weet waarom Anna Malan haar oudste met ’n eiesoortige liefde liefhet nie. En ek wil nog minder wonder oor Loek de Jager. Hy is nie Kiewiet nie. Hom het ek nog nooit met ’n oog gesien nie. Dié dat ek met ’n skoon gewete nalaat om mevrou Geyer enigiets omtrent haar kassieheld te vertel.
“Dit klink asof jy ’n wonderlike tydjie beleef het, Jessica,” sê mevrou Geyer dromerig. “O, om darem jonk te wees – en die voorwerp van soveel bewondering!”
“So erg is dit nie,” lag Jessica en strek haar bene wat styf geword het van kruisbeen sit. “Die Malans is maar net gawe mense en ek en Karel is soos broer en suster.”
“Ja,” antwoord die vrou half teleurgesteld, “dit kon ek sien toe hy jou kom aflaai. Sommer so ’n ou pikkie op die wang! Maar het jy nie gesê hy het sulke oulike broers nie?”
Jessica huiwer ’n oomblik, glimlag toe net.
“Ja, Adam is ’n prokureur op die dorp en Kiewiet … wel, hy help ook maar daar op die plaas rond. Buitendien, Adam is getroud en Kiewiet het baie bewonderaars wat erg besitlik oor hom is. Hy is nogal ’n haan onder die henne, sou ek sê.”
“Nè? Klink vir my na die tipe wat ’n verstandige meisie liewer moet vermy.”
“Bepaald, ja,” beaam Jessica en sluk haar lag weg toe mevrou Geyer haar met speurende konsentrasie betrag. Dis sommer of die pret uit hul geselsie verdwyn, want sy weet wat die vrou gaan vra. Daarom skud sy haar kop, hou ’n afwerende hand op. “Moenie,” pleit sy. “Ek weet nie wat ek omtrent Daniël gaan doen nie.”
Mevrou Geyer se blik is sag-begrypend, maar sy sê ferm: “Jy sal mooi moet dink, my kind. Ek het jou mos gesê hy kom môreaand die een of ander tyd hier inloer. Hy sê dis dringend dat hy jou moet spreek.”
Jessica bly net swyend sit, leun toe vooroor om die klank harder te stel, want dis nuustyd. Sy loer skuinsweg na mevrou Geyer toe Loek de Jager met charismatiese erns begin lees. Sy wakker, blink blik kyk stip in die kamera, sy swart kuif is plat gekam en hy dra ’n byderwetse donker baadjie met ’n blou hemp en modieuse blommetjiesdas. Hy lyk asof hy ’n gesogte model uit die een of ander Europese modehuis kan wees. Mevrou Geyer sit in stomme verwondering. Jessica byt haar lip vas en voel die lag in haar opwel. As mevrou Geyer hom darem vol stof en kaf by die droogoond kon sien. Of as hy met sy dae oue Kiewietbaard bolwang aan ’n suigstokkie sit en slurp. En wat van die stout grappies om die kampvuur wat die ou manne laat kraai en die jonges laat brul het? ’n Oomblik lank moet sy veg teen die versoeking om mevrou Geyer dit