Hartklop Omnibus 4. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach страница 18

Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach

Скачать книгу

deur. Een van hulle het sy vinger raak gesaag en ek moes hom verbind. Die voorman het hom na Giulio gevat vir steke.”

      “Jy het weer net gaan werk soek, lyk dit my,” terg haar pa en vou die koerant toe. Hy kyk op sy horlosie. “Dis etenstyd. Ons moet eetkamer toe. Louisa was tot nou toe besig, maar sy behoort daar te wees, sy en Luigi.”

      Rafaella vryf moedeloos oor haar voorkop en wonder of sy hulle moet vertel van sy aanslag. Liewer tog maar nie. Netnou hou hulle hom en haar dop en hulle weet sy stel eintlik in Giulio belang. Alles so ongemaklik!

      Louisa is in die eetkamer, maar nie Luigi nie.

      “Kom sit,” nooi sy. “Luigi is hier weg. Verskoon tog. Hy het seker iets wat hy wou gaan doen, maar hy het nie gesê wat nie.”

      Rafaella het haar gestaal om onbetrokke en koel te lyk terwyl Luigi haar met kalfsoë aankyk. Nou kan sy ontspan. Sy gesels oor die aanbouings en die man wat die ongeluk gehad het. Maar toe moet sy noem dat Luigi ook daar was.

      “O, hy wou jou seker rondwys, dié dat hy so ongewoon vroeg op was,” sê Louisa. “Maar as hy die ongeluk gesien het, sou dit hom ontstel het. Dis seker waarom hy weg is. Van kleins af is hy baie sensitief vir bloed en sulke dinge. So anders as Giulio, wat altyd almal wou verpleeg. Francesco se siekte het vir Luigi groot trauma veroorsaak. Hy kan siekte en besering nie hanteer nie.”

      Rafaella dink aan hoe hulle haar ma se siekte moes hanteer. Dit was ook traumaties, maar hulle het gedoen wat hulle moes en nie vir mekaar vertel hoe getraumatiseer hulle is nie. Haar ma, wat alles gely het, wat pyn verduur het, was deurgaans dapper. Nee, sy verstaan mense soos Luigi eintlik nie.

      Ná ete gaan stap Rafaella ver, tot by die wingerde waar die mense oes. Hulle ry die mandjies druiwe aan na ’n gebou in die verte wat soos ’n kelder lyk. Sy wil nie so ver gaan nie en stap met die pad langs tot by ’n klipbrug oor ’n riviertjie. Sy kom eers teen vieruur weer by die huis aan, lekker dors, haar voete stowwerig en gesig rooi van die hitte.

      Luigi staan op die terras en sy weet sommer hy het haar dopgehou. Op die tafel lê sowaar ’n verkyker.

      “O, jy is weer terug,” sê sy, net om iets te sê. Onmiddellik is sy spyt. Dalk dink hy sy het hom gemis.

      “Ja, ek was net gou dorp toe. Dit lyk my jy is een van daardie vroumense wat graag voetslaan. Vir Maria kry jy nie maklik buitenshuis nie. Ons sangers moet maar oppas vir koue en wind of enigiets wat ons stemme kan aantas.”

      “Julle lewe baie beskermd.” Sy kan en wil die sarkasme nie uit haar stem hou nie.

      Hy staan met een hand in sy sak, en met die ander een stryk hy liggies oor sy professioneel gestileerde hare. “Ja, dit kan nie anders nie. Jy is seker dors. Ek het vir ons limoncello bestel toe ek sien jy sukkel hier teen die steilte uit.”

      “Dankie, ek ís dors. Ek het darem nie gesukkel nie. Ek verseker jou ek is betreklik fiks.”

      “Dartelende wildsbokkie, nè?”

      Hulle gesprek word gelukkig onderbreek deur Alda wat met ’n skinkbord met glase, limoncello in ’n glasbeker en ys uitkom. Rafaella merk die bewonderende, verblufte blik wat die meisie Luigi gee, en dat hy bewus lyk daarvan. Geen wonder hy is so grootkop nie.

      Luigi skink vir haar en gee aan. Sy gaan sit op een van die stoele en tuur oor die vallei in die rigting van Cortona. Wat doen Giulio nou? Teen dié tyd het hy lankal die beseerde werker versorg. Sy wéns dit was eerder hy as Luigi wat nou by haar was. Luigi wat haar dophou en vir wie sy nie wil kyk nie. Hy moet net nie weer met sy vleitaal kom nie. Hy bly eerder, ongelukkig, stil totdat die atmosfeer met ’n mes gesny kan word.

      “Waar het jy al oral gesing?” vra sy om die versmorende stilte te verbreek.

      “Londen, Wene, Parys, Rome, Florence, Venesië, New York, Berlyn … baie plekke in Italië. Ek sing al van jongs af in die openbaar.”

      “Het jou pa jou geïnspireer?”

      “Ja, maar hy het my ook laat besef dat jy iets kan oorkom wat jou sangloopbaan kan vernietig. Daarom lewe ek, soos jy so bytend opgemerk het, besonder beskermd.”

      Sy kyk vlugtig na hom. Miskien moet sy nie so bevooroordeeld wees nie. Hy kan tog nie anders as om sy grootste bate te beskerm nie. As hy net nie so arrogant en seker van sy aantrekkingskrag was nie, sou sy dalk van hom kon leer hou. Met voorbehoude, maar nogtans.

      Gelukkig kom Louisa en Rafaella se ouers te voorskyn uit die huis.

      “Ek het jou ma-hulle die nuwe gebou en die uitgrawing vir die buiteswembad gaan wys,” sê Louisa. “Dit vorder regtig goed. Ons is binnekort gereed om mense in te neem en personeel aan te stel. Daar was al heelwat navrae, maar Giulio sal die aansoekers eers keur. Ons gaan dit die Francesco di Mareneschi-rusoord noem om liewe Papà te gedenk. Die naam is natuurlik nog nie aangebring nie, maar dit sal groot op die hek en gebou staan.”

      “Daar kom die lykswa aangery,” sê Luigi.

      Rafaella sien ’n swart motor van ver af aankom, maar dit lyk soos ’n viertrek, nie ’n lykswa nie.

      “Ag, jy is verspot,” berispe Louisa. “Dis Giulio se Alfa Romeo Kamal, mense, nie ’n regte lykswa nie. Hy is vroeg. Ek het hom eers veel later verwag.”

      Rafaella se hart begin sommer vinniger klop. Sy hou die aankoms van die sjiek motor dop, om die draaie en deur die bome, totdat dit voor die huis stilhou. Giulio klim uit, haal ’n dokterstassie uit en kom aangestap. Rafaella se dag helder sommer heeltemal op.

      “Hallo, is daar vir hierdie moeë man ook iets te drinke?” roep hy glimlaggend.

      “Hier is nog limoncello oor, maar eintlik is jy net betyds vir skemerdrankies,” roep Luigi terug.

      Giulio lyk nie so moeg soos die vorige dag nie. Hy groet almal en soen sy ma. Luigi skink vir hom limoncello. Hy drink dit vinnig, dorstig, en sit die glas weer terug op die skinkbord.

      “Lyk my jy het bietjie jou beroep beoefen,” terg hy vir Rafaella. “Die beseerde ou, Franco, is vreeslik beïndruk met die mooi dokter wat sy lewe gered het.”

      Sy lag. “Ag, ek sou dit nou nie as lewensredding bestempel nie. Gelukkig was ek toevallig daar om die nuwe gebou te inspekteer.”

      “Dra dit jou professionele goedkeuring weg?”

      “Absoluut. Ons hoor dit word na jou pa genoem.”

      “Ja. Ek is bly jy hou daarvan.”

      “Dis ook maar goed ek was ook by toe daardie ou sy vinger amper afsaag,” sê Luigi. “Toe kon ek darem die medisynetas laat kom.”

      Giulio kyk van hom na Rafaella en sê niks. Hy dink ek verwyl my tyd in Luigi se geselskap, dink Rafaella wanhopig, baie vies vir Luigi. As Giulio moet glo sy was heeldag by Luigi! Sy hou niks van die behoedsaamheid wat skielik op Giulio se gesig verskyn nie. So asof hy dink sy broer kry al weer maklik die meisie. Hoe gaan sy dié wanindruk nek omdraai sonder om te deursigtig te wees?

      “Luigi het net betyds daar opgedaag om die ongeluk te sien,” spot sy. Dis al wat sy kan doen om te kenne te gee dat hy nie heeltyd by haar was nie.

      “Verskoon my eers,” sê Giulio. “Ek sien julle later.” Hy verdwyn by die deur

Скачать книгу