Ys. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ys - Rudie van Rensburg страница

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Ys - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

      

      RUDIE VAN RENSBURG

      YS

      Queillerie

      Proloog

      ’n Dowwe knal weerklink in sy ore, net-net hoorbaar bo die gesuis van die tierende wind.

      Hy gil van die steekpyn in sy blad, verloor sy greep op die slee se handvatsel, val sywaarts en ploeg ’n voor deur die dun sneeulaag op die klipharde ysveld.

      Daar is die metaalsmaak van bloed in sy mond toe hy op sy maag rol en sy kop lig. Die slee lê op sy sy, die honde maal angstig rond. Hy kreun van die pyn toe hy probeer om sy bolyf op te lig en sy arms weier om te reageer. Warm vog stoot in sy keel op. Dit voel of hy gaan verstik.

      Hy draai sy kop met moeite sywaarts toe hy stemme hoor. Duidelik afgeëts teen die verblindende Arktiese lug kom twee mans aangestap, jaggewere oor hul skouers.

      Hy wil vra hoekom hulle hom geskiet het, maar kry nie die woorde gevorm nie. Bloed borrel by sy mond en neus uit. Sonder ’n woord gryp elkeen ’n voet vas en begin hom sleep. Hulle stap met mening en hy kners op sy tande om nie van die pyn te skree nie.

      Op die kruin van die ysrif sien hy vir die laaste keer die slee en honde. Swart spikkeltjies in die sneeulandskap. Sy bloedspoor kronkel van daar af soos ’n rooi rivier wat na sy watergraf lei.

      1

      Van JFK af ry Willie Nel met die trein onderdeur die East River na die Groot Appel. Hy klim by ’n moltreinstasie af, maar besef eers hy was oorhaastig toe hy in 79th Street uitstap. Hy wink swetsend ’n taxi nader, nie bereid om sy swaar tas die hele ent te dra nie.

      Vandag bewonder hy nie soos gewoonlik die wolkekrabbers van Manhattan nie. Die kenmerkende energie van die voetgangers op die sypaadjies behou ook nie sy aandag nie.

      Die vlug van Alaska af was uitputtend. Hy was van Juneau na Chicago op pad, maar moes op die laaste nippertjie sy kaartjie kanselleer en ’n vlug na New York bespreek. Wat sou MacArthur in New York doen? En hoekom sy dringende behoefte om vandag te ontmoet? Die sending van twee weke gelede was tog suksesvol; niemand vermoed enige onraad nie.

      Die taxi laai hom in West 88th Street af. Hy stap ’n draai om ’n stomende mangat voordat hy met die tas teen ’n paar trappe opsukkel na die sypaadjie.

      The Fast Food Mecca is ’n tipiese systraatrestaurantjie, eerder die uithangplek van die omgewing se kantoorwerkers as ’n toeristetrekpleister. Die plek is swak verlig en die reuk van ou kookolie en aartappelskyfies hang swaar in die lug. Daar is nog geen teken van MacArthur nie. Willie gaan sit teen die venster vir ’n uitsig op die straat.

      Minute later stop ’n swart limousine aan die oorkant van die straat. Die agterdeur word oopgemaak en senator Jack MacArthur klim uit. Met ’n swaaiende wysvinger gee hy instruksies aan die chauffeur voordat hy oor die straat waggel.

      In die restaurantjie sien hy Willie dadelik en wink hom met ’n breë glimlag nader. “Kom ons gaan sit daar agter waar dit stiller is,” sê hy met sy dralende Texas-aksent.

      Hy vee met ’n rooi sakdoek die sweet van sy voorkop af en bestel ’n worsbroodjie met skyfies en ekstra tamatie-en-uiesmoor. Willie bestel net koffie.

      “Nie honger nie?” vra MacArthur.

      “Ek’t op die vliegtuig ontbyt geëet.”

      MacArthur leun met sy arms op die lendelam tafeltjie wat onder sy gewig kreun. “Ek’s bly jy kon dit maak.” ’n Sweetlagie blink op sy bolip.

      “Wat doen jy in New York?” vra Willie.

      “Vir vinnige sake hier. Ek’s môre weer op pad terug Washington toe.”

      “Wat’s so dringend dat ek hierheen moes kom?”

      MacArthur sug. “Sy assistent vermoed iets.”

      “Sy assistent?”

      “Ja, ek moes jou ingelig het oor die man, maar ek het nie besef die donner gaan so lastig wees nie. Jou manne moes hóm ook eintlik uitgehaal het.”

      “Waarop grond hy sy vermoedens? Nie eens die media ruik onraad nie.”

      “Op niks. Sê net sy baas sou nooit daar iets oorgekom het nie. Daarvoor was hy glo te versigtig en het hy die toestande te goed geken.”

      “Hoe het dit by jou ore uitgekom?”

      “Hy’t met die president se stafhoof gaan praat. Hulle was glo destyds klasmaats op Harvard. Die stafhoof het my gebel. Dis duidelik die assistent dink ek of een van my komiteelede ‘mag iets daarvan weet’, soos hy dit gestel het. Verbeel jou!”

      “Wat sê jy toe vir hom?”

      MacArthur grynslag. “Dat die groenes ’n fanatiese spul is wat niemand ernstig kan opneem nie. En dat ek en my komitee sy universiteitsvriendjie se gat hof toe sal sleep as hy voortgaan met sulke wilde en ongegronde aantygings.”

      ’n Kelner met tamatiesousvlekke op sy wit baadjie bring hulle bestelling. MacArthur neem ’n groot hap van sy worsbroodjie. Sous loop in twee dun straaltjies uit sy mondhoeke aan weerskante van sy ken af. Hy vee dit met ’n papierservet af, maar ’n dun streep sous bly op ’n bolwang agter.

      Hy kyk na Willie. “Ons sal van die assistent ontslae moet raak.”

      “Sal dit nie juis agterdog wek nie? Niemand neem hom tog seker ernstig op nie?”

      MacArthur skud sy kop. “Ek het nie ’n keuse nie. Die bliksem gaan nou in sy baas se plek die referaat by die konferensie lewer, wat beteken hy sal die aandag van die wêreldmedia geniet. Hy kan besluit om sy vermoede oor sy baas se verdwyning uit te basuin. Kan jy dink watse slegte publisiteit dít kan afgee? Al Amerika en Europa se voorste omgewingsjoernaliste gaan by die konferensie wees.”

      “Sal hy dit waag?”

      “Jou raaiskoot is so goed soos myne. Maar die referaat gaan op sigself groot golwe maak, wat ek nie nou kan bekostig nie. Dis waarom ons in die eerste plek van sy baas ontslae wou raak.”

      Hy tik met sy voorvinger op die tafeltjie. “Die referaat is geskeduleer vir twee weke van nou af. ’n Dag of twee daarna stem die Huis van Verteenwoordigers oor my komitee se voorgestelde wysigings aan die energiewet, en ’n paar dae later dien dit voor die Senaat. Ek moet nog ’n klomp Kongreslede voor daardie tyd swaai, en die referaat kan my hele appelkar omgooi.”

      Willie reageer nie. Die besonderhede van die Amerikaanse politiek interesseer hom nie.

      “Tot nou toe lyk dit of ons op die meeste Republikeine in albei huise se steun kan reken,” gaan MacArthur voort, “maar dis nog nie ’n gegewe nie. Prominente mediaberigte oor die referaat kan fataal wees – groen kwessies is mos deesdae die Washington Post en hoofstroom-TV-stasies se bleddie stapelvoedsel. Dit kan ’n paar van die Republikeine en veral die klomp draadsitters van die Demokrate oortuig om teen die wysigings te stem.”

      Hy grinnik, vat nog ’n hap van sy worsbroodjie. “Gelukkig is ons president ten gunste daarvan. Hy meen aardverwarming is ’n bullshit-konsep wat die Chinese geskep het om Amerikaanse vervaardiging nie-mededingend te maak. Maar soos jy weet, is selfs sý hande afgekap as die Kongres dit nie goedkeur nie.”

Скачать книгу