Ys. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ys - Rudie van Rensburg страница 4

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Ys - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

aasvoëls op die volgende aalmoes wag nie. En anders as hulle wou hy Viking nie blootstel aan die risiko van terminasie in die geval van ’n misstap nie. MacArthur glo nie daaraan om spore agter te laat nie.

      Nou het Willie geen keuse nie – hy sal Viking móét betrek. Dis al siel in Suid-Afrika wat hy kan vertrou.

      Die geluid van ’n boodskap wat deurkom op sy skootrekenaar lei sy gedagtes af. Hy stap haastig na die sitkamer en kyk op die skerm. MacArthur het die geld vir die job inbetaal. Dis baie in Suid-Afrikaanse terme, maar kleingeld vir ’n dollar-multimiljoenêr.

      Willie raap die selfoon op wat hy gister op die lughawe gekoop het en bel Viking se nommer. Terwyl die foon lui, bestudeer hy homself in die groot muurspieël. Sy gesig is ingesonke, die donker kringe onder sy oë staan uit teen sy bleek vel. Sy nek lyk soos ’n ou man s’n, gekreukel en vol rimpels.

      Dís die prys wat hy betaal vir al sy slapelose nagte en gewroeg oor moorde op onskuldige mense, dink hy wrang. Mense wie se enigste oortreding was dat hulle ’n ligte struikelblok op MacArthur se pad na politieke sukses was.

      3

      Van: Jack MacArthur

      Aan: Dick Woods

      Soos ek vlugtig in die teekamer genoem het: Daar heers ’n nuwe geo-politieke Koue Oorlog aan die Noordpool – een wat die VSA verloor. ’n Kommandant van die kuswag het onlangs aan my gesê ons is nie eens in dieselfde liga as Rusland nie. Die enigste manier om in alle dele van die Arktiese sirkel op die oppervlak van die see te beweeg, is met ysbrekers, onder meer om navorsing na behore te doen en ons vloot- en kommersiële skepe toegang tot die gebied te gee. Die VSA het net twee ysbrekers, want ons het nie ’n begroting wat toegewys is vir daardie doel nie (neem ook in ag dat dit jare duur om ’n ysbreker te bou). Rusland, daarenteen, het 27 ysbrekers! En China, wat nie eens ’n Arktiese nasie is nie, het twee. ’n Ja-stem vir die wysigings aan die energiewet sal beteken ons kan ’n afsonderlike ysbreker-begroting kry, wat hierdie agterstand sal laat krimp.

      * * *

      Kaptein Kassie Kasselman tuur by sy kantoorvenster uit oor Buitenkantstraat in die Kaapse middestad. Die grou lug en sagte winterreën lig nie sy gemoedstemming nie. Hy is gefrustreerd. Twee maande hier sonder dat hy ’n enkele saak hanteer het!

      Snags lê hy wakker oor sy besluit om by die SAPD aan te bly. Ses maande gelede, toe hy sy bedanking by die Nuweland-polisiestasie ingedien het, was hy doodseker hy’s klaar met die Diens. Net te veel dinge het gepla. Maar ’n dag later kry hy ’n oproep van ’n kolonel wat personeel werf vir die SAPD se nuwe elite-speureenheid.

      “Die polisiehoof wil ’n proefneming doen met dié eenheid deur dit vry te stel van alle red tape,” het die kolonel verduidelik. “Dit sal net hoëprofielsake ondersoek en voorkeurbehandeling by ons forensiese dienste kry. Al die ander frustrerende en tydrowende adminprosesse sal nie vir die Spookeenheid geld nie. Die lede sal soms sy aan sy met die Valke werk om die druk op hulle te verlig. Die idee is om ’n eenheid in die SAPD te skep wat vinnig en hard op ernstige misdadigers kan toeslaan. Vaartbelyndheid word gewaarborg – net mooi niks moet in die eenheid se pad staan om sy werk te verrig nie.”

      Kassie het geswig voor dié geelwortel van ’n doeltreffende eenheid. As hy eerlik moet wees, wou hy dalk ook nie uit sy SAPD-gemaksone beweeg nie. ’n Skuif na die privaat sektor om vir die Afrika-buro van Sekerheidsdienste te gaan werk, sou te veel aanpassings verg, het hy oplaas besluit.

      Hy het egter een voorwaarde gestel: Sy jare lange kollega by die Nuweland-polisiestasie, sersant Rooi Els, moet saam met hom oorgeplaas word sodat hulle as ’n span kan werk. Hy’t nie kans gesien vir ’n nuwe partner nie. Die kolonel het dit teensinnig aanvaar. Rooi was in die wolke oor sy loopbaanhupstoot.

      Die oorplasing het nie in ’n oogwink gebeur nie omdat die Spookeenheid nog nie bestaan het nie. Kassie en Rooi moes nog vier maande by Nuweland vasbyt. In dié tyd het die stasiebevelvoerder, kolonel Daniels, uit sy pad gegaan om die lewe vir hulle onaangenaam te maak. Hulle is toegegooi met elke denkbare klein sakie wat gewoonlik vir groentjiespeurders gereserveer word. Dit was Daniels se manier om wraak te neem op hulle “verraad deur die stasie te verlaat”, soos hy dit gestel het.

      Eers twee maande gelede het Kassie en Rooi hier op die derde verdieping van die gebou in Buitenkantstraat ingetrek. Dis vir Kassie ’n vreemde kantooromgewing, sonder ’n uniform in sig. Net ’n bevelvoerder, sekretaresse en ses speurders (drie spanne van twee elk) sal aanvanklik aan die proefneming deelneem, saam met ’n soortgelyke eenheid in Johannesburg.

      Hulle staan bekend as die Spesiale Spookeenheid – “spesiale” is op die laaste nippertjie bygevoeg om hulle te onderskei van die Kaapstadse munisipaliteit se Spookeenheid teen verkeersoortreders. Die Afrikaanse afkorting van die eenheid, SS, mag onder geen omstandighede gebruik word nie “weens die negatiewe konnotasies”, het hulle nuwe bevelvoerder beveel; daar moet te alle tye gehou word by SGU (Special Ghost Unit).

      “Die poephol wat die naam uitgedink het, het natuurlik geen idee van Afrikaans nie,” het Rooi nog gespot. “Seker gedink die vertaling van ghost is gees.”

      Nog ’n wending was dat die hele span speurders eers vir ’n maand na die polisielaboratorium in Plattekloof gestuur is om heropgelei te word om moordtonele na behore te benader. “Ek wil seker maak hierdie eenheid ploeter nie rond soos van julle kollegas die afgelope paar jaar in soveel hoëprofielmoordsake nie,” het die brigadier gesê.

      Terug op kantoor is daar die afgelope maand nog net twee moordsake aan die SGU toegewys. Die ander twee speurspanne is daarmee belas, en Kassie en Rooi moes hulle maar intussen besig hou met die deurlees van pakke en pakke opleidingsmateriaal. “Dis sodat julle kan verstaan watter hoë verwagtinge ek aan my speurders stel,” het die brigadier gesê.

      Kassie kyk op toe Rooi instap met ’n botteltjie Creme Soda en ’n vleispastei in die hand. Hy plak die koeldrank op Kassie se lessenaar neer.

      “Bliksis!” kla hy. “Ek gaan nie eens tyd kry om my paai te eet nie. Toe ek van die kêffie af inkom, sê daai suurpruim-sekretaresse ons moet kom insit by die terugvoersessie van Colyn-hulle se moordsaak.”

      “Hoekom?”

      Rooi haal sy skouers op. “Brigadier se orders.”

      Kassie staan op. “Nou laat ons dan maar loop. Sy dink seker ons kan iets daar leer.”

      Rooi snork verontwaardig. “Sy hanteer ons soos rookies.”

      Kassie knik. Soos Rooi sukkel hy ook nog om brigadier Shaheena Fortuin te peil.

      * * *

      Frankie sit sy hand op Sue s’n. “Nog net ’n paar slapies, my skat.”

      Haar oë blink. “Hoe klink bobotie en geelrys vir jou eerste ete by die huis?”

      “My all-time favourite!” Hy druk haar hand. “En dis nie nodig om poeding te maak nie, jý gaan dit sommer vir my wees.”

      Sy lag, skud haar kop. “Dit voel nog heeltemal onwerklik dat jy gaan uitkom.”

      “Ek weet … Vir my ook.”

      “Voor ek vergeet,” sê sy opgewonde, “daar was vanoggend ’n advertensie in die classifieds van ’n ou tannie wat haar oorlede man se boekversameling wil verkoop. Ek’t gebel. Sy praat van amper ’n duisend boeke … volledige stel Langenhovens en ’n klomp ander ou Afrikaanse

Скачать книгу