Trompie Omnibus 7. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith страница 14

Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

      Die Boksombende gryp en pluk outjies uit die ry en druk hulle op die regte plekke in. Uiteindelik staan die spulletjie ordentlik. Daar is nie nou meer spelfoute nie. Die eerste klomp leerders wat by die hekke uitgeborrel het, lees wat daar staan:

      HOMPIE KEDOMPIE – STEM VIR TROMPIE!

      Die hoërskoolkinders kyk almal na die outjies wat so ernstig voor hulle uitstaar. Almal lag en geniet dit en stem saam – dit is nou regtig oorspronklik. Selfs die onderwysers wat by die hekke uitstap, lees eers gou wat die letters spel.

      Baie seuns wat nie lekkers by Gerrit gekry het of nie weet Trompie is ’n selfsugtige rugbyspeler of nie eintlik vir Ben ou Pen ken nie, besluit hulle gaan vir Trompie stem. Hulle kan die oulike Hompie Kedompie-rympie eenvoudig nie uit hul gedagtes kry nie.

      Dié middag neem Asjas se span ook voor die poskantoor stelling in. Trompie is daar om te sorg dat elkeen op sy regte plek staan en daar nie weer spelfoute is nie. Baie grootmense kyk glimlaggend na die sedige outjies en sê dan met ’n effense kopskud: “Ai, dié Trompie darem!”

      Gerrit en ’n paar van sy vriende stap daar verby. Hulle ignoreer Asjas se manne wat so netjies in gelid staan heeltemal.

      Trompie se veldtog is baie meer geslaagd as Gerrit s’n, maar die feit bly staan – Gerrit se pa is die eienaar van die lekkergoedwinkel. Gerrit het vir baie ouens lekkers gegee sodat hulle vir sy kandidaat, Ben ou Pen, moet stem. Daarom plak Trompie-hulle toe die plakkaat wat die seuns waarsku om hul geboortereg nie vir ’n bord lensiesop te verkoop nie by die skool op.

      Die skoolhoof hou hierdie verkiesingsveldtog glimlaggend dop en verbied dit nie. Hy dink dit is goed vir die seuns om so iets op eie inisiatief te reël.

      Uiteindelik breek die groot verkiesingsdag aan. Met lang pouse vergader die onder-16’s in die saal.

      Sarel Marais – die verkiesingsveldtog was mos sy idee – het vooraf toestemming by die hoof gevra en verduidelik dat die kandidate vir die kapteinskap die stemgeregtigdes eers wil toespreek. Die hoof het ingestem en die oggend selfs afgekondig dat al die onder-16-rugbyspelers met eerste en tweede pouse in die saal moet vergader.

      Teen eerste pouse storm al die onder-16’s by die saal in. Trompie, Gerrit, Ben ou Pen en Sarel sit sedig op die verhoog. Sarel is voorsitter. Hy het homself aangestel.

      Toe almal sit, staan Sarel op en lig sy hand. Dan sê hy hard: “Stilte, asseblief!”

      Die gezoem van stemme bedaar en die seuns word stil. Daar is tussen negentig en honderd ouens en hulle is almal onder-16-rugbyspelers.

      “Ons vergader vanoggend hier,” begin Sarel sy toespraak, “om na die twee kandidate vir die kapteinskap te luister. Soos julle weet, is pouses maar van korte duur, so hulle mag nie te lank praat nie. Indien die tyd dit toelaat, sal daar ook geleentheid wees om vrae aan die kandidate te stel.”

      Sarel se kort inleidende toesprakie word hard toegejuig. Hy draai na Ben toe en sê: “Die eerste spreker is Ben ou Pen.”

      “Haai, Ben!” skree ’n klomp van sy vriende en baie van hulle klap hande.

      Ben ou Pen verstaan die kuns om ’n bal blitsvinnig uit die oond te haak, maar hy is nie ’n spreker nie.

      Hy sê stamelend: “Ek wil net sê julle sal nie spyt wees as julle vir my stem nie. My vriend hier,” en hy wys na Gerrit, “is my hoofagent en hy sal namens my praat. Dis al wat ek wil sê.”

      Die seuns lag – Trompie ook – en Ben ou Pen gaan sit weer. Hy is tuis in ’n skrum, maar nie op ’n verhoog nie.

      Trompie glimlag selfvoldaan. Hy het sy toespraak behoorlik voorberei. Hy het gisteraand hard daaraan gewerk en eers laat gaan slaap. Hy is reg om sy sê ordentlik te sê.

      Sarel stel egter eers vir Gerrit aan die woord. Gerrit moet namens Ben praat. Gerrit is slim en dit is duidelik dat hy sy toespraak ook goed voorberei het. Hy begin deur Trompie en al Trompie se ondersteuners te vlei. Gerrit sê hy kan goed verstaan hoekom daar seuns is wat vir Trompie sal stem, want hy is ’n skitterende rugbyspeler.

      “Ek is self een van Trompie se bewonderaars,” sê hy vroom, “maar ons moet onthou, ’n kaptein van ’n rugbyspan moet oor meer eienskappe beskik as om net goeie rugby te kan speel. Die onder-16A’s is vanjaar ’n baie goeie span – al vyftien manne speel ’n barshou. As ons iemand moet kies net omdat hy ’n goeie speler is, sit ons op die ou end met vyftien kapteins!”

      Gerrit lag vir sy eie grappie. Baie seuns lag saam, veral dié wat verniet lekkers by hom gekry het en na nog meer uitsien.

      Nou begin Gerrit eers reguit praat en sy angel kom uit.

      “Trompie is ’n goeie rugbyspeler,” herhaal hy, “en ek is die eerste een om dit te erken – maar dit is al wat hy is! ’n Goeie speler – niks meer nie! Hy was laas jaar die onder-15’s se kaptein en selfs sy vurigste ondersteuners moet erken hy was ’n mislukking.”

      Gerrit is nou op dreef. Hy bal sy regtervuis en hou dit voor hom uitgestrek: “Ek sê julle, as ons laas jaar ’n ander kaptein gehad het, het ons die beker gewen!”

      “Hoor-hoor!” skree ’n klomp ouens vir wie hy al hande vol lekkers gevoer het.

      “Jy praat nonsens!” klink Dawie se piepstem op wanneer die “Hoor-hoor!” bedaar het. Nou skree al Trompie se ondersteuners tegelyk dat Gerrit nonsens praat. Ben, of liewer Gerrit se ondersteuners, probeer hulle doodskree. Daar is ’n oorverdowende lawaai in die saal.

      “Stil!” bulder Sarel so hard soos hy kan en hou sy hande in die lug. Uiteindelik kom die raserige spulletjie tot bedaring.

      “Wil julle hê een van die onnies moet ons hier kom uitboender?” vra Sarel kwaai vir die gehoor.

      “Nee!” skree ’n hele paar stemme. Hulle wil hê die vergadering moet aangaan. Hulle geniet dit.

      Trompie dink as hy voorsitter was, sou hy gesê het: “Wel, dan moet julle nou julle bekke hou!”

      Sarel is egter aan die roer van sake en hy is mos so uit die hoogte soos tien. Hy sê: “Die vergadering kan nou slegs voortgaan mits daar geen verdere steurings of oproerigheid is nie. Ek sal hierdie byeenkoms by die geringste teken van losbandigheid verdaag. Is dit duidelik?”

      Die seuns in die saal kyk vir mekaar. Baie is nie seker wat presies Sarel bedoel het nie, maar hy lyk befoeterd, so hulle sal nou maar stilbly.

      Die voorsitter sê vir Gerrit hy moet asseblief kort en saaklik wees en nie soveel dinge herhaal nie.

      Gerrit knik en gaan dramaties voort. Hy kyk na Trompie en dan skud hy sy kop weemoedig. Hy maak klapgeluide met sy tong asof Trompie innig bejammer moet word. Die Boksombende se Grootkaptein begin effens ongemaklik voel. Daar is ’n vies uitdrukking op sy sproetgesig.

      Skielik kyk Gerrit na die gehoor wat nou roerloos stil sit en sê met duidelike simpatie in sy stem: “Daar sit hy, die arme Trompie – ’n ou wat te hoog wil vlieg, ’n ou wat ’n posisie wil hê wat hy nie kan vol staan nie. As hy gekies word, sal hy diep ongelukkig wees, want hy weet voor sy siel hy is nie ’n goeie kaptein nie.”

      Trompie is nou so verontwaardig dat hy hom nie meer kan inhou nie. Hy skree:

Скачать книгу