Trompie Omnibus 7. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith страница 15

Trompie Omnibus 7 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

      Trompie gluur woes na Gerrit en sy sproetneus wip op en af om te wys hoe ontstoke hy nou is.

      “Sien julle?” sê Gerrit met ’n skouerophaling toe hy weer begin. “Ek het julle mos gesê Trompie is nie ’n kaptein nie. Kyk hoe maklik word hy kwaad – en ons weet mos ’n goeie kaptein moet nooit sy humeur verloor nie. Maar gelukkig het ons iemand soos Ben ou Pen hier.” Gerrit wys met ’n breë glimlag na Ben en sê: “Ben ou Pen is ’n standvastige, goeie, betroubare leier wat ook ’n briljante rugbyspeler is.”

      Ben staar ernstig voor hom uit en doen sy bes om te lyk soos die soort leier wat Gerrit beskryf.

      “Het julle al ooit gesien dat Ben ou Pen sy humeur verloor?” vra Gerrit vir die gehoor.

      Nee, almal skud kop, hulle kan nie eintlik sê hulle het al ooit gesien dat Ben omgekrap raak nie.

      “Wel, dan sal hy mos ’n waardige kaptein wees!” Gerrit wys met ’n dramatiese gebaar na Ben wat nog steeds stip voor hom kyk en standvastig en betroubaar probeer lyk – ’n man van min woorde, maar baie dade!

      “Stem vir Ben!” Gerrit se stem is hoog en skril. “Stem vir Ben en ek belowe julle ons gaan vanjaar die beker wen. Onthou ook – hy is nie ’n speler wat selfsugtig is op die rugbyveld nie.” Terwyl Gerrit hierdie laaste sin sê, kyk hy smalend na Trompie. Almal kan duidelik sien hy dink Trompie is wel ’n selfsugtige speler.

      “As julle die beste vir ons A-span wil hê,” sê Gerrit ten slotte, “moet julle vir Ben stem. Ben ou Pen is ’n goeie, onselfsugtige rugbyspeler – en hy sal ’n briljante kaptein wees. Ek weet julle wil net die heel beste vir ons span hê, so daarom weet ek Ben gaan vanjaar die onder-16’s se kaptein wees.”

      Die seuns klap beleefd hande. Hulle skree nie weer soos vroeër nie. Hulle is bang Sarel verdaag die vergadering.

      “Die laaste spreker vandag,” kondig Sarel aan, “is Trompie Toerien!”

      Trompie se ondersteuners het maar bekaf gevoel terwyl Gerrit gepraat het. Hulle dink hy het ’n goeie toespraak afgesteek, maar ondersteun nou hul kandidaat en dit help nie eens Sarel probeer hulle stilmaak nie.

      Een groep skree hard: “Trompie! Trompie!” en ’n ander skree: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!” Die seuns herhaal hierdie slagspreuk drie keer tot Sarel wys hulle moet bedaar.

      Die voorsitter is nou nie so streng oor die lawaai soos vroeër nie. Om die waarheid te sê, hy het een keer saam geskree: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

      Die Boksombende se Grootkaptein staan op die verhoog en kyk glimlaggend na die gehoor. Hy lyk nie so netjies, sedig en ernstig soos sy teenstander nie. Sy kouse lê soos gewoonlik op sy skoene en sy hemp hang agter by sy broek uit. Die seuns glimlag. Dit is die Trompie wat hulle ken.

      “Vriende,” sê Trompie met ’n growwe stem en hou sy hand voor hom uit, maar steek dit weer vinnig agter sy rug weg toe hy sien dit is nie skoon nie, “ons is hier bymekaar om oor ’n ernstige en gewigtige saak te beraadslaag.”

      “Hoor-hoor!” skree Rooie en dan dreun dit in die saal van almal wat “Hoor-hoor!” uitroep. Die ouens weet nie eintlik hoekom hulle dit doen nie, want Trompie het feitlik nog niks gesê nie en dit wat hy gesê het, het hulle nie juis verstaan nie. Trompie het dit self ook nie mooi verstaan nie.

      Sy pa het die sin vir hom neergeskryf en hom aangeraai om sy toespraak so te begin. Trompie hou van die woord “beraadslaag”, en hoewel hy nie verstaan wat presies dit beteken nie, herhaal hy dit nou.

      “Ja-nee, vriende, ons is hier bymekaar om oor ’n ernstige en gewigtige saak te beraadslaag.” Hy kyk na Sarel met ’n houding wat sê: “Sien jy, dis nie net jy wat allerhande groot woorde ken nie.”

      Trompie gaan nou voort met sy voorbereide toespraak: “Ek is nie vandag hier om moeilikheid te soek met enigiemand nie – nie met Ben ou Pen nie, selfs nie eens met Gerrit nie. Ek is nie hier om ander mense te verkleineer of sleg van hulle te praat nie. Ek is hier om vir julle te sê,” en Trompie slaan nou met sy regtervuis in sy linkerhand om sy woorde te beklemtoon, “julle moet ’n bobaas-kaptein kies – en ek is daai ou!”

      “Watter ou?” wil Gerrit smalend weet.

      “Die ou wat ’n bobaas-kaptein sal wees!” snou Trompie hom toe.

      Trompie dink nou aan nog ’n sin wat sy pa vir hom neergeskryf het en sê: “Vriende, laat ons die probleem koel en besadig in oënskou neem.”

      “Jissie, Trompie,” skree Rooie, “het jy ’n woordeboek ingesluk?!”

      Die seuns skater soos hulle lag. Trompie lag ook.

      Wanneer almal tot bedaring kom, gaan hy verder: “Ek was laas jaar die onder-15’s se kaptein en ek het my bes gedoen. Ons het nie die beker gewen nie, maar ons het mooi rugby gespeel – en dit is belangriker as om te wen. Ons was ’n gelukkige span, julle weet dit. Ons het baie pret gehad.”

      Trompie wys nou met sy vuil wysvinger na Gerrit en sê: “Die een wat kamtig Ben ou Pen se hoofagent is, was natuurlik nie ’n lid van daai span nie, so ek weet nie hoekom hy so baie te sê het nie.”

      “Skande!” skree ’n klomp van Trompie se ondersteuners.

      “Gerrit sê ek was selfsugtig,” vervolg Trompie. “Miskien was ek, maar dis nie te sê ek gaan vanjaar weer so wees nie. Julle ouens wat dink ek het te veel op eie houtjie probeer doen, moet onthou: ’n mens leer baie in ’n rugbyseisoen en ek is nie iemand wat oor en oor dieselfde foute maak nie.”

      “Onthou ook ’n bietjie,” gaan hy voort, “almal van julle, ek het al ’n jaar ondervinding as rugbykaptein – en watter ondervinding het Ben? Niks nie! Hy’s ’n goeie haker en ’n gawe ou – maar ’n spankaptein? Nee, ek kan Ben ou Pen nie in daai rol sien nie.”

      Ben staar nou weemoedig voor hom uit. Hy knik ’n paar keer stadig. Hy stem heeltemal saam met wat Trompie van hom sê. Hy wil in elk geval nie eintlik kaptein wees nie. Dit is Gerrit wat hom omgepraat en aangehits het.

      “Ek sê vir julle,” sluit Trompie nou af, en hy dink aan nog ’n sin wat sy pa gisteraand neergeskryf het, “bly op die bekende weë! Hou wat julle het! Stem vir ’n ervare man! Ons gaan vanjaar mooi rugby speel – wenrugby! Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

      Hy gaan sit onder dawerende applous. Feitlik die hele saal herhaal nou die kreet: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

      Gerrit, Ben en hul ondersteuners lyk maar mismoedig. Trompie het ’n geweldige aanhang. Baie van die spelers wat lekkers by Gerrit gekry en die petisie geteken het, roep nou saam uit: “Hompie Kedompie – stem vir Trompie!”

      Die seuns is beïndruk met Trompie. Hulle voel dit was grootmoedig en edel van hom om niks van die omkopery te sê nie en dit wen vir Trompie heelwat nuwe ondersteuners. Min weet hulle hy het in werklikheid heeltemal vergeet om dit te noem!

      Sarel bedank die sprekers wat opgetree het in ’n hoogdrawende toespraak en verseker hulle daar sal nou baie meer helderheid onder die stemgeregtigdes heers. Dit sal nou vir hulle duidelik wees vir wie om te stem en vir wie nie. Daar is nog ’n paar minute voor die klok lui en die seuns kan nou vir die kandidate vrae vra as hulle wil.

      Gerrit

Скачать книгу