Uit die Beek 2019. Barend Vos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos страница 21

Автор:
Серия:
Издательство:
Uit die Beek 2019 - Barend Vos

Скачать книгу

stenig wat na jou toe gestuur is …” (v. 37).

      Dit is geen wonder dat die volksleiers, wat sommer ook die gods­diensvoormanne was, Jesus uit die weg wou ruim nie. Hy draai geen doekies om wanneer Hy hulle kortvat nie; Hy sê ’n ding soos dit is. En Hy skroom nie om sy net wyd uit te gooi nie – tot by die allerheiligste herinnerings: dié oor die verlede, oor die voorvaders, oor die “goeie ou dae”.

      Hier kreet Hy sy klagte oor Jerusalem uit, die eeue oue setel van die Joodse godsdiens. Oor die leiers wat van altyd af, en juis nou weer in die Jesustyd, van die profete ontslae raak wat daarheen ge­stuur word. Hulle, die boodskappers van Bo, wat die godsdienstige elite se waardes kom bevraagteken. Wat die “waarhede” uitdaag en hulle só die argwaan van die hoës en die vernames op die hals haal.

      Stenig hulle! was die opdrag uit daardie kringe. Kruisig Hom! sou dit aanstons opklink.

      Bybellesers moet tog nie Jesus se trane hier miskyk nie. Sy diep hartseer oor die plek wat vir alle Jode kosbaar is en wat nou aan plundering en verwoesting oorgegee word omdat die leiers doen wat hulle doen.

      En juis hedendaagse gelowiges, mense soos ons, moet kennis neem van Jesus se snydende veroordeling van gevestigde belange wat vroom agter verstokte sienings versteek word. Oor die profete wat deur óns onder die klippe gesteek word en die gestuurdes wie se boodskap deur óns verdag gemaak word. Omdat hul eerlikheid ons ongemaklik laat, en selfs bedreig.

      ____________________

      U ken my hart, Here, en ook my ore wat net wil hoor wat hulle wil hoor. Reinig my, van kop tot tone! Laat my hoor wat die Gees vir die gemeente sê.

      Sondag 17 MAART 2019 Lees Genesis 15:1-12, 17-18

      Hemelse beloftes

      Toe het die Here vir Abram … gesê: “Kyk op na die hemel …” (v. 5).

      Hierdie verbondsverhaal is so intiem, dié gesprek tussen Abram en sy Here, dat die leser half skuldig voel, dit voel so na afluister …

      “Moenie bang wees nie, Abram,” sê die Here vir hom (v. 1), maar Abram word beangs, “ ’n groot donkerte het hom oorweldig” (v. 12).

      “Jou beloning sal baie groot wees,” verseker die Here hom (v. 1.), maar Abram kap terug: “Here … wat kan U vir my gee?” (v. 2). En: “Hoe sal ek (dit) weet …?” (v. 8).

      Dan wýs sy Here hom. Hy wys tot in die fynste besonderhede wat Hy aan hierdie twyfelende kind sal gee, soos Hy hom verbind het om te doen.

      Ag, hoe dikwels wens ek dat ek en mense soos ek dit alles ook so maklik kon weet. Dat ons Here ook so intiem met ons praat. So spesifiek, so reguit. So sonder ruimte vir misverstand. En dat ek Hom grootoog sal glo.

      Maar dan weet ek wel dat God se aanwysings vir my en mense soos ek seker nie méér spesifiek kan wees nie as, byvoorbeeld, Johan­nes die Doper se wysvinger: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh 1:29). Of as Jesus se ver­kla­ring aan die verwarde Nikodemus: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het …” (Joh 3:16).

      Vir my, skeptiese Godskind, Tomas-die-twyfelaar se tweeling, bly Abram se woorde en optrede hier ’n kristalhelder spieël. En sy Here s’n niks minder nie as ’n openbaring. ’n Allertroos vir my wat dikwels swets oor dowwe spieëls en raaiselagtige beelde. Ek met die versluierde oë en toegedrukte ore.

      ____________________

      Here, maak oop my oë! En hou dit gefokus op u voorsienige hand in my lewe.

      Maandag 18 MAART 2019 Lees Psalm 105:1-15

      Onthou!

      Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het, aan sy wonders, aan die reddingsdade … (v. 5).

      Tipies, dié oproep van ’n geestelike voorganger, nie waar nie? Die bevel om God te loof, om terug te dink aan sy daadwerklike goed­heid, aan die kere toe Hy hulle gered het. Daar is mos baie sulke geleenthede; hulle behoort nie te sukkel om te onthou nie.

      Hoekom is dit dan hoegenaamd nodig dat die psalmdigter sy mense moet aanmoedig om dit te doen? Is hulle bloot, soos alle gelowiges, traag om dankie te sê nadat hulle haastig was om asse­blief te vra? Waarskynlik, ja.

      Daar is dalk ook iets anders: Mense, juis ook gelowige mense, mense soos ons, sien nie die Here se hand vanselfsprekend raak nie. Ook ons word opgeneem en meegesleur in die spreektaal van ons tyd. “Soos dit moet wees,” sê ons. En “toevallig”. En “per ongeluk”. Ja, en dalk selfs “soos die duiwel dit wou hê”.

      Ons moet dus geleer word, soos kinders “dankie” en “asseblief” leer, om ons taalgebruik te verander. Om te sê: “Die Here se hand was oor ons.” En: “Dank God! Ons het deur dit alles anderkant uitgekom.”

      Dit behels natuurlik veel meer as woorde en sinne; dit vra ook die ABC van mooi kyk, van góéd sien, van agter die oënskynlike die Verborgene raaksien. Ja, om God se hand in alles wat goed is, te herken. Om voor en ná al die name wat ons so graag voor mense noem as ons dankie sê, aan die groot Naam die erkenning te gee wat Hom toekom.

      Hiervoor het ons dié soort psalm se hulp nodig. Al is dit net om nogmaals te verneem: Dink ’n bietjie verder, Godskind! Dink aan waar alles vandaan kom.

      ____________________

      U is die Here van môre en vandag, en goddank ook van gister. Halleluja!

      Dinsdag 19 MAART 2019 Lees Numeri 14:10-24

      Voortdurende vergifnis

      “Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het!” (v. 19).

      Die klaende woestyntrekkers en hul God … Hoe sal Hy op die aan­houdende ontevredenheid reageer?

      Met ’n hartseer wat ons verstand te bowe gaan: “Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou …?” (v. 11).

      Met woede. Ek gaan hulle uitroei! sê die Here. Ek sal ’n nuwe volk skep!

      Maar toe tree Moses vir hulle in. Waag hy dit om, van alle dinge, met die Here te redeneer. Om Hom eintlik trompop teë te gaan. Haai, Here, sê hy, U kan dit mos nie doen nie! U het hierdie mense dan so lank gelei – bedags in ’n wolk, snags in ’n vuur. En almal het dit gesien. As U dan nou die trekkers voor die voet uitroei, sal die mense sê U was onsuksesvol in u bemoeienis. Hulle sal sê: Hierdie Here kon nie regkry wat Hy beloof het nie.

      En dit kán mos nie. Of hoe, Here?

      Toe gebeur die onbegryplike: Moses praat die Here om. En die Here vergewe die neulende, immerontevrede klomp mense, dié wat Hom nie ag nie. Hulle wat Hom vergeet het, én alles wat Hy al vir hulle gedoen het.

      Vandag wonder ek steeds oor gelowiges, woestyntrekkers soos ons, se vrot geheue. Hoe ons gereed staan om by ’n geweeklaag in te val. Hoe dit dikwels óns is wat die klaaglied insit. En dan is ek bitter bly vir Hom wat vir ons intree. Nog meer: Hy wat die straf vir ons ongeloof gedra het. Wat aan sy Vader sê: U moet dit asseblief nie doen nie! Vergewe hulle! Nog ’n keer.

      ____________________

Скачать книгу