Kyk na my. Nataniël
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kyk na my - Nataniël страница 2
Op ’n dag sit my ma my boetie in sy waentjie, trek vir my die donkerrooi sandaaltjies aan en neem my hand. Ons drie is teen die bult uit tot by die groot huis anderkant die wingerd. Die groot huis het nie ’n tuinhekkie soos gewone huise nie, net ’n motorhek, geen motor. Ons loop deur die klein skaretjie suurlemoenbome propvol goudgeel ovale, elke boom ’n reuselantern. Die stoep kronkel om drie kante van die huis, dis ’n breë stoep vol rusbanke bedek met komberse, rakke vol flesse sonder deksels, rye en rye potplante (elke pot is anders en die meeste is gekraak of het ’n groot skerf prysgegee), tuinstewels en bosse gedroogde kruie. Die huis se sykant kyk na die straat, die voorkant kyk bo-oor die wingerd na ons huis. Op hierdie kant se stoep staan ’n houttafel met ’n beker yskoue limonade en ’n patroonbord vol gemmerkoekies. (Ek het met latere besoeke besef dat limonade altyd gereed gestaan het, altyd yskoud, selfs al is gaste nie verwag nie. Die koekies – wat presies gelyk het soos gemmerkoekies moes lyk, nie te plat of bleek of met te min krakies nie, presies reg – was altyd vars, pas uit die oond. Hoe was dit moontlik?)
Op die eerste dag staan die voordeur oop. Hierdie deur het bestaan uit ’n reeks houtrame gevul met kronkeltjieglas en was, vir solank ons in ons huis bly woon het, nooit weer toe nie, deur wind en weer, hitte en hael, dag of nag was dit oop. Lank en slank met ’n donker vlegsel en ’n enkellengte regaf rok uit koper fluweel, só lyk die ouerige vrou wat ons inwag. Sy groet vriendelik, soen my boetie op sy voorkop en neem toe my gesig in haar hande.
Wat ’n pragtige seuntjie! sê sy, En kyk jou goue bos krulle!
Ja, ons weet nie waar hierdie hare so skielik vandaan kom nie, sê my ma, Beslis nie uit die familie nie.
Kom binne, sê die vrou, My suster is in die kombuis, jy kry haar nie daar uit nie.
Ons stap af in ’n gang vol vreemde voorwerpe, aardbolle op silwer staanders, voëlkoue met oop deure, lampkappe sonder gloeilampe en regop houers vol pikswart sambrele met houthandvatsels waarop gesigte uitgekerf is.
Die kombuis is groot en vol kos, amper soveel kos soos in Ouma se kombuis. Daar is hoë, vrolike vensters met gehekelde gordyne, die mure tussenin is toegegroei met rakkies wat slap hang onder rye en rye glasbottels, alle vrugte en alle groente waaraan jy kon dink, is ingelê. Blikke sonder deksels vertoon berge beskuit, ’n skinkbord is toegepak met vrugtebroodjies en op ’n groot stoof staan kastrolle en stoom.
Die suster is koeëlrond en ook ouerig. Haar ligpienk rok is gekreukel, sy het ’n knoop verloor, die een mou het begin lostorring en die meeste van haar spierwit hare het reeds ontsnap uit ’n skewe bolla. Sy hou aan ’n stoel vas en kyk nie na my ma of my boetie nie, sy praat net met my.
Jy moet honger wees, sê sy met ’n bewende stem, Kom sit, waarvan hou jy? Hier is pasteie en pannekoekies en ek het perskes ingelê.
Hier is alles, lag die lang vrou, Sy hou nooit op nie.
Ek het gekuier en geëet tot my ma gesê het ons moet nou loop. Daarna was ek elke tweede dag daar, of so gereeld as wat my ma my toegelaat het. Die Stoepsusters (een was altyd op die stoep, die ander nooit) het uitgevra, geluister, gehuil, gesing, gewaarsku, gevoer en mekaar Suster genoem. Ek het gesels, geëet, baie gelag en nog meer gewonder.
Baie jare later het ek eendag saam met Ouma inkopies gedoen op Wellington. Ons was op pad motor toe, twee vrouens het uit die slaghuis gekom, een was lank, die ander kort, albei geklee in lang rokke uit ’n ander era. Onvas op die voete het hulle aan mekaar vasgehou, een se skoene was deurgeloop, die ander se hare was deurmekaar, een het ’n pakkie toegedraai in bruinpapier vasgehou, aan haar een vinger was ’n ongewone ring met ’n groot steen, op die ander een se skouer het fyn blinkers gelê asof sy deel was van ’n konsert of erge partytjie.
Ek het na Ouma gekyk.
Ja, het sy gesug, Dis wat gebeur wanneer feetjies vleis eet.
Ons heining
Ons Wêreld en die Ganse Wêreld was slegs geskei deur silwer ogiesdraad. Die ogies was groot en die draad was dun, die soort wat niks buite of binne hou nie, dit was net daar, styfgespan tussen dun silwer paaltjies, ’n skouerhoë, byna onsigbare heining, waar anders moes silwer draad heen? Die heining het gestrek om drie kante van die erf, voor teen die pad, een kant af teen die leë erf tussen ons en die Gagiano’s en aan die ander kant teen die wingerd wat aan niemand behoort het nie. Aan die agterkant van die erf was geen heining. Daar was ’n agterplaas met ’n klein geboutjie vol gereedskap, ’n wasblok uit sement, kompleet met ’n hoë kraan en ’n diep wasbak. Bome, bevrug en onbevrug, het rondgestaan soos wesens wat onwillig was om te gesels of ’n ry te vorm. Lang gras en enkele riete het aangedui dat die erf op ’n einde was, hier was ’n klein vlei, soms het ’n dun stroompie water gekabbel sonder geluid.
Ek het nooit die doel van die heining bevraagteken nie, dit was nie vir veiligheid nie, watse gevaar kon daar wees? En agter was dit onnodig, anderkant die vlei was niks, die Ganse Wêreld het daar opgehou, soos ook twee strate verder aan die ander kant van die dorp, soos ook aan die einde van ons vriende se erf in die onderdorp. (Ons Ganse Wêreld is ’n dorp genoem, daar was ander dorpe ook, dié het net bestaan wanneer ons soontoe gery het. Die res van die tyd was hulle hul eie Ganse Wêrelde.)
Op warm dae het ek op die voorstoep gestaan en kyk hoe die heining in die son skitter, dit was ’n spinnerak sonder gogga, met ’n klein voorhekkie, ook skitterend, en ’n groot hek vir inry. Die rede vir die briljante glans was dat die heining geverf was, hóé en deur wie ’n heining van ogiesdraad beskilder word, sal niemand jou kan sê nie, dit was bedek deur die blinkste verf wat enigiemand ooit sal sien. En dit was netjies. En omdat dit netjies was, het niks daarteen gegroei nie, nie ’n enkele rankplant het sy lote gelig nie, leeg en skoon het die spinnerak daar gehang.
En hier kon ’n kind doen wat lankal nie meer moontlik is nie, jy kon reeds vroeg in jou lewe die hekkie oopmaak en die Ganse Wêreld betree. Jy kon alleen in die straat stap, sommer reg in die middel, verkeer was skaars en daar was stilte. Ouma het gesê jy kon ’n motorkar al hoor as hy by die fabriek uitry, jy sal weet wanneer jy uit die pad moet staan.
Die Ganse Wêreld is Riebeek-Kasteel genoem. En wanneer jy by die hekkie staan en links kyk, het jy die opdraande gesien, die Stoepsusters se huis bo teen die bult, dan die stopstraat en die dwarspad. Anderkant die dwarspad was vrugteboorde vol skaduwee en ’n beskutte huis waarin iemand met ’n titel gewoon het, Dominee, Sersant, Magistraat, die tipe man wie se vrou nooit sonder ’n borsspeld gesien is nie. Ek het daarvan gehou om regs te kyk. Daar het die afdraande ’n gelykte geword, jy kon stap tot by die hoekerf. Hier het ek baie gespeel, ek het geen idee wie daar gewoon het nie, maar ek het die tuin goed geken, ’n uitermate groot stuk grond sonder ’n enkele spriet gras, net roosbome, miljoene van hulle, tussenin was fonteine en bankies. Die huis was in die middel van al die rose, ’n lang, plat huis met Venesiese blindings, afstootlik en altyd toegetrek, ek kan nie onthou dat ek ’n enkele keer binne was nie.
Wanneer jy regs gedraai het, was daar ’n tennisbaan en ’n oop stuk grond aan jou linkerkant, dit was die middel van die dorp. Hier het boere met bakkies parkeer. Ek het geweet wat boere was en dat hulle op plase gewoon het en dat hulle kinders ook daar gewoon het en elke middag ná skool uit die dorp verdwyn het, maar terwyl die dorp die Ganse Wêreld was, was ek nie lus om daaroor te dink of te probeer verstaan waar die plase dan kon wees nie.
Sodra die polisiestasie aan jou regterkant verskyn het, kon jy links draai na die winkels. Dit was ’n konkoksie van geboutjies, stoepe, gangetjies, binnehowe en ’n paar woonhuise, alles aanmekaar. Heel eerste was die naaldwerkwinkel, dit het aan ’n vriendelike vrou behoort, sy was brandmaer en haar