Kyk na my. Nataniël
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kyk na my - Nataniël страница 5
Ek het baie van Juffrou Van Wyk gehou, sy was vriendelik, nie vriendelik genoeg om te sê skoolgaan is nou verby nie, maar sy het haar ontferm. (Dis Ouma se woorde, as iemand hom of haar ontferm, is jy veilig.) Op ’n foto in my album sit ek langs haar, jy kan glad nie sien ek dryf nie, ek glimlag breed. Op my bors is ’n papiergesiggie met my naam.
Waarvan ek baie hou, ten spyte van die skip en sy gewieg en die blok om my nek en my ouers wat weg is, is die reuk in die klaskamer. Poeierverf, styselverf, waterverf, speelklei, kryte, gom, houtblokke, houtkrale, papier in alle diktes en teksture, alles saam skep ’n reuk wat ek vir die res van my lewe sou herken in ateljees en werkswinkels, die plekke waar vakmanne aanhou swoeg om iets onherkenbaars of onbereikbaars sy vorm te gee.
Van iewers kom ’n stem wat ek nie ken nie, ’n manstem, hy praat met my, sag en kalm: Dis nie so sleg nie, sien jy? Dis glad nie so sleg nie.
Buite lui iemand ’n klok. Juffrou Van Wyk laat ons in ’n ry staan.
Gaan ons nou huis toe? vra ek. Maar die blok druk teen my keel en maak my hees, niemand hoor my nie.
Dis nou pouse, sê Juffrou, Ons gaan almal saamstap tot by die bome, daar kan julle speel en julle broodjies eet. As iemand wil badkamer toe gaan, sê net vir my, dan stap ek saam geboutjie toe.
So leer ken ek ’n woord wat meer vrees en wreedheid inhou as enige spookstorie wat Oupa nog ooit kon uitdink. Pouse. My blok is swaar, ek haal hard asem en volg net die kind voor my. Ek kyk nie op nie, ek sien net skoene, daar moet meer as ’n miljoen wees, al die skoene lyk soos myne, ek kyk effens op, almal se klere lyk ook soos myne, vir wat? Sodat ons kan verdwyn soos die stukkies in my legkaart met die baie lug? My ma en pa gaan my nooit kom soek nie, hulle is by die huis met my boetie. Hoekom wil hulle my weg hê? En hierdie kinders! Hoekom gil hulle so? En spring soos bokkies? Weet hulle nie ons is gelos vir die wolwe nie? (Ook Ouma se woorde.)
Hier leer ken ek nog ’n ding, afwagting. Ek dryf, nou tussen die miljoene identiese kindertjies, niemand maak my seer nie, niemand sê snaakse goed nie, niemand gryp my broodjie nie, maar ek wag daarvoor, hier is niemand om my te help nie, Juffrou kan nie almal dophou nie, hoekom is daar ’n pouse? Hoekom moet jy weggaan van jou tafeltjie en jou tas? Jy kan mos by die huis speel!
Ek kyk op. Nee, kyk af! Daar is groter kinders by die geboutjie met die toilette. Hulle kyk vir ons. Ek hap my broodjie, ek hou van eet, maar hier proe ek niks.
Die dag hou nog ’n duisend ure aan. Ek weet nie hoe ek by die huis gekom het nie. Ek het ’n ster op my voorkop en ’n prent in my hand.
Oo, dis mooi, sê my ma, Wat is dit?
Dis ’n skip, sê ek.
Ek sien net blou, sê my ma.
Hy het gesink, sê ek.
My ma sit die prent neer.
Hoe was Dag Een? vra sy.
Wat is Dag Een? vra ek.
Jou eerste dag op skool! Môre is Dag Twee!
Moet ek wéér gaan?
My ma lag.
Ai, sê sy, Jy ís ’n grapjas!
Hoofkwartier Van Sif
My eerste skooltas was ’n klein reghoekige bruin kissie, binne was ’n kosblik, ’n botteltjie vir koeldrank, ’n blikkie met gekleurde potlode en af en toe voorbeelde van die monsteragtige kuns wat kinders in Sub A voortbring. Daar was ook ’n dun boekie met ligblou lyne. In hierdie boekie het Juffrou Van Wyk kennisgewings geplak of kort boodskappies aan die ouers geskryf. Op ’n dag, ná skool, was ek en my ma in die sitkamer, ek het die boekie uit my tas gehaal en aan haar gegee. Binne was ’n boodskap: Indien nuwe leerlinge sou belangstel om klavieronderrig te ontvang, moet ouers asseblief die skoolkantoor kontak.
Het ek dit self gelees of het my ma? Ek het geen idee nie, maar laat ek eers vertel van die sitkamer: My skooljare het plaasgevind in die tydperk toe hierdie planeet se binnenshuise dekor ’n laagtepunt bereik het, toe bruin en ougoud as pragtig beskou is, toe dik, sandkleurige matte en dik, kleierige eetgerei ’n middelklashuishouding se grootste trots was. Hierdie plaag het ons wonings getref binne twee jaar nadat die klavierboodskap uit my tas verskyn het, maar op daardie dag was ons nog veilig, die vensters was behang met lang wit gordyne waarop ’n woud van dun swart bamboes geverf is, vinnige kwashale in die styl van Japannese skryfkuns. Die meubels het bestaan uit donkergrys sitplekke met liggrys rugleunings, oorgetrek in geweefde materiaal met ’n knoppiestekstuur, aan die onderkant was dun, ronde uitskoppootjies uit ligte hout. Ons sitkamer het gelyk soos ’n vertrek waarin James Bond na ’n langspeelplaat sou luister en meisies met lang nekke wynglase sou vashou, dit was sonnig, modern en dramaties en ek het soveel tyd as moontlik hier spandeer. Met ons trek na die volgende huis het hierdie meubels en gordyne verdwyn, dit het my veertig jaar geneem om weer geverfde bamboeslap op te spoor. (Dié word nou gereeld as tafeldoek gebruik wanneer ek onthaal met my pikswart eetservies.)
Enige gesprek oor klavierlesse was onnodig. Ek het klein-kleintyd reeds begin spoeg sluk elke keer as ek my naby ’n ding met klawers bevind, in elke kerk, kerksaal, skoolsaal, eetsaal, sitkamer, orals waar my jong ouers se geloof of sosiale verbintenisse ons geneem het, was daar ’n instrument, gehawend, vals, voos of geliefd. Selfs die aaklige elektroniese huisorrels wat daai jare hoogmode was, het my gelok asof dit eetbaar was. In Wellington het ek gereeld saam met Oupa gery wanneer hy by Meneer Byleveld gaan inloer het, daar in die middel van die dorp was die werkswinkel waar klaviere herbou of herstel is, in rye en rye het hulle gestaan soos wagte voor die kluis van melodieë, ek het toe reeds besluit die hemel sal eendag gevul wees met klaviere, nie harpe soos my ma aan my voorgelees het nie.
’n Uur nadat die boodskap oorhandig is, het my ma skuins oor die straat gestap, drie erwe verder was Die Wêreld Hoofkwartier Van Sif. Hier het Mevrou Joubert gewoon. Sy was die dorp se orrelis, die skepper van daardie grote geluid wat Sondag na Sondag my jong sieletjie laat bokspring het, hoër en verder as wat enige preek kon. In haar skemer eetkamer het ’n regopklavier teen die muur gestaan, toegepak onder lappies, familielede in klein raampies, glaspotjies, porseleinfigure en ’n paar waaiers uit vreemde lande. Aan die linkerkant van die klavier was ’n skuifdeur na die sitkamer en nog verder links die boog wat lei na die groot kombuis. Die hele huis was vol goetertjies, aandenkings, geskenke, kookboeke, leesboeke, foonboeke, skryfblokke, pakkies koeverte, houers met penne, bakkies met skuifspelde, poskaarte, opdienborde, glasbekers, droë koekies, vrugte, skilderye, lampe, hekelwerk en kantgordyne. En sif. Behalwe vir die sifdeur op Oom Attie en Tannie Miems se agterstoep, moes hierdie plek alle ander sif op aarde gehuisves het, daar was sif voor elke venster en sif voor elke deur. Sif wat kon opstoot, skuif, weggly, sif wat nie kon beweeg nie, opgerolde sif wat onder die kombuistafel lê en wag het vir ’n opening. Hier moes iets binne of buite gehou word.
Die Wêreld Hoofkwartier Van Sif het, soos Mevrou Joubert, haar klavier en al haar besittings, my nie aangetrek of weggestoot nie, dit het my nie verwelkom of laat vlug nie, dit was donkerder as dag en ligter as nag, en ek het om een of ander rede baie, baie tyd hier spandeer, eetgoed ontvang, buite gespeel en alles verken. (Was dit ek alleen? Indien wel, hoekom? Of het my ma so gereeld hier gekuier?) Ek kan vandag my oë toemaak en die hele agtertuin onthou. Die bome – vyebome, suurlemoenbome, moerbeibome, bome sonder vrugte, bome met dun rankplante wat afhang, bome waaraan voëlkoutjies met oop deure swaai,