Kyk na my. Nataniël
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kyk na my - Nataniël страница 7
Daar is ’n skielike geruis, soos ’n arendvlerk. Tannie Gagiano hou langs my stil met haar verskriklike groot Peugeot.
Ek weet dis net ’n perdespoeg huis toe, maar klim in, netnou smelt jy in hierdie son, lag sy.
Ek klim in. En ek bewe soos ná ’n bad in die winter.
Jy moet jou nie steur aan daai Fudge-kind nie, hy’s net wind, die Here gee en die Here neem, sê Tannie Gagiano.
Sy hou stil voor haar huis.
Wil jy inkom vir lemoensap? vra sy.
Nee dankie, Tannie, bewe ek.
Dis net die leë erf langs haar huis en dan is dit ons huis. Twintig kindertreë, maar dit neem my honderd lang jare voordat ek ons hekkie oopstoot. Ek kyk nie een keer om nie. Ek is ’n spokie, vorentoe, vorentoe.
Ek het hom nooit weer gesien nie. Twee weke later, net voor eerste pouse, het die skoolhoof ons klaskamer binnegekom en met ’n sagte stem verduidelik dat Fudge nie weer sou terugkeer na ons skool nie, hy het die vorige dag verongeluk, hy was met sy fiets op die Bothmaskloofpas. Die hoof het gesê dit was goed om hartseer te wees en as iemand sou wou huis toe gaan, was hulle welkom om dit te doen.
Ek het buite op ’n muurtjie gaan sit en my kosblik oopgemaak. Binne-in was bruinbrood met grondboontjiebotter. Ek kon dit nie glo nie, my ma het tog geweet ek eet nie grondboontjiebotter nie, ek eet dit nie, ek eet dit nie. Maar sy het bly aanhou, een keer per week was dit in my kosblik. Ek kon dit nie glo nie.
Luuks
Tegnies is ek nog baie jonk, een of twee jaar uit kleuterskap. Ek is ontevrede en ontuis, maar ek neem aan dat alles op ’n later stadium aan my verduidelik sal word, ek swyg dus soveel as moontlik, ek wag soos ’n soet kind om te hoor hoe dinge werk. My daaglikse behoefte is om almal op die dorp saam te roep en dan sonder enige beheer histeries te gil, Reg! Dis tyd! Sê my wat is aan die gang! Hierdie is verkeerd! Wat steek julle weg? Hoekom hou dit so lank aan?
Dit wat te lank aanhou, is my donkerte en my swaarte. Ek kan reeds aan elke klip in die voortuin en elke riet agter by die sukkelende vlei beskryf hoe die ure van my dag verloop. Gewoon. Gewoon. Sleg. Sleg. Baie sleg. Uitasem. Agterdogtig. Beter. Gewoon. Amper lekker. Weer sleg. Baie, baie sleg. Morsdood. Lewe nog. Bietjie beter. Slaap.
AMPER LEKKER is dus die beste tyd van my dag, dis hoe goed dit met my gaan. LEKKER of BAIE LEKKER is net by Ouma se huis, nie hier nie. Ek moet dus aan myself die verduideliking gee: Ek kan nie doen wat ander kinders doen nie, hulle is ligter en het nie ’n Groot Grys nie. Die Groot Grys leef in my skoolsak. (Waar anders? Die swaarte begin elke oggend wanneer ek my tas optel, Saterdae is ligter, Sondae begin die grys weer saampak.) Hoe die Groot Grys lyk wanneer dit in die donkerte van my tas is, weet ek nie. Sodra ek begin stap, skud my sak, die Groot Grys vind gaatjies en begin dan uitsypel na buite. Soos ’n giftige mis hang dit om my, net vir oomblikke, dan begin hoeke vorm totdat die skemer vierkantig is soos ’n groot kartondoos wat net my kop en voete laat uitsteek. Hierdie blok word swaarder en ligter, groter en kleiner, dit laat my stadiger loop, vassit in deure, struikel op trappe, stamp teen mure, dit maak my vingers dom naby die klavier, sorg dat ek nooit leer hoe om iemand te druk of te omhels nie, nooit, ooit na iemand se arms hardloop nie. Ek weet dis nie my verbeelding nie, ek kan hoor hoe hulle fluister, sekere mure, die leë huisie op die hoek waar die teer eindig, die hekpilare voor die kerk: Hier kom die swaar kind! Sjtt, hy het sy donker by hom!
Ek vertel myself dat daar ’n aangewese tyd is, ook ’n wese, reusagtig en aanskoulik, moontlik soos talle helde geklee in metaal, flink en baie slim, dié sal opdaag, vinniger as ’n valk, die Groot Grys met die lig van ’n arm opraap en neem na die strafkamp waar alle grys moet leef.
Die wese daag toe op, een middag ná skool, geklee in ’n bruin pinafore met ’n mosterdgeel truitjie, wagtend in die gang. Dis my ma. In haar hand is ’n opgerolde bondel bont papier met ’n velletjie bruinpapier rondom. Sy hou dit uit na my. My naam en ons adres is op die bruinpapier getik.
Wat is dit? vra ek.
Dis die tydskrif wat ons in die Huisgenoot gesien het, sê my ma, Onthou jy nie? Pa het gesê ons kan dit maar bestel.
Ek haal die bruinpapier versigtig af, nie ’n skeurtjie nie, ek gaan dit bêre. Ek rol die tydskrif oop. Daar is ’n sagte geluid en die varing in die gang beweeg, dis die Groot Grys wat vlieg, eers tot teen die voordeur en toe terug tot in my tas.
Dis anders as toe die klavier verskyn het, daardie oomblik was ’n draai na ’n nuwe drumpel, wat ek nou vashou, is ’n luukse, ons leef eenvoudig, ’n ding met jou naam op, iets wat afgelewer word sodat jou grys kan vlug, is byna onwerklik.
Bollie was ’n tydskrif vir kinders, vol strokiesverhale, onder andere die avonture van ’n konynfamilie met Bollie as hoofkarakter. Ek het elke woord en prent verslind, ek kon ná die tyd nie een verhaal onthou nie, my vreugde was die papier, die kleure, hoe Bollie en sy lewe geteken is, hoe die ink geblink het op die bladsye, hoe die papier gekraak het, hoe iets ruik wanneer dit splinternuut is, wanneer dit verpak is voordat dit op ’n winkelrak kon lê of sorgeloos hanteer word. Weer en weer is Bollie afgelewer, ’n hele middag en ’n hele aand sonder grys. Ek het dit soos juwele opgepas, weggesteek voordat my boetie dit kon verrinneweer, oor en oor deurgeblaai, my verbeel ek woon in ’n plek waar etenstafels lyk soos dié van ’n heldergeklede konynfamilie, waar koeke en poedings so groot is soos die gaste, waar rosyne uit brode peul en rook trek uit bekers warm sjokolade. Tot vandag toe word dit in ons gesin gebruik as beskrywings: Bollieboekkoekies, Bollieboekbrode, Bollieboektorings.
Later was daar nog tydskrifte, Patrys, Tina, Panorama. Patrys was vol aktiwiteite, feite en uitknipdinge, dit sou my hart breek om een van my kosbaarhede op te knip, ek het net geknip wanneer my ma klaar was met haar tydskrifte. Tina was eksklusief vir tienermeisies en vir my, hóé dit in ons huis beland het, hóé my pa dit toegelaat het, weet ek nie. Die Panorama was ’n groot tydskrif met duursame papier, volbladfoto’s van die natuur – waarin ek geensins belanggestel het nie – en artikels in ’n taal wat geen kind kon boei nie, maar dit is afgelewer in ’n groot koevert sonder enige voue en dit het geruik soos belofte, nuut en geheimsinnig. Ek het dit hanteer asof dit ’n boodskap was uit ’n verre sfeer, ’n dokument vir die adel.
Die Groot Grys sou vir altyd by my bly en later sou ek slimmer word en vele ontsnappings prakseer, maar daar in die dorpie van vroeë skooljare en ontelbare gewaarwordinge was papier my eerste weelde en gereelde redding. Op tydskrifdae kon die klippe en riete weet, hier is dit BAIE LEKKER.
Papier is die draer van boodskappe, die herder van die aarde se grootste verhale, die bewys van kunstenaars se onsterflikheid, iewers word huise daaruit gemaak, orals word daaruit geëet, iewers word dit gedra as klere, dit bring verjaarsdagwense en Kersfeesgroete, dit waai mense koel, dit is die bewys dat jy geslaag het, dit omvou geskenke.
Ná die eerste tydskrifte volg daar vele koeverte, ek het gesweef wanneer ek presteer het, gegil wanneer ek iets gewen het, geskrik as ek teleurgestel het, gewalg toe ek my eerste oproepinstruksies vir diensplig ontvang het. Later was daar wrede papiere, die wegwys van liefde, giftige koerantresensies, aanmanings vir studieskuld.
Vir eers was dit net vreugde. En toe, kort ná die eerste Bollie, verander my en my pa se lewens.
Ek verjaar. My ma maak ’n koek, dis ’n lokomotief uit sjokolade, ek kan nie my oë glo nie, hoe het Ma hierdie hele ding gemaak? Oupa en Ouma daag op uit Wellington. Dis een van die beste dae ooit. Maatjies