Kyk na my. Nataniël

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kyk na my - Nataniël страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Kyk na my - Nataniël

Скачать книгу

die waskamer, stoorkamer en garage. Net die garagedeur was sonder sif. Rye netjies gelêde bakstene het ’n spoor gevorm na die breë hek. En daar was ’n prieel, ’n welige groeisel met druiwe wat nooit wou ryp word nie, waaronder dit altyd koel en donker was, maar ook altyd mooi. Groen krulle het hulleself luierig teen die dun teerpale drapeer.

      Hier het my ma aan Mevrou Joubert genoem dat ons nie ’n klavier het nie, maar dat ek sonder twyfel musiekles gaan ontvang en dat ek iewers sal moet oefen. Mevrou Joubert het verduidelik dat sy elke middag om presies drie-uur ’n bietjie gaan lê in die agterste kamer en dat ek welkom was om haar klavier te gebruik, dit sou haar nie pla nie, daar was ’n eetkamerdeur, gangdeur en kamerdeur tussen haar rus en my talent.

      Ek het geoefen met dom vingers, drie middae per week, van drie-uur tot vieruur. Nuuskierig en gedrewe het ek my eenvoudige blertsies musiek ontdek en leer ken, alleen in die skemer, dankbaar vir die klavier en die droë koekies wat af en toe vir my neergesit is, maar elke keer, soos met die meerderheid ander plekke wat ek vir die res van my lewe sou besoek, volkome ongemaklik. Beide produktief en ontuis. DIE ONGEMAKLIKE LEWE. THE UNCOMFORTABLE LIFE. Die boek en lied wat ek altyd wou, maar nooit sou skryf nie, dit het hier ’n naam gekry.

      Toe, op ’n doodgewone dag, stap ek ons huis binne, ek was moontlik by die skool of by die Stoepsusters of by mense met kos, maar ek was vir ’n paar ure weg. Soos gewoonlik hardloop ek kombuis toe. My ma sit by die tafel, my boetie sit in sy hoë stoeltjie. My pa staan by die wasbak. Hulle lyk anders as voorheen.

      Wat nou? sê ek.

      Niks, sê my pa.

      Die koerant lê op die bank, gaan kry dit gou, ek wil vir jou iets wys, sê my ma.

      Ek draai om. Iets is fout. Ek loop tot in die sitkamer en kyk na die bank.

      Waar’s die koerant? skree ek.

      Agter jou! skree my pa.

      Ek draai om. Teen die muur staan ’n klavier. Tjoepstil, kiertsregop, splinternuut, uit dowwe hout soos die nuutste mode, ’n kordate stoeltjie met vier gekrulde pootjies, alles hier in James Bond se vertrek. Ek lig die deksel en streel oor die klawers. Ek sê nie dankie nie, ek speel nie ’n noot nie, ek sit nie op die stoeltjie nie. Ek staar. My gesin staan in die deur.

      Wie s’n is dit? vra ek hees.

      Joune, jou lawwe kind, sê my ma.

      Uit Byleveld se stoor, sê my pa.

      Ek was in geen ander plek waar ons as familie ooit sou woon so gelukkig as in dié huis met die vertrek met die klavier en die bamboes en die son en die grys jazz-meubels nie. Ek kan nie meer Mevrou Joubert se gesig onthou nie, maar elke keer as ek terugdink aan Die Wêreld Hoofkwartier Van Sif is daar nog ’n venster sonder sif, nog ’n deur wat oopstaan, nog meer lig. Dalk was daar nooit een stukkie sifdraad nie, wie sal weet?

      Nou is dit moontlik anders, in daardie jare het ’n kind beslis nie geweet wat sy ouers se inkomste was nie, hoeveel hulle moes opoffer vir ’n groot oomblik nie. En ’n kind weet tot vandag toe selde wanneer ’n hoofkwartier in die nabyheid verskyn, wanneer die geleentheid om die onbereikbare aan te raak homself openbaar, wanneer ’n poort, verskans as ornament of instrument, verskyn.

      Vegkuns

      Was dit die antwoord op my ouers se gebede? Was dit die truuks van ’n bose elf of blote toeval? Japan is baie ver van Riebeek-Kasteel. Maar dit gebeur inderdaad dat ’n judo-instrukteur bereid is om die dorp se seuntjies een keer ’n week te kom oplei in Oosterse vegkuns. Ons het ’n keuse, judo of rugby.

      Ek is amper ag jaar oud en voel weke lank diep verontreg nadat die dogtertjies by ’n verjaarsdagpartytjie elkeen ’n pop met ’n wit rok ontvang het. Hierdie popklere is gemaak uit ’n spesiale materiaal waarop patrone en prentjies geteken kon word en dan gewas word om dit weer en weer te doen! Die seuntjies het elkeen ’n brandweerwa ontvang. Ek het ’n gat bo-in myne gemaak en dit begin vul met muntstukke, ek sal my eie tekenklere koop.

      Ons moet rugby speel of judo doen, sê ek vir my ma.

      ’n Judo-pak is baie duur, sê my ma.

      Hoe lyk ’n judo-pak? vra ek.

      Soos pajamas, presies soos wit pajamas, sê my ma.

      Ek doen judo! sê ek.

      Ek gaan daai pajamas inkleur, vol drake teken, moontlik plak met blink goed, dis hoe ek besluit.

      Ons koop die pajamas by die skool, die baadjie het glad nie knope nie, net ’n lyfband. Dinsdagmiddag drie-uur staan ons almal in die saal. Daar is matte op die vloer. Ons staan in rye, wit pajamas, ligblou lyfbande, ons lyk soos dwergies in ’n storieboek met net een kleur. Die instrukteur is jonk en vriendelik, hy lyk nie grommerig soos die ander onderwysers wat sport afrig nie. Hy vertel ons dat hy elke middag judo-lesse gee op ’n ander dorp, dis vir hom ’n voorreg, judo maak die wêreld verdraagsaam en veilig.

      Judo bestaan uit vinnige besluite en beweging, sê hy, Ons val nie aan nie, ons verdedig.

      Dit gee my selfvertroue. Ek steek my hand op.

      Kan ek my belt groen of pienk maak?

      Van die seuntjies proes.

      In judo het ons range, jy kleur nie jou gordel nie, jy verdien hom, sê die instrukteur.

      My moed sak tot op die saal se vloer, oud en jonk, almal stel jou teleur, niks is soos wat dit behoort te wees nie, niemand is verdraagsaam nie, niks is veilig nie. Maar dis beter as rugby.

      Voor ons kan veg, moet elkeen ’n maatjie kies, ek kies vir Gideon. Hy het ’n sagte gesig soos ek en het ook gehuil by die atletiek. Die instrukteur verduidelik van grepe en gooie. En dat dit belangrik is om te weet hoe om te val. Een moet gooi en een moet val. Gideon gryp huiwerig na my gordel. My baadjie gaan oop.

      Moenie, sê ek.

      Ek gaan lê self en Gideon lê bo-op my. Later lê ek bo. Wanneer die instrukteur nader kom, ruk en pluk ons ’n bietjie aan mekaar se klere. Judo is glad nie sleg nie. Ek weet net nie hoe hulle ooit sal bepaal wie val aan en wie verdedig nie.

      Op ’n baie warm Dinsdagmiddag stap ek huis toe ná nog ’n judo-les. Ek is vies oor die hitte en oor my klere en gordel wat nooit van kleur verander nie. Ek is lus vir ’n worsie by die hoekwinkel, maar ’n judo-pak het nie sakke nie en dus het ek nie 5c by my nie.

      Jy! Mammagesig! sê ’n stem.

      Ek kyk om. Skuins agter my loop Fudge. Hy was ’n lang kind wat gelyk het asof hy elke dag by die see was, bruingebrand met polisiespiere, kort stokkieshare en oranje wenkbroue. Almal het geweet dat hy moeilikheid maak met kinders en vriendelik is met grootmense. Hy was groter as enige van die kinders in die skool, dalk was hy dom, maar niemand het gevra nie. Hy het nog nooit met my gepraat nie. Hoekom nou? Wat gebeur? Ek kyk voor my.

      Jy! Popkop! sê hy.

      Ek hoor al die onheil en al die vlamme van die hel in sy stem. Ek raak warm agter in my nek, oor my hele kop. En yskoud aan die agterkant van my bene, ek bewe soos ’n masjientjie, dit gaan nooit, nooit weer ophou nie, dis hoe ’n kind verander in ’n spokie.

      Skoenlapper! Ek gaan jou seermaak! sê hy, nou baie nader.

      Vrek,

Скачать книгу