Vloek. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vloek - Rudie van Rensburg страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Vloek - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

daaroor maak.”

      Sarah moes ’n vertroulikheidsklousule teken.

      Aanvanklik was die werk opwindend. Geheime inligting oor internasionale politieke woelinge het haar gereeld verras en nuwe perspektiewe gegee. Dis ver verwyder van die akademie, waar uitsprake en gevolgtrekkings in haar vakgebied bloot op wêreldnuus gegrond word. Nou is sy in die masjienkamer van die werklikheid, wat soms aansienlik verskil van dit wat in die massamedia opgedis word.

      Tog hinder die atmosfeer in die kantoor haar. Dis sinister, om die minste te sê. Daar word nooit openlik oor politieke woelinge geredekawel nie. Dis asof O’Reilly en die ander twee huiwerig is om enige uitsprake te maak, asof hulle hul woorde altyd versigtig weeg. Dit voel heeltyd vir haar of een of ander Big Brother oor die span se skouers loer. Asof hulle gemonitor word deur ’n onsigbare meeluisteraar van wie haar kollegas weet, maar sy nie.

      Toe vind die eerste moord bietjie meer as ’n maand gelede plaas. Kort daarna ’n tweede. En dit word ’n Mercurius-aangeleentheid omdat dit in Suid-Afrika gebeur het en omdat die polisie nie ’n verband tussen die moorde kon trek nie. As politieke analis is sy ook ligweg betrek, op wat vir haar wildvreemde terrein is. En dis iets wat haar om verskeie redes onrustig stem. Politieke ontleding is een ding, maar motiewe vir moord is nie haar veld van kundigheid nie.

      Boonop ontvang sy gisteraand net voor sy bed toe is ’n SMS van O’Reilly: Derde man vermoor. Dringende vergadering môre. Vergeet van kongres.

      Sy sou van vandag af die week lange Afrika-kongres namens Mercurius bywoon, met verskeie Afrika-staatshoofde en ministers wat spesiaal daarvoor Kaapstad toe gekom het. O’Reilly het gesê dis belangrik dat sy dit bywoon – nie noodwendig oor wat op die verhoog gesê word nie, want daaroor sal die media verslag doen. “Maar monitor vir ons watter staatshoofde buite kongresure saam vergader. Let ook op na die interpersoonlike verhoudings tussen hulle – monitor hulle lyftaal, of dit spontaan of stram is.”

      En nog ’n hele string opdragte wat vir haar soos basiese spioenasiewerk geklink het. Maar volgens O’Reilly sal dit uiters waardevol wees vir Mercurius om die verhoudingsprofiel tussen Afrika-state op te dateer.

      Nou is die kongres skielik nie meer belangrik nie.

      Want ’n derde man is vermoor.

      4

      Donderdag 21 Junie 2018 – Kaapstad

      Wim O’Reilly kan vanoggend beswaarlik sy opgewondenheid beteuel. Uiteindelik het Mercurius in Suid-Afrika ’n saak waarin hulle New York-hoofkantoor groot belangstelling toon.

      In die verlede het Wim altyd die indruk gekry Suid-Afrikaanse kwessies suip aan die agterspeen en word selde ernstig opgeneem. Maar sedert die moorde hier in Kaapstad is die Mercurius-grootbaas gereeld met hom in verbinding. Hy’t selfs Wim se aanbeveling oor ’n kundige ondersoeker dadelik goedgekeur en blitsvinnig toutjies getrek om Interpol te laat saamwerk. Wim het via sy kontakte die plaaslike owerhede se koppe geswaai, sodat die amptelike papierwerk nou feitlik afgehandel is.

      Intussen het die Mercurius-tak in die Filippyne die ondersoeker se wegkruipplek opgespoor – iets wat Interpol in tien jaar nie kon vermag nie. Wat ’n groot genade is, want dis al man wat hierdie saak kan ontrafel, glo Wim.

      Nou het die derde moord die operasie in hoogste versnelling geskop. Len du Randt is gisteraand al op ’n vlug Filippyne toe, met die opdrag om die ondersoeker so gou moontlik hier te kry.

      O’Reilly kyk op toe Sarah en Calvyn by die vergaderlokaal inkom. Laasgenoemde lyk soos altyd asof hy pas uit die bed gekruip het. Sy bos krulhare staan wild en sy gesig is ongeskeer. En nooit sonder ’n stomende beker koffie in die hand nie.

      Sarah se slankheid van figuur en grasie van beweging val Wim opnuut op. Sy is ’n uitsonderlik mooi vrou met haar dik, donker hare, sensuele gelaatstrekke, hoë wangbene en vol lippe – die voorkoms van ’n Hollywood-aktrise eerder as ’n politieke analis. Haar afstandelike hoflikheid laat hom vermoed sy is nog nie gemaklik in die Mercurius-omgewing nie. En hy moet toegee, dit ís ver verwyder van lesingsale op ’n kampus. Maar hy is seker sy sal mettertyd aanpas.

      O’Reilly beduie hulle moet sit. “Dankie dat julle so vroeg hier is. Soos ek gisteraand laat weet het, is ’n derde man vermoor. Week gelede gebeur, maar ons kontakman by die polisie het ongelukkig gister eers uitgevind dis een van ons gelystes: Prince Kazadi. Hy was toe ’n Belgiese burger, nie van die Kongo soos ons gedink het nie. Dalk wel daar gebore.”

      Hy haal die afskrif van die polisiedossier uit ’n lêer. “Kazadi het van Brussel af hierheen gevlieg en is dieselfde aand in sy hotelkamer dood aangetref – ’n vyfsterplek in die middestad. Volgens die patoloog se voorlopige verslag is daar tekens aan sy polse en lyf dat hy vasgebind was. Iemand het gif gemeng met melk in sy keel afgegooi, die onkruiddoder Gramoxone, beter bekend as Parakwat. Dis een van die giftigste onkruiddoders op die mark en daar is geen teenmiddel nie. Dit brand alles binne-in jou stukkend. Jy sterf bitter vinnig as jy dit nie dadelik opbring nie.”

      Calvyn skud sy kop. “Dis die derde moord en al drie is op verskillende maniere doodgemaak. Wat sê dit vir ons?”

      O’Reilly haal sy skouers op. “Ek raai, maar ek dink hulle wil die verband tussen die moorde wegsteek, daarom raak hulle op verskillende maniere en plekke van die mans ontslae. Anders gaan die polisie die verband raaksien en dít wil die mense agter die moorde duidelik nie hê nie.” Hy gee ’n laggie. “Ons ook nie.”

      “Verskoon dat ek vra,” sê Sarah fronsend, “maar waarom wil ons nie hê die polisie moet ’n verband tussen die moorde trek nie? Is dit nie eintlik eerder ’n polisie-aangeleentheid nie?”

      O’Reilly glimlag. “Dalk, ja. Maar ons liewe, onbeholpe en oorwerkte polisiediens sal nie alleen alles verongeluk nie, maar ook die media inlig. En dis die laaste ding wat ons nou wil hê. Hierdie is juis ’n klassieke Mercurius-aangeleentheid. Daar is iets veel groter agter die moorde – dit ruik na ’n internasionale cover-up. Een wat óns moet ontrafel, en dit sonder die inmenging van onbevoegde platpote en sensasionele en verdraaide mediaberigte.”

      Calvyn sluk aan sy koffie. “As die moord in ’n vyfsterhotel plaasgevind het, moet daar tog seker CCTV footage wees wat die polisie kon help?”

      “Die CCTV-kameras in die hotel was onklaar, so ook hulle rekenaars.” O’Reilly tik op die dossier. “Blykbaar ’n aanval deur kuberkrakers. Boonop het ’n groot Duitse toeristegroep die betrokke aand daar ingeboek. Daar was totale chaos en geen kans dat iemand die moordenaar in die skare sou raaksien nie. Omdat die hotelkamers klankdig is, sou niemand ook gehoor het as Kazadi om hulp roep nie.”

      “Hel, die toeval het die moordenaar omtrent bevoordeel,” sê Calvyn.

      “Ek dink nie dit was toeval nie,” sê O’Reilly.

      “Dink jy die kuberkrakers is deel van die spul?”

      “Wel, alles dui daarop. Ons het hier te doen met ’n uitgeslape en goed georganiseerde groep.”

      O’Reilly sit die dossier terug in die lêer. “Dit bring my by die volgende punt. Julle wonder seker waarom Len nie saam met ons vergader nie?”

      “Wou nog vra, ja,” sê Calvyn.

      “Hy sal laatmiddag in Manila in die Filippyne land. Al gisteraand op ’n vlug soontoe vertrek. Sy taak is om ’n spesiale ondersoeker vir hierdie saak daar te gaan haal.”

      “’n

Скачать книгу