Anderman se vrou. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anderman se vrou - Chris Karsten страница 18

Автор:
Серия:
Издательство:
Anderman se vrou - Chris Karsten

Скачать книгу

sê ek vir myne.

      Sy skakel weer die oudiovisuele apparate aan, lig die dokument op wat hulle oënskynlik sit en bespreek het, wapper dit tussen haar skraalbleek vingers, en sê stomp: “Die Suid-Afrikaanse Polisiediens …”

      Saam met die koffie lig ek ’n wenkbrou, alles baie nonchalant, hoop ek, bedoel om die rilling te verbloem van die blokkie ys wat in ’n hartkamer kom lê. Ek sluk en loer na haar.

      “Flinke reaksie,” sê sy. “’n Gesant by ons ambassade in Pretoria was net Donderdag by julle polisiekommissaris … Williams, is dit nie, waarnemend vir Selebi?” Om te wys hoe ingelig hulle is.

      Doucette trek die dokument uit haar vingers en verdiep hom kastig daarin, maar ken natuurlik klaar elke woord, elke leesteken. “Julle polisie het pas twee lasbriewe van die hof in Pretoria bekom.”

      Nog ’n blokkie glip die tweede hartkamer in en ek lig die ander wenkbrou.

      “Vir die arrestasies van doktor en mevrou Pope,” sê Doucette en kyk na my.

      So, die legstukke begin inpas. En hou die lasbriewe verband met die vleiemoorde, of met die huisbrand? Wat ook al, duidelik besef die Suid-Afrikaanse polisie ook uiteindelik dat dit nie die Popes se oorblyfsels in die puin was nie. Moet goeie ou Lenny-deurbyter wees wat ’n oortuigende woordjie in ’n paar hoë ore gefluister het. Behalwe dat die tydsberekening erg ongeleë is. Kon hulle nie maar net ’n week gewag het tot ek veilig op ’n vliegtuig terug is nie?

      Sarah Young vryf met ’n tissue oor haar puntige neusie. “Hulle het ook dokumente voorberei om Interpol se hulp in te roep.”

      “Hoekom?” vra ek, want langer kan ek nie stilbly nie. Te verdag, sulke swye. Luitenant Lenny sê die stiltes van verdagtes verklap soms meer as hulle woorde, en sulke swyes help verdagtes dikwels vinniger by die deure van die tronk in as wat dit heiliges vat om deur die poorte van die hemel te vlieg.

      “Hoekom wat?” vra Sarah Young aspris.

      “Hoekom die lasbriewe?”

      Doucette kyk af om te lees. “O, hier’s sommer ’n hele rits klagtes teen jou vriende. Ernstige goed waarvan hulle verdink word. Vat hierdie een … medepligtigheid aan moord. Viér moorde.”

      Vier moorde? Ja, natuurlik – Jack se vier moorde: die prokureur, die hoer, Alfons Jonker, die voetewassende eksminister. Vir die twee verkooldes in hulle huis het hulle, die Suid-Afrikaanse polisie, dus nog nie die lyn van A tot B getrek nie. Skat hulle gaan nou ook met hernieude ywer na daai brand kyk.

      “Nie juis engeltjies nie,” sê Sarah Young. “Lyk my doktor en mevrou Pope het rede gehad om hier te kom wegkruip.” Dan beskou sy my eers weer vir ’n goeie paar hartkloppe voor sy vervolg: “Jy seker jy weet nie waar sy is nie?”

      “As jy weet …” val Doucette in, “raai ons jou aan, vir jou eie beswil, om nou, eerder gouer as later, oop kaarte met ons te speel. Want dit lyk asof die Popes ook Kanadese wette kom oortree het. Dis óók ernstige oortredings. Vir ons is skendings van ons immigrasiewette amper net so ernstig as aandadigheid aan moord. Ons is erg oor ons grense, skennis van ons grense is skennis van ons mense. En dit kan ons nie toelaat nie.”

      “So, meneer Kellerman,” sê Sarah Young, “waar’s mevrou Pope?”

      ’n Onheilspellende ondertoon het by die gesprek ingesluip en ek antwoord vinnig en uitdruklik. “Hoeveel keer moet ek nog sê: Ek weet nie!” Hierdie is nie ’n tyd vir stiltes of aarselings nie, hierdie is oomblikke vir besliste antwoorde.

      Doucette bekyk my skepties. “Die skoenlappers is net ’n verskoning, nè? Die eintlike rede vir jou besoek was om hulle te kom waarsku.”

      Wat! Net vroeër word ek en Rachel van sameswering teen Simon verdink, nou is ek kop in een mus met hulle albei. Het Doucette en Sarah Young ook inligting oor mý gekry? Is hulle besig om my in ’n fyn web van leuens vas te vang, is ek besig om myself in ’n Kanadese tronk in te lieg?

      Maar dit is te laat om van baan te verwissel en ek hou vol: “Ek het g’n duistere motiewe nie, ek’s hier oor skoenlappers.”

      “Goed dan,” sê Doucette, “kom ons praat oor skoenlappers. Hoekom skoenlappers?”

      “Hoekom só ’n stokperdjie?”

      “Ja,” sê Sarah Young. “Hoekom nie sê nou maar … posseëls nie?”

      “Posseëls?” Kan posseëls metamorfoseer? Kan posseëls hulleself bevry? Kan posseëls lééf?

      Ek moet erg perpleks gelyk het, want daar is ’n plukkie aan Doucette se mondhoeke, mens sou sweer hy is in staat om te glimlag, en Sarah Young lig haar ongeplukte wenkbroue in ’n sein wat por: Goed, vertel. En begin nies, tissue byderhand, sodat ek eers moet wag.

      “Daai ou Hollander van wie ek vroeër gepraat het. Vrome Cramer. Hy’t gesê onder alle soorte tydverdrywe om die mens se gees te laat ontspan én tegelyk te verkwik, is die genietinge wat die natuur bied die onskuldigste en die suiwerste. Genietinge wat onlosmaaklik aan die lewe self verknog is, en wat ons lei en help om ook insig te kry in God se wysheid, almag, goedheid en genade. En dis presies wat skoenlappers bied. Is posseëls aan die lewe verknog? Nee. Bied posseëls insae tot God se genade? Nee.”

      “Dalk tog indirek,” sê Doucette. “Eens afkomstig van lewende bome.”

      Ek kyk verras na die groot Mountie. “Is dit jou stokperdjie, sersant – versamel jý seëls?”

      Hy grinnik. “Nee, my stokperdjie is om skelms te vang.”

      Ek merk hoe Sarah Young ’n dataskyf by die laptop indruk.

      Doucette vra: “Sedert jy weg is van die patologielaboratorium waar jy saam met doktor Pope gewerk het … het hy jou ooit kom besoek, daar by jou skoenlapperboerdery?”

      “Nee. Ek sê mos ons was nie goeie vriende nie, beslis nie huisvriende nie.”

      Sarah Young draai die laptop sodat ek na die skerm kan kyk. “Herken jy van hierdie foto’s?”

      Sy klik en die eerste kiekie verskyn. Dit is ’n panoramiese skoot van my skoenlapper-atriums, afgeneem daar van die nek af, af na die plato waar die plasie in die Goeroegabvallei lê. ’n Krieweling in my maag. “Ja, dis my plek. Waar kry julle die foto?”

      Sy klik die volgende een. Dié een is van my plaashuis. En nog een van die werf. Dan ’n paar wyehoekskote van plante en skoenlappers in die atriums. Dit is nie kiekies wat ek of Portis geneem het nie, daarvan is ek baie seker. Hoekom sal ons sulke kiekies neem? Ons neem nabyfoto’s van individuele skoenlappers sodat ons hulle kleure en die kenmerkende vorms en patrone en gestreeptheid van hulle vlerke kan uitken.

      Doucette sê: “Dit maak my erg nuuskierig. As hy nog nooit daar by jou was nie, en julle is nie huisvriende nie, hoekom sou doktor Pope foto’s van jou skoenlapperplasie hê?”

      Kan net Jack gewees het. Hy moet kom spioeneer het ná Simon se opdrag, hy het die plek kom verken en die kiekies geneem vir hulle finale planne vir Jack se besoek aan my en Portis met die dolk. En die polisie moet dit in Jack se blyplek gekry het.

      “Was jy ’n teiken, meneer Kellerman?” vra Doucette.

      So,

Скачать книгу