Skepsel. Willem Anker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Skepsel - Willem Anker страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Skepsel - Willem  Anker

Скачать книгу

hulle praat nie, maar ek het ná sy verdwyning by haar gehoor dat die onderwerp van hulle gesprek David Lynch se Twin Peaks was.

      Sy vriendskap met Ricci het my gepla. Sy is nog nie dertig nie en aantreklik. Ek was vriendelik met haar, maar ons het nooit werklik gepraat nie. Hy het ná elke snedige opmerking gesê ek moet ophou met my paranoia. Ek wou vir hom sê dis nie asof hy nie al gecheat het nie.

      “Ek moet hier met meer as een mens kan praat,” het hy vir my gesê. “Anders gaan ek van my kop af raak. Ek is lief vir jou, maar ek kan nie heeldag net met jou en daardie monster gesels nie.”

      Hy het nooit na die Beendere as beendere verwys nie, maar as die “monster”.

      ’n Paar dae later het ek weer begin karring.

      “Ag, god,” het hy gesê. “Jy is te oud om jaloers te wees.”

      En hy was reg, ek wás jaloers. Hoe meer ek bereid was om alles op te gee vir hom, hoe meer ek in my kop reeds begin het om my lewe saam met Peter stuk vir stuk te laat vaar, hoe jaloerser het ek geword.

      Ek het geweet Howard het meer as ek om te verloor (hy het twee kinders), en ook daarop was ek jaloers. Hy sou altyd kon spog dat hy meer as ek prysgegee het vir die verhouding.

      “Ek is hier, is ek nie?” het hy gesê: “Net hier, aan die einde van die fokken wêreld, saam met jou.”

      Net hier, ver van Judith en die kinders en sy ander lewe, en ek, ver van Peter en my vorige lewe. Dit was net ek en hy en die groot, onmoontlike Beendere in die poolnag. Ons kon elke dag saam wees, saam werk en saam eet, soms skelm saam slaap. Elke dag ek en hy, elke dag donkerder as die vorige.

      Die afgelope drie dae irriteer ek almal met vrae. Ek vra Mariana meer as een keer of hulle ooit oor enigiets anders as televisiereekse gepraat het. Ek vra die verpleegster of hy dalk by die kliniek was. Ek vra elke arbeider en wetenskaplike en hondehanteerder of hulle hom gesien het. Die soldate sê hy is seker net met ’n slee weg saam met vriende. (Van die personeel speel soms toeris om van die kamp se omheinde eentonigheid te ontsnap.)

      “Ons weet ook nie waar ons spanmaats elke dag is nie,” sê ’n mede-argeoloog. “Mense loop maar rond. Baie ouens loop hou bietjie vakansie as hulle opgee om sin te probeer maak van hierdie spul. Baie van ons dink ons het klaar uitgevind wat ons kon.”

      Ek kan vir niemand sê dat ons in ’n ernstige verhouding is nie, dat hy sê hy is op die punt om sy vrou en kinders te los vir my; dat ek sou weet as hy planne gehad het.

      Mariana dring gisteraand daarop aan om vir my ’n bier te koop. Ek begin verstaan hoekom Howard van haar hou.

      Ek kan nie vir hulle sê dat ons minnaars is nie. Hy is dalk Longyearbyen toe, sê hulle. Op soek na ’n mooi kroegmeisie, sê hulle.

      Twee dae lank trek almal hulle skouers op, maar vanmiddag, op hierdie derde dag, het hulle begin luister. Ja, sê my kollegas en die soldate, dit ís vreemd. Ons moet begin soek. Ek kan vir niemand sê hoe bly ek is nie.

      Ek bly kalm en sê: “Dankie, waar sal ons begin?”

      My kollegas kyk in die rigting van die Beendere. Hulle kyk na my en sê niks.

      KRAKEN 2

      Jy, Sulla Čapek, die cyborg, staan op die boeg van die Kraken en kyk na die drone wat oor die Rooi See aangevlieg kom. Vyftig meter verder hurk jou kameraman, Gunnar Arnarson, agter ’n trapleer, VR headset op en remote in die hand. Die drone hang ’n paar meter voor jou in die lug. Dit raam jou tussen die staalwerk en hyskrane, die helipad en pyplyne, terwyl jy oor die see kyk met gerepeteerde melankolie.

      In die onderhoude ná die troue sê jy jy soek nie na enige menslike eienskappe in die olietenkskip nie. Jy is lief vir jou olietenker omdat dit ’n olietenker is, nie omdat dit vir jou sóós ’n olietenker is nie. In die onderhoude sê jy dat net mense volgens die sosiale kontrak met mekaar mag trou. Dit gaan hier oor niemenslike regte. Dinge is ook persone. Persone is ook dinge.

      “Kraken is ’n wese, soos elkeen van ons. Ek is vlees en bloed, Kraken is olie en staal. Baie mense raak verlief op objekte wanneer hulle hulle as lewend begin sien. Dit werk soms ook andersom. Wetenskaplikes word al hoe onsekerder oor wanneer iets as lewend gesien kan word.”

      Soos jy, verander olietenkskepe ook gereeld van naam. Jou naam, sê jy, was nie altyd Sulla Čapek nie, en sal ook nie meer lank dit bly nie. Die VLCC Kraken se vorige eienaars het haar VLCC Pescecane gedoop. VLCC is die akroniem vir ’n spesifieke klas olietenkskip. Dit staan vir Very Large Crude Carrier. Heel in pas met die gemiddelde mates van ’n VLCC, is die Kraken 330 m lank, 56 m breed en 28 m hoog. Vanuit ’n meer verteerbare perspektief beteken dit jou eggenoot is drie sokkervelde lank, meer as ’n halwe veld wyd en ag en ’n half verdiepings hoog.

      Om getroud te wees, sê jy, beteken nie dat julle mekaar besit nie. Maar dis nie te sê julle is nie besittings nie. In die wêreld waaruit jy geen uitkoms sien nie, is jy die besitting van ’n neoliberale kapitalistiese bestel wat elkeen van jou bewegings en oorwegings rig. Die Kraken behoort aan AL Shipping, die baie oorspronklike naam van ’n maatskappy van die Argento Ligotti-groep. Volgens hul webtuiste is die Argento- en Ligotti-families reeds sedert die 1800’s in die skeepsbedryf, met hul hoofkwartiere in Rome en Palermo. Aanvanklik het hul vloot vragte slawe vervoer. Deesdae, sê jy, is dit sweatshop-klere en olie.

      Die drone styg op, trek verder terug om die Kraken in skoot te kry. Dan nog hoër, verder weg, die lens so oop as moontlik, om plek te maak vir die agtergrond. Jy en Gunnar het gisteraand die skoot fyn beplan: ’n satellietskottel van die tenker uit fokus in die voorgrond, die fokus op die reusehawe van Jeddah, daaragter die Saudi-duine, die kuddes nodding donkeys, en uiteindelik, op die horison, Mekka wat swem in die son.

      Jou minnaar se kapasiteit is 319 000 DWT of dooie tonnemaat, vertel jy die pers. Dit sluit die vrag, die bemanning, voorrade en die skip se eie brandstof in.

      Die Kraken kan tweemiljoen vate ruolie vervoer. Een vat bevat 159 liter olie. Maak die somme.

      In jou vorige verhoudings het jy altyd ’n mate van beheer gehad. Op jou huweliksnag met VLCC Kraken was jy weer ’n maagd, wat nie geweet het waar om te vat nie. Elke tasting het jou vel gebrand. Die volgende oggend was jy moeg, sê jy vir hulle, vol merke, en baie tevrede.

      Nou wentel die drone stadig om die breedte van die skip, kom nader en trek terug om ’n geheelindruk van jou skip te gee. Die bordeaux onderkant van die romp, die blinkswart bokant. Die dek roesbruin en die brug soos ’n wit panoptikon-kantoorblok. Die massiewe pypmatriks wat oor die lengte van die glibberige dek strek, die falliese hyskrane, die skottels en erekte antennas.

      Wat jy nie vir hulle sê nie, wat absoluut net jou eie bly, is dat jou eerste liefde ’n Mustang was. ’n 1970 Ford Mustang Boss 429. 7 liter, V8. 400 kw. 270 km/h op die oop pad. 3 400 rpm. Meer as 600 perdekrag. Seks op wiele, het jy gedink. Google Images dit. Grabber Blue. Swart-en-wit binnekant. Die swart hood scoop. Die voorkant soos die snoet van ’n witdoodshaai. Daar is net 499 van die 1970-model gemaak. Elkeen nou ten minste ’n halfmiljoen dollar werd.

      Vier ratte. Manual. Geen lugverkoeling nie, glo as gevolg van die grootte van die enjin.

      Jy vertel nie ’n fok vir hulle hoe jy op twaalf onder die motor lê en masturbeer het terwyl die enjin bo jou luier nie.

      Die meeste chatrooms sou sê dit was dalk die tekort aan suurstof met al die uitlaatgasse in jou gesig, die amperse versmoring, wat jou aangedraai het. Seker

Скачать книгу