Is Sagie. Jan van Tonder
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Is Sagie - Jan van Tonder страница 4
Twee
Dit is Klein-Piet van oom Pieter Steenekamp se verjaardag. Die Steenekamps woon teen die berg op Landskap, die grootste van die plasies in die vallei. Sagie onthou verjaardae, want waar daar verjaardag is, is daar eetgoed: sjokoladekoek en melktert en rosynetert. Sy pa koop nooit koek nie, oor dit geldmors is. Dit is ook nie eens gesond nie, sê hy, al het ’n mens die geld daarvoor, en dié by ant’ Jopie se winkel is tog nooit vars nie. Daarom, as daar verjaar word, is Sagie by om geluk te wens. Dan gee die tantes vir hom groot borde vol lekkernye sonder dat hy vra. As hy nie opdaag nie, sê die mense: “Sagrys is seker siek.”
Sy pa laat hom toe om te gaan gelukwens, maar waarsku elke keer dat die boerdery nie wag nie.
Hy draf met die stofpad na Landskap toe. Ant’ Loekie bak beter as enigeen in die Klein-Karoo en wen eerste pryse op elke skou. En al hou Sagie nie juis van Klein-Piet nie, bly hy hom jaar na jaar gelukwens.
Langs die pad sien hy hoe die boere hul wingerde wat in bot staan, swael teen knoppiesblaar.
“Ek het gewonder wanneer jy kom,” groet ant’ Loekie. “Sagrys, ou seun, jou deel staan reg. Jy moet maar inkom vandag, want Klein-Piet sit weer met die bors, jong. Vanjaar lyk dit my gaan hy sommer die somer daarmee in. Kom, hy is in die voorhuis.”
“Dankie, ant’ Loekie. Hoe sien ek dan so min vir Lucas die laaste tyd, antie? Hy het dan altyd, tot naweke ook, so gewerk op die plaas.”
“Vryery, jong. Boer nou meer op die aanstaande se plaas as hier, sê ek. Die twee is vandag Kaap toe om ringe te gaan uitsoek, so in die middel van die week in. Klein-Piet! Sagrys kom geluk sê.”
“Baie geluk, Klein-Piet,” sê Sagie. Ant’ Loekie glimlag. Klein-Piet sukkel om dankie te sê tussen die hoesbuie deur. Sagie se pa sê altyd die kind hoes nes die John Deere as daar sneeu op Towerkop is. Sagie skud Klein-Piet se hand. Hy het al geleer om nie te hard te druk nie, want dan kerm die mannetjie so dat sy ma dalk minder koek sal gee. “Nee, Klein-Piet, man, baie geluk. Ek hoor jy’s nou ook by die halfpadmerk.” Sagie lag. Hy het nou die dag iemand vir oupa Henrie op die dorp so hoor sê toe dié negentig geword het. Almal het geglimlag toe hulle dit hoor en Sagie het besluit om die sê-ding te onthou.
Maar ant’ Loekie glimlag nie. “My magtig, is jy dan nou heeltemal aan’t mal word? Hy is dan net tien…” Sy sit haar stewige arm om Klein-Piet. “Kry jou loop dan nou, Sagrys, en skaam vir jou!”
Sagie sit sy hoed op toe hy buite kom. “Wat maak dit tog nou saak hoe oud ’n mens is – ’n grappie is mos ’n grappie.” By die tuinhek hoor hy nog vir Klein-Piet hoes. Ek hoop jy stik aan daai rosynetert, dink hy.
Nou moet hy weer gaan ploeg.
Voor hy na Klein-Piet toe is, was hy besig om met die dolploeg ’n voor vir die kraalmis te trek. Freek sou, as dit soos altyd was, na skool kom help werk en Sagie sou dan vir hom die tertjies gee wat hy vir hom gebêre het. Nou is daar nie eetgoed nie en Freek sal nie daar wees nie. Hulle het nog niks van hom gehoor vandat die vangwa hom weg het nie.
Sagie hardloop die laaste ent huis toe om betyds vir inval daar te wees. Hy wil nie sy pa onnodig kwaad hê nie. En die werk moet ook klaarkom, want dis byna planttyd vir kalbas.
Sy pa staan op die stoep pad toe en kyk. Dit lyk of hy Sagie inwag.
Barend van Greunen is kwaad – dít sou ’n vreemdeling kon weet, en Sagie beter. Hy is bang vir die strop in sy pa se hand, al het sy pa ná die laaste pak, lank gelede, gesê dat hy nou te groot is vir slae. Hy is spyt dat dit al so warm geword het, want hy dra meer as ’n maand lank nie meer langbroek nie, en hy ken sy pa se slaan.
“Hoe dan nou, Pa?”
“In die huis in!”
“Ek is mos nie laat vir inval nie, Pa.” Hy sorg dat daar ’n afstand tussen hom en sy pa bly. Sy een arm is reg vir keer.
“In! Of moet ek jou hier op die stoep voor almal looi?”
Sagie loop vooruit badkamer toe. Dis waar geslaan word.
“Ek hoor jy was onbeskof met ant’ Loekie.”
“Hoe meen Pa nou?” Sagie kyk sy pa verdwaas aan.
“Sy het gelui. Sy sê jy het met haar kind se siekte gespot.”
“Issie.”
Barend word net kwater. Hy luister min na rede as hy moeilik raak. In die vallei en op die dorp is daar min mense wat kans sien vir sy humeur, veral ná die ding destyds met die kalbaskoper en die keer wat hy Beesbek Badenhorst van Buffelskloof se drie spogperde doodgeskiet het toe hulle by die sestig van sy jong waatlemoene en spanspekke stukkend getrap het; byna vir Beesbek self met dié dat hy saam met ’n polisieman daar aangekom het. Hoe die perde so ver gedwaal het, weet niemand nie.
“Buk, Sagrys.” Barend hou nie op met slaan voordat Sagie skreeu nie. Uiteindelik laat hy hom orent kom om oor die seer te vrywe. “Ek wil niks van jou by die bure hoor nie, dit weet jy. Niemand sal sê Barend van Greunen het sy seun nie reg grootgemaak nie. Jy sal in die vervolg nie wie ook al loop gelukwens met sy verjaarsdag nie, behalwe as jy hom toevallig raakloop êrens, uit ordentlikheid.”
Die werkers sê niks oor die hale agter op Sagie se bene nie. Hulle het dit al baie male so sien lyk. Hulle kon hom hoor skreeu waar hulle die laaste rukkie van die etenstyd onder die doringbome langs die kalbasland gelê het.
Sagie klim swaar op die trekker en sit nie gemaklik nie. Hy wonder hoekom sy pa hom geslaan het, maar hy durf nie vra nie – nie terwyl sy pa is soos hy nou is nie. Agter hom gooi die dolploeg ’n voor oop waarin kraalmis toegewerk moet word. Die land is nie geëg nie, want daar moet kluite wees vir die regsit van die kalbas om die buig te verseker. Die vore word ses meter uit mekaar getrek. Na die toewerk van die bemesting in die vore, word gaatjies ’n meter van mekaar af gesteek met ’n paar pitte vir elke gat.
Die werkers loop langs die sleepwa met die mis en skep grawe vol uit.
Toe die strop se merke weg is, en die kalbas geplant en later ingeboet en geskoffel is, sit hulle een aand aan tafel om huisgodsdiens te hou. Die skottelgoed is in die wasbak gepak vir Mieta se hande, en die Bybel lê oop voor Barend.
“Pa,” sê Sagie, en hy vertel van die sê-ding wat hy vir verjaardae gehoor het en hoe hy dit by Klein-Piet gebruik het. Hy is dadelik spyt dat hy weer oor die ding by die Steenekamps gepraat het, want sy pa kyk snaaks na hom.
Barend staan op, loop kamer toe en kom met die strop terug, maar hy hou deur die sitkamer waar Sagie by die lang tafel sit en gaan reguit kombuis toe. Sagie hoor die stoof se vuurkas oopgaan en toeklap. Sy pa kom met leë hande terug en gaan sit, slaan ’n teks na en begin lees. Nadat hy en Sagie gebid het, draai hy nie die lamp soos gewoonlik dood nie.
“Hoeveel bokke het ons nou op die plaas, Sagrys?”
“Sewe en twintig, Pa; vanlat die jakkals laas die gebreklike ooi gevang het.”
“En hoe lyk die veld? Het ons te veel bokke op die grond, of kan daar nog kom?”
“Is nie mooi vanjaar nie. Onse plek is te klein vir nog bokke. Ons moet praat met oom Kerneels lat ons van sy weiding