Luistervink. Madré Marais

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Luistervink - Madré Marais страница 6

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Luistervink - Madré Marais

Скачать книгу

die sebrastrepe. Hy jaag verby die ronde bordjies met die spoedbeperking van 20 km/h.

      Sy besef dit nie dadelik nie: Hy weet nie sy is hier by die parkie nie.

      Hy het geen idee waar sy is nie. Die gedagte swel binne haar uit. Sy dink aan haar motor wat nog presies staan waar sy dit vanoggend geparkeer het. Hy kan maar na haar klas toe loop, dis gesluit. En hy sal verniet aan die skoolkantoor se deur gaan klop.

      Wat gebeur nou, gaan die skool optree? wil die ma weet. Wat moet sy met haar kind maak?

      Nicolene kyk af. Daar is ’n taai druppel van iets op die kind se een skoen. Sy sien nie die kleur daarvan nie. Sy sien dit net omdat die sand daarin vassit. Soos ’n klontjie modder sit dit daar. Sy is bly sy het dit nie vroeër raakgesien nie. Sy sou dit afgevee het.

      En dan sou sy juis nie die bakleiery nie, maar dit wat regtig vandag gebeur het, maklik kon stil lieg.

      “Jou dogter het vandag haar eiewaarde besef, dis eintlik al wat die geval is.” Sy glimlag bewerig daaroor dat dit toe dié woord is wat pas. “En niemand hoef op te tree nie. Sy het dit klaar gedoen.”

      Terwyl sy kyk hoe die rooi motor hek toe ry, oorweeg sy dit om agterna te loop. By die hek uit en in die straat af. Om net te bly loop, al weet sy nie waarheen nie.

      Maar sy doen dit nie.

      Nicolene gaan sit op een van die parkie se swaaie en haal haar selfoon uit haar sak. Sy kyk nie hoeveel oproepe sy gemis het nie. Sy maak dadelik die video oop wat sy vroeër vir haarself aangestuur het.

      Sy wil nie die bakleiery sien nie. Sy kyk net weer en weer na die stukkie heel aan die begin. Toe die seun al met die meisie begin sukkel het, maar voordat sy terugveg. Nicolene wil die meisie se gesigsuitdrukking sien die oomblik voordat sy haar uit die seun se greep ruk.

      Terwyl sy na die video kyk, stoot sy haarself terug en swaai dan vorentoe. Terug, en vorentoe, swaai sy onder Riaan se greep uit.

      Nog vinniger, en hoër.

      Riaan, wat so lief is vir haar dat hy haar in die huis toesluit terwyl hy nagskof werk.

      Hoër.

      Sodat sy veilig is.

      Nog hoër, nog.

      Sodat sy die oggend soos ’n hond voor ’n toe hek moet staan totdat hy met die sleutels by die huis kom.

      Op die hoogste punt verslap die kettings en die swaai ruk sodat sy die foon neergooi om te keer dat sy val.

      Riaan, wat met al sy liefde netsowel ’n klomp bloederige, krom halfmane oor haar hele lyf kan los, nes dié wat aan die meisiekind se arm sit van toe die seun teruggeveg het.

      “Juffrou, is dit hoe ’n lafbaait lyk? Ek wou nie een hê nie. Voor die bakleiery het hy gesê hy gaan my ’n lafbaait gee, toe druk hy my vas.”

      Dit wat Bok nie weet nie

      Wat het haar ooit laat dink hy sou agterkom? Bok sien lankal niks meer raak nie.

      Maar die man daar buite kyk na haar. Sy weet. Elke nou en dan kyk hy in haar rigting. Sy hoef nie na hom te loer om te sien dat hy dit doen nie. Nita kan voel hoe hy staar, die man net aan die ander kant van die dik glasruit, wat eintlik ’n glasmuur is – van die vieslike turkoois vloerteëls tot teenaan die plafon.

      Bok staar ook nog heeltyd, maar Nita is nie een van die dinge waaraan hy hom vandag al gesteur het nie. Daar was die spyskaart bo die oulike gesiggie van die meisiekind agter die toonbank. Die skerm van sy selfoon. Die grond onder sy naels. Die TV-skerm agter haar; hy bly oor haar skouer korrel om te sien hoe rugbyspelers dieselfde drieë druk en strafskoppe afstaan as wat hulle die naweek gedoen het.

      Wat verwag sy dan vandag? Dis net nog een van die baie kere dat hulle mekaar oor middagete hier kry. Dié soort ekstra kuiertydjie het hulle ’n ruk terug begin reël as haar idee van ’n bederfie. Nou is dit ook nie meer iets snaaks nie.

      Sy kyk na die man daar buite, net lank genoeg dat hy daarvan weet, dan kyk sy weg.

      Bok het nie agtergekom sy het haar naels laat doen nie. Dis darem nie asof dit die eerste keer is nie, maar sy het lanklaas daarvoor tyd gemaak of geld gehad.

      Nita het vooraf beplan hoe sy sou reageer wanneer hy daarna oplet.

      Hy sou dit raaksien, het sy gedink. En hy sou nie vreeslik beïndruk wees nie, maar hy sou seker darem iets sê. Iets soos: “En wat’s daardie?”

      Sy sou baie verbaas klink, en soet, “Wat is wat nou, Bokkie?” en hy sou haar hand vat en vir haar wys dís waarvan hy praat; en dan sou hy haar hand sommer so ’n rukkie vashou terwyl sy sê dis niks nie, sy het vir Kleintjie by verkope gevra, die kind se hande is tog altyd so mooi versorg. Hulle het dit sommer vanoggend in ’n stil tydjie daar by die werk gedoen.

      “Dalk kan sy joune ook bietjie bykom, Bok,” sou sy dan terg, “dis darem te erg, al die sand en goed.”

      Ongelukkig hoef sy haar nie te verbeel oor wat hy dan sou sê nie. Hy sou weer tekere gaan oor hoe tuindienste ’n regte man se werk is. Hy het nie tyd om handskoene aan te trek elke keer as die werkers nonsens aanjaag en hy moet inspring om iets gedoen te kry nie, sê hy.

      Kleintjie doen haar naels self en dit lyk so mooi, veral wanneer sy met haar vinger op die papier druk, daar langs die fyn lyntjie onderaan die bladsy, om te wys waar ’n kliënt sy handtekening moet maak.

      Nita het al gesien hoe party mans na daardie lyntjie kyk; dan na die netjies gedoende nael aan Kleintjie se vinger; na haar hand, haar pols waaraan een van die fyn kettinkies blink wat haar kêrel vir haar gekoop het, al die pad met haar arm op tot by haar gesig. Sy het elke nou en dan ’n ander kêrel, maar sy vra altyd dieselfde geskenk as hulle vir haar iets spesiaals wil koop. Altyd so ’n kettinkie.

      Dis oor dié kykery dat Nita vir Kleintjie gevra het om te help.

      Nou kyk die motorwag wat hier buite staan na haar. Nie Bok nie. Al is hy die een vir wie sy die selfoonboodskap getik het: “Sien ons mekaar vir lunch?”

      Sy het nogal ’n pienk melkskommel bestel, omdat die stroop wat hulle aan die binnekant van die glas spuit, dieselfde helderpienk as die kleur aan haar naels is.

      Die man kyk na haar, en sy kyk terug. Want sy is lus.

      Bok is juis besig met sy foon. Amper nog die hele tyd vandat sy met die kafeeskinkbord by die tafel aangekom het.

      Nita het hom dopgehou, netnou, van waar sy by die toonbank gewag het vir die kos wat hulle bestel het. Sy het gekyk hoe hy stadig tot by die tafeltjie loop en op die bank inskuif. Die gekraakte kunsleer is dieselfde turkoois as die vloerteëls, en is afgerond met ’n wit randjie al om die kante. Nita haat turkoois.

      Sy het gekyk hoe hy terugsit met sy arms wyd gegooi op die rugleuning, asof hy by die huis voor die TV sit.

      Eers toe het hy teruggekyk, na die meisie agter die toonbank met wie hy so oorvriendelik was. Die meisie het haarself met die stapeltjie menu’s langs die kasregister besig gehou.

      Bok het toe maar na die gemors onder sy naels gekyk.

      Dit het gelyk asof hy van iets onthou, en

Скачать книгу