Fees van die ongenooides. PG du Plessis
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Fees van die ongenooides - PG du Plessis страница 6
Buite, so kon hy deur die vensteropening sien, was Sarah en ’n bruin man besig om ’n stronkevuur onder ’n seeppot aan die gang te kry. Hy sou moes wag. Daar was ’n hoop mieliestronke in die vertrek en, geklee in net sy oorgroot bo-baadjie en sy beskamende onderbroek, het hy teen die stronkehoop gaan sit met sy koffie en beskuit.
Tot die vrouens begin lag het. Hulle uitbundigheid het Joey se ore bereik waar hy op die stronke sit en hy’t by die venster-opening gaan loer. Voor die kombuisdeur het Sarah met een van sy kouse gestaan. Sy’t die kous vieserig tussen net die verste puntjies van duim en wysvinger vasgeknyp en met ’n uitgestrekte arm uitgehou vir Magrieta om te bekyk. Joey het daardie kous self en dikwels gestop en hy’t nie juis ag geslaan op die kleure stopwol wat ter hand kom wanneer ’n ertappel in die kous ongerieflik groot word nie. Die resultaat was ’n veelkleurige kous wat só gestop was dat daar van die oorspronklike nie veel meer oor was nie. Joey het gesien hoe die mooi Magrieta oor sy kous jil en hoe die vroue kommentaar lewer en dan skree van die lag. Hulle woorde het by sy ore uitgekom in ’n taal wat hy nie kon verstaan nie, maar hulle houding en gesigsuitdrukkings het vir Joey se verslae oë gelyk of dit wissel tussen pret, hoon en veragting. Hy word bespot, het Joey geweet, en een van die spotters was die een vrou op die ganse aarde wat hy bitter graag sou wou beïndruk. Hy het gekwets weer gaan sit, wetende dat hy nou buite hoop op enige respek van Magrieta van Wyk se kant af was. Hy sou nooit ooit iets, net iets, in haar oë kon word nie. Die neerslagtigheid het op hom toegesak.
Joey het afgekyk op sy kaal voete. Hulle was smal en wit en blou-geaar, en sy toonnaels was swart-blou van die vuil en heeltemal te lank. Op sy een groottoon het die groeisel al buitekant toe geswaai. “Dié land het ’n boemelaar van jou gemaak, Joey Drew. ’n Verdomde bóémelaar.”
Ná ’n uur is ’n sinkbad die stronkekamer ingedra, gevolg deur emmers stomende water. Die swart man wat die water bring, het Joey se groet net aangekyk en aangegaan met sy werk. Met sy laaste binnekoms het die man ’n skinkbord neergesit. Netjies gerangskik, was daar ’n handspieël, seep, ’n waslap, ’n opgevoude handdoek, ’n metaalkam, ’n skêr, en, amper soos ’n stukkie versweë kommentaar, ’n skropborsel.
Net toe Joey in sy bad wou klim, was daar die geluid van ’n perdekar buite en hy het hom na die vensteropening gehaas om te sien wat aangaan. Danie van Wyk en paar lede van sy familie het stilgehou en afgeklim. Die kapkar was blink en skoon, die tuie gepoets, die swart perde blink van versorging. Danie van Wyk het eerste afgeklim. Hy het die swart manel en die wit strikdas en beffie van ’n kerkraadslid gedra en twee welgeklede vroue van die kar af gehelp. Vir die ou man wat saam was, is ’n kassie nader gedra vir die afklim.
Joey het verlig, maar met ’n verkeerde afleiding in sy kop, van die venster af na sy bad toe gegaan: “Dankie tog, dis Engelse mense. Hulle praat seker net die skraperige taal met bediendes en vreemdelinge.”
Nog ’n kar het stilgehou, maar hy was al in die bad.
Die deur het oopgegaan en Danie van Wyk het in die opening verskyn: ’n man van knap oor die vyftig, met grys in sy netjiese baard en breë snor. Hy was fors van postuur en het bo Joey in die bad uitgetroon. Joey, klein, kaal en wit – en verleë omdat die badwater waarin hy sit al klaar die vaal-bruin kleur van oorgebruikte skottelgoedwater het – het oorkruis en nederig opgekyk na die formeelgeklede man.
“Ek hoor jou van is Drew,” het Danie van Wyk in goeie Engels gesê. “Myne is Van Wyk.”
“Asseblief, Meneer,” het Joey amper gepleit, “ek is nie wat Meneer sien nie.”
“Dis seker moontlik. Ek wil net vir jou sê, meneer Drew, dit is nie ons gewoonte om vreemdelinge se wasgoed op Sondae te laat was nie, maar ek kan sien my skoondogter het gelyk: u is ’n noodgeval. Ek sal vir hulle sê om nog skoon water te bring. As jy uit daardie sop moet klim …”
Joey het nie gehoor wat hy verder sê nie, want Danie van Wyk het vooroorgebuk en met die silwerbeslaande steel van die perdepeits in sy hand die besmeerde lang onderbroek van die grond af opgetel en daarmee deur die deuropening verdwyn.
Joey het uit die bad gespring om te sien wat hy met sy onderbroek gaan maak. Tog net nie wys nie! Maar Danie van Wyk het net, al was dit ten aanskoue van almal op die werf, die onderbroek oor die punt van die peitsstok gedra soos ’n dooie slang en dit in die vuur onder die seeppot ingeskiet. By die wasgoeddraad was Sarah besig om die wasgoed op te hang: Joey s’n kort; Hans Bester s’n lank. En by die komberse het die swart vierkant van sy kamera-doek gehang – ’n paspoort na respek, het Joey gehoop.
Danie van Wyk het vir hom ’n nuwe lang onderbroek met die eerste emmer skoon water saamgestuur.
Maar ten spyte van die swart doek het die Van Wyks nooit enige agting vir Joey Drew ontwikkel nie.
Dit was hulle christelike plig om gasvry te wees teenoor die vreemdelinge in hulle poorte, maar verder as dit het hulle nie gegaan nie. Joey het sy kos teen etenstyd gekry en ’n kamer om in te slaap, maar die familie het hulle formeel en eenkant gehou en selfs in Joey se teenwoordigheid daardie skraperige taal met mekaar gepraat. By hom het die oortuiging gegroei dat hy in sy teenwoordigheid bespreek word. Net as hulle direk met hom praat, het hulle Engels gebruik. Sy perde is versorg, sy wasgoed gewas en gestryk, en sy direkte vrae is beantwoord. Dit was al.
Die een vraag wat hulle hom wel gereeld begin vra het toe sy verblyf by hulle oor weke en maande begin strek, was wanneer hy van plan was om te gaan. Die vraag het mettertyd toegeneem en ’n skimp geword. Hy’t geweet dat hy nie meer welkom was nie, maar hoe kon hy hulle vertel dat hy die oop ruimtes waarin hy so verlore was, vrees? Dat hy bang was om weer die pad te vat in ’n oopte waar selfs die son nie kon besluit waar om op te kom of onder te gaan nie? Waar, nadat hy besluit het wes is soontoe, die son môreoggend gaan opkom, en as hy besluit oos is dáár gaan die son net links van die plek ondergaan? Weg van die plaas af gaan niemand hom weer verstaan nie en die koue eensaamheid gaan op hom neersif soos die ysies van die kil nagte onder die sterre en die witgerypte oggende. Hy het baie verskonings aangevoer om nie te gaan nie – die perde, sy gesondheid, die weer. Totdat hulle opgeraak het. Sy ure het hy verwyl in sonkolletjies wat hy ontdek het. Hy kon later sien die seisoen begin verander, maar hy het gebly. Hy’t ’n gemors van die hele ding gemaak, en hy het goed genoeg geweet hoekom. Dit was alles oor daardie eerste en enigste maaltyd wat hy saam met die familie aan hulle tafel genuttig het.
Hy het daardie Sondag van sy aankoms amper die velle van sy lyf af geskrop om skoon te kom. Die skoon klere wat Sarah vir hom gebring het, het nog na die strykyster geruik, en hy het so méns begin voel dat hy die res van die familie met selfvertroue kon ontmoet.
Almal kon en het, tóé, Engels in sy teenwoordigheid gepraat.
Danie van Wyk was die gesinshoof en sy vrou, Dorothea, die onbetwiste heerser in die huis.
Gertruida van Wyk, Danie se suster, was ’n oujongnooi van reeds diep in die vyftig. Sy het by die familie gebly en Joey het afgelei haar jare van maagdelike onthouding aan plesier en liggaamlike vervulling het haar gestywe met dieselfde deeglikheid as dié waarmee sy die wit omslae van die moue om haar polse gestysel, gestryk en uitgelê het. Haar bewegings, haar gaan sit en opstaan en loop, en bes moontlik ook haar gaan lê, was so presies en beheersd soos die afgemete woorde uit haar mond. Dit was asof die Arabiese gom in die kant-boordjies wat sy hoog teen haar nek op dra, mettertyd ook in haar ingeweek en haar tot diep binne-in verstyf het.
Die enigste lid van die gesin wat sy afkeer in Joey se aanwesigheid nie weggesteek het nie, was Magrieta se man, Daantjie van Wyk. Hy was jonk, nie onaansienlik nie, en spoggerig, en alhoewel hy ná daardie eerste