Fees van die ongenooides. PG du Plessis
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Fees van die ongenooides - PG du Plessis страница 8
Joey het alleen aan tafel agtergebly en toe maar die kraffie leeggemaak. Hy het ’n doodsonde gepleeg. Soveel het hy geweet.
Dorothea het hom die kamer gaan wys waar hy die aand kon slaap. Dis waar sy hom voor die keuse gestel het: Sy sou nog graag ’n familiefoto wou hê, en daarom kan hy maar bly as hy so voel, maar hy moet net nie verwag om weer saam met die familie te eet nie. Die huismense weier om saam met hom aan dieselfde tafel te sit ná wat hy gesê het.
Joey het gebly. Hy’t die plaas bewandel soos ’n melaatse en moes die werf op sy eentjie leer ken: die imposante sandsteenhuis met sy rooi sinkdak, die ommuurde voortuin, die groot stoep. Soos die dae verbygegaan het, het hy wat daar te sien was oor en oor bekyk – die waenhuis en stal, die hoenderhokke, die klompie bloekoms agter die huis, die winterkaal vrugteboord, die groentetuin met net die winteruie en kool, die hooimiedens, die windpomp met sy dam. Dit was nie ’n aangename plek vir ’n stadsman om te wees nie, veral nie as hy niks te doen het en niemand het om mee te praat nie. Twee sonkolletjies teen die bult agter die huis was maar sy boerplekke. Daar kon hy probeer om die koue wat die nagte buite in sy gebeente nagelaat het uit hom te bak, en van daar af kon hy uitkyk oor die vlakte voor hom. Want soos hy ná oorlede Hans se dood wes en suid geswerf het, het die bulte al platter geword en het die landskap verander in ’n gelykte. Die uitsig was goed van sy sonkolletjies af, en die vlaktes het onmeetlik gelyk. Hy het die eensaamheid gevrees wat oor daardie ruimtes hang. Joey was bang vir die tweespoorpaadjie in die verte oor hy kon sien hoe die ding vergeefs probeer om oor daardie vlakte te kom. Sommer so, terwyl jou oog hom nog probeer volg, het die strepie pad in die niet verdwyn. Die paadjie het nie êrens aangekom nie, dit het nêrens gestop of stasie gemaak nie, dit het net verdwyn in ’n soort eindeloosheid. Dis daardie wegraak die onbekende in wat Joey gevrees het, want hy het toe nog met die oog van ’n verstoteling gekyk. Dis eers later dat hy sou leer sien.
Wat Joey Drew dus van dié gegoede Boere geweet het, kon hy net waarneem wanneer dit etenstyd word en hy dus sy omswerwinge só moes konstrueer dat hy binne roepafstand van die agterdeur af was. En dan, nadat hy sy aandete alleen aan die kombuistafel moes nuttig, het hy die familie probeer uitluister. Hy het dan oor die kraakgeluide van die plankvloer heen, en so stil moontlik, na sy kamer toe gesluip – by die eetkamerdeur verby waar Danie teen daardie tyd sou besig wees om uit die Familiebybel voor te lees, of oupa Daniël sy uitgebreide aandgebed sou doen.
Joey kon nie weet dat hy elke aand deel was van die ou man se gebed nie. Want oupa Daniël, gedagtig aan die opdrag dat ’n mens ook vir jou vyande moet bid, het elke aand by sy Here gepleit om in te gryp en in sy groot genade en almag die Engelse weg te keer van hulle grypsug en hulle op die pad van regverdigheid te lei. En, meer spesifiek, dat die Here nie sy aangesig moet wegkeer van die onaansienlike en aanstootlike klein Engelsman in hulle poorte nie, maar hom moet bekeer van sy dwalinge. En as dit moontlik is, het oupa Daniël gepleit, leer tog hierdie familie om hulle vyande lief te hê, al weet die Almagtige in sy alwetendheid hoe moeilik dit met ’n Engelsman is. En as die astrante klein vloek gestuur is om hulle te herinner aan hulle christelike plig, en om hulle te beproef, bid hy dat die genade aan hulle gegee sal word om die kruis met deemoed te dra.
Ná die veraf dreun van die gebed, het Joey se eensame ore gehoor hoe die harmonium begin om ’n psalm of gesang uit te teem en hoe die familie, elkeen na sy of haar gawes, inval en effens trekkerig al die versies saamsing. Dan het die stoelpote oor die plankvloer van die tafel af weggeskraap en het die gaan-slaap-voetstappe deur die ruimtes van die huis begin doef en kraak. Uit die kombuis het daar nog ’n pot, of ’n stukkie skottelgoed, geklink. Die voetstappe het deur die huis gedwaal en twee-twee hulle slaapplekke gevind. Die kamers het dan hulle dowwe woorde deur toe deure die gang in gemompel en Danie se skoene het op die vloer geval. Net uit die mooi Magrieta en haar spelerige man se kamer was daar giggels en soms die half-gesmoorde geluide van ’n geil jong liefde. Uit Gertruida se kamer het daar net ’n presiese stilte, soos dié van ’n afwesigheid, gekom. Oupa Daniël het sy keel- en neuskanale ronkend probeer oopkry vir ’n nag se ononderbroke snork. Joey het die kraak van elke bed leer ken van waar hy soos ’n rot in ’n kas die bewegings in die huis rondom hom probeer ontsyfer. Hy het oop-oog in die donker gelê met die na-reuk van ’n pas gebluste vetkers in sy neus. Doodstil. Asof iets hom uit die donker sou bespring as hy self ’n geluid durf maak, of as hy dalk ’n verkeerde afleiding maak uit die klanke van dié huis van vreemdheid.
Maar ten spyte van oupa Daniël se gebede dat hulle hul christelike plig moet nakom, selfs teenoor ’n ondenkbare naaste soos ’n skeel, afstootlike Engelsman, het hulle tog dik geraak vir Joey Drew se aanwesigheid. Alleen in hulle intieme kamer, het Daantjie vir sy Magrieta gesê: “Ek weet ook nie hoekom Pa nie wil hê ek moet die bliksem van die plaas af skop nie. Hy sit nou al weke hier by ons soos ’n bosluis in ’n hond se hol. Hy’t die vel van ’n renoster of hy’s te klipdom om ’n skimp te verstaan. As ons hom nie behoorlik wegjaag nie, gaan hy vir ewig op ons nekke lê.”
Gedurende die maande van Joey Drew se verblyf by die Van Wyks het daar ’n paar ingrypende dinge gebeur: Gertruida van Wyk se Duitse klavier het op die plaas aangekom, Joey Drew het die familiefoto geneem, veldkornet Willemse het berig gebring dat dit oorlog is en dat die mansmense opgekommandeer word en Joey Drew het Fienatjie ontmoet. Fienatjie Minter.
Maar dié ontmoeting was nie eintlik ’n gebeurtenis nie, meer die noodlot, het Joey geglo.
“Dit kón net die noodlot wees,” het Joey altyd gesê wanneer hy mense probeer vertel van die wonder in Fienatjie Minter se oë.
Twee
Op die stoep het sy gaan sit. Drie stoele weg van die man af. Apart. Die son vang nou haar hare en dit ís wit.
Die majoor probeer uitmaak waar hy effens meer as veertig jaar gelede gestaan het. Dit wás hier. Presies. Die hek is nie verskuif toe dié een tussen sy nuwe mure gehang is nie. Dit wás hier waar hulle verraaier by hom aangekom het; dit wás hier waar hy daardie nag die Van Wyks se beskawing wat hy vroeër die aand oor die ongehoorde eettafel ontdek het, verder moes aanhoor – in die suiwer note uit die oujongnooi se klavier. Hy móét sy staanplek duidelik kry, want dis waar hy op daardie nag gestaan en verander het. Dis nogal ver van die huis af, sien hy. Hoe goed moes sy jong ore tog nie gewees het om so duidelik te kon hoor nie. Elke noot, of verbeel hy hom? Die nag moes andersins baie-baie stil rondom hom gewees het.
Oor daardie oujongnooi het Joey Drew bepaald ’n skewe storie vertel. Dit weet majoor Brooks, want hy onthou haar presiese spel en die woede in haar oë toe sy die byl deur die lanternlig in sy tent swaai. En dit terwyl hy met ’n geweerloop teen sy bors moes staan en toekyk.
Joey Drew het seker nooit agtergekom hoe skeef sy gestyfde beeld van die oujongnooi was nie:
Dit was ’n hele paar jaar voor Joey Drew se aankoms op die plaas dat Gertruida van Wyk al begin besef het dat sy nooit sou trou nie. Sy was baie stil in daardie dae, omdat sy afskeid geneem het van iets waarvan sy tog altyd gedroom het: ’n man en kinders. Maar die warm gloede van haar oorgangsjare het al meer geword, en haar maand het eers wisselvallig begin kom en toe verdwyn. Sy het geweet dat die tyd verbygegaan het.
In dié dae het sy baie getob oor die redes hoekom sy nooit getrou het nie, want sy was ’n Van Wyk en die Van Wyks is aantreklike mense, al is hulle effens trots en eenkant in baie se oë. En daar was nooit ’n tekort aan mans wat wou kom kuier nie – eers jongkêrels en later oujongkêrels en wewenaars. Hulle het haar probeer benader met deursigtige woordkeuses en aanrakings, maar al wat dit by haar ontlok het, was afsydigheid, en as hulle opdringerig raak, flitse van walging. Gertruida wou dit anders hê. Sy wou wees soos Dorothea was toe Danie haar huis toe gebring het: uitgelate van opwinding en verwagting. Of blosend soos Magrieta, wanneer Daantjie begin spelerig raak. Gertruida het geweet daardie