Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 26 - Ena Murray страница 18
Die gasvrou glimlag na haar op, weemoedig. “Ek is bly Paul het jou gebring. Hy het nie oordryf nie. Jy is ’n pragtige mens.”
Anmar kan maar net verslae bly staan, en dan is die sterk vingers weer om hare.
“Maar moenie vergeet om by te voeg dat ek ook gesê het baie koppig en dwarstrekkerig nie,” klink sy stem langs haar op. “Nag, Clive. Nag, Louise. Dit was ’n goeie aand. Baie dankie. Kom, meisie.”
Toe Paul die motor tot stilstand bring en afskakel, tas Anmar blindelings na die handvatsel. Sy hand vou oor hare en in dieselfde beweging word sy teen sy breë bors vasgetrek en weer, soos vroeër die aand, druk sy haar gesig teen sy wit hemp vas en voel sy sy hand op haar agterkop. Hierdie keer probeer hy egter nie die tranevloed keer nie, maar laat haar huil tot sy stil raak.
“Dokter . . .”
“Ja, matrone?”
Sy sit regop, glimlag bewerig. “Nou goed. Paul . . . Paul, jy moenie weer my bedanking opskeur nie, asseblief!”
Hy sit ook terug in sy hoek. “Ek is bevrees ek sal dit moet doen, Anmar. Dit is nog nie geleë vir jou om te bedank nie. Ek het jou gesê ek sal dit aanvaar wanneer die tyd ryp is – nie vóór dan nie.”
“Maar hoekom? Hoekom moet ek hier bly as . . . as dit beter sal wees as ek liewer weggaan?”
“Wat gaan jy bereik deur weg te hardloop?”
“Ek gaan ’n vrou baie pyn spaar . . . ’n vrou wat niks van die agtergrond weet nie, en wat reeds genoeg hartseer ervaar het,” sê sy stil, en langs haar klem Paul van Drüten se kake styf op mekaar.
“Nee, Anmar. Louise Coertze gaan net nog méér seerkry as jy nou weggaan.”
Sy swaai haar kop opstandig na hom terug. “Hoe kan jy so iets sê?”
“Omdat ek weet dat jy nie al mens is wat die afgelope vyf jaar ’n stryd teen spoke gestry het nie, Anmar. As jóú spook ’n werklikheid was en dit jou vyf jaar lank rondgejaag het, was Louise Coertze se spook nie minder van ’n werklikheid nie en het dit haar nie minder rondgejaag nie. In een opsig was jy beter daaraan toe. Jou gewete het jou nie ook rondgejaag nie. Jy het een troos gehad – jy was nie skuldig nie.”
“Maar hoe kan ek deur hier te bly dit vir haar makliker maak? Terwyl sy weet dat ek en . . . Clive elke dag saamwerk, mekaar elke dag sien, dat hy . . . hy . . .”
“Hy jou nog liefhet?” Sy stem is so besadig dat sy woorde haar nie skok nie, maar net magteloos die kop laat knik. “Deur weer van haar ’n mens te maak, ’n waardige opponent.”
Weer ruk haar kop terug. “Wat bedoel jy?”
“Dis hierdie keer ’n ongelyke stryd, nie waar nie, Anmar? Jy is pragtig. Selfs mooier as vyf jaar gelede. Jou spieël moet jou dit vertel en Clive het dit nie net opgemerk nie, maar dit al reguit gesê. En Louise is ’n verminkte vrou. Al is sy drie jaar jonger as jy, is sy oud van pyn en frustrasie en selfverwyt en hartseer. Dis nie ’n regverdige stryd nie, Anmar.”
“Maar ek . . .” Sy wil hom vertel dat sy geensins ’n opponent vir Louise Coertze wil wees nie en dat sy nog minder daarin belang stel om met die arme mens oor haar man te baklei, maar hy lê sy hand vinnig oor hare.
“Nee. Gee my kans om klaar te praat. Ek sê nie dis jou skuld dat sy vandag lyk soos sy lyk nie, maar tog het jy jou deel bygedra.”
“Paul! Jy kan nie . . . kan nie so iets sê nie!” fluister sy geskok.
“Onwetend, Anmar, het jy deel gehad aan haar selfvernietiging, aan die afsterf van haar wil om te lewe, om haar man se liefde te wen, om ’n waardige mens te wees. Die spook wat háár steeds rondjaag, is ’n groter, meer vernietigende spook as joune, Anmar.”
“Jy bedoel ék is die spook?”
“Ja. Jy. En as jy nou weggaan, sal jou spook haar bly treiter tot haar sterfdag. Besef jy nie dat jy – en net jy – aan daardie arme mens weer ’n waardige lewe kan teruggee nie?”
“Maar hoe? Hóé?” vra sy byna huilend, verbyster deur die dinge wat die man hier langs haar nou praat. Hoe kan Paul van Drüten háár beskuldig dat sý van Louise Coertze die patetiese wese gemaak het wat sy vandag is? Sý wat teruggestaan en van die toneel verdwyn het en haar verloofde net so, sonder slag of stoot, aan haar oorhandig het?
“Deur weer van haar ’n volwaardige vrou vir haar man te maak. Ken jy werklik niks van die agtergrond van hierdie verhaal nie?”
Sy skud haar kop ontkennend, leun terug en sien nou eers dat hulle nie voor die verpleegsterstehuis stilgehou het nie, maar dat hulle op die suidelike rant van Kruisrivier sit en op die dorp se liggies afkyk.
“Nee. Ek ken net mý deel van die storie. Verder weet ek niks.”
“Wil jy my nie jou deel vertel nie?”
“Ek kan maar.” Ja, sy kan maar vir Paul van Drüten vertel. Daar is vanaand al soveel intense dinge gesê dat haar deel van die verhaal dalk sal help om die legkaart te voltooi.
“Ek moes nog net twee dae werk voordat ek sou klaarmaak en gaan trou. Die troukaartjies was uitgestuur en beantwoord. Die saal was bespreek vir die onthaal, die blomme by die bloemiste bestel, die trougeskenke het al begin instroom. My vriendinne het reeds vir my ’n kombuistee gegee. Die . . . trourok het in my kamer teen die kas gehang, gereed . . .”
Sy sluk swaar, sukkel voort. “Toe ek daardie middag van diens kom, was daar ’n besoeker vir my in die sitkamer. Dit was jou pa. Ek het hom nie geken nie, en gewonder wie die vreemde man is. Hy het homself bekend gestel en toe het ek onthou dat Clive al van sy oom gepraat het, ’n dokter Van Drüten wat êrens op ’n klein dorpie geneesheer is.” Sy knel haar vingers styf inmekaar, ruk haar asem in en meteens is die breë skouer weer daar om op te leun, die breë bors om teen te huil. “En toe het hy gesê dat hy nie stad toe gekom het vir ons troue soos ek dalk vermoed nie, maar om my te vertel dat . . . dat daar ’n meisie is, ’n ander meisie . . . wat Clive se kind verwag.”
Dis lank stil in die motor voordat daar weer gepraat word. “Hy was so dierbaar, so vreeslik dierbaar vir my. Oudokter . . . Ek was so verslae, so doodverskrik, dat ek net na hom kon sit en kyk, skaars gehoor het wat hy verder praat. Teen die end het hy opgestaan en toe het hy gesê dat as ek miskien ’n plekkie soek, ek baie welkom op Kruisrivier sal wees. Hy het vertel dat hier ’n hospitaal is en dat hulle juis ’n matrone soek. Die dag toe ek en Clive sou trou, het ek op Kruisrivier aangekom en hier is ek vandag nog. Ek het Oudokter nooit na Clive gevra nie. Hy het my ook nooit weer iets van hom vertel nie. Net dat Clive en die meisie toe getroud is. Dis al.”
Met sy hand nog in haar hare, neem Paul die verhaal oor: “Clive en Louise is getroud, hoewel hy haar duidelik laat verstaan het dat hy net met haar trou omdat hy moet en omdat sy verloofde verdwyn het. ’n Paar uur ná die troue het alles te veel geword vir Louise. ’n Verskriklike ongeluk. Sy was maande lank in die hospitaal. Sy het die baba verloor. Haar been en arm byna ook. Maar nog meer as dit het sy verloor. Sy het haar wil om te lewe verloor. Sy het stadig reggekom, later só herstel dat sy die hospitaal kon verlaat, dat sy weer op ’n manier kon beweeg, met die hand kon vat. Maar sy het nie meer omgegee wat gebeur nie – of sy herstel of nie.
“As sy net haar