Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 26 - Ena Murray страница 19
“Maar nou, nadat sy my gesien het . . . As ek nou weggaan, van die toneel verdwyn . . .”
“Nee. Sy is ’n intelligente vrou. Sy het Clive se reaksie gesien – en reg vertolk – toe hy jou gewaar het. Sy weet ook hoe sy teen jou vergelyk.”
Sy sit effens weg, kyk na hom op. “Dan was jy mos oneindig wreed teenoor haar om my vanaand daarheen te geneem het!”
“Ja, ek was, maar dit was noodsaaklik. Sy moes jou sien soos jy werklik is. Kan jy dan nie verstaan nie, Anmar? Nou kan ons hiervandaan verder gaan.”
“Wat . . . wat bedoel jy met ‘ons’?” Sy vra die vraag bevrees, bang vir wat sy miskien gaan hoor. Sy wil dit nie hoor nie. Sy wil geen deel hê aan hierdie mense nie. Clive Coertze het die verlede beheer, van haar ’n kluisenaar gemaak, ’n vlugteling. En nou wil Paul weer Louise Coertze deel van haar hede maak. Nee!
Maar hy antwoord kalm: “Jy moet haar nou help, Anmar. Jy moet haar terugbring na die lewe.”
“Maar hoe?” roep sy uit. “Jy sê dit elke keer, maar hoe? Hoe moet ek haar help?”
“Soos net ’n vrou soos jy haar kan help, Anmar. Ek wil haar weer begin behandel, ’n reeks oefeninge en terapeutiese behandeling. Jy moet my help. Elke dag. Kom ons gee haar weer haar arm en been terug en, terwyl ons dit doen, maak jy weer van haar ’n vrou. Die begeerlike vrou wat sy moes gewees het as Clive, verloof aan ’n meisie soos jy, haar nie kon weerstaan het nie.”
“Bly stil!” Sy deins van hom af weg. “Jy is wreed. Jy is hard en sonder genade, Paul van Drüten. Ek dink ek kom soms baie na daaraan om jou te . . . te haat!”
“Anmar, wanneer ’n weerlose, heel liggaam voor my op die operasietafel lê, lyk dit wreed om ’n mes te neem en dit koelbloedig oop te kloof en dele uit te sny. Maar jy en ek weet albei dis noodsaaklike wreedheid . . . soos hierdie van vanaand. Beloof jy dat jy gaan saamwerk, Anmar?”
Sy ontwyk sy oë, staar op Kruisrivier se liggies af. “Ek weet nie. Ek weet nie wat presies jy van my verwag nie.”
“Ek gaan haar hierdie naweek voorberei op my planne. Maandag begin ons met die behandeling. Elke middag om vyfuur, wanneer jy van diens af kom, moet jy haar gaan help met die behandeling en oefeninge. Jy moet haar vertroue wen en mettertyd ook haar siek gees begin behandel.”
“Maar hoekom vir mý kies?”
“Juis vir jou, Anmar. Eerstens omdat jy die enigste verpleegster op Kruisrivier is wat oor die kwalifikasies beskik om dit te doen. Tweedens, omdat dit jou heilige plig is om haar eers te help om weer ’n volwaardige, sterk mens te wees voordat jy haar man van haar af wegvat.”
Die stilte in die motor duur ’n ewigheid. Dan sê Anmar skor: “Neem my terug. Neem my onmiddellik terug.”
“Anmar . . .”
Sy ruk haar hand onder syne weg. “Neem my terug, Paul van Drüten. Ek het niks verder om met jou te bespreek nie.”
Toe hulle stilhou, wag sy nie dat hy die deur vir haar oopmaak nie. Sy klim ferm uit, stap vinnig na haar voordeur. Sy wil net wegkom, so vinnig as moontlik wegkom van hierdie man wat nie omgee wat hy sê of hoe seer hy ander maak nie. Maar by haar woonsteldeur moet sy wag. Hy het die sleutel in sy sak. Sy sien sy hand by haar skouer verbykom en die sleutel in die slot druk, maar hy draai dit nie.
“Kan ek op jou samewerking reken, Anmar?”
Sy ruk haar kop sywaarts, kyk met ’n vernietigende blik op. “Ons kan Maandagmiddag met die behandeling begin. Sê vir Louise Coertze ek sal kwart oor vyf Maandagmiddag daar wees. Nag, dokter.”
6
__
Louise Coertze kyk op toe die fyn piepgeluid van die hekkie haar oor vang en verstil toe sy die man met die tuinpaadjie opgestap sien kom. Haar gesonde hand gaan na haar gesig waar die vel bleek oor haar wangbene span. Verleë vee sy oor haar wenkbroue.
Clive het Vrydagaand nadat Paul en Anmar weg is niks te sê gehad nie. Hy het haar oë ontwyk, oral gekyk behalwe na haar. Dit was eers toe hulle in die bed was, die lig al afgeskakel, dat hy aarselend, onseker begin praat het: “Louise, ek . . .”
“Dis alles reg, Clive,” het sy hom stil in die rede geval, dankbaar dat hy in die genadige donker nie die trane op haar wange kon sien nie. “Dis nie nodig om iets te sê nie. Ek verstaan beter as ooit tevore. Slaap nou maar.”
Sy het die nagure gelê en omtel met brandende oë en onderdrukte snikke wat haar keel gewurg het en haar bors wou laat oopskeur. Maar sy het swyend, geluidloos bly lê in haar bed van leed, van geheime liefde, van frustrasie en vergeefse drome.
Nou kom Paul na haar aangestap waar sy hier in die tuin sit en neem gemaklik langs haar op die houtbankie plaas.
“Ek sien jy het my pa se geliefkoosde plekkie ontdek. Wanneer hy ’n probleem gehad het, het hy altyd hierheen gevlug en nie eens ek het dit maklik gewaag om hom hier te steur nie. Ek het reeds as kind geweet dat as hy in hierdie hoekie sit, hy nie gehinder wil wees nie.”
Sy is bly dat hy nie na Vrydagaand verwys nie en gee een van haar seldsame glimlaggies. “Ek kan verstaan hoekom hy altyd hierheen gevlug het. Dis of jy hier afgesluit is van die wêreld daar buite, of hier amper ’n gewyde atmosfeer heers. Ek is so bly hy vorder so goed. Hy was so goed vir my, so dierbaar . . .”
Paul van Drüten se oë versomber ietwat. “Hoe het dit gebeur dat jy by hom uitgekom het?”
Sy aarsel en antwoord dan gedweë: “Dit was nadat ek ontdek het dat ek swanger is en Clive duidelik getoon het dat hy nie werklik vir my omgee nie, dat ek onthou het van die oom van wie hy gepraat het wat in die Karoo praktiseer. Ek was so desperaat . . .” Haar stem sterf weg en hy neem haar lam hand in syne, vou dit warm toe.
“Ja?”
“Wel, ek het hierheen gekom en hom gevra om my te help. Ek het hom gesmeek om my te help met ’n aborsie, want Clive . . . Clive het my toe eers vertel dat hy reeds op trou staan en beslis nie van plan is om sy verloofde vir mý te verruil nie al . . . al verwag ek sy kind.”
Die lang, sterk vingers speel liggies met die slap hand, gaan ondersoekend oor die pap spiere. “En toe?”
“Hy het my laat uitpraat. Hy was so dierbaar, Paul. Geen verwyte nie. Geen veroordeling nie. Net begrip en teerheid. Ek het hom nie aan die begin vertel wie ek werklik is en wie die pa van my kind is nie, maar teen die end het hy alles uit my getrek. Hy het met my gepraat asof ek sy eie dogter was. Hy het my self teruggeneem stad toe en . . . toe het Clive gekom, gesê hy sal met my trou.”
Dit is ’n rukkie stil. “Hoekom het jy op jou troudag probeer selfmoord pleeg?” Hy vra die vraag baie simpatiek.
Sy sluit haar oë asof die herinneringe te veel word. “Ons was aan die verklee ná die troue toe ek hom gevra