Soete verleiding. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Soete verleiding - Helena Hugo страница 6
Hulle is pas oor ’n bruggie met reuse-eike aan weerskante, die takke hierdie tyd van die jaar taamlik blaarloos. Dis die presiese plek waar sy pa hom altyd waarsku om op die uitkyk te wees. Hy het dit so gereeld en soveel keer gedoen, dis asof die tyd wat Jacques weg was skielik krimp van jare na dae. Voel soos gister wat hy laas hier gery het, sy leerlinglisensie in sy sak, sy pa in die passasiersitplek.
“Ons sal vir jou jou eie karretjie moet kry.”
“Dankie, Pa.”
Sy eerste kar was ’n silwerwit Alfa Romeo met ’n afslaankap.
Hy is Stellenbosch toe daarmee. Dagstudent: sy eie woonstel en sy eie kredietkaart met ’n R20 000-limiet, maandeliks deur pa Zack afbetaal. Sy enigste probleme was parkeerplek op die kampus en BAgric-lesings wat bygewoon moes word.
En Sharise van Harte.
“Jacques, ons sal vir jou ’n karretjie moet kry.”
Sy pa het weer nie gehoor nie. Jacques verander sy storie.
“Ek sal sien, Pa, hang af ...”
“Hang af?”
“Hoe lank ek hierdie keer bly.”
Sy pa wag ’n hele ruk voor hy sê: “Moenie dat jou ma agterkom jy twyfel nie.”
“Goed, ons kyk eers.”
Aan sy pa se stemtoon kan Jacques aflei dat hy teleurgesteld is en hom met moeite beheer. Weer ’n lang stilte, maar die atmosfeer in die kar is neerdrukkend en die stilte byna hoorbaar. Hulle het vroeër ’n ligte rusie gehad oor brandewynversnyding, en sy pa staan by sy argument. Jacques het naderhand ingegee, met die voorbehoud dat sy pa nie moet dink hy is altyd reg nie.
Jacques is besig om ’n lang vervoerwa verby te steek. Die verkeer is druk, maar die pad is wyd genoeg met vier bane en hy bly in die vinnige baan.
“Hier is kameras,” waarsku sy pa.
Jacques antwoord nie daarop nie, maar verminder spoed en beweeg oor na links.
“Hoe voel sy?” vra sy pa toe hulle ’n ent verder is.
Seker die tiende keer dat hy dieselfde vraag vra.
“Lekker, Pa.”
“Jou ma verlang baie na jou, sy praat al heelweek van die feesmaal.”
“Ek sien uit daarna,” sê Jacques.
Hy en sy ma het mekaar darem ses maande gelede gesien toe sy in Parys by hom en Suzette aangesluit het. Toe kon hulle twee ’n paar keer by gourmet-restaurante gaan eet sonder Suzette, wat vas was met fotosessies.
“Sy het al haar Franse resepte uitgehaal,” vertel sy pa.
Jacques knik. Sy ma was ’n nooi Le Roux, ook ’n afstammeling van die Franse Hugenote, en sy is meer gesteld op haar Franse herkoms as sy pa, wie se stamvader die mediese dokter Jean Prieur was.
“Ma is ’n beter cordon bleu as die beste Franse kok.”
Sy pa klap op sy korporasie. “Dit kan jy weer sê. Jou ma ken die pad na ’n man se hart.” Hy gee ’n skelm laggie. “Maar ek het ’n vermoede daar is deesdae ander paaie.”
Jacques weet presies waarna sy pa verwys. Suzette se kombuisvaardighede is van nul en gener waarde. Dit begin en eindig by ’n plastieksak vol slaaiblare, ’n kombuisskêr om dit oop te sny en dan in ’n slaaibak uit te skud, saam met ’n bottel fonteinwater om dit mee af te sluk.
“Kook sy ooit vir jou?” wil sy pa weet.
“Nie Suzette nie, nee, Pa,” antwoord hy eerlik. “Soms kook ek vir haar.”
“Dan eet sy?”
“As dit eetbaar is, ja.”
Hy is nie van plan om Suzette se probleme met sy pa te bespreek nie.
Suzette het sjarme en sy weet hoe om mense te wen, veral mense wat niks van haar weet buiten dit wat sy bereid is om te openbaar nie. Sy pa kan nie Suzette se skoonheid miskyk nie, sy ma ook nie. Daarbenewens het Suzette ’n stewige stamboek wat met gemak herlei kan word tot by vader Adam van die lank verlore paradys. ’n Gesiene en skatryk Joodse familie, dis haar mense. Bankiers almal, in New York gestasioneer, met huise en woonstelle in Londen, Amsterdam, Seoel, Sjanghai, Doebai en Llandudno.
Sy praat ses tale, en is benewens haar skoonheid hoogs intelligent, welsprekend en opgevoed in die beste skole. Dat sy steeds Afrikaans kan praat, is ’n pluspunt, want sy was nog in die laerskool toe haar ouers na Amerika geëmigreer en in New York gaan woon het.
“Sy sê julle ken mekaar al drie jaar?”
“Aan en af. Soms gaan daar maande verby dat ons mekaar nie sien nie.”
“Hm ...” sê sy pa.
“Suzette is baie selfstandig.”
“Die meisies van vandag ... Dis omdat hulle hul eie tjeks teken.”
“Sy werk hard.”
“Ek glo so, en sy het welgestelde ouers.”
“Teen hulle is ons kerkmuise.”
“Wel, jy het iets wat haar na jou toe aantrek.”
Sy pa klink filosofies, maar Jacques weet wat hy bedoel. Suzette het goeie smaak, maar barbaarse behoeftes – nes hy. Daarvoor kan sy hom enige tyd van die dag of nag opklop. Iets wat sy wel doen, soms diep in die nag, reguit van die lughawe af, haar oë klam en blink van afwagting.
“Suzette en jou ma kom ook baie goed klaar.”
Suzette is sy minnares, sy maîtresse, maar in sy ma se oë is sy ’n moontlike huweliksmaat.
“Dis gaaf.”
Hy gaan niks meer sê nie. Wat seks betref, het Suzette hom presies waar sy hom wil hê. En wraggies, hy kan nie anders nie. Hy maak elke keer vir haar die deur oop, gaan telkens na haar toe terug vir meer. Kastyding of ekstase – wat dit presies is, weet hy nie. Maar daaroor praat hy nie, en dis niemand se besigheid nie.
“Wragtig, ’n vroumens,” sug Zack, en sy woorde impliseer veel meer.
Jacques kyk vlugtig na sy pa, wat verlangend voor hom uitstaar. Sou Suzette haar flikkers by die oukêrel gegooi het? Nee, sy is daarvoor te uitgeslape, en sy pa te rotsvas ... of is hy?
Maar hy sal dit nie waag om sy pa te pols nie. Wat ’n man nie weet nie, kan hom nie skeel nie. Dis een van sy lewensmotto’s en hy bly daarby, dis sy behoud.
“Ja, sy is ’n vroumens.”
“Eet net te min.”
Suzette ly soos die meeste modelle aan verskeie eetsteurnisse.