Troukoors. Helena Hugo

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Troukoors - Helena Hugo страница 5

Troukoors - Helena Hugo

Скачать книгу

iets hards in die poeding, seker ’n stukkie neut.”

      Sy het in haar poedingbakkie rondgekrap en die laaste krummels van haar nagereg bymekaargeskraap. Die groen jaloesie het haar aangeval – en dit oor ’n onbekende meisiekind met die anderste naam van Vania!

      Minette parkeer haar rooi Mazdatjie onder ’n akkerboom langs die haarsalon en klim uit. Die karoppasser wat ’n ent weg met twee vriende gestaan en korswil het, kom groet om te wys dat hy op sy pos is. Sy is dankbaar dat hy daar is. Die dorp is nog besig om aan die gang te kom, maar teen die tyd dat sy by die haarkapper klaar is, sal die parkeerarea vol wees. Hy sal sorg dat hulle haar nie vasparkeer nie. ’n Saterdag is nie ’n goeie dag vir inkopies nie, maar sy was besig en sy wil môre op haar heel beste lyk. Dalk moet sy Somerset Mall toe ry.

      Sy sal sterk wees, gesofistikeerd en ouer. Sy sal nie dat Pierre haar omkrap nie. Eers ontspan by die haarkapper, daarna ’n nuwe rok of twee gaan koop. Sy lyk altyd ouer in ’n rok. Sy sal hom koel en kalm behandel; sy sal haar nie ontstel nie.

      Die eerste skok tref haar toe sy die salon se deur oopstoot.

      Minette sien haar nie, maar weet van haar die oomblik toe sy haar handsak op die ontvangstoonbank neersit. Daardie stem – asof sy dit nie genoeg by die departement moet aanhoor nie!

      Isadora Papastefanou. Dwarsoor die Helmut Lotti-CD wat op die agtergrond speel.

      “Skattebol, jy sal my nie glo nie, maar dit was een van die beste seisoene van my lewe. Die bye het presies gedoen wat ek gesoek het én daar was genoeg vrugte oor om die stalletjie aan die gang te hou.”

      Iemand sê iets wat Minette nie kan hoor nie. Die vroue sit meters uitmekaar en kuierpraat is nie veronderstel om moontlik te wees nie. Maar geen mens in die hele Suidelike Halfrond het so ’n stormsterk stem soos Isadora nie. Paul sê altyd sy sal vlieënde voëls uit die hemel laat val as sy lank genoeg buite staan en praat.

      “Wat? Wat sê jy? Jy het nie gekry nie!” trompetter Isadora oor haardroërs se geskree en Helmut Lotti se “Fly me to the moon”.

      “My skat, my spensrakke kreun. Maak ’n afspraak en kom kuier, ek gee dit vir jou teen kosprys … Maar die dêm goed is veronderstel om my te bel, watter tuisnywerheid is dit? Pardon? Wie? Skryf dit neer as jy dit nie hardop wil sê nie … O, ek sien wat jy bedoel.”

      Minette haat dit om so selfbewus te wees, maar sy kan dit nie help nie. Sy weet sonder om te kyk dat die vrou wat met Isadora praat haar kop in die rigting van die ontvangstoonbank geknik het en dat Isadora haar oë rol soos sy altyd maak as sy haar mening woordeloos wil uitspreek.

      Sy verdink Isadora van die meeste van die skinderstories oor haar en Paul. Eintlik is dit nie nodig om te twyfel nie, want almal in die dorp weet Isadora is ’n wandelende ensiklopedie. En dit geld nie net vyeperdebye en hul voortplantingsgewoontes nie, sy weet alles van almal en sy skroom nie om haar mening te lug nie. Boonop maak sy geen geheim van haar uitsprake nie. Sy sal dit van ’n seepkas op die meent uitbasuin en in die plaaslike koerantjie publiseer al grens dit aan laster.

      Minette sal nooit die dag vergeet toe Isadora haar vir tee genooi het nie, in haar tuin op Vyeplasie bedien onder die hanepootprieel. Suikerbrood en heelgroenvyekonfyt versier met verglansde viooltjies en wolke muggies. Maar die muggies het eers later op die tafel toegesak, kompleet of hulle bestel is vir effek.

      Minette se gedagtes word onderbreek. Kittie wat agter die toonbank moet wees, kom aangedraf, vol verskonings.

      “Ons is vanoggend deurmekaar, Lilian het oorgeboek. Ek dink dis die baba wat haar slapelose nagte gee. Gee jy om om te wag?”

      Natuurlik gee ek om, ek het my afspraak twee weke gelede gemaak, wil Minette sê. Maar sy glimlag liewer en maak ’n grap – een wat sy by Paul geleer het.

      “As ek afslag kan kry op die prys, wag ek met plesier.”

      Kittie sug. “Ek is regtig baie jammer.”

      Minette het klaar omgedraai op soek na ’n stoel in die portaaltjie waar twee ander vroue reeds sit en lees.

      “Jy kan nie dalk Maandag kom nie?”

      Nee, ek kan nie! En hierdie afspraak is betyds gemaak. Ek wag tien minute en nie ’n sekonde langer nie! Minette voel hoe die woorde haar versmoor, maar sy bly liefies.

      “Ongelukkig nie, Kittie. Ek het môre ’n belangrike afspraak.”

      Dis uit voor sy kan keer. Voor haar geestesoog sien sy die see en ’n jong man met ’n branderplank. Sy sal maar hoop Isadora het nie gehoor nie, want teen dié tyd weet sy dat Pierre op pad is en dat sy vlug môre arriveer. Paul sou haar gesê het. Hy praat alewig met haar en dis onvermydelik – hul kantore is al dertig jaar langs mekaar. Hulle gee klas by dieselfde departement, hou saam vergadering, bespreek studente se werk en vordering, besluit oor navorsing en beurse, ken mekaar te lank.

      Isadora hou nie van Minette nie en Minette weet dit. Sy het selfs op ’n stadium die onwetenskaplike gedagte vertroetel dat Isadora haar insekte gebruik om haar te verpes. Buiten die muggiewolk van die tee-oggend is daar alewig perdebye in Minette se kantoor, of miere of spinnekoppe. Groter diere ook – goed soos muise en vlermuise. Gelukkig is sy nie bang vir diere van enige grootte of vorm nie; dit raak net lastig om op die uitkyk te bly vir goeters wat kan steek en seermaak.

      “Ek wil jou nou nie seermaak nie, skattie,” het Isadora daardie dag met die deur in die huis geval.

      Die tee was nog nie geskink nie. Elkeen het met ’n koekbordjie met ’n skyfie suikerbrood en ’n glansende groenvy gesit. Minette het die vrugtemessie bekyk, die vurkie bewonder.

      “Dis seker erfstukke dié?” het sy gevra.

      “My grootouma het dit van Griekeland af saamgebring. Jy moenie jou met die ouderdom misgis nie, dis vlymskerp. Ek ken ’n baie bedrewe messlyper.” Isadora het haar kop agteroor gegooi en gelag dat Minette al haar goue stopsels kon sien.

      “Praat van slyp! Ek het ’n byltjie met jou te slyp. En soos ek gesê het: ek wil jou nie seermaak nie, maar ek wil eerlik wees. Met jou praat soos ’n ma met haar dogter. Het jy al hierdie saak met jou moeder bespreek?”

      Minette se groenvy was toe al netjies oopgesny en het in ’n waaiervorm op haar bordjie gepryk. Sy is nie lief vir vye nie, nie vir vars vye nie en ook nie vir konfytvye nie, veral nie vir groenvye nie. Maar dié Bolandse besigheid moes sy leer eet omdat Paul sy vingers kan afbyt vir ’n vy in enige vorm, veral vir groenvye. Isadora het altyd gesorg – en sorg steeds – dat daar ’n paar bottels op sy spensrak staan, selfs een of twee op sy boekrak by die dierkundedepartement.

      Isadora het haar vy in kwarte gesny en sonder verdere omhaal een in haar groot rooi mond geprop, haar lang moue teruggeskuif en oorgebuk om die teepot op te tel.

      “Ek het nie ’n ma nie,” het Minette sag gesê.

      Isadora het die teepot neergesit en met jammeroë na haar gekyk. “Ag, foei tog, my kind. En jou pa?”

      “Ek het ook nie ’n pa nie.”

      Isadora se hande het in die lug bokant die bord gehuiwer. Nogal mooi hande, met vingers vol ringe, armbande om haar gewrigte ook, sulke Griekse en Turkse goed met klokkies en hartjies wat aan kettinkies vas is.

      “Dit maak sin,” het sy eindelik gesê en haar hande saamgevou,

Скачать книгу