'n Vrou gaan dokter toe. Ray Kluun
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun страница 3
Luna is my sonstraaltjie. Sy verjaar op dieselfde dag as ek, en met haar geboorte is ek daarvan verseker dat my vriende selfs as ek sestig word na my verjaardag sal kom. Hulle sal sekerlik nie my dogter se mooi, vietse vriendinne wat dan daar sal rondloop, wil misloop nie.
’n Ruk lank is dit ’n aand soos alle aande. Toe Luna vir Carmen sien, kry sy ’n glimlag wat haar gesig byna in twee deel. Carmen roep haar gebruiklike uitgerekte “LUUUNAAA!”, trek skewebek, boots Luna se waggelende peuterdraffie na, hurk en omhels haar. Luna antwoord dan ekstaties: “MAMAAAAA!” Vanaand ontroer die toneeltjie my meer as gewoonlik.
“Hallo, my lief, ” sê ek toe Carmen regop kom en soen haar op haar mond. Ons omhels mekaar en begin terstond huil. G’n gewone aand meer nie. Ek hou haar styf vas en kyk oor haar skouer, na niks. Ek sê alles sal uiteindelik wel weer regkom, net soos ’n halfjaar gelede. Ek kan aan niks beters dink om te sê nie.
Sy klim in die bed en ek trek haar na my toe. Ons begin soen. Ek merk aan haar bewegings dat sy opgewonde word. Sonder om iets te sê, skuif ek my kop ondertoe. Toe sy kom, druk sy haar sopnat mik op teen my gesig.
Wanneer Carmen in die slaapkamer uittrek, kyk ek na haar borste. Toe ek haar die eerste keer kaal gesien het, het ek oopbek na haar lyf gestaar. Ek het gestamel dat ek nog nooit iemand met so ’n lyf in die bed gehad het nie. Sy het gelag en gesê sy kon vroeër die aand in Rosa’s Cantina sien ek kon my oë nie van die lae hals van haar swart T-hemp hou nie. Ná Luna se geboorte het haar borste ’n bietjie begin hang, maar nie dat hulle vir my minder mooi was nie. Steeds kan Carmen my spuls maak deur net uit te trek en daardie fantastiese tiete van haar los te skud. Aand na aand is dit vir my ’n fees. Die lewe saam met Carmen is in elk geval ’n fees vir liggaam en gees.
“Naai my, nou!” fluister sy. Ons naai met mening. Toe sy voel ek is byna daar, sê sy met hunkerende oë: “Kom maar, spuit my vol,” en met ’n paar harde laaste stote kom ek; byt op my lip, want Luna is in die kamer langsaan.
Onmiddellik ná my orgasme begin sy weer huil.
“Kom nou, my lief,” fluister ek. Ek soen haar hare en bly minute lank op en in haar lê.
“Ons gaan volgende week net doodgewoon aan met jul verjaardag, hoor,” sê sy ’n bietjie later, toe ek die lig afgeskakel het. “Miskien is dit die laaste keer dat ek daar kan wees.”
5
Een typisch kenmerk van spijt, is dat het steeds weer te laat komt en nooit op tijd …
Extince, uit “Op de dansvloer” (Binnelandse funk, 1998)
Halfvier slaap ek steeds nie. Ek sien nou al op daarteen om weer slegte nuus aan ons vriende en familie oor te dra. Asof ons hulle ’n halfjaar gelede bedrieg het toe ons gesê het dit was ’n vals alarm. Nou moet ons hulle weer tot die biopsie laat wag. Dit is volgende Vrydag. Oor tien dae. Tien fokken dae op ’n ondersoekoperasie wag. Dit kan regtig nie vroeër nie, het dokter Walters aan Carmen gesê, en tien dae maak ook nie soveel saak nie, het hy haar verseker. Toe ek my gisteraand daaroor vererg, het Carmen haar vir my vererg. “Wat moes ek dan bleddiewil sê, Steyn? Dat ons die biopsie self sal doen?” Daarna het ek maar my bek gehou.
Dokter Walters. Dit is nou al ’n halfjaar gelede en ek het hom toe seker altesaam ’n halfuur gesien, maar dis asof sy gesig hier reg voor my is. Seker so vyf-en-vyftig, vername grys hare, kantpaadjie, ronde brilletjie, wit jas. ’n Halfjaar gelede het die nagmerrie maar ’n week geduur. Dit het begin met Carmen se besoek aan ons huisarts, dokter Bakker. Hy het haar aangeraai om vir alle sekerheid tog maar in die hospitaal na die bors te laat kyk. Dit het ons laat skrik. In die Lucas-hospitaal het ons by dokter Walters beland. Hy het daarna gekyk en gedink Carmen moes tog maar ’n biopsie laat doen. Dit het ons nog groter laat skrik. Nie dat ons geweet het wat ’n biopsie is nie, maar as hulle in ’n hospitaal iets gaan doen waarvan jy nog nooit gehoor het nie, is dit uiteraard iets slegs.
Die aand voor die biopsie het ek in die skemerdonker van ons slaapkamer probeer om Carmen nie te laat agterkom dat ek lê en tjank nie. Vroeër die aand het ek in haar oë gesien sy was doodbang. En dit kon ek goed verstaan. Van kanker gaan jy dood.
Vannag het ek skielik onthou wat Walters ’n paar uur ná die biopsie gesê het. “Die selle is onrustig, ons weet nie presies wat dit is nie, maar dit is in elk geval nie kwaadaardig nie.” Ek onthou hy het dit skaars gesê, of ons het opgestaan. Hoe opgewek was ons nie, en hoe wou ons nie weg, weg, weg uit daardie hospitaal nie, terug na ons gelukkige lewe, waarin ons gewoonweg soos ons beplan het nog lank en gelukkig sou aangaan met lewe. Met die tyd aan ons kant en planne vir honderdduisend jaar.[2] Buite het ons in mekaar se arms geval. Asof ons pas ’n gesonde kind gekry het, so bly was ons. Ek het jubelend Carmen se ma, Thomas en Anne, Frenk en Maud gebel om te sê daar was niks fout nie. Carmen was gesond.
Nié kwaadaardig nié. As ons Walters langer uitgevra het oor sy ons-weet-nie-presies-wat-dit-is-nie? As ons ’n tweede mening in ’n ander hospitaal gekry het? Is dit agterna gesien nie ons eie skuld nie? Het ons onsself nie maar net afgeskeep nie? Dat Carmen uit puur verligting heeltyd bly was, is te verstane, maar moes ek nie toe deurgedruk het nie, daarop aangedring het dat hy soek tot hy donnerswil wel geweet het wat dit presies was nie? Dis nie Walters nie, maar ek wat hier die groot poephol is. Ek is tog haar man, ek moes haar tog beskerm het? Dit kon miskien alles voorkom gewees het, stamp dit deur my kop.
Dit gaan hierdie keer nie met my gebeur nie. As hy ons volgende Vrydag weer verseker dat alles reg is, pluk ek hom aan sy wit jas reg oor sy lessenaar. Dít kan ek hom verseker.
6
Een glimlach, dat wordt pure parodie …
Rita Hovink, uit “Laat me alleen” (Een rondje van Rita, 1976)
“Onkologie” heet die afdeling in die Lucas-hospitaal waar die biopsie gedoen word, sien ek op die bordjie bokant die swaaideur. Onkologie. Ek ken die woord vaagweg, maar het nie geweet dit het iets met kanker te make nie. Dit klink so onskuldig. Meer soos ’n wetenskap waarin die redes bestudeer word waarom die mammoet uitgesterf het, of so iets.
Die Lucas-hospitaal. Daar is mense vir wie die Europarking die neerdrukkendste gebou in Amsterdam is. Ander dink weer dis De Nederlandsche Bank. Of die woonstelle in Bijlmer. Ek nooi hulle uit om in die Lucas ’n draai te maak. As ek op die A10 daar verbyry, kry ek hoendervleis.
Luna speel met Elmo, wat sy die vorige week vir haar verjaardag gekry het. Carmen sit op die rand van haar bed. Sy is pas geweeg en daar is bloed getrek. Die swart koffer waarin sy vanoggend haar toiletgoed, pantoffels, ’n pers synaghemp – wat ek nie geweet het sy het nie – en ’n Marie Claire gepak het, lê op die bed. Ek sit langs haar, met my baadjie nog aan, en tel die twee voubiljette op wat ons pas gekry het. ’n Groene, Lewe met kanker, en ’n bloue, Borskanker. Op albei is ’n logo wat ek al op van daardie kollektebussies gesien het. Die Koningin Wilhelmina-fonds, dink ek. Ek begin blaai deur die blou biljet, soos ’n mens in die vliegtuig die gids vir belastingvrye ware lees om in die stemming te kom. Vir wie is hierdie brosjure? staan boaan die eerste bladsy. Ek lees dat ek en Carmen tot die teikengroep van die biljet behoort. Ek hou niks daarvan om tot ’n teikengroep te behoort nie, en heeltemal niks van hierdie biljet nie. In die inhoudsopgawe is hoofstukke soos Wat is kanker?, Borsprostese en Pynverligting. Waarom lees ons hierdie opbeurende goed? Dit is tog maar net ’n ondersoekoperasie? Kan ons voorlopig nie maar net maak asof alles sal regkom nie, of dat die ingeduikte