'n Vrou gaan dokter toe. Ray Kluun
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun страница 5
Walters. Net die naam al. Ons het hom die afgelope week doodgeswyg. Die vrae van Thomas en Anne en Carmen se ma is sommer net so weggewuif, so asof daar nie ’n halfjaar gelede ’n moerse fout gemaak is nie. Miskien was dit toe al daar en was dit toe ook al te laat, was ons antwoord. Einde van die gesprek. Net die gedagte dat Carmen weens ’n mediese bokkerop kon doodgaan …
Walters sit agter sy lessenaar. Ek herken hom dadelik van ons ontmoeting ’n halfjaar gelede. Hy herken my nie. Ek klop aan sy oop deur.
“Ja …?” sê hy fronsend.
“Middag,” sê ek kortaf. Sodat hy nie vergeet dat hy die oorsaak van alles is nie. “Ek is Carmen van Dyk se man.”
“O, jammer, middag, meneer Van Dyk,” sê Walters en hy staan vinnig van sy stoel op om my die hand te gee. “Sit gerus.”
“Ek staan sommer. My vrou wag.”
“Natuurlik. U kom vir die uitslag van die biopsie, neem ek aan.”
Nee, vir dié van NAC-Ajax, nie waar nie.
“Ja.”
“Tja. Dit lyk nie so goed nie.”
“Nee. So hoor ek,” sê ek met ’n sinisme wat hy waarskynlik nie eens opmerk nie. “Kan u dalk verduidelik wat presies fout is?”
Walters vertel waarom dit dié keer wél kwaadaardig is. Ek luister met ’n halwe oor na wat hy sê en verstaan nog minder daarvan. Ek vra hom hoe seker hy is.
“Taamlik seker … Ons moet dit nog ondersoek, maar dit lyk asof dit mastitis karsinomatose is. Meer kan ons nie nou doen nie.”
Ek knik. Walters gee my weer ’n handdruk.
“Ek wil maar net sterkte sê, hoor. Dokter Schoeman sal u môre help. Dis die internis wat u sal vertel wat u alles nou te wagte kan wees. Goed?”
Ek knik weer. En ek pluk hom nie oor sy lessenaar nie. Meer nog: Ek sê niks nie. Niks. Ek het toegeslaan. As ’n klient die vinger na een van my strategieë wys, moet jy keer of ek kap daai vinger af, maar nou, voor hierdie poephol wat deur ’n fout ’n halfjaar gelede ons lewe verkanker het, gedra ek my soos ’n speler van ’n Limburgse klub wat die eerste keer in sy lewe ’n wegwedstryd in die ArenA speel.
Toe ek weer haar kamer binnekom, het Carmen vir Luna op haar skoot en kyk uit oor die byna leë parkeerterrein van die hospitaal.
“Mag jy saamkom, of moet jy nog iets hier doen?” vra ek.
“Ek dink ek is klaar,” sê Carmen. Sy kyk in die kamer rond; haar soekende oë val dan op haar swart tas. Ek loop swygend na die tafel waarop haar jas lê en help haar dit aantrek, iets wat ek nooit doen nie. Dit is ’n poging om myself te laat voel dat ek tog nog iets nuttigs kan doen.
“Nie so ver agtertoe nie,” sê Carmen wanneer ek haar jas agter haar oophou. “Met die sny aan my bors kan ek my arms nie so ver terugstrek nie.”
“O. Jammer. Kom, Luna, kom ons gaan,” sê ek en tel haar van die bed af op. Sy is steeds opvallend rustig.
Carmen steek gou eers haar kop by die verpleegsterskamer in en sê: “Oukei, baai.” Die verpleegster, dieselfde een as vanoggend, skuif vinnig haar bord warm kos eenkant, gryp Carmen se hand met albei hare vas en wens ons sterkte toe.
“Is julle darem vanaand saam?”
“Absoluut,” sê ek dapper en gee haar ’n gerusstellende knik.
Ons drie loop na die hysbak. Nie een sê ’n woord nie.
9
The times are tough, just getting tougher, I’ve seen enough, don’t wanna see anymore, turn out the light and block the door come on and cover me …
Bruce Springsteen, uit “Cover Me” (Born in the USA, 1984)
By die huis aangekom, bel ek Frenk en sê hom dat Carmen borskanker het.
“Fokkit,” vat Frenk die situasie kernagtig saam.
Carmen bel Anne. Sy vertel wat aangaan. Binne ’n uur is sy en Thomas op ons stoep. Sy omhels my lank, en loop dan met haar jas nog aan na die sitkamer en gryp Carmen vas. Sý begin dadelik weer huil.
Thomas gee my ’n ongemaklike druk. “Dit is kak, my maat,” mompel hy. Hy loop binnetoe en kyk skaars na Carmen. Hy staan na die grond en tuur, met hangskouers en hande in die sakke. Hy het nog sy pak en das aan.
Thomas kom ook van Breda-Noord, en ek ken hom al van laerskool. “We liked the same music, we liked the same bands, we liked the same clothes,”[4] sing Bruce, en so was dit ook met my en Thomas. Toe ons twaalf was, is ons saam na NAC, toe ons sestien was, het ons saam na punk bands in Para gaan luister en toe ons agttien was, het ons Saterdagaande in De Suykerkist gaan uithang. Daar was Thomas moerse gewild. Ek nie. Ek het puisies en so ’n duikbril gehad en moes tevrede wees met al Thomas se oorblyfsels.
Ná hoërskool is ons albei na die sakeskool in Amsterdam, waar ons ook vir Frenk leer ken het. Thomas het sy graad gatskraap gekry. Thomas was nie superintelligent nie; is steeds nie. Hy het ’n rep geword van ’n maatskappy wat padsout verkoop en is dit steeds. Sy klante is munisipale amptenare en die Nasionale Waterraad. Thomas is dik pelle met daardie ouens, en ek dink dit is omdat hy net soos hulle hou van grappe oor Belge, negers, blondines en vroue wat dokter toe gaan, en omdat hy ook pastelkleurige toeknoophemde van Kreymborg dra.
Ek en Thomas bel mekaar gereeld. Ons sien mekaar minder as vroeër. Afgesien van Breda se karnaval, is hy nie meer so lief vir kuier nie. Hy bly liewer naweke tuis met ’n kasie en ’n wyntjie en ’n film met baie skietery, tiete en helikopters. Sy tanende kuierbehoefte het daarmee te make dat hy ’n paar jaar gelede begin bles raak en sy pens ontsagwekkend groot begin raak het. “Fokkit, Steyn, ek is die ene melk en jy die ene wyn,” het hy op ’n keer vir my gesê toe hy agterkom dat sy kwynende gewildheid by “die dames” strukturele vorme begin aanneem. Maar pragmaties soos Thomas is, het hy iets daaraan gedoen. Toe hy op ’n slag ’n oulike jong vakleerling by sy werk sien binnehuppel, nou al ses jaar gelede, het hy haar vir ete uitgeneem en daarna nooit gelos nie.
Daardie vakleerling was Anne. Thomas en Anne pas eenhonderd persent by mekaar. Anne is wars van alles wat trendy (lees: Amsterdams) is, ook is sy mal oor kinders, kaas en wyn, en net soos Thomas lyk sy asof sy pal swanger is. Sedert die geboorte van hul kinders, Kimberley (4), Lindsey (3) en Danny (1), is Anne toegegooi. Anne sê haar gesin en huishouding is vir haar belangriker as haar uiterlike. Sy dra leggings en T-hemde van Miss Etam. ’n Doelbewuste verslonsing, noem Carmen dit. Maar agter Anne se rug. Carmen sal Anne nooit wil kwets nie. En tereg ook. Want Anne het Carmen se beste vriendin geword. Hulle bel mekaar elke dag en toe Carmen ’n halfjaar gelede voor die biopsie in doodsangs was, kon jy Anne nie by ons huis wegkry nie. Hoewel dit my gat so gekrap het om haar daar te sien elke keer wanneer ek van die werk gekom het, moes ek toegee dat Anne weet wat vriendskap beteken. Carmen en Anne is nou veel nader aan mekaar as ek en Thomas. Carmen vertel Anne alles. Ek vertel nie alles aan Thomas nie. Altans nie meer nie – nie sedert ek agtergekom het dat hy alles wat ek doen (en hy sou wou doen) aan Anne oorvertel nie.