Ena Murray Omnibus 30. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 30 - Ena Murray страница 10

Ena Murray Omnibus 30 - Ena Murray

Скачать книгу

die belangrikste is, dié een is waarop hy gewag het, gehoop het. “Ek wil u om verskoning vra …”

      “Dis nie …”

      “Dit is nodig. Ek is jammer.”

      Sy knik net stom. Hy probeer glimlag, maar dis of sy lippe stram is, die spiere ongeoefen. “Hoe gaan dit met haar?”

      “Goed … dankie. Sy is gelukkig baie gesond. Meneer, verskoon my dat ek vra, maar … u lyk nie gesond nie. Was … is u siek?”

      “Nee. Ek het onlangs slegte nuus gekry en … dit is ’n spanningsvolle tyd vir my.”

      “Ek is jammer om dit te hoor. Daar is seker niks wat ek vir u kan doen nie? Maar as daar is …”

      Gloeiende kole … gloeiende kole … “Baie dankie. Daar is iets wat u vir my kan doen, mevrou.”

      “Sê net …”

      “Bid vir my … asseblief … en vir my kind.”

      Stil, wyse oë versag deernisvol. “Ek sal. Ek belowe. Ek het nog elke dag vir Terence gebid.” Maar nie vir hóm nie … nie vir hierdie man wat haar dogter so gruwelik te na gekom het nie, vir haar sonder hulp en raad die straat ingestoot het. Marie Buys sit verslae, die wete so verblindend in haar dat sy van alles om haar vergeet, selfs van die man oorkant haar: Dan is dit die rede hoekom Hy hierdie swak hart nog laat aanhou klop. Nie ter wille van Nickey nie. Want vir Nickey is sy plan klaar uitgewerk. As sy weg is, dan is Hy nog altyd daar om na Nickey om te sien. In verwaande blindheid het sy gedink God keer die dood van haar af omdat sy eers haar dogter moet help, eers moet toesien dat haar kind se voete op ’n pad kom waarop sy kan aanstap. En al die tyd was dit om haar eie ontwil dat Hy haar spaar. Want sy was nog nie gereed vir sy hemel nie. Sy moes nog eers leer om haar vyand lief te hê, om vir hom te bid. “O, meneer, ek belowe ek sal u elke dag in my gebed onthou.”

      Hulle glimlag teenoor mekaar, en hy leun vorentoe en neem haar hand in syne. Spontaan krul hul vingers om mekaar s’n. “Dankie.” Hy sit weer terug, en hierdie keer is daar geen hardheid, geen vyandigheid in sy oë toe hy na haar kyk nie. “Ons moet oor Nickey gesels.”

      “Ja.”

      “Goed. Praat u eerste. Ek luister.”

      “Nickey …” Sy aarsel eers. Het sy nie so pas daaraan gedink dat die Vader haar kind se lewenspad uitwerk en nie sy as moeder nie? Maar sy het vandag hierheen gekom omdat sy besluit het wat die beste vir haar kind én haar kleinkind gaan wees: Nickey moet die baba afgee vir aanneming. Dan kan sy weer haar lewe hervat. Hierdie ongelukkige gebeurtenis sal later in haar lewe net ’n ongelukkige tussenspel in haar jeug wees. Dis ook hoekom sy vandag weer op hierdie stoel in hierdie vertrek sit: Sy het Christian Basson kom vra om, as daar iets met haar gebeur, toe te sien dat Nickey van haar kind afstand doen; dat die plan wat sy vir haar en haar kind opgestel het, uitgevoer word. Maar nou. Sy het God op haar knieë gevra om vandag die regte woorde in haar mond te lê. Sy het ook gevra dat Hy haar sal stroop van alle trots en eiewaan. Dit het Hy reeds netnou gedoen toe Hy haar gewys het sy is nie die opregte Christen wat sy nog altyd gedink het sy is nie – nog nie – só ’n goeie kind van God dat sy al die hemel kan ingaan nie. ’n Minuut gelede het Hy haar nog ’n tekort in haar geesteslewe getoon; haar gewys hoekom haar moeë hart nog klop. Want hoe kan sy, wat nog nooit gebid het vir die man wat haar so beledig het nie, ’n plekkie in sy hemel verwag – by Hom wat nie net gebid het vir hulle wat die spykers ingekap het nie, maar selfs vir hulle gesterf het?

      Hy het die een deel van haar bede verhoor. Die ander deel … die regte woorde in die mond …

      “Nickey wil nie haar baba vir aanneming afgee nie. Sy wil hom behou.” Sy swyg, vra nie dat Christian Basson haar moet help om Nickey tot ander insigte te bring nie. Sy wag op die regte woorde …

      “Ek is bly sy het so besluit.” Sy kan hom net aanstaar, en hy vervolg met sy blik op hare: “Want miskien is dit al wat ek van my seun gaan oorhou – sy kind. Terence word al vir tien dae vermis aan die grens.”

      “Nee!”

      Hy knik. “Dis iets wat ek my grootste vyand nie toewens nie. Die onsekerheid maak jou mal. Jy wens een oomblik hulle moet bel en liewer vir jou sê jou kind is dood, dan weet jy. En as die telefoon lui, is jy bang om te antwoord, want miskien bel hulle om jou in kennis te stel dat hulle sy lyk gekry het. Dan verkies jy weer die onsekerheid, want solank dit nie gefinaliseer is nie, kan jy hoop. As hulle eers gesê het jou kind is dood, dan weet jy hy sal verseker nie weer huis toe kom nie.” Hy sien die nattigheid in haar ooghoeke, en vir die eerste keer sedert die onheilstyding gekom het, is daar ook ’n klamte in sy oë … En dit maak nie saak dat die vrou uit Bokmakieriestraat sien dat Christian Basson ook kan huil nie.

      Dis haar hand wat nou spontaan na syne uitreik, en so word Marie Buys se gebede een vir een verhoor. Sy het gebid om ’n hand wat sy kan vashou, oë wat saam met hare kan huil …

      “Sê vir haar … sê vir Nickey sy kan haar kindjie behou. Sê haar ek vrá, ek sméék haar om hom nie weg te gee nie.”

      Marie Buys maak haar oë toe. Die regte woorde …

      “Ek sal haar sê.”

      Hy wil haar huis toe neem met sy motor, maar sy wys die aanbod beslis van die hand. Nee. Hy kan nie ’n minuut van die telefoon af weg wees nie. Netnou bel hulle …

      Eers toe sy op die bus sit, dink sy daaraan dat sy hom toe nie vertel het, soos sy van voorneme was, van die toestand van haar hart nie, en dat Nickey en haar baba enige dag skielik alleen agtergelaat kan word nie. Maar sy glimlag teen die ruit vas. Dit maak nie meer saak nie. Daar was soveel belangriker woorde om te uiter … die regte woorde.

      Tant Hessie kyk verlig op toe Marie in die deur verskyn. Dank die Vader sy is veilig terug! Nickey is al rasend van kommer, en het die ou vrou sonder skroom verwyt: “Maar hoe kon tant Hessie haar alleen laat gaan het? En waarheen is sy? Dis al donker! Kyk daar! Waarheen is sy?”

      “Kind, ek weet nie. Ek sê jou mos! Sy het my net kom sê sy het ’n belangrike afspraak en as jy na haar soek, moet ek jou net sê sy sal nie laat wees nie. Jy moet jou nie bekommer nie.”

      “Maar tante wéét haar hart …”

      “My hart sal gaan staan wanneer die liewe Heer dit so besluit, Nickey,” sê Marie van die deur se kant af. “En Hy sal ook besluit wáár dit sal gebeur.”

      “Ma! Waar wás Ma? Dis al donker! O, Mamma, ek was so bekommerd …”

      Marie Buys hou haar dogter ’n oomblik teen haar vas, glimlag oor haar skouer vir tant Hessie. En tant Hessie se ogies trek verwonderd saam. Daar het iets met Marie gebeur. Sy lyk so kalm, so gelukkig, en dis amper asof daar ’n vreemde gloed op haar gesig is.

      “Wáár was Ma?” hou Nickey vol.

      “By Terence se pa – Christian Basson.”

      Nickey kyk haar ma verwonderd aan. “Maar Ma het gesê …”

      Weer die vreemde, stil glimlag. “Ek weet, my kind. Ek het so baie verkeerde dinge die laaste tyd gesê.”

      “Ma?”

      “Ek het ’n boodskap van hom vir jou, Nickey. Hy het gesê: sê vir Nickey ek vrá haar, ek sméék haar om nie haar kindjie weg te gee nie.”

      “Ma!”

Скачать книгу