Ena Murray Omnibus 30. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 30 - Ena Murray страница 7
“Natuurlik nie, Pa! Wat dink Pa van my?”
Hy onthou hy het sy asem stadig laat uitkom in dankbaarheid. Daar was trots en liefde in sy hart. “Dankie, Terence. Ek weet ek kan jou vertrou! Maar dis ’n ernstige saak, my seun. En dis lelik.”
“Ja, Pa.”
“Jy stem dus saam met my? Dat dit verkeerde dinge is daardie!”
“Ja, Pa.”
“Dat dit nie dinge is waarmee kinders speel nie?”
“Ja, Pa.”
En hy het só gerus gevoel oor sy seun toe dié uitstap dat hy dit nou kwalik kon glo. Goeie genade!
Daar was ’n stadium vandag dat hy Terence sou verbrysel het as hy net sy hande op hom kon lê. Ja, Pa! Ja, Pa! En nou? ’n Vrou uit Bokmakieriestraat het hom vandag kom vertel daardie einste gedienstige seun is die vader van haar dogter se kind!
En dan is die spook weer daar, kom dit reg voor hom staan, en die woede teenoor sy seun bedaar, gaan lê, laat net ’n leë, siek gevoel in hom agter. En ’n skuldgevoel. ’n Skuldgevoel wat hy op die gryskopvrou en haar dogter wou pak. Maar in hierdie nagtelike uur laat sy gewete hom nie toe om dit te doen nie, weet hy dat wanneer daar na skuld gesoek word, daar by hom eerste begin moet word.
Dit is nou eenmaal so dat ’n ouer nie wil sien dat sy kind die foute maak wat hy self gemaak het nie. Hy mag ander foute maak. Daarvoor kan jy nog begrip en selfs simpatie vind. Verskoning vind. Maar as jy jou kind gewaarsku het teen sekere dinge juis omdat jy eerstehandse kennis dra van die gevolge van so ’n fout, dan kan jy dit nie aanvaar dat daardie kind nogtans dieselfde fout gaan maak nie. Dan kan jy hom verbrysel, terwyl jy elke sekonde met die bitter besef saamleef: voete van klei word ook geërf.
In die dae wat volg, is meer as een dwalende, soos mense wat nie rigting het nie. Tant Hessie vee die kombuistafel se oliekleedjie oor en oor af sonder dat sy dit agterkom, haar gedagtes by Marie Buys. Dis die moeder, nie die dogter nie, wat die meeste in haar gedagtes is, wat maak dat sy die kosbare litertjie melk laat oorkook en haar beetblaarbredie laat aanbrand. Jammerte tog. Sy het juis bedoel om vir die arme Nickey ’n skeppie oor te neem. Dis ryk aan yster en Nickey het nou baie yster nodig. Vir Marie weet sy nie wat om te neem nie. Marie het ’n ander soort yster nodig wat nie in beetblare te vinde is nie.
Dis na die moeder dat tant Hessie se hart die meeste uitgaan. Nickey is jonk. Die jeug het moed. En ’n gewonde jong hart herstel verbasend gou. Vir die jong gees met sy aanpassingsvermoë is geen ramp te groot om te verwerk nie. Maar as jy jou jare gekry het, jou kop grys geword het, jou skouers vooroor begin sak het, kan jy nie meer so maklik aanpas nie, nie meer so maklik smart en teleurstellings verwerk nie. Wanneer jy op Marie Buys se ouderdom kom, wil jy rustig wees. Kalm. Jy wil amper net ’n toeskouer van die lewe wees. Eenkant langs die stroom na al die stroomversnellings en golwe staan en kyk met die wete dat jy jou deel gehad het daarvan. Dat jy, toe jy moes, jou midde-in daardie stroom gewerp en jou deel gedoen het. En nou is jy met jou grys hare en krom skouertjies uitgespoel op die kant om daar rustig te wees.
Maar Marie Buys, wat al amper die kant bereik het, is teruggeslurp in die stroom, ’n stroom só diep en só wyd, só golwend en kolkend dat dit selfs vir ’n Godvresende vrou soos sy te veel kan word. En tant Hessie se oë, wat nog skerp kyk, het reeds gesien: Marie Buys het nie meer krag nie.
Tant Hessie snuif, veeg sommer met die vadoek haar neus en oë af en begin dan maar sing. Dis beter om te sing as om te huil.
Buite, by die agterdeur, staan Marie Buys stil en luister na die bewerige, krakerige ou stem: “… Hy kan help, ja, Hy alleen.”
Marie gaan sit op die bankie by die agterdeur, stut haar kop teen die muur en sluit haar oë. Hy kan help, ja, Hy alleen. Want Hy weet hoekom dinge gebeur. Sy moet net daaraan vashou. Soos tant Hessie gesing het: Hy kén jou omstandighede. Hy ken al die angs en vrae wat in ’n moederhart lê. Sy kom orent, gryp skielik weer na haar hart. Uit die hoek van haar oog sien tant Hessie hoe Marie by die agterdeur inmekaarsak, en in haar ontsteltenis laat val sy die pot bredie wat sy in haar hande het.
“Marie-mens!”
Nickey kyk doelloos om haar. Sy het vandag vir die eerste keer by die huis gebly. Gister het sy die technikon in kennis gestel dat sy nie met haar studies voortgaan nie. Sy het laat gelê vanoggend en haar ma het haar nie kom steur nie. Sy het nie geslaap nie, net bly lê. Nie omdat sy siek of moeg gevoel het nie; net omdat sy nie geweet het wat om met hierdie dag te maak nie … en met al die ander wat op hierdie een sal volg. Hoe gaan sy ses maande se dae maal vier-en-twintig ure omkry? Sy het eers uit die kamer gekom toe sy haar ma se voetstappe hoor weggaan het. Sy het geweet haar ma is op pad na tant Hessie toe. Tant Hessie se kombuisie het vir haar ma ’n toevlugsoord geword, ’n plek waar sy krag en moed vir háár ses maande maal vier-en-twintig ure gaan put.
Nou staan en kyk Nickey na haar, soek na iets om te doen – en daar is niks. Soos sy hierdie huisie al die jare ken, is dit ook vanoggend: kraaknet. Snaaks hoe ’n mens ten spyte van die grootste omwenteling in jou lewe met jou daaglikse pligte kan voortgaan. Dis amper asof die vloere nog meer blink as voorheen, die kopergoedjies nog meer as voorheen flonker. Besig bly. So sal sy altyd haar ma onthou. Daar was al baie krisisse in hierdie huisie. Destyds met Pa se siekte en toe sy dood. Meestal krisisse wat met geldnood gepaardgegaan het. En hoe groter die probleem, hoe blinker die huisie. Dis of haar ma oplossings vir die probleme uit die vloere uitgevryf het, wonderbaarlike planne uit die outydse koperkonfoor opgetower het terwyl sy dit tot glimmende warmte poets.
Nickey gaan sit, vou haar hande. Al wat sy kan doen, is om te dink … te dink wat sy met hierdie lewetjie onder haar gevoude hande gaan doen wanneer hy die dag gebore word. Haar ma sê sy moet hom weggee.
Hulle het gisteraand weer daaroor gepraat. Haar ma het eerste die saak aangeroer.
“Nickey, het jy toe al gedink oor … oor waarvan ons nou die dag gepraat het? Van die kind. Wat jy daarmee gaan maak?”
Sy was nog nie gereed om die saak te bespreek nie. Tog …
“Ma, ek weet nie of ek dit gaan regkry nie.”
“Wat regkry nie?”
“Om hom weg te gee nie, Ma.”
“Nickey … jy kan dit nie hou nie.”
En toe, vir die eerste keer, het haar selfbeheersing geknak. “Dis nie ’n dít nie, Ma! Dis ’n kind! ’n Ménsie! My kind! Hy het armpies en beentjies en handjies en voetjies en … toontjies … en vingertjies en … ogies …” Met stromende oë het sy amper vyandig na haar ma gekyk. “Gee Ma dan nie om nie? Gee Ma dan niks vir hom om nie?”
Die moeder het vinnig weggedraai en haar verwonder oor hoeveel die menslike gees kan verduur.
“Jy kan dit nie hou nie,” het sy herhaal, amper soos iemand onder hipnose. Toe haar kind wegstorm na haar kamer, het sy omgedraai en na haar eie kamer gegaan, die deur toegemaak. Wat Nickey nie weet nie, hier waar sy nou na die blink vloere staar, is dat haar ma gisteraand, vir die eerste keer in haar lewe sedert sy leer bid het, nié gebid het nie. Marie Buys het haar uitgetrek, in die bed geklim, die lig afgeskakel en haar oë toegemaak. ’n Mens se hart kan nooit só voos raak dat dit nie nog ’n keer – en nóg ’n keer – kan seerkry nie. Maar ’n hart kan só voos raak van seerkry dat daar geen gebed meer kan uitkom nie. ’n Tong kan