Ena Murray Omnibus 30. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 30 - Ena Murray страница 6
Daar is ook ander gedagtes wat sy nie langer kan ignoreer nie. Dat sy briewe ná slegs drie maande al afgeneem het, minder verlief is. Sy laaste brief het haar vertel dat hy nie weet wanneer hy weer van hom sal laat hoor nie omdat hy “bos” toe gaan. Hy sal haar maar later die adres waarheen sy moet skryf, laat kry. Selfs as agtienjarige besef sy dat ’n huwelik in hierdie geval miskien nie die beste oplossing is nie, selfs nie eens vir haar kind nie. Maar om hom weg te gee …
“Laat ons nie oorhaastig besluit nie, my kind. Daar is tyd.”
Sy knik stom. Ja. Daar is nog ’n hele ses maande om te besluit.
Maar die mens se tyd is nie in sy hand nie. Daardie aand kom die eerste waarskuwing dat die uur van beslissing nie eers oor ses maande sal kom nie.
Hulle sit en eet sonder om te weet wat hulle eet, toe Marie Buys skielik haar vurk laat val en na haar bors gryp.
“Ma! Ma, wat makeer?”
Die gryskopvrou is bleek, hou haar linkerbors vas, fyn sweet op haar voorkop. “Net ’n skielike … pyn …”
“Kom lê. Kom ek help Ma bed toe. Kom lê ’n bietjie. Wat kan ek vir Ma gee om te drink?”
“Daar is … ’n botteltjie lewensessens in die badkamer … Bring maar ’n bietjie.”
’n Rukkie later sit Nickey die waslap neer wat sy gebruik het om die sweet van haar ma se voorkop af te vee, kyk af op haar ma. “Hoe voel Ma nou?”
Die antwoord kom met geslote oë: “Bietjie beter, dankie.”
“Probeer slaap, Ma. Ek gaan net die skottelgoed was, dan kom ek weer. Roep as Ma my nodig het.”
Maar dis nie na haar dogter dat sy roep toe sy alleen is nie. Liewe hemelse Vader, moenie dat ek nóú iets oorkom nie! Wat sal van Nickey word? Help my, liewe Heer, dat ek my kind eers deur hierdie ding help! Asseblief! Asseblief!
Toe Nickey ’n rukkie later weer langs die bed kom staan, sien sy dat haar ma tog ingesluimer het. Haar hart krimp van jammerte. Het haar ma maar nog altyd so oud gelyk … of het sy in een enkele dag so verouder? Dis of die dunnerige haartjies witter as gister lyk, of daar van gister af kepe en plooie bygekom het. Plooie van smart … Haar arme ma … Liewe, dierbare, wonderlike, arme Ma …
Sy gaan ook maar later bed toe, maar soos baie nagte wat was en nog sal wees, lê sy met oop oë in die donker.
Ook die moeder, toe sy hoor die bed langsaan kraak en sy weet Nickey het gaan slaap, maak haar oë oop en kyk teen die swart nag vas.
’n Paar huisies verder af in Bokmakieriestraat is daar nog iemand wat nie kan slaap nie. Tant Hessie staan later maar op en gaan maak vir haar tee, vee ingedagte met geëelte hande oor die oliekleedjie op die kombuistafel. Die arme mense … Dat dit die goeie, moedige, Godvresende Marie Buys van alle mense moet wees wat hierdie bitter beker moes kry … Asof dit nie reeds swaar genoeg gaan nie. Hier in Bokmakieriestraat kry almal swaar. Maar vannag besef tant Hessie dat materiële tekort die minste is. Bitter koffie en droë pap maak nie dood nie en ook nie seer nie. Maar die ding wat by Marie-hulle gebeur het, maak dood en maak seer …
En die mooie, slimme Nickey … Dis soveel makliker as dit ’n rykmanskind is wat in daardie slagyster trap. Geld kan baie vermag. Maar as ’n mens die dag nie geld het nie … Dan moet jy maar die lewe vat soos hy kom. Vra vir Hessie. Sy weet. Sy het self haar halfdosyn grootgemaak. Ja, sy moet dankbaar wees dat haar kinders groot en getroud is. Maar haar kommer is nie daarmee oor nie. Sy het ses kleindogters …Ag, ja. Sy staan op. Maar weer gaan probeer slaap. Wat sal dit vir haar help om wakker te sit? Dis nie vir haar om die liewe Heer voor te skryf nie …
Ook Christian Basson slaap nie. Want ook in die gegoede woonbuurte van die stad kan die nag baie lank en baie donker word. As tant Hessie dink dit gaan net in Bokmakieriestraat so, maak sy ’n fout.
3
Hy probeer nie eens om bed toe te gaan nie. Hy staan voor die venster en staar na die nag in die tuin terwyl spoke uit die verlede op hom afstorm. Dis soveel jare nou.
Hy draai om, gaan sit in die stoel waar die klein gryskopvroutjie vanmiddag gesit het. Sy gewete klop. Natuurlik het hy haar van die begin af geglo. Natuurlik weet hy sy het hom nie met ’n wolhaarstorie kom bangpraat nie. Nieteenstaande die armoedige uiterlike het daar uit haar ’n inherente eerlikheid gestraal wat hy onmiddellik na waarde kon skat. Hy werk immers elke dag met mense. Hy kan hom teen hierdie tyd darem al op ’n bietjie mensekennis beroem.
Marie Buys, soos sy haarself voorgestel het, is arm maar eerlik. En trots. In retrospek weet hy dat die vrou uit Bokmakieriestraat vandag die beste vertoon het van hulle twee. Sy het die beste daarvan afgekom. Daar waar sy nou in haar bed lê, waarskynlik so slapeloos soos hy, weet sy seker ook dat sy in werklikheid die beste daarvan afgekom het. Sy hoef immers nie vannag by haar groot kommer skaamte vir haar gedrag vanmiddag te voeg nie. Hy moet.
Hy kreun saggies. Wat het hom besiel om so op te tree, daardie aanvallende, meerderwaardige houding in te neem? Daardie onware en onregverdige suggestie te maak? Toe hy dit sê, het hy dadelik geweet dat hy ’n gruwelike beskuldiging teenoor die jong meisie inbring. Want dis nie gewoonlik dáárdie soort meisie wat in die moeilikheid beland nie, maar wel dié van ma’s soos Marie Buys. Want Marie Buys het, soos sy tereg gesê het, haar kind reg grootgemaak. Daarom het sy haar kind nie pille gevoer, soos so baie ander ma’s doen nie. Daardie soort ma’s weet dat hulle voorsorg moet tref. Marie Buys het nie gedink dis nodig om voorsorg te tref nie. Sy het vertroue gehad in die opvoeding wat sy haar Nickey gegee het, en in haar dogter self.
Hy staan weer rusteloos op, gaan sit agter die lessenaar, druk sy handpalms teen mekaar. Arme mevrou Buys! Sy het dieselfde fout begaan as hy en sovele ander ouers. Om te glo dat die opvoeding wat jy jou kind gegee het, hom of haar vrywaar van val. Soos hy geglo het dat Terence weet wat gaan vir wat. So iets durf net nie gebeur met Christian Basson se seun nie! Hoe dwaas. Want daar is so baie dinge in die lewe wat nie durf wees nie en wat tog is.
Sy kop sak tussen sy hande. Hy wéét Nickey Buys verwag Terence se kind en niemand anders s’n nie. Hy wéét dis sy kleinkind wat gebore gaan word. Hy wéét Marie Buys en haar dogter lieg nie. Maar die oomblik toe dit tot hom deurdring wat presies die vrou hom kom vertel het, was dit asof daar iets in sy brein ontplof het. Dit was asof ’n landmyn binne-in hom afgetrap is. Sy eerste gedagte was net dat dit nie mág wees nie. En toe het hy na die eerste ding gegryp wat in hom opgekom het.
Hy het Terence destyds sy studeerkamer ingeroep, hom die berig gegee om te lees. Hy glo menige ouers het ná daardie berig hul kinders onder vier oë gekry. Dit was ’n ontstellende berig. Geen ouer wat enigsins die naam ouer werd is, sou dit net so kon laat verbygaan nie.
Terence het die koerant neergesit en hy het direk gevra: “Gaan dit in jou skool ook so? Weet jy hiervan?”
Die