Haar naam was Marina Neser. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Haar naam was Marina Neser - Susanna M. Lingua страница 5

Haar naam was Marina Neser - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

dik tapyte bedek die vloere. Marina kan byna nie alles inneem nie. Sulke kosbare, antieke meubels het sy nog net in rolprente gesien. Dis voorwaar oorweldigend. En nou is sy meer as ooit oortuig daarvan dat sy in ’n salige droom verkeer, want dit alles kan tog nie met haar gebeur nie.

      Ek, ’n doodeenvoudige mens, dogter van een van Johannesburg se swoegende prokureurs, hier in ’n Portugese kasteel! Nee, dit kan nooit waar wees nie, besluit sy weer.

      Byna aan die end van ’n lang gang stoot die marquês ’n deur oop en staan opsy. Hy buig weer sjarmant en versoek haar saaklik om binne te gaan. Toe trek hy die deur sag op knip, bied haar ’n stoel aan, en nadat albei plaasgeneem het, kondig hy aan: “Ek is gereed om na jou verduideliking te luister, señorita Marina.”

      Sy kyk die marquês reguit aan en sê sag: “Daar is nie veel om te verduidelik nie, señor. Soos jy reeds weet, is ek ’n vreemdeling hier in jul hoofstad. Ek het twee dae gelede hier aan wal gestap en wou graag vandag die stad besigtig …”

      Sy vertel hom van die busrit stad toe, hoe verdiep sy in haar omgewing geraak het, van die restaurant waar sy ’n koppie tee geniet het en dat sy vermoedelik daarna die verkeerde straat gekies het.

      “Jy het inderdaad verkeerd opgetree, señorita,” bestraf hy haar saaklik nadat hy haar verhaal enduit gehoor het. “Dis absoluut ongehoord vir ’n meisie om so onbeskermd op straat rond te slenter. Maar ek sal reël dat vandag se … e … eskapade nie herhaal word nie. En as jy enigsins voel dat jy my oor die een of ander saak wil spreek, doen dit gerus. Ek is te alle tye tot jou diens.” Hy kom orent. “Ons sal nou na die sitkamer gaan.”

      Ook Marina kom orent. Die marquês stoot die deur oop, buig weer galant en lei haar verder met die gang af. Hulle stap by ’n menigte deure verby tot waar die gang ’n draai maak, en eindelik bereik hulle die kolossale sitkamer. Lae tafeltjies en stoele en banke met diepblou en wynrooi fluweelbekleedsels versier die vertrek. Teen die mure hang waardevolle skilderye en oral pryk vase met die keurigste gerwe wit en pienk lelies.

      Die marquês lei haar na ’n bank waar twee vroue druk in gesprek verkeer. ’n Entjie van hulle af, voor ’n oopslaanvenster, is slegs die netjies geklede rug van ’n man sigbaar.

      “Laat my toe om my suster, Elena, en my niggie, Celesta Mendoca, aan jou bekend te stel, señorita … Señorita Marina Neser sal ons gas wees tot vanmiddag, wanneer ek haar sal terugneem na die hotel waar sy tuisgaan,” laat die marquês ietwat styf hoor.

      Daarna draai hy na die man wat voor die venster gestaan het, maar van wie daar nou geen teken is nie.

      “A, señorita Marina!” gee ’n bekende stem skielik agter hulle antwoord, en Marina swaai vinnig om.

      “Boa tarde, señor Ricardo!” groet sy hom verras, en oombliklik verskyn daar ’n harde trek om die marquês se mond.

      “Julle het mekaar reeds ontmoet?” Sy wenkbroue lig vraend.

      “Ja, señor, twee uur nadat ek hier in Lissabon aan wal gestap het. Ek het señor Ricardo in die hotel ontmoet waar ek tuisgaan.”

      “En waarom weet ek niks hiervan nie, Ricardo?”

      Die jonger man lyk effens ongemaklik onder die marquês se kruisverhoor, maar sê nietemin moedig: “Ek wou jou nog vertel het, Renaldo. Want ek het die señorita genooi om ons te vergesel na jou quinta …”

      “Ons sal weer later hieroor gesels, Ricardo.” Sy hele gelaat is hard en uitdrukkingloos. Toe draai hy na Marina en glimlag styf. “Jy is baie welkom om ons te vereer met jou teenwoordigheid tydens die uitstappie na my quinta, señorita. Dit was baie bedagsaam van Ricardo om jou te nooi. Wees daarvan verseker dat dit vir ons ’n eer sal wees om jou in ons midde te hê.” Hy kyk na sy polshorlosie en vervolg saaklik: “Ons sal nou na die eetkamer verdaag vir ete. Die huisbestuurder sal jou handsak wegsit, señorita.”

      Met die waardigheid so eie aan hom, stap die marquês weg en ontbied die huisbestuurder deur ’n wit knoppie langs die deur te druk. Oomblikke later maak ’n middeljarige Portugees in uniform sy verskyning in die sitkamer, buig hoflik en verneem eerbiedig: “U het my ontbied, señor marquês?”

      “Neem die señorita se handsak,” versoek Renaldo. “Jy kan dit na die ete weer hierheen bring.”

      Marina oorhandig haar handsak aan die man, dan voel sy ’n sagte aanraking aan haar arm en hoor die sagte stem van Elena wat sê: “Ons kan maar solank gaan, señorita Marina.”

      Die gedagte dat sy vandag ’n maaltyd in ’n kasteel gaan geniet, stem Marina effens senuweeagtig. Maar hiervan laat sy niks blyk nie. Sy hoop net dat hierdie senuweeagtigheid nie dalk gaan maak dat sy haar tafelmaniere vergeet nie.

      Die maaltyd verloop egter gesellig en Marina besef dat sy verniet senuweeagtig was. Elena en Celesta, sowel as die twee mans, doen hul uiterste bes om haar tuis te laat voel en die maaltyd vir haar so gesellig moontlik te maak.

      Na die ete verdaag hulle weer na die sitkamer, en op heel diplomatiese wyse lok Renaldo haar uit om oor haar ouers, haar vriende en hul leefwyse te gesels. En toe dit haas tyd is vir haar om terug te gaan na die hotel, is almal vertroud met haar agtergrond, haar familie en al die baie vertakkinge van die Nesers. Hulle gesels reeds soos jare lange vriende.

      Die middag het verbasend gou verbygesnel en toe die horlosie vieruur aankondig, kan nie een glo dat dit reeds so laat is nie.

      “Dit was werklik aangenaam om met jou kennis te maak, Marina,” laat Elena vriendelik en opreg hoor toe hul gas orent kom en verklaar dat dit tyd is vir haar om vertrek.

      “Ek hoop jy gaan ons in die vervolg dikwels met sulke gesellige besoekies vereer,” kom dit weer van die marquês se suster.

      “Net so dikwels as wat julle my in die vervolg gaan besoek,” antwoord sy laggend. “Glo my, dit was vir my net so aangenaam om met julle kennis te maak … En dit alles het ek te danke aan die feit dat ek vandag verdwaal het.”

      Almal begin heerlik lag, afgesien van die marquês wat geen grap sien in die verdwaalepisode nie. Maar daaraan steur Marina haar min. Sy ken hom nou al vir die stil, streng persoon wat hy is. Want om ’n glimlag van hom te kry, is voorwaar ’n eer en ’n prestasie.

      Almal kom orent en saam stap hulle na buite waar die marquês se motor reeds voor die deur staan. Hoflik bedank Marina die ouer meisie vir haar gasvryheid. Daarna groet sy die drie agterblywendes en klim in Renaldo se deftige roomkleurige motor waarvan hy die deur vir haar oophou.

      3

      Onderwyl die motor met ’n sagte geruis oor die gryspad snel in die rigting van die sierlike dubbele ysterhek, praat nie een ’n woord nie. Renaldo sit styf, koel en afgetrokke agter die stuur van sy motor, terwyl Marina gevul is met aangename gedagtes en soet herinneringe. Haar uitstappie van vandag het veel tot gevolg gehad, en sy sal hierdie dag seker haar hele lewe lank onthou.

      “Señorita Marina …” Sy wip soos sy skrik toe Renaldo ewe skielik hier langs haar praat. Sy, Elena, Celesta en Ricardo verkeer reeds op so ’n vriendskaplike voet dat hulle mekaar met gemak informeel aanspreek. Maar met hierdie koue, heerssugtige man wil sy nooit daardie stadium bereik nie. Sy verkies dat hy vir haar slegs die marquês Renaldo de Conna bly, want net dan sal sy hom op ’n afstand kan hou – ’n afstand wat veel veiliger sal wees vir haar wispelturige hart en vir dokter Frikkie Basson wat maande lank al die hoop koester dat sy hom die jawoord gaan gee.

      “Ek

Скачать книгу