Haar naam was Marina Neser. Susanna M. Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Haar naam was Marina Neser - Susanna M. Lingua страница 8
“Besprekings! Watse besprekings, Ricardo?” Sy kyk hom met ’n ernstige blik aan.
“Jy sal nie verstaan nie, pequena,” glimlag hy vriendelik. “Ons gebruike is heeltemal anders as julle in Suid-Afrika s’n. Hier besit ’n meisie geen seggenskap oor die keuse van ’n lewensmaat nie. Renaldo doen die finale keuse. Die meisie se ouers kies nou wel die man vir haar as lewensmaat, maar net met Renaldo se goedkeuring.”
“En as hy die man nie goedkeur nie?” wil sy nuuskierig weet.
“Dan word daar samesprekings gehou, soos vanoggend, en kies hy self ’n bruidegom vir die betrokke dametjie … Dis waarom ek gesê het al die laste en kommer van die familie rus op sy skouers. Glo my, dis ’n geweldige verantwoordelikheid om vir iemand ’n lewensmaat te kies. En moenie dink Renaldo besef dit nie. Maar hy is besonder knap en sy sin vir regverdigheid en billikheid is spreekwoordelik; daarom koester die familie so ’n hoë respek en agting vir hom. Maar kom, dit word laat en ek wil jou nog die rivier gaan wys.”
Hulle staan op en nadat Ricardo die rekening vereffen het, verlaat hulle die restaurant.
Na ’n rit van ongeveer ’n halfuur bereik hulle die oewer van die breë rivier. Tot haar verbasing merk Marina dat die castelo slegs ’n paar honderd tree van die rivier af geleë is.
Hoflik maak Ricardo die motordeur vir haar oop. Met ’n sjarmante buiging neem hy haar arm en help haar uit, onbewus van die lang, vorstelike gestalte wat ’n entjie van hulle af verskuil agter ’n magnoliabos staan en elke beweging met ’n streng blik waarneem.
“O, maar is dit nie salig hier in die lieflike natuurskoon nie!” roep Marina in ekstase uit en gaan botstil staan. “Ek is seker die marquês het al hierdie sierbome, struike en blomme laat aanplant!”
“Reg geraai, pequena. Hierdie paradys was Renaldo se idee.”
“Jy weet,” en sy kyk hom koketterig aan, “ek begin glo dat hierdie marquês-neef van jou regtig ’n merkwaardige man is!”
“Jy behoort Renaldo beter te leer ken, Marina,” antwoord hy met die wêreld se wysheid in sy stem. “Hy kan jou baie dinge leer waarvan jy nog niks weet nie.”
“Jy bedoel meer verantwoordelikheid?” Haar blik rus ondeund op hom, en dit ontgaan die jong man se oog nie dat sy besig is om met hom te spot nie.
“Jy spot nou, pequena, en ek is baie ernstig, weet jy?” bestraf hy haar goedig en gaan langs haar staan. Sy oë liefkoos elke trek op haar fraai gelaat toe hy vervolg: “Dit was beslis nie baie verantwoordelik van jou toe jy gister …”
“Kom, Ricardo,” lag sy hom heerlik uit. “Ek dink die lewe moet bitter oninteressant wees as ’n mens so pynlik verantwoordelik soos jou neef, die marquês, moet wees. Laat hy gerus maar onfeilbaar wees. Ek is volkome tevrede soos wat ek is – met my foute en al.”
Asof hierdie woorde van haar die gegewe teken is, strek Ricardo sy hande uit, neem hare in syne en trek haar vas teen hom aan.
“Ek hou ook van jou soos wat sy is, pequena,” sê hy hartstogtelik met vurige oë wat brand in hare. “Maar ek hou nie net van jou nie, ek het jou …”
“Hartstogtelik lief, guerida, liefste,” vul die marquês sinies aan onderwyl hy van agter die magnoliabos te voorskyn tree en hom by hulle aansluit. “Boa tarde, señorita,” groet hy Marina met die gewone hoflike buiging. Onverstoord draai hy na die onthutste jong man en vervolg: “Celesta soek na jou. Jy moet haar stad toe vergesel, Ricardo.”
“Maar ek het dan ’n gas, Renaldo!” protesteer hy, duidelik teleurgesteld, en blik sy neef gesteurd aan oor sy onwelkome teenwoordigheid.
“Ek besef dit, my vriend,” antwoord die marquês onverstoord. Dat Ricardo bitter omgekrap voel, is vir hom geen geheim nie.
“Maar kan Celesta nie haar besoek uitstel tot môre nie, Renaldo?” probeer hy hoopvol. “Die wêreld sal tog immers nie vergaan as sy ’n dag later stad toe gaan nie!”
“Bedaar, my vriend. Ek sal toesien dat jou gas veilig by die hotel besorg word.” Hy kyk na sy polshorlosie. “Ek vrees jy sal nou moet gaan. Jou suster wag al op jou.”
Met ’n moedelose blik kyk Ricardo sy gas aan.
“Dit spyt my dat ek jou nie self by die hotel kan besorg nie, señorita Marina,” maak hy hoflik verskoning. “Maar ek sien jou miskien môre weer.” Hy buig sjarmant en na ’n haastige: “Adeus, pequena … Renaldo,” draai hy om en stap weg, diep gebelg oor hierdie ontydige onderbreking.
Toe Ricardo buite hoorafstand is, draai Marina met ’n verdedigende houding na die marquês. Sy merk sy spottende blik en vererg haar oombliklik, maar dan hoor sy hom koel sê: “So, dan het dinge presies gebeur soos wat ek gevrees het dit sou gebeur.” Sy skerp, deurdringende blik gly opsommend oor haar fyn, netjies geklede gestalte. “Ricardo is besonder aantreklik en vroue vind hom gewoonlik onweerstaanbaar –”
“Ek vind hom glad nie onweerstaanbaar nie, señor marquês,” val sy hom in die rede. “Inteendeel, ek vind Ricardo baie vleiend en, verskoon my dat ek dit sê, strelend vir die ego. Hy is nou wel soms ’n bietjie oorweldigend met sy aandag, maar ek vind sy geselskap nietemin aangenaam.”
“Dan voel jy nie oor hom soos wat hy oor jou voel nie?”
“Nee, beslis nie, señor. Ek hou baie van hom as ’n vriend, maar niks meer nie –”
“Jy is uiters gevaarlik vir ’n man se gestel, señorita,” onderbreek hy haar met ’n ernstige stem. “Ricardo is nog baie jonk, maar ek wil jou waarsku dat ouer mans nie so maklik nee vir ’n antwoord sal aanvaar nie. Moet dus nie eens probeer om jou wispelturige, vlinderlike vluggies op die Portugese mans toe te pas nie. Ek vrees jy gaan jou vlerkies hier skroei, señorita Marina!”
“Señor!” roep sy geskok uit en voel hoe ’n warm gloed in haar gesig opstoot. “Ek vrees jou aantygings is te verregaande! As jy nie omgee nie, sal ek dadelik teruggaan hotel toe.”
Marina voel bitter afgehaal. Nog nooit het ’n man dit gewaag om haar so te beledig nie. Dat hierdie verwaande, heerssugtige marquês die eerste moet wees, is net een te veel vir haar.
“Ek sal jou eers die rivier en die boothuise gaan wys voordat ek jou terugneem,” verklaar hy doodluiters asof daar niks tussen hulle gebeur het nie. “Ek neem aan dis wat Ricardo wou doen, vandaar jul besoek hier aan die rivier.”
“Dankie, maar ek glo nie ek sal langer van jou gasvryheid gebruik maak nie, señor,” antwoord sy toonloos. “As jy vir my ’n taxi sal ontbied, sal ek dit baie waardeer.”
“ ’n Taxi?” Sy wenkbroue lig. “Maar ek het dan gesê ek sal jou terugneem hotel toe!” Sy oë vernou plotseling, en daar is selfs ’n tikkie uitdaging in hul donker dieptes. ’n Glimlaggie raak-raak aan sy ferm lippe toe hy vervolg: “Ek vrees jy sal maar nog ’n rukkie van my gasvryheid gebruik moet