Haar naam was Marina Neser. Susanna M. Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Haar naam was Marina Neser - Susanna M. Lingua страница 9
Onwillekeurig trek Marina haar asem in en sy weerhou met moeite ’n uitroep van verbasing. Hierdie selfversekerde man mag nie weet hoe diep beïndruk sy is nie, want sy het reeds besluit dat sy na vandag niks verder met hom en Ricardo te doen wil hê nie. As hy dan die mening toegedaan is dat sy ’n flerrie is en ’n gevaar vir sy neef, sal sy sorg dat hul paaie nie weer kruis nie. En wat meer is, sy sien nie kans om die gasvryheid van iemand te geniet wat so ’n lae dunk van haar het nie. Sy sal altyd voel dat haar teenwoordigheid ongewens en oorbodig is en net hoflikheidshalwe geduld word – die Portugese is mos bekend vir hul hoflikheid, gasvryheid en beleefdheid.
“My jag,” sê hy en knik met sy kop in die rigting van die blou-en-wit vaartuig wat stil en rustig op die water lê. “Die bootjies is almal in die boothuise vasgemeer,” vervolg hy. “As jy dit graag wil sien, kan ons daarheen stap.”
Na ’n paar oomblikke stilte sê hy: “Ek hoop jy gaan die reis en ook die week se verblyf op my quinta baie geniet. Dis ’n besonder aangename geselskap wat gaan meedoen aan die reis –”
“Verskoon my, señor,” val sy hom sag in die rede, “maar ek glo nie ek sal meedoen aan die reis nie.”
Asof sy hom onverhoeds ’n klap gegee het, kyk hy haar vlugtig, ondersoekend aan, en Marina merk die gesteurde trek om sy mond.
“Maar jy het tog gister my uitnodiging aanvaar!” laat hy opvallend ongeduldig hoor. “Wat het jou so skielik anders laat besluit?”
“Ek het nie gister besef dat ek so uiters gevaarlik is vir ’n man se gestel nie, señor.” Sy doen haar bes om ’n glimlag te voorskyn te toor, maar in haar altyd lewendige oë is daar ’n uitdrukking van pyn en vernedering wat die marquês se noulettende blik nie ontgaan nie. “Dus sal ek nie langer van jou gasvryheid gebruik maak nie. Miskien sal dit ook beter wees vir Ricardo se … e … sosiale status as ek nie meedoen aan die uitstappie nie.” Haar oë raak nog meer troebel. “En al beskou jy my as ’n hartelose verleidster, troos ek my met die wete dat ek my nog nooit aan Ricardo of enige ander man opgedring het nie.”
“Maar jy vertolk my woorde verkeerd, señorita!” maak hy ernstig beswaar. “Ek het nie een oomblik bedoel dat jy ’n hartelose verleidster is nie. Inteendeel, ek wou jou maar net waarsku dat koketterie en ligte flirtasie ’n gevaarlike spel hier in Portugal is …”
“Ons sal liewer niks verder in hierdie verband sê nie, señor,” laat sy afgehaal hoor en doen haar bes om sy blik te ontwyk. “My vriendskap was nog altyd eerlik en met die beste bedoeling gegee. Maar dis heeltemal onnodig om ’n lang relaas daaroor te voer. Ek sal in die vervolg sorg dat ons paaie nie weer kruis nie.”
Plotseling gaan hy botstil staan, toe gee hy ’n tree wat hom reg voor haar te staan bring. Sy blik rus streng, deurdringend op haar.
“Ek dink jy is nou onredelik,” laat hy met ’n streng ondertoon in sy stem hoor. “Maar ek wil nietemin sê ek is baie jammer indien ek iets gesê het wat jou te na gekom het. Die feit dat ek jou as ’n vlinder bestempel het …” Hy trek sy skouers liggies op. “Jy het self daardie indruk gewek met jou verklaring dat daar al so baie mans in jou lewe was!”
Hy swyg ’n oomblik, blik haar ondersoekend aan en vervolg: “Ek besef natuurlik dat jy bitter gebelg voel teenoor my. Maar ek wil jou nietemin vra om nie toe te laat dat sulke kinderagtigheid jou weerhou om mee te doen aan die uitstappie wat ek na my quinta gereël het nie. Elena, Celesta en Ricardo sal my nooit vergewe as dit deur my toedoen is dat jy nie wil meedoen nie … Sal jy nie maar om hul ontwil gaan nie, señorita?”
Enkele oomblikke staar sy afgetrokke na die breë stroom water wat saggies by hulle verbykabbel. Toe draai sy na Renaldo, kyk hom met ’n onpeilbare blik aan en sê sag: “Goed, señor, ter wille van Elena en Celesta sal ek saamgaan. Maar ek weet nie so mooi of dit die regte ding is om te doen nie.”
“Ek twyfel geen oomblik daaraan dat dit die regte ding is om te doen nie,” laat hy met ’n glimlag hoor. “Maar noudat al die moeilikheid uit die weg geruim is, kan ons teruggaan na die castelo. Dis al laat en jy kan gerus maar bly vir aandete.”
“Baie dankie vir die uitnodiging, maar ek kan nie vandag weer bly vir ete nie …”
“Het jy ’n ander afspraak?” wil hy vinnig weet en blik haar met ’n gesteurde frons aan.
Voordat Marina goed nadink, antwoord sy ja. Toe raak sy meteens bewus van die marquês se afkeurende blik wat strak op haar rus, en sy kry die nare gevoel dat hy bewus is van die leuen wat sy pas versin het.
“Met wie het jy ’n afspraak, señorita,” hoor sy hom vra, “of mag ek nie weet nie?”
Nou is sy werklik in die knyp, want wat gaan sy vir hom sê? Dis algemeen bekend dat sy geen vriende in Lissabon het nie, en hy weet dit beslis ook.
Maar Marina laat haar nie maklik in ’n hoek dryf nie, en sonder om te blik of te bloos antwoord sy: “Jy ken hom nie, señor. Hy is ook van Suid-Afrika afkomstig en bly in dieselfde hotel waar ek tuisgaan.”
“O, ek verstaan, hy is ’n man uit jou eie volk!” Sonder ’n enkele woord verder neem hy haar aan die arm en stuur haar behendig in die rigting van die castelo.
Sy motor staan reeds voor die deur en nog steeds swyend hou hy die deur vir haar oop om in te klim. Daarna stap hy voor om die voertuig en skuif met gemak agter die stuur in. Hy skakel die enjin aan en trek gevaarlik vinnig weg. Maar gaandeweg dring dit tot hom deur dat daar ’n vrou langs hom in die motor sit en geleidelik vertraag hy die gang van die voertuig.
Nie een praat egter ’n woord nie. Marina voel heimlik afgehaal omdat hy sy afkeuring in haar so openlik toon.
Hy het immers daarop aangedring om my persoonlik by die hotel te besorg, dink sy vies. En nou maak hy asof dit vir hom ’n geweldige las is en hy daartoe gedwing is … nee, ek sal beslis ’n uitweg moet bedink hoe ek die uitstappie na sy quinta kan ontduik, want ek sien eerlikwaar nie kans om ’n volle week onder dieselfde dak as hy te verkeer nie. Al is hy ook die aantreklikste man wat ek nog ontmoet het, gaan dit my hoegenaamd nie beweeg om watter vernedering ook al van hom te verduur nie. Hy is gans te nougeset!
Vir Marina is dit ’n groot verligting toe hulle eindelik voor die hotel stilhou en sy nie langer in sy teenwoordigheid hoef te wees nie. Hy vergesel haar egter nie weer na haar kamerdeur nie, maar maak bloot die motordeur vir haar oop. Na ’n sjarmante buiging en ’n beleefde: “Adeus, señorita,” klim hy terug in sy motor en ry vinnig weg.
4
Die volgende môre verslaap Marina haar behoorlik. En toe sy eindelik ontwaak, is dit reeds oor nege en moet sy haar haas om betyds te wees vir ’n laat ontbyt. Sy is egter nie die enigste laatslaper nie, want etlike tafeltjies is nog beset toe sy die eetkamer binnestap.
Die kelner plaas die bestelling voor haar en binne enkele minute draf sy die snytjie geroosterde brood, gebakte eier en glas lemoensap kaf. Toe kom sy haastig orent en gaan verklee haar in ’n modieuse groen bikini. Sy voel uitgerus en gereed vir enigiets wat die dag ook al vir haar inhou.
Soos ’n skoolmeisie draf sy ligvoets met die paadjie af strand toe. Haar goue krulle rus liggies op haar skouers, en af en toe waai haar veelkleurige strandjassie voor oop en word ’n lenige, volmaak gevormde figuur vertoon. Onder haar arm dra sy ’n opgerolde handdoek en in haar een hand word haar swempet sorgeloos heen en weer geswaai. Sy skep ’n prentjie