Ena Murray Omnibus 35. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 35 - Ena Murray страница 18

Ena Murray Omnibus 35 - Ena Murray

Скачать книгу

dat sy miskien haar hand nou oorspeel het, maar sy is te vererg om om te gee. Sy voel regtig soos ’n ding wat die kat ingedra het. Teenoor die gesofistikeerde, beeldskone wese moet sý maar baie swak vertoon met haar kortbroek en beswete hempie en nou nog met haar motgevrete hare daarby.

      Vir die res van die broer en suster se besoek het sy nie veel te sê nie. Luister maar net en voel van voor af ’n indringer. Charlene Cawood is ’n selfversekerde mens wat nie net haar kant in die modewêreld bring nie, maar ook saam met die mans oor jag en die natuur kan praat. Ansie voel of sy al kleiner krimp van minderwaardigheid en sê vir haarself: Ek wonder wat dié wêreldwyse modepop sal doen as ek soos ’n vaal veldmuis by die voordeur uitskarrel. Sy giggel skielik en vind drie paar verbaasde oë op haar. Weer is daar ’n frons tussen die gasheer se oë.

      “Vind jy iets snaaks, Ansie?”

      “O . . . nee. Jammer. My gedagtes het gedwaal.” Tot haar ergernis voel sy hoe ’n blos oor haar nek sprei en sy weet dit verdiep toe die ander dame in die geselskap se hooghartige blik haar vertel: Jy lýk nie net eienaardig nie; jy ís ook ’n bietjie eienaardig.

      Sonder verdere seremonie sê Charlene aan Lochner: “Ek sou nie nou al gekom het nie, maar my kontrak het verstryk en ek het ’n rukkie af voordat ek weer moet begin. En toe Don my vertel van die filmspan wat hierheen kom, het ek gedink ek kan miskien vir hom kom help.”

      “Natuurlik kan jy,” laat haar broer dankbaar hoor. “Dis net wat ek nog gekort het . . . ’n elegante en bekwame gasvrou.”

      Lochner se frons begin oortyd werk. “Dan kóm hulle?”

      Don en Ansie se oë ontmoet vlugtig en dan antwoord hy so nonchalant moontlik: “Ja. Ek verwag die klomp môre.” ’n Kort, gespanne stilte heers en Don vra reguit: “Jy het nog nie van houding verander nie?”

      “Beslis nie. Onthou net wat ek gesê het.”

      Die geselskap wil daarna nie meer vlot nie, en die Cawoods vertrek ná ’n rukkie. Toe Ansie ook wil padgee, word sy egter teruggeroep.

      “Net ’n oomblik.” Sy kyk teen ’n geweldige frons vas. “Jou maniere vroeër vanaand het veel te wense oorgelaat,” word sy trompop aangeval. “Jy was openlik katterig teenoor Charlene.” Sy het geen verweer nie, kan net staan en terugkyk. “Wat het jou makeer?”

      Sy staan met ’n mond vol tande, weet regtig nie wat om te antwoord nie, want sy voel self ontevrede met haarself. Sy weet min van haarself af, maar sy weet dat sy nie swak maniere het nie en dat dit nie in haar aard is om katterig te wees nie. Sy is besig om hier op Friedesheim te verander, en nie altyd ten goede nie. Sy moet hier wegkom. Skuldig bely sy dan eerlik: “Ek is jammer, Lochner. Ek weet nie wat in my gevaar het nie. Ek is jammer as ek onbeleef was. Sy was immers ’n gas in jou huis.”

      Die oë onder die frons is nou meer peinsend as veroordelend. “Maar wat het daartoe aanleiding gegee? Jy en Charlene het mekaar tog vandag vir die eerste keer ontmoet.”

      Sy kyk vererg weg. Kan hy nie haar verskoning aanvaar en dit daar laat nie? Maar soos Lochner is, wil hy nou lykskouing hou. Aanval is die beste verweer, besluit sy. “Jou Charlene het ook nie oorgeloop van vriendelikheid teenoor my nie.” Sy gaan nie al die blaam alleen dra nie. Dit was ’n instinktiewe, wederkerige antagonisme.

      “Ek sien. Jy moet altyd die skuld op ander pak. Dis vir jou onmoontlik om te sê: Ek is jammer. Ek is skuldig, vergewe my.”

      “Maar ek hét om verskoning gevra! Ek hét gesê ek is jammer!” Haar oë blits nou. “As jy verwag ek moet Charlene om verskoning gaan vra, sal jy lank wag. Ek sal dit nie doen nie.”

      “Nee. Ek verwag dit nie, want ek weet jy is nie in staat om dit te doen nie,” is sy verdoemende oordeel, en sy sluk. Kragtie, is dit regtig nodig om só ’n bohaai oor ’n nietigheid te maak? Sy volgende woorde vang haar heeltemal onkant. “Daar is een punt waarop ons mekaar baie duidelik moet verstaan, Ansie. Terwyl daardie filmspan op die Lodge is, sit jy nie jou voete daar nie. Ek wil geen kontak met hulle hê nie.”

      “Hoekom nie?” daag sy hom uit, haar oë ondersoekend. “Wat het jy teen filmmense?”

      “Ek het niks spesifiek teen filmmense nie. Maar vir die soort lewe waarvan hulle deel is, het ek nie tyd nie. Dit kan jou net kwaad doen om met hulle kontak te maak en vriendskappe te sluit. Hulle kan net ’n slegte invloed op enige jong mens uitoefen . . .”

      “Wag ’n bietjie, neef!” Ansie gee ’n verbaasde laggie. “Ek is nie ’n tiener nie! Genugtig! Ek is jare lank al mondig! En wie het gepraat van vriendskappe sluit? Hardloop jy darem nie nou die ding vooruit nie? Ek ken die mense van geen kant af nie, het nog nooit my oë op hulle gelê nie, maar jy gaan te kere asof ek reeds ’n bose en verbode verhouding met een van hulle aan die gang het!”

      Hy besef dat hy onredelik klink, maar hy hou voet by stuk, en op so ’n wyse dat sy besef dat hy doodernstig is: “Ek weet waarvan ek praat, Anna! En dis ’n bevel: bly weg van die Lodge af terwyl hulle daar is!”

      Maar Ansie toon sy het ook ’n goeie streep familiekoppigheid weg. “Ek sal dit doen as jy my ’n billike rede kan gee.”

      “Ek hoef geen redes te verskaf nie.”

      Sy besef verbyster dat hulle in ’n volbloed rusie gewikkel is. “Ek is nie ’n kind nie, Lochner!”

      “Nee, nie in jare nie, maar op die oomblik is jy nie in staat om te weet wat goed is vir jou en wat nie.”

      “Twak! Ek het my geheue verloor, nie my verstand nie!” baklei sy verontwaardig terug. “Jy gaan my nie soos ’n verstandelose kind behandel nie, Lochner! Ek staan nie onder jou jurisdiksie om my te beveel waar ek mag gaan en waar nie!”

      “Ek sien. Jy is nou oor die skok, begin nou jou ware kleure wys.”

      “Wat bedoel jy?” vra sy totaal verward.

      “Jy het skielik verander. Jy het skielik opstandig en weerbarstig begin word – ’n slim, wêreldwyse juffrou wat haar van niemand laat leer nie, want sy is ’n dame van ervaring. Sy ken die lewe van hoek tot kant. Die Ansie wat hier aangekom het, wat huil wanneer ’n vlakvark gevang word, het nie regtig bestaan nie, nè?”

      Sy is nou bleek van ontsteltenis. “Dis nie waar nie! Jy wéét . . .”

      “Ek weet wat ek weet, ja. En ek weet wat ek sien. Ek was ’n dwaas om te dink . . .” Hy breek stomp af en vervolg dan vinnig: “Soos jy uitgewys het: ek het geen jurisdiksie oor jou nie. Doen wat jy wil. Gaan as jy wil gaan.”

      “Wie het van gaan gepraat?” Haar hart sit in haar keel. Is hy besig om haar weg te jaag? “Ek wil nie by die filmspan gaan aansluit nie! Maar ek weier om Hunters Lodge soos die pes te vermy net omdat daar ’n filmspan is en . . .”

      “Ek het mos gesê doen wat jy wil. Nag, Anna.”

      Toe sy ook haar kamerdeur ’n minuut later agter haar toedruk nadat sy na die harde toeklap van sýne geluister het, voel sy verstom oor wat pas gebeur het. Om heeltemal eerlik te wees, sy het nie ’n benul waaroor die bakleiery eintlik gegaan het nie. As sy Lochner se optrede onverklaarbaar kinderagtig vind, staan sy eintlik ewe skuldig. Sy was ook niks minder as ongelooflik kinderagtig nie. Want wat het sy met ’n filmspan uit Londen uit te waai? Sy het geen belangstelling in hul doen en late nie. Sy kyk nie eens na die flieks op die televisie nie! Tot netnou het dit ook nooit by haar opgekom om spesiaal oor te ry na die buurplaas

Скачать книгу