Troukoek maak nie vet nie. Kristel Loots
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Troukoek maak nie vet nie - Kristel Loots страница 5
Daar sal altyd iemand wees wat Jo-Jo wil help, selfs wanneer die oudag eendag daar is. Een of ander omie wat sy laaste kragte sal inspan om haar suster aan die lewe te hou. Daar is net iets aan Jo-Jo wat die ridder in mans wakker maak. Jo-Jo is een van daardie vroue wat vertroetel word, maar nie sý nie. Sy wat Dixie is, sal haar sente moet omdraai om brood en melk te kan bekostig.
Gaan jy dit doen? wil Jo-Jo ewe hoopvol weet. Met of sonder jou pensioen-neseiertjie?
Ek moet my kop laat lees as ek dit enigsins sou oorweeg.
Dis nie asof jy ander opsies het nie, of hoe? Of sien jy kans daarvoor om weer by Saamwerk Versekering te gaan werk? Wil jy jou teen die bliksem vasloop?
Dixie antwoord haar nie, log summier af sonder om te groet. Hierdie gesprek put haar uit. Dis nie ’n grap om jou ellendes die een na die ander so voor jou oë op die rekenaarskerm uitgepak te sien nie.
Nee, natuurlik sien sy nie daarvoor kans om haar gesig ooit weer by die versekeringsmaatskappy te wys nie. Oor haar dooie liggaam. Nie ná die kombuistee wat vir haar gereël is en al die grappies wat oor die huweliksnag gemaak is nie. Nie ná die grootste skande waaroor daar ooit in die gange van die grys gebou gefluister is en die armsvol trou-presente wat vroegtydig aangedra is en wat sy een vir een moes terugstuur nie.
Die briefie van verduideliking was bitter moeilik om saam te stel, maar sy moes dit doen, en ordentlik ook. “Asseblief, Dixie,” het die bliksem gevra, “kom ons probeer ten minste ’n sekere mate van waardigheid behou.”
Hy! Hy wat haar so onwaardig behandel het! Die … die absolute audacity daarvan! Sy wou hom … Sowaar, sy sou hom met ’n pan oor die kop kon slaan as daar een tussen die trougeskenke beskikbaar was. Sy wou op hom spring totdat daar nie ’n teken van waardigheid aan hom te bespeur sou wees nie.
Maar sy het nie.
Sy het agter die rekenaar gaan sit en op Google gaan soek na ’n voorbeeld van hoe ’n mens ’n brief skryf waarin jy waardigheid behou nadat jy reg voor die preekstoel gelos is. Left at the altar, het sy ingetik, maar sy kon niks kry wat gepas was nie. Selfs Google het voor haar vernedering gesteier, Google wat raad het vir alles onder die son, van luise op die kop tot aambeie.
Toe moes sy maar self improviseer. Sonder om te veel te verklap en haar vernedering vir elke Jaap en sy maat verder uit te stal.
Liewe vriende, baie dankie vir die pragtige broodrooster (drukkoker/ nagemaakte Persiese matjie/ stel kastrolle/ linne/ tafeldoeke) wat julle aan ons gestuur het. Ongelukkig sal ons nie daarvan gebruik kan maak nie en stuur ek dit hiermee aan julle terug. Wees verseker daarvan dat ons die gebaar waardeer. Vriendelike groete, Dixie. (En die bliksem wat haar nie meer wou hê nie.)
Teruggaan? Terugkruip met ’n kardoessak oor haar kop? Haar voormalige kollegas in die gesig kyk? Sien hoe hulle agter bak hande oor haar fluister? Vir haar lag?
Nee, dan maar eerder werkloos wees totdat daar iewers vir haar iets opduik. Dixie sug. Asof werk uit die lug val … Sy sal ’n CV moet opstel, haar bates en laste daarin moet adverteer. ’n Rede moet verskaf waarom sy ’n paar maande lank werkloos was, hoekom sy nou skielik met ’n onderstebo gesig begin werk soek. Werkgewers is nie bobbejane nie, hulle ruik ’n rot die oomblik wat dinge nie mooi netjies agtermekaar is nie.
Sy sal dalk nog vir ’n onderhoud genooi word, maar dit sal ’n nagmerrie wees om die regte gesig op te sit. Sy sal moet please explain dat die biesies bewe. Meneer sien, die saak staan nou so: Ek sou trou, meneer. Ek en Kurt. Ja, einste hý, die stofpoepertjie met die diakensnorretjie, meneer. So ’n driekwartbaksteen hoog, maar so arrogant ’n mens sou sweer hy is een van die mooiste mans in die Saamwerk Versekeringsmaatskappy se kantore – hier by ons én in die hoofkantoor in Centurion. Hy hét my gevra, meneer, regtig, hy het. Al was daar later mense wat dit nie wou glo nie, wat gedink het dit was ’n shotgun wedding, dat ek hom só probeer vang het.
Dixie snork as sy daaraan dink. Asof Kurt hom so sou laat vang! Hy wat nie eens ’n verkeersboete kry nie en ’n pil vir elke kwaal het. Meneer Versigtig wat nie sy kop in ’n byenes sal steek nie. Wat alles noukeurig weeg en evalueer en etiketteer. Hy wat mý geweeg en toe te lig bevind het. Hy wat … hy wat my hart gebreek het, my naam met ’n plank geslaan het, ’n gek van my gemaak het.
En dan was sy nog so dom ook, het sy haar selfs gedra soos ’n Stepford-vroutjie met ’n voorskoot om die lendene. Uit haar pos bedank omdat Kurt nie wou hê sy moes ná die troue onder hom werk nie.
“Dit sal nie ’n gesonde toedrag van sake wees nie, Dixie,” het hy verduidelik. En soos sy toe al geweet het: ’n Gesonde toedrag van sake is vir Kurt baie belangrik. En ’n gesonde liggaam én ’n gesonde gees. Alles wat gesond is.
“Ek is jammer, Dixie, ek kan nie met iemand uitgaan wat rook nie,” het hy soos ’n sammajoor gekommandeer toe hy haar met ’n skelm sigaretjie betrap. “Ek soen nie ’n asbak-mond nie.”
Sy het haar disnis geskrik. Van toe af seker gemaak daar is altyd ’n pepermentjie beskikbaar – én ’n botteltjie spuitgoed. Verniet. Alles verniet.
Hoe sal sy die afloop van hierdie verwikkelinge aan ’n voornemende werkgewer kan verduidelik? Dat sy toe tog nie getroud is nie, net werkloos. Manloos en ringloos. Ongelief en alleen.
Geen werkgewer sal haar wil hê nie. ’n Vrou wat voor die preekstoel gelos word, moet ’n ernstige skeet of twee hê. Seker iets wat die voornemende bruidegom betyds ontdek het. En laat skrik het. Die wyk laat neem het. Betyds. Net-net betyds. Sjoe! ’n Noue ontkoming. Gelukkig vir hom …
Nie vir ons nie, dankie. Ons stel nie daarin belang om ’n albatros om ons nekke te hang wat ons grond toe sal dwing nie. Jammer, die pos is reeds gevul.
Ek sit hier sonder huis of hawe, besef Dixie opnuut. Of holte vir my voet en goed.
Ja, ja, Ma sal haar seker nie uitskop nie, maar solank sy onder Ma se dak bly, sal dit op Ma se manier wees. En Ma se manier was nie eens in haar tienerjare vir haar ’n lekker manier nie. Tóé al het Jo-Jo snags deur die venster geklim om skelm te gaan jol en sy het lê en wens sy kon dit ook doen. Maar iemand moes by die huis bly om na Ma se sagte gesnik oor Pa se dinge in die donker te luister.
In Jo-Jo se woonstel sal sy haar voete op die koffietafel kan sit, sy weet sommer. As sy natuurlik ’n koffietafel opgespoor kan kry onder alles wat daar rondlê. En sy wil wed sy sal kan rook ook. Miskien net die vensters oopmaak en die asbakke gereeld leegmaak. Sodat die ou van Down Under nie versmoor wanneer Jo-Jo met hom Kaap toe kom nie. Want sy weet sommer: Jo-Jo sal hom wel aangekeer en opgehok kry, sy doen dit elke keer.
Oor Jo-Jo is sy nie regtig bekommerd nie. Dis haar ma wat sy moet jammer kry. Dis vir haar wat sy tientalle koppies tee behoort te maak. Sy behoort ure lank na die treurmares oor Pa te luister. Iémand moet, en dis nie asof sy iets beters het om te doen nie. Maar ag! Dit maak haar so moeg. En moedeloos.
Drie maande is nie ’n leeftyd nie, dink Dixie. As daar dan nie geld is vir kos nie, is dit sommer ’n maklike manier om te dieet ook. Solank sy net sigarette kan koop. As sy ’n slag oop en bloot in die woonstel kan rook en nie skelm om die hoek soos ’n skoolkind nie, sal dit al klaar die moeite werd wees om in die Kaap te gaan sit en krepeer. Want soos sy nou voel, wil sy rook tot haar longe soos vrot druiwekorrels lyk. Simpel gewoonte, sy weet. Gifpyltjies wat jou kan doodmaak. Maar ekskuus vir die wals, dis nie asof sy veel het om voor te leef nie, of hoe?
Skielik is Dixie so lus vir ’n sigaret sy kan sterf. Maar om in Ma se huis te rook, is inderdaad om ’n death wish