Troukoek maak nie vet nie. Kristel Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Troukoek maak nie vet nie - Kristel Loots страница 6

Troukoek maak nie vet nie - Kristel Loots

Скачать книгу

wat bly dán vir haar oor? Pille? Drank? Of sal sy haar oorgee aan orige oumans met bakkebaarde wat in lang, slap oumenskarre ry?

      Hier is ’n hele paar van hulle in die omgewing. Mans wat jare terug ryk was, die statusmotor van die dag gekoop het – en daarby gebly het. Die vrou moeg geleef, toe begrawe en as langslewende oorgebly. Speel rolbal, luister radio en maak tuin in ’n kakiebroek wat maer knieë wys.

      Soms, net soms wens sy een van die oumans met bakkebaarde wil by Ma kom vlerksleep sodat sy afgelos kan word. Maar sy weet nie of Ma al reg is daarvoor om ’n ouman se maermerries en rumatieklyf saans in te smeer nie.

      Nee, dis nie wat Ma wil hê nie. Ma wil vir Pa hê, nét vir Pa – die enigste man wat haar hart vinniger laat klop, al is dit deesdae net van woede en ontsteltenis. Mans! Sowaar, vroue kry swaar onder hulle.

      Dixie sit vooroor geboë by haar rekenaar toe sy die geskuifel by haar deur hoor. Ma. In haar pantoffels en ’n japon wat soos ’n verbleikte ou sak aan haar hang. Haar gesig bleek, die grimering wat bedags die skyn moet bewaar, is afgewas. Sy stoot die kamerdeur stadig oop.

      “Slaap jy nog nie?” Haar stem teem. “Dis al ná tien.”

      Dixie haal ’n slag diep asem. “Ek … ek gaan nou-nou inkruip,” belowe sy terwyl sy op haar tande kners.

      Sy smag na ’n bietjie vryheid, na die voorreg om sélf te besluit hoe laat sy in die aand wil gaan slaap, waar sy haar voete wil laat rus en of sy haar liggaam met nikotien wil besoedel. Of haar aan oumans wil oorgee. Sonder dat Ma bekommerd oor haar skouer loer, haar dophou asof sy enige oomblik ’n handvol pille gaan drink of sonder ’n valskerm van die dak af gaan spring.

      “Sal ek vir ons gaan tee maak?” wil Ma weet, haar kop effens gelig soos ’n bok wat water geruik het.

      Dixie weet wat dan op haar wag: ’n lang wroegsessie tot laat in die nag. Oor Pa, oor die regering, oor die polisie wat nie hul werk doen nie, die belasting, die rentekoers, die muskiete wat pla, die buurman wat saans laat nog na sy musiek luister. Maar veral oor Pa. Altyd oor Pa.

      “Nie vir my nie, dankie, Ma.”

      Ek het genoeg gehad vir vandag, vir hierdie week, hierdie maand, ’n leeftyd lank. Ek wil nie meer hoor nie, wil nie meer weet nie. My skouers is breed, maar nie só breed nie.

      “Dan gaan ek ook maar weer lê,” sug Ma. “Maar ek weet sommer ek gaan vannag weer nie ’n oog toemaak nie.”

      Ma stap sleepvoet na haar kamer toe. Soos ’n sprinkaan met ’n afbeen, dink Dixie, nie sonder simpatie nie. Net moeg.

      Sy wag totdat sy sagte snork-plofgeluidjies agter Ma se toe kamerdeur hoor voordat sy vir Jo-Jo bel.

      “Ek hoop die huis het afgebrand,” antwoord Jo-Jo vies. “Of iemand is ten minste dood.”

      “Dis nie ’n mooi ding om te sê nie.”

      “Dis ook nie mooi om my hierdie tyd van die aand te bel nie. Wat wil jy hê?”

      “Nog oor Bliss and Beautiful praat.”

      “Wat wil jy nog weet?” Jo-Jo se stem klink meer genaakbaar.

      “Waar in Langstraat is die plek?”

      “Dis ’n skande dat jy nog nie vir my kom kuier het nie.”

      “Ek was besig, weet jy?”

      Sy wás besig – met haar verloofde. Om hom tevrede te hou. En gelukkig. Om trousseau bymekaar te maak, silwer messegoed en oondbakke wat hul plek op ’n ordentlik gedekte tafel sou kon volstaan. Hulle sou baie moes onthaal – sy en die bliksem. Hy’t groot planne gehad, was vasbeslote om die loopbaanleer tot op die hoogste sport te klim. Goeie dade te doen wat raakgesien sou word en in rade en komitees te dien. En sý sou moes uithaal en wys. Nie skandes maak met goedkoop goed wat ’n mens in ’n kettingwinkel kan koop nie.

      Alles wat sy tot dusver gebruik het, was hopeloos te minderwaardig. Sy kon dit gerus maar vir die Salvation Army gee om aan die armes en die ellendiges uit te deel, het hy gesê.

      Sy moes op Die Groot Dag gefokus wees. Die Allesoorheersende Groot Dag waarop sy mevrou Kurt van Tonder sou word. Tyd vir ’n Kaapse kuiertjie by haar suster was daar nie.

      “Ek kan for the life of me nog nie verstaan hoe ’n mens ’n bruidswinkel in Langstraat kan oopmaak nie.”

      “Bliss and Beautiful is ’n bruidswinkel cum wedding planner met ’n verskil, lovey. Al wat toeris is, kom maak ’n draai by ons om foto’s te neem.”

      “Maar hulle trou nie …”

      “Nee. Wel, nog nie. En intussen kom die arty farty-tipes darem na ons toe wanneer hulle troukoors kry. Man, vrou en in-between. Onthou, troukoors diskrimineer nie, dit tref alle volke, nasies en generasies. Ek wil eendag nog ’n koffietafelboek uitgee oor die paartjies wat vanuit Bliss and Beautiful tot trou gekom het.”

      “Weirdos. Dis sekerlik nét weirdos wat in Langstraat na ’n trourok en al die trimmings gaan soek. Kaalvoetbruide wat ver swanger is en bruidegomme wat met pienk panties in hul sakke betrap word?”

      “Jip. Almal wat weird and wonderful is. Die deftige dames van die dag, dié van Durbanville en omgewing, dié met dubbeldoorvanne en skatryk pappas, hou verby. Hulle gaan klop eerder aan by Benita Botha se Bruidswinkel in Tygervallei. In Bliss and Beautiful skarrel daar soms ’n verdwaalde muis voor jou voete verby – alles dinge wat atmosfeer aan die winkel verleen, maar nie alle voornemende bruide sien kans daarvoor nie. Party val dramaties flou as dit die dag gebeur.”

      Jo-Jo sug effens. “Al wat ek nodig het om Bliss and Beautiful behoorlik op die map te plaas, is een lekker vet celebrity wat van ons gebruik maak. Dalk palm jy nog vir my een in?”

      “Wat jy waar kry? Hoe sal ék dit nou regkry as jy met al jou twyfelagtige kontakte nog nie daarin kon slaag nie?”

      “Ek weet nie, maar probeer asseblief. Ek weet nie of die Australiër my sal kan onderhou nie. Jy weet ek het sekere standaarde wat gehandhaaf moet word, nè?”

      Dixie snorklag. “Standaarde? In ’n woonstelletjie bo jou bruidswinkel in Langstraat wat jy met ’n muisfamilie deel?”

      In die weke daarna beland Dixie weer in ’n maalstroom, amper soos voor haar troue toe die reëlings vir die Groot Dag haar 24/7 besig gehou het. Maar hierdie keer is dit Jo-Jo wat die toutjies trek, wat haar so oorweldig dat sy later net ja en amen sê.

      Ma is natuurlik sporadies in trane vandat Jo-Jo haar van die nuutste verwikkelinge vertel het. Heel verwese omdat almal haar haat en verlaat, selfs haar dogters. Wat het sy tog verkeerd gedoen om dít te verdien?

      Dixie troos soveel sy kan. “Dis net vir drie maande, Ma. Net totdat Jo-Jo haar Australiër vasgetrek het.”

      “Skaam jou, Dixie. ’n Mens praat nie so van jou suster nie. Sy’s nie ’n flerrie nie.”

      Dixie lag. “Ma, Jo-Jo is ’n volbloed-flerrie. Hoekom dink Ma kan sy nie ’n man hou nie? Skaars getroud of sy begin weer vir haar volgende prooi rondkyk.” Sy vermy haar ma se oë. “Soos Pa.”

      Dixie weet sy vryf haar ma verkeerd

Скачать книгу