Troukoek maak nie vet nie. Kristel Loots
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Troukoek maak nie vet nie - Kristel Loots страница 7
Daar is wragtig niks wat ’n vrou so van haar selfvertroue kan ontneem soos om deur ’n man verwerp te word nie!
“En eintlik was hy die perfekte man vir my,” mompel Dixie toe sy vir die duisendste keer vandag aan Kurt dink. Hulle was veronderstel om soos twee helftes inmekaar te pas. Meneer en Mevrou Kurt van Tonder. We present mister and misses Kurt and Dixie van Tonder – so sou hulle bekendgestel word. A match made in heaven! Hulle het selfs na mekaar begin lyk – vinkel en koljander, twee ertjies in ’n peul. Die perfekte paartjie!
En wat het daarvan oorgebly? Verfrommelde troukaartjies en nie ’n enkele foto van die non-event nie. Net van haar voor die tyd, die sterre in haar oë, die ruiker van wit madeliefies in haar bewende hande vasgeklem. ’n Beeldskone bruid op haar troudag. Maar blykbaar nie beeldskoon genoeg nie, nie begeerlik genoeg nie.
Daar sal nog lank oor haar gepraat word. Gesels word, bespiegel word, geskinder word. Maande lank nog, jare lank nog. Die skande van die dekade, met haar as die grap van die jaar. Gratis vermaak, iets wat nie eens in ’n sepie sal gebeur nie. Real-life drama soos die joernalis wat daaroor wou skryf, dit beskryf het.
Nooit weer, neem Dixie haar voor, haar hand op haar bors, nooit weer laat ek my só deur ’n man verneder nie.
Sy sluk die trane weg. “Die f … f … flippen bliksems!” prewel sy.
3
Dixie sit omring deur haar tasse in die taxi wat haar van die lughawe af Langstraat toe gebring het, maar sy huiwer om uit te klim. “Is jy seker dis die regte adres?” vra sy onseker.
“But of course, ja!” word sy verseker. “Daar staan dit dan yslik groot teen die muur geverf: Bliss and Beautiful.”
Sy draai haar kop om beter by die venster uit te sien en loer in die rigting waarheen hy beduie. Die boonste B is taamlik verbleik en die tweede een het iewers heen verdwyn. Sy bevind haar inderdaad voor ’liss and ’eautiful.
“Toe, jy moet uitklim,” word sy aangemoedig. “Dis ’n one-way dié, ons block die traffic.”
Sy’t skaars die moed om die motordeur oop te maak, maar sy weet ook dat sy by omdraai verby is. Dis waar wat die taxibestuurder sê: Dis ’n eenrigtingstraat hierdie, sy kan net vorentoe gaan. Sy ís nou hier, sy kan net sowel uitklim en Die Res van haar Lewe aanpak en klaarkry. Nie dat Die Res van haar Lewe van hier af vir haar besonder belowend lyk nie.
Toe sy haar agterstewe en die res van haar belaai met pakke en sakke by die taxi uitgewikkel kry, is daar dadelik iemand by wat haar tasse wil help dra. Sy kyk na die gaterige T-hemp, die ingeduikte hoedjie en sy aarsel.
“Jy beter dit nie doen nie,” waarsku die taxibestuurder. “Hulle gryp jou tasse en dan hol hulle weg daarmee. Klomp skelms. Hulle ma’s moes hulle kleintyd al doodgelê het.” Hy lag tandeloos. “Behalwe as jy dink jy sal hierdie een kan inhardloop.”
Dixie klem haar skouersak ’n bietjie stywer vas. Liefs nie. Liefs wil sy nie met haar aankoms in die Kaap agter ’n jongeling met lang maer bene aan hardloop met die hoop om eienaarskap van haar handsak of tasse te probeer herwin nie.
Haar ore tuit toe die hulpvaardige jongeling lostrek en die taxibestuurder in kleurvolle taal heelwat meer vertel van sy ma as wat sy wou hoor. Hy’s nie ’n skollie nie en Langstraat behoort nie aan die taxibestuurder nie en hoekom vat hy nie sy kar en ry in die see in met die ding nie, gaan swem saam met die visse dat die haaie hom vreet. Dis nou te sê as hy die hele Kaap ’n helse groot favour wil doen. Want hulle hier in Langstraat soek hom nie hier nie, hulle hier in Langstraat hou hulle nie op met rubbish wat dink hulle stink nie. Net omdat hulle hul vet gatte in ’n kar skuur. Hulle hier in Langstraat is genuine, hulle is nie fake nie, thank you very much.
Dixie wonder of sy nou ook een van “hulle hier in Langstraat” is – en sy weet regtig nie hoe sy veronderstel is om daaroor te voel nie. Kyk, sy glo aan leef en laat leef, maar sy is nie so seker dat sy hier in Langstraat die sogenaamde res van haar lewe geleef gaan kry nie. Wat nog te sê van ’n Nuwe Lewe leef?
Sy betaal met bewende hande, skop, sleep en dra haar bagasie in die rigting van ’liss and ’eautiful. Die veiligheidshek is gesluit. Natuurlik, ja, dink Dixie benoud. In Suid-Afrika los ’n mens nie eens die deur van ’n bruidswinkel oop nie. Sy loer na binne, druk die deurknoppie.
“E … Dixie hier,” roep sy binnetoe. “Jo-Jo se suster.”
“Ek kom!” antwoord iemand haar.
Dis dan seker nou Coco, dink Dixie. Jo-Jo se assistent. Maar presies waarmee sy Jo-Jo assisteer, is ’n vraag wat Dixie nog nie beantwoord kon kry nie. Want van hier af lyk dit in elk geval nie of daar veel besigheid in hierdie deel van Langstraat bedryf word nie. In elk geval nie vanuit die bruidswinkel wat so vaal en beskeie hier tussen die ander geboue ingeprop is nie.
Al waarop sy kan hoop, is dat Coco haar so gou moontlik sal inlaat en die veiligheidshek weer agter hulle sal toesluit. Sy kyk effens benoud oor haar skouer … en sien vir die eerste keer die twee winkelpoppe in die venster raak.
“Ag hemeltjie tog!” kreun sy, “moet ek huil of moet ek lag?”
Maar voordat sy daaroor kan besluit, moet sy aandag gee aan die lewende wese wat vir haar die deur kom oopsluit. Sy knip haar oë ’n slag, nie seker of dit ’n Langstraat-illusie is nie.
Coco lyk min of meer soos ’n onvoltooide legkaart, een waarin daar nog heelwat gate is. Soos die wenkbrou wat bo een van haar swaargegrimeerde oë makeer, terwyl die ander een swart ingekleur is. En haar kroes hare soos ’n windverwaaide besembos wat aan die linkerkant blond en aan die regterkant pikswart gekleur is. En die toonnaels (waartussen die wattebolletjies nog ingeprop is) wat ’n verskeidenheid kleure geverf is, die meeste blinkswart. En die drapeersel om haar lyf wat moontlik ’n goiingsak kan wees.
Van ’n formele kennismaking is daar geen sprake nie.
“En toe? Wat dink jy van ons girls in die venster?” wil Coco dadelik weet toe sy sien Dixie loer tersluiks na die verweerde winkelpoppe wat veronderstel is om klante nader te lok.
“Wil jy regtig weet?” vra Dixie senuweeagtig, nie meer seker of sy hier wil in of eerder wil omdraai nie.
“Sure. Ek vra mos. Go for it!”
“Wel, die een links lyk soos ’n oorlogsbruid … Uit die Eerste of miskien darem die Tweede Wêreldoorlog.” Sy aarsel ’n oomblik. “Nadat daar ’n bom naby haar ontplof het en van die skrapnel haar getref het.”
Coco draai haar kop skuins om na die oorlogsbruid te kyk. “Sjaaim!” stem sy saam. “Maria is al ’n bietjie gewear en getear, arme ou ding.”
Sy wys na die ander vrouefiguur wat blykbaar nie regop kan staan nie en skuins teen die muur leun met ’n veraf uitdrukking in haar oë. “En wat van ou Daisy? Lyk sy darem vir jou funky?”
Dixie huiwer om haar mening oor ou Daisy te gee. Daisy, as sy nou eerlik moet wees, lyk allesbehalwe funky. Daisy staar nikssiende en effens skeel in die niet en lyk lewensmoeg, so asof sy snags die skouerlose trourok verder laat afglip om hier op die sypaadjie in Langstraat haar lyf te verkoop. Sy sou Daisy eerder beskryf as ’n befoeterde bruid as ’n funky