Die beginsel van stof. Breyten Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach страница 2
want dit is tog die bedoeling
van die lyf:
aanhou beweeg
tot die gedig boontoe dryf
gedig 810
toe ek jare gelede
my eerste verse
aan Dirk Opperman gewys het
het hy gesê:
eers wanneer jy ’n duisend
skyf vir skuif skryf
tot jy lam is in die kruis
sal jy begin agterkom
waar-oor dit gaan
hy had waar-skynlik des-tyds gelyk
(nie waar nie, Dirk?
nou jy wie weet waar sooigelyk
met die tyd en die woorde lê)
New York, September 2007
Ounooi: wat ’n verrassing
dat jy vir die eerste keer sedert al die jare
hier in die vreemde
kom besoek aflê
terug in die boonste donker kamer
van daardie ouhuis
waar wind soms in die luike fluit
en die vloerplanke kraak
onder tyd se tred
en die hitte somers swaar en wit
soos ’n broeis hemel die aarde versmoor
nou kan jy my dogter
wat jy nooit ontmoet het
nooi na jou vertrek
sodat sy oplaas haar grootmoeder
met ’n snikkende ‘goeie rus’ mag begroet –
uit die skemer hoor ek die gefluister
van oumatjie-raad
die sagte geskinder oor ’n ewigheid
jy sal ontuis wees in hierdie miernes
van mense en motors
waar jy my kom kry, Oumens
jy sal huiwer om die straat oor te steek
en verdwaal in supermarkte van spieëls en rook –
of is alle aarde en ruimte nou aan jou bekend
en wat is my naam?
tog wil ek dit vir jou wys –
die dartelende helikopters
die torings met in duiselende dakverdiepings
hoerhuise vir engele
en hoe met die oorgang na herfs
die newel van die heuwels rol
om as ondeursigtige grys gewig
te beweeg oor die rivier
ek is tevrede in die vreemde, Ounooi
noudat ek weer van jou kon weet
in die boonste kamer
aan die einde van die gang
waar jy op die bed uitgelê
nog staar na die eindeloosheid
van voëls en son anderkant die plafon
en in die weeg-beweging
tussen hand en papier
jou liewe gesig hier
iewers sigbaar kon bly in die gedig
liefling, taal
liefling, ek skryf vir jou in hierdie taal
want ek kan my nie daarvan loswoord nie.
dis ’n grusame ervaring
om in die grafte van voorouers te krap.
ek skaam my
hierdie taal, liefling
verdwyn in die mond as die laaste smaak
van die klippie wat ons gesuig het teen die dors,
verdwyn omdat dit in die mond
van besoedelde witmense was
al het dit ook iets van ’n heelal getong
met skamel woorde
wil ek nog ’n laaste keer ons liefde besing
van mond tot wond tot genadelose grond.
ek skaam my dat ek my nou daarvoor moet skaam
die mond is te geheim om pyn nie te voel nie.
ek sal die graf oopkrap
en die klippie tussen jou dye begrawe
en die laaste spoegie speeksel sluk.
die dood is om nooit weer dors te word nie,
my liefling taal
tweegesprek
baie oosterse verse wat vertel
van die gesprek tussen getuie
en die maan in die water
as helder ewebeeld
vasgedryf in beweging
gaan uit van die veronderstelling
dat daar bo die oppervlak ’n oewer is
Rumi het hierdie gedig geskryf
en toe die vel in die poel laat glip:
kyk hoe