Christine le Roux Omnibus 4. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 4 - Christine le Roux страница 12
Hy kyk na haar met sy oë vernou teen die son. “Ja,” stem hy toe ernstig saam. “Ek is geneig om met jou saam te stem. En jy is nie eers in dieselfde situasie as ek nie.”
“Watse situasie?” vra sy belangstellend.
Hy lyk ongemaklik en probeer glimlag. “Ek is ’n rolprentster,” sê hy spottend. “Meisies hou van my omdat ek ’n rolprentster is. Hulle weet nie watter soort mens ek is nie, hulle sien net die gesig en voel die aura van beroemdheid aan en . . . ag, jy weet wat ek bedoel.”
Sy knik stadig. “Ja. Ek het dit nooit vantevore besef nie, maar dit moet natuurlik so wees. Ek dink nie veel van rolprentsterre nie, maar daar is seker duisende meisies wat enigiets sal gee om saam met jou gesien te word.” Sy besef dat haar laaste sin darem baie beledigend kan klink en bloos effens. “Ek bedoel dit nie persoonlik nie,” maak sy verskoning.
Hy buig sy kop om te wys dat hy verstaan en staan toe op. Sy moet teen wil en dank na hom kyk en sy kan nie help om op te merk hoe mooi hy gebou is nie: lank en skraal en bruin gebrand. Hy hou sy hand na haar uit en trek haar van die gras af op.
“Kom,” sê hy, “ons moet nog terugswem. Sien jy kans daarvoor of sal ons afstap en daar onder oor die brug loop?”
“Nee, natuurlik sal ek swem.”
“Ek sal by jou bly,” sê hy kalm. “Steek net jou hand in die lug as jy moeg word.”
Sy lag, hardloop na die water en duik in. Die water is verstommend koud na die warm son en sy begin swem met lang, egalige hale. Sy is bewus van Robert langs haar en op ’n vreemde manier stel dit haar gerus. Hy is die soort mens wat langs jou sal swem, besef sy teësinnig; die soort mens wat sý pas by jóú pas sal aanpas; iemand op wie jy kan staatmaak.
Noag sit seergemaak vir haar en wag toe sy doodmoeg teen die gras uitklim en haar met die handdoek begin afdroog.
“Foei tog, ounooi se honne! Het ek jou afgeskeep?” Sy vryf oor sy kop en hy vergeef haar dadelik en lek haar nat arm nog natter.
“Gaan jy nou terug hotel toe?” vra Robert.
“Ja. Ek is al weer dood van die honger!”
“Ek het my motor hier. Wil jy saamry?”
“Is daar plek vir Noag ook?”
Hy glimlag. “Vanselfsprekend. Ek moes al kalfies op die agterste sitplek laat lê.”
“Ek gaan net gou aantrek,” sê sy en verdwyn in die rigting van die verkleehokkies. Toe sy uitkom en haar hare uitborsel, staan hy reeds vir haar en wag, geklee in ’n verbleikte blou broek en wit hemp. Noag spring sommer ongenooi agterin die motor en hulle ry die paar blokke na die hotel. Elize kyk op haar horlosie en sug.
“En die sug?” vra Robert.
“Ek is so honger en dis nog ure voor aandete.”
Hy gooi sy kop agteroor en lag ’n heerlike, ontspanne lag. “Jy is heeltemal anders,” sê hy kopskuddend. “Al die meisies wat ek ken, weeg elke slaaiblaar wat hulle eet, en sal eerder sterf as om te erken dat hulle honger is!”
“Ek is nie soos ander meisies nie,” sê sy en haar stem word merkbaar koeler.
“Ek weet,” sê hy ernstig. “Ek het dit al agtergekom. Maar daar is niemand wat ons sal keer as ons nou ’n klein ietsie gaan eet nie. Kom jy saam?”
“Wat van my hare?” vra sy.
“Los jou hare. Jy lyk mooi genoeg.”
Terwyl hy saam met haar na die koffiekroeg stap waar hulle wil gaan sit, dink hy daaraan dat sy nie net goed lyk nie, maar pragtig. Sy het ’n sterk, reëlmatige gesig. Haar neus is fyn en reguit, haar oë is groot en grys, haar mond sag – al glimlag sy nie dikwels genoeg na sy sin nie. Maar wat hom betref, is haar beste bate haar nek. Dis ’n lang, slanke nek, ’n trotse nek wat altyd haar kop regop hou sodat daardie wye, grys oë die wêreld vierkant in die oë kan kyk. Hy onderdruk die begeerte om sy hand uit te steek en aan haar nek te raak, en kyk liewer rond totdat hy die kelner se aandag trek en kan bestel.
Sy eet die vleisbroodjie asof sy ’n jaar laas kos gehad het en hy hou haar geamuseerd dop.
“Voel jy nou beter?” vra hy.
“Ja dankie. Baie beter.”
Sy gooi suiker in haar koffie.
“En sy drink sowaar nog suiker ook,” dink hy hardop.
“Wat?”
“Nee, niks nie. Ek is net verbaas dat jy nog suiker in jou koffie gooi . . .”
“Want geeneen van die meisies wat jy ken, doen dit nie,” voltooi sy die sin vir hom.
“Reg.”
Toe hulle klaar geëet het, vee sy oor haar hare en staan op. “Nou moet ek regtig iets met my hare gaan doen. Sal jy my verskoon?”
“Natuurlik,” sê hy en staan ook op.
Hy stap saam met haar na die hysbak en voor haar kamerdeur gaan hy staan.
“Sal jy vanaand saam met my eet?”
Sy slaan haar oë neer en lyk dadelik weer ongemaklik. “Ons eet mos maar almal in die hotel.”
“Ek weet. Maar ek wil graag hê jy moet by my aan tafel sit.”
“Hoekom?” vra sy en kyk hom in die oë.
Haar reguit blik ontsenu hom en hy neem sy toevlug tot spot. “Aag, ek weet nie. My kos verteer beter wanneer ek saam met jou eet.”
“Ek sien,” terg sy saam. “En Henri sal nie daarvan hou as ek die oorsaak van jou slegte spysvertering is nie.”
“Net so. Sien ek jou dan later?”
Sy knik, sluit haar deur oop en gaan binne. Terwyl sy bad en haar hare was en droogblaas, dink sy aan die middag. Haar gevoel teenoor Robert het meteens verander. Nou weet sy skielik nie meer waarom hy haar altyd kwaad gemaak het nie.
Hy is tog ’n gawe mens, sê sy vir haarself. Wanneer ek by hom is, voel ek weer soos ’n meisie wat vir die eerste keer verlief raak.
Nee, betig sy haarself heftig. Jy is verspot. Jy raak nie verlief nie, en veral nie op die man teenoor wie jy nog menige moeilike toneel moet speel nie.
En tog kan sy dié nuwe gevoel nie onderdruk nie. Sy doen spesiaal moeite met haar hare en trek vir die eerste keer ’n mooi rok aan. Vanaand wil sy nie net ’n moeë en onwillige aktrise wees nie; vanaand is sy sommer net ’n meisie wat ’n aangename middag deurgebring het en nou weer die aand saam met dieselfde man gaan geniet.