Die Bolander. Tryna du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die Bolander - Tryna du Toit страница 2
Annie vertel hulle die hele storie, eers met ’n mate van kalmte, maar hoe verder die storie vorder, hoe meer opgewonde raak sy. Grotendeels omdat haar ouers so ontsteld lyk, maak sy die ongeluk ligtelik af en beklemtoon die vreemdeling se onhebbelike gedrag.
“Verbeel Moeder,” gaan sy voort, “hy sê vir Piet as hy dan so ’n gevaarlike speelding vir ’n kind wil gee, moet hy bereid wees om die gelag te betaal.” Onwillekeurig vonkel haar bruin oë en ’n fyn glimlaggie verjaag die erns van haar gesig.
Ten spyte van hul onrus kan Annie se ouers hul lag nie hou nie. Andries Celliers lag dat hy die trane uit sy oë moet vee en Annie haal weer vryelik asem. Blykbaar is die hele episode verby. Maar sy hou nie rekening met haar pa nie. Hy hou meteens op met lag, kyk haar ondersoekend aan en vra: “Maar wie se skuld was dit nou eintlik, Annie?”
Piet wil nog praat en ’n ontwykende antwoord gee, maar Annie antwoord verleë, dog sonder aarseling: “Ek dink dit was alles my skuld, Vader.”
“En wie was die man?”
Annie antwoord nie. Piet skuif ’n bietjie ongemaklik rond op sy stoel. “Wel, om die waarheid te sê, oom Andries, ons het nie gevra nie. Alles was so gou verby. Maar ek het hom my visitekaartjie gegee. Die skade was ook so gering …”
Annie val hom in die rede. “Is daar nie vir ons ook koffie nie, Moeder? En kom ons vergeet nou van die ongeluk en die nare man. Ons sal hom tog seker nooit weer sien nie.”
“Ek hoop so, my kind. Natuurlik is daar koffie. Gaan haal net vir julle koppies. Kaatjie is nie vanmiddag hier nie.”
“Kom, Piet, kom help my dra.” En die twee is die huis in.
Andries Celliers kyk hulle peinsend agterna. Mens se bekommernis oor jou kinders is ook nimmereindigend. As hulle klein is, is dit tande kry wat jou slaaplose nagte besorg; later, as hulle groot is, en alles van oorpyn tot groen appelkose ’n beurt gehad het om jou uit die slaap te hou, is die bekommernis maar nog daar. Nou is dit net baie erger. Daardie ou bekommernissies was nietig in vergelyking met vandag s’n. Annie was maar altyd ’n klein waaghals, maar mens verwag tog dat die jare ’n bietjie omsigtigheid sal meebring, veral aangesien sy nou onderwyseres by die hoërskool is. En dokter Piet Grové, ten spyte van sy aantreklike voorkoms, sy sjarme, is nie die man wat Andries sou uitsoek as metgesel vir sy dogter nie. Die enigste seun van welgestelde ouers, vertroetel en verwen sedert sy jongste jare, het hy sy lewe lank alles gekry wat sy hart begeer. Hy het die beroep van tandarts gekies en heelwat tyd vermors op universiteit en in die buiteland – omdat dit nie altyd so voorspoedig gegaan het met die studie nie – maar eindelik het hy klaargekry en hom ’n paar maande gelede op Saailaagte kom vestig waar sy ouers, vroeër in Kaapstad woonagtig, hulle ’n paar jaar gelede al gevestig het weens sy ma se swak gesondheid.
Dokter Piet Grové is ’n goeie tandarts en hy het gou ’n goeie praktyk gehad. Heel gou ook het sy kennersoog op Annie geval en het hy haar begin uitneem, eers net af en toe, maar later al hoe meer. Hy kan baie goed tennis speel, goed dans, kaartspeel, en hy is seker ’n aantreklike maat vir enige jong meisie. Saailaagte se deure is dan ook wyd oopgestel vir hom, maar dit verskaf Andries Celliers geen genoeë dat hy blykbaar in sy dogter sin gekry het nie.
Hoofstuk 2
Hoofstuk 2
Toe Johan weer in die motor klim om sy reis te hervat, val sy oë op die dorpie wat nou voor hom uitgesprei lê. Snaaks dat hy so ver gekom het en hier by Saailaagte amper verongeluk. Die meisie het darem vreeslik onverskillig gery – soos die jeug maar so dikwels doen. Hy kan van geluk spreek dat hy met net ’n geduikte modderskerm daarvan afgekom het. Maar dis verby, en daar lê Saailaagte met al die probleme wat wag. Ten spyte van sy volwasse agt en twintig jaar is Johan de Kock bewus van ’n onverklaarbare opgewondenheid omdat hy eindelik by sy bestemming aangekom het.
Die Sabbatstilte rus swaar op die dorpie toe hy stadig die leë, stowwerige hoofstraat afry en met belangstelling alles rondom hom gadeslaan. Kaal en bruin, omring van klipkoppies wat lê en droom in die middagson, rustig en stil, afgesonder, lê Saailaagte. Trietsige peperbome so hier en daar geplant, lelike bruin baksteenhuisies amper vas op die straat gebou, lyk by die eerste aanblik allesbehalwe indrukwekkend – en tog het die dorpie ook iets van die kenmerkende weidsheid van die Karoo.
Johan de Kock is gebore en het grootgeword in die Boland met sy prag van berge, skilderagtige valleie, eikebome en sierlike ou gewelplase.
Hier lyk die wêreld bar, asof die mense nog gewikkel is in ’n stryd om te bestaan. En in ’n mate is hulle, teen die mees gevreesde en meedoënlose van alle vyande: droogte.
Hy ry stadig, want hy het nie die vaagste idee waar om mevrou Fourie se huis, waar hy op advies van die skoolkomitee gaan inwoon, te kry nie. ’n Entjie verder speel twee seuntjies albaster. Johan ry tot amper by hulle, leun by die venster uit en praat met die seuntjie wat naaste aan hom is. “Middag, seun. Kan jy my miskien sê waar mevrou Fourie woon? Haar huis is in Alidastraat.”
Die seun kyk hom verbaas aan en skud net sy kop, maar die ander seuntjie spring dadelik op en sê: “Ek weet, Oom. Ek sal Oom sê. Oom draai hier by die straat in en ry tot by die kerk en dan draai Oom …” Vir ’n oomblik aarsel hy en kyk na sy stowwerige handjies. “Dan draai Oom regs en dan ry Oom tot by oom Abraham se huis en dan draai …”
Johan, wat nogal aandagtig geluister het tot by oom Abraham se huis, lag en sê: “Ag, boet, ek sal nooit die huis kry nie. Sal jy nie maar vir my gaan wys nie? Is jou ma hier naby?”
“Nee, Oom, ek sal Oom gaan wys. Sy’s nie by die huis nie. Sy sal nie omgee as ek Oom gaan wys nie.”
“Nou kom dan. Wil julle al twee gaan?”
Sonder om ’n woord verder te sê klim die twee in die motor en bekyk met bewonderende oë alles binnekant.
“My naam is Attie Botha,” sê Johan se jong gids. “Sy naam is Willie Marais,” en hy knik in sy vriend se rigting. “Dis ’n mooi kar dié, Oom. Is hy nog nuut?”
“Nie juis so nuut nie, maar hy loop darem nog lekker.”
Hoe jammer tog, dink Johan, dat ek nie maar liewer as hoof van die primêre skool hierheen gekom het nie. Met kêreltjies soos Attie en sy stil maatjie kan ’n mens tog iets uitrig. Ouer seuns – hy dink nie eens aan die meisies nie – is soveel moeiliker om te hanteer. Hy weet, want hy het vier jaar lank met hulle gewerk. Baie dae gedurende die lang somervakansie wat nou agter die rug lê, nadat hy gehoor het sy aansoek was geslaag, het hy gewonder wat van hom en die tweehonderd seuns en dogters wat aan sy sorg en leiding toevertrou is, gaan word, maar jeug en spontane optimisme het gewoonlik die spookgedaantes verdryf en hy is vasberade om ’n sukses te maak.
“Meneer Strauss bly ook by tannie Fourie,” sê Willie Marais meteens.
“Wie is meneer Strauss, Willie?” vra Johan.
“Hy is ons onderwyser. Hy kan goed rugby speel. Tennis ook,” sê hy ná ’n oomblik.
“Speel julle ook rugby?” vra Johan weer.
“Nee,