Die Bolander. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Bolander - Tryna du Toit страница 4

Die Bolander - Tryna du Toit

Скачать книгу

paar woorde, as dit moontlik is, ’n prentjie skilder van ons skool in die verlede. Meneer Fouché was vyf en twintig jaar lank hoof van ons skool. Vyf en twintig jaar, en hy was nie ’n man wat van veranderings gehou het nie. Streng en nougeset het hy op sy manier aangegaan en nooit kon ons hom ’n haarbreedte van sy koers af kry nie. Die skool is daar om te werk, nie om te speel nie. Sy werk het hy so goed gedoen as wat in sy vermoë was, goed genoeg om aan die einde van die jaar nie te onbevredigende resultate te kry nie, en so het dit aangegaan, jaar ná jaar.

      “Hy het nie tyd gehad vir sielkunde, komplekse en dié dinge nie, nie dat ek veel daarvan weet nie, maar my magtie, dit is tog die rigting wat die moderne opvoeding lankal ingeslaan het. Vyf en twintig jaar, meneer De Kock, terwyl die res van die wêreld sy gang gegaan het en opvoeding tred gehou het met veranderde landstoestande, het ons skooltjie nie stilgestaan nie, maar geleidelik agteruitgegaan. En daar is baie mense, komiteelede ook onder hulle, wat heeltemal tevrede was met die verloop van sake. Solank ’n klompie kinders net aan die einde van die jaar suksesvol was met hul eksamen kon meneer Fouché maar sy gang gaan.

      “Mense wat dit kon bekostig, het hul kinders na ander, moderner skole gestuur. Ek het dit self gedoen. Maar die dag het aangebreek dat meneer Fouché ook moes aftree. En dis waarom jou aansoek suksesvol was. Baie van die komiteelede was sterk gekant teen jou, bloot vanweë jou jeug, maar jou uitstekende getuigskrifte en jou vriend, Barry Retief, en sy oom, Piet van der Merwe, se heelhartige ondersteuning het gewen. En so is dit nou: Jy is jonk, jy het ’n uitstekende universiteitsopleiding gehad, vier jaar ondervinding aan een van die beste skole in ons land, ’n Springbok om alles te kroon – met ander woorde die regte man om ons ou skooltjie uit die ellendige groef waarin dit verkeer te haal.”

      Meneer Pienaar bly stil, haal sy pyp uit sy sak en stop dit stadig. Dit het hom nog altyd diep gegrief dat hul vooruitstrewende dorpie so ’n treurige toestand van sake so lank geduld het. Hy is ’n wakker, versiende man en die hardnekkige verset van die ou hoof teen alles wat nuut en modern is, het hulle baie laat bots terwyl sy kinders nog op skool was. Toe hy sien dat daar met die ou man niks uitgerig kon word nie, het hy maar sy kinders Boland toe gestuur, en so geduldig as wat hy kon die dag afgewag dat ou meneer Fouché aftree.

      Johan, wat aandagtig na hom geluister het, praat nie. Is dit hoe sake staan? dink hy. Diep in sy binneste het hy die hele tyd geweet dinge is nie pluis nie, vandaar sy onrus aangaande die nuwe betrekking. “Is u seker dis jeug wat u nodig het, meneer Pienaar? Sou ’n bietjie meer ervaring nie verstandiger gewees het nie?”

      Meneer Pienaar se lag is stroef. “Nee, meneer De Kock, ons het oorgenoeg gehad van ervaring. Ervaring het van ons skool ’n kille, leë plek gemaak waar daar nie gelag of gespeel word nie. Ons seuns en dogters is beroof van iets wat vir hulle altyd dierbaar moet wees, iets wat hulle in hul later lewe moet help en sterk: gelukkige herinneringe aan hul skooldae. En dit alles omdat ons ’n ervare maar bitter man gehad het in wie se lewe daar nie plek was vir pret en plesier nie. Nee, ons het besluit om ervaring maar ’n bietjie te laat vaar en die jeug ’n kans te gee. En jy is darem nie totaal sonder ondervinding nie!”

      “U sê die komitee voel nie almal soos u oor die saak nie?” sê Johan ná ’n rukkie.

      Ben Pienaar maak keel skoon. “Nee, meneer De Kock, ongelukkig nie, of dalk moet ek liewer sê hulle staan onverskillig teenoor die saak. Daar is ’n paar soos dokter Piet van der Merwe, Barry se oom, wat byna net so sterk voel soos ek.”

      Daar is weer ’n rukkie stilte voor Johan vervolg: “En die personeel? Ek vertrou ek sal hul heelhartige ondersteuning geniet?”

      Ben Pienaar trek sy skouers op en plooi sy mond. “Ek weet nie, man. Party van hulle is al baie, baie jare hier en het lankal opgehou spartel. Die nuwes, ná vergeefse pogings om ’n paar veranderings teweeg te bring, het maar gou tou opgegooi en saam met die stroom gegaan; dit was soveel makliker. Meneer Fouché was ’n kwaai man, gevrees deur personeel en skoliere. Meneer Nieuwenhuys, dink ek, is ’n bietjie ontevrede. Hy het gehoop, op grond waarvan weet ek nie, meneer Fouché se mantel sal op hom val. Hulle neem jou dit moontlik kwalik dat jy so jonk is.” Hy lag en sy oë glinster van plesier. “Maar wat daarvan, meneer De Kock? Maak dit nie alles interessanter nie? En as dinge op ’n rusie uitloop … nou ja, ek baklei liewer saam met jou as teen jou.”

      Onwillig glimlag Johan saam. Die voorsitter se woorde het hom geraak. Al loop dinge in die begin nie so vlot nie, wat daarvan? Solank hy maar die stryd wat voorlê met alle mag en krag aanpak, sal alles regkom. Hy is jonk en sterk, en as skoolhoof het hy tog die hef in die hand. Laat kom wat wil, hy sien kans vir alles.

      “En daar is nog iets,” hervat meneer Pienaar. “Fondse. Sover ek weet, is daar nooit die geringste poging aangewend om fondse in te samel nie. Ek kan nie onthou dat daar ooit ’n basaar, konsert, skoolsport of iets dergeliks ten behoewe van die skool gehou is nie. Ons het ryk boere in die distrik wat maar te gewillig sal wees om te help as hulle op die regte manier benader word. Weet jy, meneer De Kock, drie jaar gelede het Barry Retief ’n pragtige stuk grond aan die skool geskenk om vir tennisbane gebruik te word. Hy het aangebied om die bane te laat maak, van nette te voorsien, en meneer Fouché het gesê, baie dankie, maar die tyd is nog nie ryp daarvoor nie. Later miskien. Die grond lê nog daar en Barry se aanbod staan nog.”

      “Maar waarom was hy dan so bitter gekant teen die kinders se deelname aan sport?”

      Ben Pienaar haal sy skouers op. “Ek dink hy het ’n hele reeks besoeke aan ’n psigiater kortgekom. Maar miskien oordeel ek die man verkeerd. Hy het seker gehandel volgens sy eerlike oortuiging. Hy het gedink die jeug is ’n tydperk van losbandigheid en onverskilligheid en kinders moet gedurig onderdruk word om ongeskonde deur dié tyd te kom. Nou ja, ons dink nie almal eenders nie. Ons het ook nie almal,” vervolg hy bitter, “so ’n uitmuntende geleentheid om ons teorieë ongehinderd toe te pas nie.”

      Daar word aan die deur geklop en tant Sannie kom binne met ’n koppie tee en ’n bordjie beskuitjies op ’n skinkbord. “Hier is vir jou ’n koppie tee, meneer De Kock. O … naand, meneer Pienaar. Ek het nie geweet jy is hier nie. Wag, ek gaan haal gou vir jou ook ’n koppie tee.”

      “Dankie, tant Sannie, dit sal baie lekker smaak. My keel is eintlik droog gepraat met die Bolander. Hy lyk darem jonk om ’n prinsipaal te wees, of hoe, tant Sannie?”

      Maar tant Sannie het al klaar vir Johan onder haar moederlike vlerk geneem en wil geen lasterpraatjies teen haar beskermling hoor nie. “Ons sal hom maar eers ’n kans moet gee om te wys wat hy kan doen,” antwoord sy glimlaggend.

      Ben Pienaar lag. “Jou eerste oorwinning!” sê hy toe die deur agter haar toegaan.

      Hoofstuk 3

      Hoofstuk 3

      Toe Annie Celliers Maandagmôre die personeelkamer binnekom, is die nuwe skoolhoof reeds daar. Hy staan met sy rug na haar en sy sien dadelik die man se breë skouers en sy mooi regop houding raak. Hy gesels met meneer Ben Pienaar en dokter Piet van der Merwe, albei lede van die skoolkomitee.

      “Kom, Annie, kom ontmoet jou nuwe hoof,” sê dokter Piet. “Meneer De Kock – juffrou Annie Celliers, die enigste dame op die personeel.”

      Johan draai om om die dame te groet maar die vriendelike woorde stol op sy lippe. Vir ’n oomblik aarsel hy, toe steek hy sy hand uit en sê gewoonweg: “Goeiemôre, juffrou Celliers. Het ons nie al kennis gemaak nie?”

      Hy herken Annie onmiddellik, soos sy vir hom, en sy eerste gewaarwording is intense teleurstelling. Is dié meisietjie, seker skaars twintig jaar oud, die enigste dame op sy personeel! Geredelik gee hy toe dat sy ’n baie aanvallige meisie is, maar bloot ’n ornament op die personeelkamer se rak – dit is nou nie juis sy dringendste behoefte nie.

Скачать книгу