Eendekuil. Tryna du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Eendekuil - Tryna du Toit страница 3
Haar mense noem haar Koekie, maar sy kan so kwaad en verleë word as hy haar met die bynaam terg.
“Waar op aarde het hulle aan so ’n naam gekom?” het hy haar geterg toe hy met hulle begin maats maak het.
“Dis omdat ek so mooi en soet was toe ek klein was dat al die mense my so genoem het,” het sy koel en uit die hoogte verklaar, maar daar het ’n warm blos op haar wange gelê.
“Ongelooflik,” het hy met ’n doodernstige gesig gesê. “Maar ’n mens verander natuurlik baie soos jy ouer word.”
As hy haar nou wil kwaad maak, moet hy haar net Koekie noem. Sy en oom Gideon het hom weer altyd geterg met sy perde.
“Noem jy dit ’n perd?” vra Esther wanneer hy die slag met Vossie of ou Vaaltyn gaan kuier. “Jy moet jou geld bymekaarmaak en ’n perd by my pa kom koop.”
Toe hy by Eendekuil se hek indraai, het oom Gideon met stofwolk en al in die verte verdwyn. Een van ou Jonas se seuns is besig om sy melkbokke na die stroois toe aan te keer en ewe beleef haal die knaap sy flenterhoed van sy kop af toe Kosie verbyry.
Agter hulle draf ou Jonas se maer windhond met sy neus op die grond en ou Boel vlieg byna deur die venster in sy gretigheid om by sy vriend te kom.
“Los die windhond, man, en kom saam huis toe,” paai Kosie hom met ’n hand op sy kop. Boel staan regop teen die kussings, maar gehoorsaam tog.
Kosie stoot dadelik die motor in die waenhuis en gaan huis toe om eers van sy das en dorpsklere ontslae te raak. Die weer bly pragtig. Dis drukkend warm en daar is ’n gevoel van stille afwagting oor die vlaktes.
Hy is nog in die kamer besig toe hy Jonas in die kombuis na hom hoor roep. Sy stem is hard en dringend en met ’n skielike voorgevoel van onheil stap Kosie vinnig kombuis toe.
Hy herken vir ’n oomblik amper nie vir ou Jonas nie, so anders lyk hy. Sy gesig is asvaal, sy oë soos pierings gerek, en hy hyg na sy asem soos een wat ver en vinnig gehardloop het.
“Ag, dankie tog, Heretjie, dat meneer Kosie gekom het,” stamel hy uitasem. “Ou Jonas weet nie wat om te doen nie. Vandag is die duiwel los hier op Eendekuil.”
“Wat is dit, Jonas?” vra Kosie verskrik.
“Daardie swart duiwelshond van meneer Gideon is by die lammerooie en het byna die leste een al doodgebyt. Kom tog, en maak gou.”
’n Oomblik staan Kosie versteen. Dis of hy nie kan glo wat ou Jonas vir hom sê nie. Sy lammerooie! Onmoontlik!
“Gou maak,” herhaal ou Jonas dringend, en vinnig vlieg die jong man om.
“Maak oop die waenhuis,” beveel hy. “Ek gaan net die motorsleutels haal.”
Hy is al by die deur uit toe hy skielik weer omvlieg en terughardloop kamer toe. Hy gryp die geweer wat in die hoek naby sy bed staan, pluk ’n laai oop en haal ’n hand vol patrone uit. Sy hande bewe so dat hy amper nie die patrone kan vashou nie.
“Stadig, man, stadig,” vermaan hy homself streng. “Koel bly. Dis seker nie so erg soos ou Jonas dit maak nie.”
Maar dis moeilik om koel te bly as hy aan die lot van sy arme lammerooie dink en vaster sluit sy hand om die geweer. In die aandraf waenhuis toe laai hy dit. Hy merk hoe die blou stapelwolke vinnig die lug inklim, maar die opwinding en afwagting wat hom die hele dag gevul het, is nou nie meer daar nie. Hy voel naar en siek.
Ou Jonas sal die rit na die onderste kampie waar die lammerooie loop nooit vergeet nie. Kosie jaag of die duiwel agter hulle is. Jonas hou maar net vas en bid terwyl sy oë al wyer en wyer rek.
Hulle is nog ’n hele ent weg toe hulle al die jammerlike geblêr van die ooie hoor. Dit is ’n haglike toneel wat hul oë begroet. Verskrik en verwilderd hardloop ’n klompie ooie daar rond, dan hierheen, dan daarheen, terwyl die hond, ’n groot Dobermann, soos ’n besetene tussen hulle te kere gaan. Oral lê daar dooie en beseerde ooie.
Toe hulle uit die motor klim, is die geweer in Kosie se hand. Daar is by hom nie die minste twyfel dat dit oom Gideon Bruwer se hond is nie en hy aarsel nie ’n oomblik nie. Die hond het hulle gewaar en staar hulle met ’n moorddadige blik aan. Sy bek is vol bloed. Kosie stap ’n paar tree nader en vat sekuur korrel. Nou bewe sy hande nie meer nie. Die volgende oomblik klap die skoot en die hond sak in sy spore neer.
“Hy sal nie weer skape byt nie,” sê ou Jonas, nog bewerig, langs hom.
Stadig laat Kosie die geweer sak. Hy praat nie. Dis soos ’n droom, ’n aaklige droom waaruit hy netnou sal ontwaak. ’n Oomblik staan hy nog roerloos terwyl Jonas angstig na hom opkyk. Dan is dit of die ellende van sy skape tot hom deurdring en vinnig sit hy die geweer in die motor neer.
Dit is oom Gideon se hond, hy is heeltemal seker daarvan. Hy ken die Dobermann. Eintlik Esther se hond. Oom Gideon het hom twee jaar gelede aan haar present gegee omdat hy nie daarvan gehou het dat sy so alleen in die veld rondstap en -ry nie. Die hond was lief vir haar en het haar oral gevolg, selfs wanneer sy te perd was, maar Kosie het nooit van hom gehou of hom vertrou nie. Hy was buierig en het dikwels selfs die plaaswerkers aangeval en gebyt. Hy en Boel kon mekaar nie verdra nie en Kosie kon dit nooit waag om Boel saam te neem as hy Skeerpoort toe gaan nie. Meer as een keer het hy sy bedenkinge teenoor oom Gideon uitgespreek dat die gevaarlike hond so los loop, maar oom Gideon het nie veel aandag daaraan geskenk nie. Hy het gelag en gesê hy het ’n kwaai hond nodig om sy dogter op te pas.
Hy bekyk die hond se wrede kake, vol bloed en wol en stukkies vleis, en hy is met afsku en walging vervul.
Dan begin hy en Jonas kyk wat hulle vir die arme, verskeurde ooie kan doen. Dié wat nog enigsins kon beweeg, het op die vlug geslaan, mank, bloedbevlek, beangs, met net een doel voor oë: om so ver moontlik van daardie wrede bek af weg te kom. Hoe hy en Jonas hulle almal in die hande gaan kry, weet hy nie. Die kampie lê vol ooie wat te erg uitmekaar geskeur is om te beweeg en hulle staar hom met groot, smekende oë aan.
Hy kyk op na die wolke. Die weer is swaar en dreigend. Dit sal niks baat om Jonas te stuur om hulp te gaan haal nie. Hy en Jonas moet maar doen wat hulle kan. Hy kniel by die ooi wat naaste aan hom lê en ondersoek haar vlugtig. Haar maag is uitmekaar geskeur, haar ingewande lê langs haar op die grond, maar sy lewe nog en begin weer effens spartel toe hy aan haar raak.
“Jou mes, Jonas,” beveel hy kortaf en bitter.
Toe hulle die eerste ooi keelafsny, hoor hy die sagte, veraf dreuning van die weer. Maar hy kyk nie eens op nie.
Daar het die langverwagte reën hulle ’n halfuur later getref, maar selfs in die harde, gietende reën het hulle aangehou werk tot dit later te donker geword het om te sien.
“Ons sal maar huis toe moet gaan, ou Jonas.” Kosie voel siek en uitgeput ná die aaklige middag. Hy en Jonas is albei tot op die vel nat. Dit reën nog altyd sonder ophou, maar dit val nou sagter, byna geruisloos.
“Net soos dit môreoggend lig word, bring jy vir Aaron en maak die skaap bymekaar en soek dié wat nie kan loop nie.”
“Ja,