Eendekuil. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eendekuil - Tryna du Toit страница 7

Eendekuil - Tryna du Toit

Скачать книгу

ramme wat Barry Retief vir sy swaertjie gegee het, deurgekyk en vergelyk met dié wat hy verlede jaar so duur by die eienaar van Wag ’n Bietjie gekoop het. Hulle was pragtig en beter as syne.

      Hy stap saam met Kosie tussen die ooie deur. Ontsettend! Dis ongelooflik dat een hond soveel skade kon aanrig. Daar moes nog ’n hond by gewees het. Ongelukkig is dit ook die eerste ding wat hy vir Kosie sê. “Man, dis vir my onmoontlik om te glo dat een hond alleen soveel skade kon aanrig. Daar moes nog ’n ander hond, of miskien twee, by gewees het.”

      Kosie voel die bloed na sy gesig toe opstoot. Is dit oom Gideon se plan? Is dit hoe hy sy verpligting wil ontduik? Hy was nie verniet onrustig gewees nie. Oom Gideon is besig om ’n uitweg te soek. Maar hy sal nie by hom verbykom nie. Oom Gideon dink omdat hy jonk en onervare is, kan hy hom enige ding wysmaak. Met moeite bedwing hy sy vinnige humeur en antwoord so kalm as wat hy kan: “Ek dink oom Gideon moet duideliker praat.”

      “Moet my nou nie verkeerd verstaan nie, Buurman,” paai oom Gideon haastig, maar ook in hom groei die ergerlikheid vinnig aan. Die jong snuiter moet darem weet met wie hy praat. “Ek sê maar net dis vir my moeilik om te glo dat een hond soveel skade kon aanrig. Dis soos ’n slagting wat hier plaasgevind het. Julle het mos nog honde hier op die plaas. Waar was hulle?”

      Kosie kyk die ouer man waterpas in die oë. Sy blik is koel, byna spottend.

      “Boel was saam met my dorp toe. Ek is vroeg gistermôre al daarheen en, oom Gideon sal miskien onthou, Oom-hulle het gistermiddag by my verbygery net duskant Wag ’n Bietjie se hek. Ek het net tuis gekom toe Jonas my kom roep. Dan is daar nog Jonas se hond …”

      “So ’n lelike, maer windhond! Ek het hom verskeie kere al opgemerk. Dit lyk of hy nooit genoeg kos kry nie.”

      Kosie voel sy ore word nou rooi, maar hy bedwing hom nog.

      “Dis reg. Jonas het die hond gehad toe hy by my gekom het. Die hond was gistermiddag by Jonas se kind toe hy die bokke gaan haal het. Ek het hulle hy die eerste hek teëgekom toe ek van die dorp teruggekom het, myle ver van die kamp waar Rex besig was om die ooie te verskeur.”

      Dis of oom Gideon se wenkbroue effens roer. Hy praat nie, maar die stilte is swaar van sy onuitgesproke gedagtes. Dis of Kosie kan voel wat oom Gideon dink en sy stem is nou koel en kortaf: “Ek het Rex hier onder die ooie geskiet. Hy was blykbaar heeltemal dol. Daar was net een uitweg en dit was om hom dood te skiet. Daar bestaan by my nie die minste twyfel dat hy alleen vir die skade verantwoordelik was nie en as oom Gideon hom gesien het, sou Oom ook geen twyfel gehad het nie.”

      Oom Gideon is ’n lang ruk stil, dan sê hy kortaf: “Ek wil graag die hond sien.”

      “Kom, ons kan dadelik gaan.”

      Esther sit nog die hele tyd roerloos op haar perd, ’n groot grysblou skimmel met ’n vel wat soos satyn blink. Oom Gideon het pragtige perde en die skimmel is seker een van die mooistes. Esther sit so gemaklik in die saal soos ’n ander meisie op ’n stoel sit. Ná die vroegoggendrit is daar ’n mooi kleur in haar wange, maar sy lyk ongelukkig en vermy sy blik.

      Op ’n drafstappie ry hulle deur die groot kamp huis toe. Die veld is nat, die perde trap diep spore in die sagte grond. Daar heers ’n ongemaklike stilte wat niemand probeer verbreek nie.

      “Dit het mooi gereën hier,” sê oom Gideon een maal, toe hulle by die kuile verbykom, maar daar is geen warmte of hartlikheid in sy stem nie.

      By die huis nooi hy hulle binne om koffie te drink, maar oom Gideon wil eers die hond sien. Kosie gaan na Esther om haar van haar perd te help, maar nog voor hy haar kan bereik, is sy alreeds op die grond. Sy is so vinnig en rats soos ’n seun, dink hy. Maar hy wil liewer nie hê sy moet saam waenhuis toe gaan nie.

      “Wag jy solank vir ons in die huis, Esther,” sê hy. “Selina bring nou die koffie.”

      “Ek sal saamgaan, dankie,” sê sy koel. Kosie aarsel nog, maar oom Gideon sê niks nie, en saam stap hulle drie na die waenhuis. Op die perd lyk sy groter as wat sy werklik is, dink Kosie, toe hy sien dat haar kop maar net tot by sy skouer kom waar sy langs hom stap.

      Rex lê daar in die waenhuis nog net soos Jonas hom neergesit het. In stilte kyk hulle af na die hond: die aaklige, bloedbevlekte bek met die stukkies wol en vleis wat nog aan die gevaarlike kake vaskleef, die lang rooi tong, die wydstarende oë, die koeëlwond deur sy kop. Dis nie ’n mooi gesig nie en besorg kyk Kosie na Esther. Haar gesig is wit, haar lippe styf opmekaar gepers, haar oë byna swart van ontsteltenis.

      “Rex!” hoor hy haar verwytend sê, en daar gaan ’n rilling deur haar. Hy steek sy hand in meegevoel na haar uit. Hulle was nog altyd groot maats en hy is jammer vir haar, maar sy staan weg van hom af, nader aan haar pa, en maak of sy nie sy hand sien nie. Vererg draai hy weg. As sy haar dan wil opruk, kan sy na die maan gaan. Dis tog nie sy skuld dat die hond dol geword het en verwoesting aangerig het onder sy skape nie. Hy sou graag vir oom Gideon wou gehoor het as Rex onder sy skape begin byt het.

      Hulle gaan in die huis in om koffie te drink, maar die atmosfeer bly gespanne. Boel kom ook binne en gaan soos gewoonlik by Kosie se voete lê, en dis of Esther en haar pa al twee verder verstyf. Oom Gideon gesels maar oor die oorlog daar in Europa, maar oor die kwessie tussen hulle praat hy nie. Hy het nog nie ’n woord in verband met skadevergoeding gerep nie. Esther sit eenkant en drink haar koffie. Sy neem glad nie deel aan die gesprek nie, en Kosie se onrus word vinnig groter.

      Toe die Bruwers opstaan om te vertrek gaan staan Kosie reg voor oom Gideon. Sy jong gesig lyk ongelukkig, maar hy is vasberade en beslis.

      “En nou, Oom?” vra hy.

      ’n Paar tellings kyk hulle in mekaar se oë, dan sê die oubaas vererg: “Ek weet nie, man. Gee my eers kans om ’n bietjie oor die ding te dink. Ek is verduiwels jammer. Ek het nooit gedroom dat Rex so iets sal doen nie. Maar jy kan darem nie verwag dat ek sommer so goedsmoeds moet onderneem om vir die spulletjie goed te staan nie. Ons moet eers vasstel hoe Rex daar by die ooie gekom het. Hy kon onmoontlik oor die jakkalsdraad gespring het. Iemand moes baie agterlosig gewees het. En ek dink ook nie hy was alleen nie. Waar is daardie brak van Jonas?”

      Die humeur wat Kosie so lank met groot moeite bedwing het, dreig om hand uit te ruk. Oom Gideon is baie ouer as hy, maar oom Gideon soek nou moeilikheid. Kortaf antwoord hy terwyl hy wegdraai: “Ek dink ons sal hom by Jonas se stroois kry. Ek het hom gesê om te sorg dat hy nie by die dooie skape kom nie, en Jonas het belowe om hom by die stroois te hou. Kom ons ry gou daarheen.”

      Die oubaas aarsel ’n oomblik, dan sê hy koel: “Asseblief. Dit kan geen kwaad doen nie.”

      Dié keer het hy nie eens probeer om vir Esther in die saal te help nie. Maar sy het ook geen hulp nodig nie. Gemaklik, met ’n enkele ligte sprong, lig sy haarself in die saal.

      Die hond lê lui uitgestrek in die son en slaap langs die stroois en spring op toe hulle naderkom. ’n Lang, maer windhond wat so vlug soos die wind is. Kosie roep die hond nader en springerig, oorvriendelik, kom hy dadelik nader gedraf.

      Skerp kyk die oubaas na die windhond, maar hy klim nie eens van sy perd af nie.

      “Het jy hom gister ondersoek?” vra hy vir Kosie.

      ’n Lang oomblik kyk Kosie hom vol in die gesig, dan sê hy stadig, met nadruk: “Nee, oom Gideon. Die hond was gister nie naby daardie kamp nie.” En skielik vererg, roep hy uit: “Magtig, Oom, dink Oom nou waarlik ek sal die hond hier aanhou as ek weet dat hy skape vang?”

      Oom

Скачать книгу